JY KAN GELUK VIND!
LYK dit altyd of probleme jou geluk bederf? In baie gevalle is dit wat gebeur. Party mense se reaksie is om alle beginsels oorboord te gooi en so te sê enigiets op die proef te stel om opwinding te verkry of ’n mate van geluk te smaak. Ander berus in ’n lewe vol probleme en hoop op ’n gelukkige toekoms in Nirwana, die hemel of elders.
Hoewel God ’n gelukkige toekoms in ’n regverdige nuwe stelsel aan ons voorhou, wil hy hê dat ons nou ook geluk moet vind. En ons kan!—2 Pet. 3:13; Tit. 1:2; Hebr. 11:6.
Die sleutel tot teenswoordige en toekomstige geluk is om dinge op God se manier te doen. Dit is nou waar, want as ons dinge op God se manier doen, kan ons probleme vermy wat ons genot in die lewe kan bederf. En as ons dinge op sy manier doen, lei dit tot ’n lewenswyse wat die daaglikse lewe nou aangenamer maak. Om hierdie bespreking prakties te maak, kan ons twee algemene probleme—geld en eensaamheid—bespreek en kyk hoe God se raad en die Christelike lewenswyse ons kan help om gelukkig te wees.
HULP MET GELDELIKE PROBLEME
Jy weet hoe nodig ’n mens geld het. ’n Bybelskrywer het dit só gestel: “Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles” (Pred. 10:19). As gevolg van inflasie kos dit elke dag meer om te lewe. Hoe kan die Bybel help?
Die toepassing van Bybelleerstellings kan jou onder meer help om ’n betrekking te hê en die geld te verdien wat jy nodig het. Die Skrif beklemtoon byvoorbeeld die waarde van vlyt en eerlikheid.
“Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig. Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan.”—Spr. 13:4; 22:29.
“Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is.”—Ef. 4:28.
“Laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, . . . Dan sal julle . . . van niemand afhanklik wees nie.”—1 Thess. 4:11, 12, NAB.
Dink net hoe prakties daardie raad is. Dit is wel so dat party persone vooruitgang maak deur te kul, te steel en ander om te koop of deur invloedryke kennisse te gebruik. Maar as jy sulke Bybelse raad toepas, sal jy oor die algemeen en op die lange duur beter vaar as die wat dit ignoreer. Waarom?
Jy het waarskynlik opgemerk dat werkgewers en bestuurders dikwels kla omdat werkers laat kom, lyf wegsteek of onbetroubaar is. ’n Persoon wat stiptelik, hardwerkend en eerlik is omdat hy God se raad toepas, kan dus gewoonlik werk kry en word waardeer. Hy sal meer verdien en waarskynlik sy werk behou wanneer ander afbetaal word. Kyk na hierdie twee gevalle:
’n Winkel in Suid-Afrika wat elektriese toestelle verkoop, het baie verloor as gevolg van diefstal deur werknemers. Eendag het die bestuurder die Swart werkers byeengeroep en hulle almal afgedank. Maar toe een werknemer die volgende dag op sy gewone trein werk toe ry, het hy ’n ander werknemer raakgeloop en gevra: ‘Hoe is dit dat jy werk toe gaan?’ Die antwoord: Die bestuurder het hom privaat meegedeel dat sy geval ’n uitsondering was omdat hy eerlik is. Dit was ook die geval met die eerste werknemer. Toe hulle by die werk aankom, het hulle ’n derde werker teëgekom wat dieselfde meegedeel is. Al drie was ware Christene.
’n Direkteur van ’n Britse firma wat paaie bou, het vir Robert gesê dat as iemand bel, Robert moes sê dat hy nie daar is nie. Toe Robert egter ’n oproep beantwoord, het hy gesê dat die direkteur besig is. Toe hy daarvoor gekritiseer word, het Robert verduidelik dat hy nie kon lieg nie omdat hy een van Jehovah se Getuies is (Ef. 4:25). Toe hulle later oorweeg het om Robert te bevorder, het ’n kollega probeer om twyfel oor sy eerlikheid te wek. Maar die direkteur het hom met feite verdedig. Robert is bevorder.
Gehoorsaamheid aan die Bybel se raad kan jou ook in ander opsigte help om geldelike probleme te vermy of die hoof te bied en gevolglik tot jou geluk bydra.
God se Woord raai ons sterk af om geld te leen. Dit se: “Hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spr. 22:7). Hoewel die Bybel ons nie verbied om geld te leen nie, help hierdie soort verstandige raad ’n persoon om die versoeking te weerstaan om op krediet te koop, net om baie rente te betaal en in die skuld te beland.
Die Bybel spoor ware aanbidders aan om ander se eiendom te respekteer en goed op te pas. Dit wys ook daarop dat sindelikheid belangrik is (Deut. 22:1-4; 23:12-14; Ex. 30:18-21). Christene wat goed sorg vir ’n huis wat hulle huur, word derhalwe dikwels op prys gestel as huurders en hoef dus nie so baie te betaal nie. Die volgende interessante verslag kom uit ’n hoofstad in Afrika:
’n Christengesin het hulle gehuurde huis skoon gehou en stiptelik die huur betaal (Rom. 13:8). Toe hulle moes verhuis, het hulle die eienaar voorgestel aan ’n ander gesin in die gemeente. Hy het gesê dat hy normaalweg die huur baie sou verhoog, maar omdat hy geweet het dat daardie mense betroubaar en sindelik is, het hy die huis vir dieselfde prys aan hulle verhuur, omtrent die helfte van die huur wat gewoonlik in daardie omgewing betaal word.
Nog ’n manier om ons geluk te vergroot deur God se raad te aanvaar, is deur gewoontes en gebruike te vermy wat finansieel skadelik is. Een is strawwe drinkery, selfs dronkenskap, wat in die Bybel veroordeel word. Dit kos baie om sterk drank te koop, en dronkenskap is die oorsaak van veel werkversuim en baie ongelukke.
Die Bybel waarsku tereg: “Wees nie onder die wynsuipers nie . . . Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra” (Spr. 23:20, 21). As ’n mens dinge op God se manier doen, kan jy geldelike probleme verminder of vermy en dus in verskeie opsigte gelukkiger wees.
Ons gee ook ’n groot tree in die rigting van geluk wanneer ons God se beskouing van rykdom verkry. Beteken dit dat ons geld vaarwel moet sê? Nee, want geld kan ’n beskutting wees (Pred. 7:12). God se Woord beklemtoon egter vergenoegdheid. In dieselfde trant raai Jesus ons aan om nie rykdom na te jaag nie, maar om tevrede te wees met wat ons het of wat ons redelikerwyse kan bekom. Lees gerus sy sinvolle woorde hieromtrent in Lukas 12:22-31. Die Bybel spoor ons daarbenewens aan: “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees” (1 Tim. 6:8, NAB). Dit is baie voordelig. Trouens, selfs hedendaagse sielkundiges besef nou dat jy ’n baie gelukkiger persoon sal wees as jy daardie beskouing van geld huldig.
RAAD MET EENSAAMHEID
Maar sê nou jou ongelukkigheid is die gevolg van ontmoedigende eensaamheid, nie van geldelike probleme nie? Indien dit nie die geval met jou persoonlik is nie, is dit waarskynlik met baie wat jy ken. In ’n opname onder 52 000 persone het meer as 40 persent gesê dat hulle “dikwels eensaam voel”. Dit was hierdie gevoel wat in die meeste gevalle die geluk van oud en jonk, man en vrou, bederf het.
Hoe kan dit help as jy dinge op God se manier doen, aangesien hierdie probleem miskien die gevolg is omdat jy geen naverwante of vriende het nie? Wat sê die Bybel oor hierdie onderwerp wat groter geluk kan verskaf?
Eensaamheid lei onder meer dikwels tot terneergedruktheid en ’n verlies van selfrespek. Maar as jy daarin belangstel om dinge op God se manier te doen, kweek jy ’n goeie verhouding met hom. Dit kan help om eensaamheid te verlig, want jy verkry ’n groter waardebesef omdat jy weet dat ons Skepper persoonlik in jou belangstel en bereid is om jou te help.—Matt. 18:10.
Die Bybel gaan daarbenewens verder as die gewone raad aan eensames—om “besig te bly”—deur Christene aan te spoor om goed te doen. Lees asseblief in Handelinge 9:36-42 hoe een Christin, wat maklik eensaam kon gevoel het, dit gedoen het. Kyk hoe sy haar tyd gebruik het om dinge vir ander te maak. In die proses het sy talle dierbare Christenvriende gekry en die geluk gesmaak wat mededeelsaamheid verskaf.—Hand. 20:35.
Een goeie werk en ’n vorm van mededeelsaamheid wat uniek aan die ware Christelike godsdiens is, is om vir ander die waarheid van God se Woord te leer. Dit hou ywerige Christene besig met iets opbouends. Dit bring ’n mens in aanraking met ’n verskeidenheid persone. En dit verskaf groot tevredenheid, want jy help ander op hierdie manier om na aan God te kom en geluk te smaak. Hoewel hierdie openbare verkondiging van die “goeie nuus” dus ’n verpligting is—’n deel van God se wil vir die hede—is dit ook ’n bron van persoonlike geluk.
God spoor Christene ook aan om gereeld vir Bybelstudie en omgang te vergader (Hebr. 10:24, 25). Hoewel die blote teenwoordigheid van ander mense op sigself nie die oplossing vir eensaamheid is nie, help gereelde en hartlike omgang met liefdevolle Christene beslis. Die ondervinding bewys dit. Ons spoor jou aan om ’n vergadering van Jehovah se Getuies by te woon. Daar sal jy kan sien hoe die toepassing van die Bybel se raad baie persone help om eensaamheid en ander probleme, soos dié in verband met geld, die huwelik, spanning en verskeie ander dinge wat mense ongelukkig maak, die hoof te bied.
Solank as wat die huidige stelsel van dinge bestaan, kan jy verwag om probleme te hê. Maar in plaas daarvan om daarin te berus of om verskeie twyfelagtige metodes op die proef te stel om hulle die hoof te bied, kan jy gerus iets doen wat jou gewis voorspoedig sal maak en groot geluk sal verskaf. Dit is: leer ken God se denke en pas dit dan toe. Dit sal jou help om talle algemene probleme te vermy en om die wat oorbly beter die hoof te bied, soos miljoene mense rondom die aardbol uit ondervinding weet. Sodoende sal jy sien dat die weg na geluk nie versper is nie. Jy het die sleutel gevind en gebruik.
Jy sal gevolglik ’n sinvoller lewe lei, God se goedkeuring wegdra en groter geluk smaak.
[Venster op bladsy 6]
“HOE OM DAARDIE ONTWYKENDE STAAT VAN GELUK TE VIND”
Sielkundige dr. Joyce Brothers het verduidelik dat ‘wanneer ons praat oor wat ons die graagste uit die lewe wil kry, ons in werklikheid oor geluk praat’. Is geld die sleutel? Sy het gesê:
“lemand met ’n inkomste van [R77 000] sal miskien groter gerief geniet, beter geklee wees en ’n hoër lewenstandaard hê as iemand met ’n inkomste van [R15 000], maar hy sal nie noemenswaardig gelukkiger wees nie. . . .
“Die feite toon dat ’n beskeie dog voldoende inkomste wel geluk in die hand werk en dat groot somme geld dit selde doen. Geld is bedrieglik. Dit kan ook ’n strik wees, ’n lokval wat verhinder dat jy jou mees gekoesterde doelwitte bereik.”
[Venster op bladsy 7]
“ln hulle gemeentelike lewe vorm die Getuies ’n ware gemeenskap van vertroue en aanvaarding. . . . Die Jehovahsgetuies bied ’n alternatiewe lewenstrategie wat dit vir hulle lede moontlik maak om hulleself en self respek, ’n gemeenskap waar hulle aanvaar word en hoop vir die toekoms te vind.”—“Religious Movements in Contemporary America”.
DIE SCITH
WAAR die apostel Paulus beklemtoon het dat vleeslike onderskeidings nie ’n Christen se posisie as ’n lid van Christus se liggaam raak nie, het hy geskryf dat “daar nie Griek of Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal” (Kol. 3:11). Dit is opmerklik dat die Scithe ingesluit word, aangesien hierdie wrede nomade as die ergste van alle barbare beskou is. Maar deur die krag wat God se heilige gees uitoefen, kon selfs hulle hulle met ’n Christelike persoonlikheid beklee en hulle ou weë verlaat (Kol. 3:9, 10). Hoe kragtig is die gees van God tog!