Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 3-4
  • Wat is die sleutel tot geluk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die sleutel tot geluk?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE GEMAAK MET DAARDIE PROBLEME?
  • WAT IS DIE SLEUTEL TOT GELUK?
  • Dit hang van jou af of jy ware geluk sal vind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Jy kan geluk vind!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Wat is die geheim van geluk?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Hoe om geluk te vind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 3-4

WAT IS DIE SLEUTEL TOT GELUK?

“IS JOU lewe vol probleme?”

Baie sal antwoord: “Dit is beslis.” Sou jy dieselfde sê?

Selfs met die gebalanseerde besef dat ons almal ’n mate van geluk of genot in die lewe smaak, kan ons nogtans van mening wees dat probleme ons geluk oorskadu.

Die probleme kan van uiteenlopende aard wees. Die meeste se probleme staan in verband met geld—inflasie, rekeninge, onsekerheid oor hulle werk en huisvesting wat hulle kan bekostig. Maar jy het seker al gesien dat selfs diegene wat finansieel veilig is, ongelukkig gemaak word deur gesins- of huweliksprobleme. Baie jongmense het probleme met seks, alkohol of dwelmmiddels. En swak gesondheid of eensaamheid maak dikwels die bejaardes ongelukkig.

Party mense wens: ‘As daar maar net ’n eenvoudige sleutel tot geluk was.’ Maar jy besef waarskynlik dat daar min maklike kitsoplossings vir ons probleme is. Oorvloedige getuienis toon egter dat daar wel ’n sleutel tot geluk is.

HOE GEMAAK MET DAARDIE PROBLEME?

Baie mense soek desperaat na deskundige advies oor hoe om probleme te vermy en dus hulle geluk te behou. Party wend hulle tot advies rubrieke in koerante. Of hulle lees die jongste help-jouself-boeke. Ander soek hulp by ’n ouer persoon, iemand wat hulle verwag meer ervare en wyser is. (Vergelyk Spreuke 20:29; Titus 2:3, 4.) Hoewel ’n mens op hierdie manier tot ’n mate gehelp kan word, is daar ’n ander bron van hulp wat logieserwys ’n groter belofte van ware geluk inhou.

Daardie bron is die mensdom se Skepper. Geen sielkundige, huweliksraadgewer, skrywer of koerantrubriekskrywer weet meer van die lewe af as hy nie, nie waar nie? Hy het ons eerste mense-ouers geskep, en dus het hy ’n deeglike kennis van ons fisiese, verstandelike en emosionele samestelling. Een eertydse skrywer het akkuraat gesê: “Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne” (Ps. 100:3). Ons Skepper weet beter as enige dokter of menslike raadgewer wat binne-in ons plaasvind. Hy weet waarom ons die dinge doen wat ons doen en wat ons werklik gelukkig kan maak.—1 Sam. 16:7.

Ons kan ook dink aan God se ervaring. Hy het nie net ’n paar jaar se ondervinding soos die beste menslike raadgewers nie. Hy het alle menslike probleme dopgehou sedert die tyd van die eerste mense. Hy weet van al die mens se mislukkings en suksesse. Die Bybel sê: “Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy . . . let op al hul werke.”—Ps. 33:13-15.

Desnieteenstaande vra ons:

WAT IS DIE SLEUTEL TOT GELUK?

Kortom: Die sleutel tot ware geluk is om dinge op God se manier te doen.

Maar wat beteken dit? Wat moet ons nou eintlik doen?

Wel, dit beteken beslis nie dat ’n mens ’n godsdienstig skynheilige houding aanneem of met ’n vroom gesig rondloop nie. Dit verskaf nie ware geluk nie en bring ook nie God se goedkeuring mee nie (Matt. 23:2, 25-28). Ons moet eerder God se raad wat in sy geskrewe Woord uiteengesit is, aanvaar en dan daarna strewe om dit toe te pas—dit is die sleutel tot blywende geluk.

Ons Skepper weet maar te goed wat ons gelukkig of ongelukkig sal maak, en hy het liefdevol sulke sake in die Skrif geopenbaar. Om groter geluk te smaak, moet ons gevolglik probeer om te doen wat God daarin aanbeveel en om die dinge te vermy waarteen hy waarsku.

Dit werk. Daar is vandag miljoene mense op aarde wat dit vir seker weet. Nee, hulle sluit nie hulle oë vir lewensprobleme nie en is nie immuun daarteen nie. Hulle het probleme in die lewe. Maar omdat hulle probeer om dinge op God se manier te doen, het hulle in baie opsigte minder en minder ernstige probleme as mense oor die algemeen. As jy graag mense se persoonlike getuienis hieromtrent wil aanhoor, kan jy met Jehovah se Getuies in julle gebied praat.

Jy sal vind dat hulle uit persoonlike ervaring weet hoe waar die volgende woorde in die Psalms is:

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose . . . nie; maar sy behae is in die wet van die HERE.” “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.”—Ps. 1:1, 2; 19:8.

Kom ons staaf dit. Hoe? Deur kortliks te kyk hoe hierdie getuienisse jou en ander kan help om ’n paar algemene probleme die hoof te bied en te bowe te kom. Kyk gerus terwyl jy die volgende artikel lees of jy nie hierdie waarheid kan onderskryf nie: Die sleutel tot ware geluk is om dinge op God se manier te doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel