Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/1 bl. 20-25
  • Verheerlik die bediening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verheerlik die bediening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • NIE MINISTERS VAN POLITIEKE REGERINGS NIE
  • HOE ONLANGSE WEERGAWES VERKIES OM DIE WOORDE TE VERTAAL
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bedienaars met sekulêre werk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Wie is God se dienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/1 bl. 20-25

VERHEERLIK DIE BEDIENING

‘Ek verheerlik my bediening.’—Rom. 11:13.

1, 2. Wat sal die bedienaars van valse godsdiens op ’n sekere tyd in die toekoms volgens Sagaria 13:4-6 probeer doen, in plaas daarvan om hulle bediening te verheerlik?

DIE tyd nader wanneer almal wat bedienaars in ’n valse godsdiens is, beskaamd sal staan. Hulle sal hulle beroep probeer geheim hou. Dit is wat Bybelprofesie toon. Sagaria 13:4-6 noem hulle “profete” of sieners en sê:

2 “En in dié dag sal elkeen van die profete, as hy profeteer, hom skaam oor sy gesig; en hulle sal die harige mantel nie aantrek om te lieg nie. Maar hy sal sê: Ek is geen profeet nie, ek is ’n man wat die grond bewerk; want iemand het my van my jeug af as slaaf gekoop. En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.”

3. Tot watter mate sal die geestelikes van die Christendom sulke wonde toegebring word?

3 Die eertydse vriende van die geestelikes sal hulle eindelik aanval en hulle slaan en hulle so verwond dat hulle sterf of hulle godsdiensprofessie en die drag wat daarmee gepaard gaan, opgee. In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, word die wyse waarop die sekulêre amptenare dié in ’n godsdiensprofessie aanval, met sterk beeldspraak uitgebeeld. Hoofstuk 17 beskryf die hele wêreldryk van valse godsdiens, wat van antieke Babilon af kom, as ’n internasionale hoer genaamd Babilon die Grote.

4, 5. (a) Hoe word die wêreldryk van valse godsdiens in Openbaring, hoofstuk 17, afgebeeld? (b) Wat sal die simboliese 10 horings, en die dier met die koninklike kleur self, eindelik met God se toestemming aan sy ruiter doen?

4 Sy word beskryf as ’n vrou wat op ’n skarlakenrooi dier met sewe koppe en tien horings op sy koppe, sit. Die dier gaan in ’n afgrond af, verdwyn, en verskyn dan weer, net soos in die geval van die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Volke. Babilon die Grote het in 1945 G.J. teruggeklim op hierdie internasionale politieke “dier” wat sy herverskyning gemaak het. Sedertdien ry Babilon die Grote al meer as 35 jaar lank op die “dier” met sy koninklike kleur. Die tyd moet nou ophande wees wanneer die simboliese dier, tot die skok van godsdiensbeoefenaars, die onsedelike “vrou” sal aanval wat die politiek tydens die leeftyd van sewe opeenvolgende wêreldmoondhede oorheers het. Wat dan? Openbaring 17:15-18 beskryf dit vir ons waar dit sê:

5 “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier [die agtste wêreldmoondheid] te gee totdat die woord van God volbring is. En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad [hedendaagse Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens] wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”—Kyk Openbaring 18:21-24.

6. Tot watter mate sal die vernietiging van Babilon die Grote godsdiens raak, en wat is die rede hiervoor?

6 Sal die komende vernietiging van Babilon die Grote, wat die valse Christendom insluit, beteken dat alle godsdiens van die oppervlak van die aarde uitgewis gaan word? Nee, nie solank as wat die een lewende en ware God bestaan nie! Sy aanbidders, wat geen deel van die valse Christendom of van die res van Babilon die Grote is nie, sal die wêreldwye aanslag op alle godsdiens oorlewe. Hulle sal deur die God, Jehovah, en sy heersende “Here van die here en die Koning van die konings”, Jesus Christus, beskerm word. Daarna sal hulle die vernietiging aanskou van die godlose, ongodsdienstige heersers wat dan die aarde heeltemal sal oorheers. “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader” sal nooit op die aarde, sy “voetbank”, vergaan nie.—Openb. 17:12-14; Jak. 1:27; Jes. 66:1.

NIE MINISTERS VAN POLITIEKE REGERINGS NIE

7. Wat sal tydens die oorlog te Armageddon gebeur met die “ministers” van die politieke regerings wat teen Jehovah opgestel is?

7 In die beslissende stryd tydens die “oorlog van die daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal die “ministers” van die politieke state wat teen die almagtige God opgestel is saam met hulle aardse regerings vernietig word (Openb. 16:13-16; 19:11-21). Maar die “dienaars” van die seëvierende, almagtige God, Jehovah, sal deur hom bewaar word tydens daardie oorlog van alle oorloë waarmee die huidige stelsel van aardse regerings sal eindig. Watter wonderlike beloning sal dit wees omdat hulle getrou voortgegaan het met hulle Christenbediening aan hom! Mense in baie lande, Kommunisties en nie-Kommunisties, sal moontlik beswaar maak teen die feit dat hulle in Engels “ministers” genoem word. In sulke lande word die Engelse uitdrukking “minister” miskien uitsluitlik gebruik vir hooggeplaaste Staatsamptenare. Maar in die Verenigde State van Amerika waar Engels gepraat word, word die lede van die president se kabinet sekretarisse genoem, soos die sekretaris van buitelandse sake, die sekretaris van binnelandse sake, ensovoorts, en die prokureur-generaal. Hulle sal egter nie behoue bly nie.

8. Wat word die lede van die president se kabinet vandag in Griekeland genoem, en vir wie alleen word die woord “diaken” daar gebruik?

8 In die Heilige Bybel se Christelike Griekse Skrifte is die Engelse uitdrukking “minister” ’n vertaling van die Griekse woord di·a’ko·nos, wat volgens berig letterlik “deur stof” beteken, soos in die geval van iemand wat gestuur of ontbied word. Maar in Griekeland word die president pro’e·dros genoem, wat beteken “die voorsitter”. Die lede van die kabinet word nie met die Griekse woord di·a’ko·nos (minister, Engels) genoem nie, maar met die titel hyp·our·gos’, wat letterlik beteken ’n “onderwerker”. Volgens die Sinaïtiese manuskrip en Vatikaan Nr. 1209 kom hierdie woord in die Griekse Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse Skrifte voor. Josua 1:1 lui daarin: “En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar, [hyp·our·gos’] van Moses, gespreek” (The Jewish Publication Society of America en Bagster’s). Die vertaling deur Charles Thomson noem Josua “die luitenant van Moses”. In die Republiek van Griekeland het die president (pro’e·dros) eweneens sy luitenante, dienaars, assistente of onderwerkers (hyp·our·gos’), en hy laat die diens van di·a’ko·nos of “diakens”, oor aan die godsdiensorganisasies van die land.

9. Is daar Skriftuurlik mense wat in Engels “ministers” van God genoem kan word ondanks die politieke gebruik van die uitdrukking, en wat het The Watch Tower in 1882 hieroor gesê?

9 Dit is waar dat party lande vandag die uitdrukking “minister” slegs in ’n politieke sin gebruik en toepas. Maar dit beteken nie dat ’n persoon wat homself ten volle aan God toegewy het en wat sy lewe daaraan wy om Jehovah God se wil te doen nie uit die standpunt van die Bybel in sy oorspronklike tale ’n “bedienaar” (minister, Engels) of di·a’ko·nos van Jehovah God in navolging van Jesus Christus genoem kan word nie. Amper ’n eeu gelede het die tydskrif Zion’s Watchtower and Herald of Christ’s Presence in sy nommer van Junie 1882 (bladsy 7) aangaande bedienaars van die Woord (ministers, Engels) gesê:

Die dissipels is uitgestuur om te preek en te onderrig en te doop. En hoewel ons glo dat elke toegewyde lid van die liggaam van Christus in die een of ander sin ’n bedienaar [minister, Engels] is, en almal ‘gesalf is om ’n blye boodskap te bring’, is daar verskeie lede wat aangelê is vir verskillende dele van die werk, net soos daar verskillende ledemate en werke in die menseliggaam is, wat Skriftuurlik gebruik word om die liggaam van Christus—die kerk—voor te stel.

10. Wat het die nommer van 1 Januarie 1892 oor voltydse verkondigers bekend as kolporteurs gesê in die lig van die valse Christendom se definisie van God se bedienaars?

10 In sy latere nommer van 1 Januarie 1892 (bladsy 9) het The Watch Tower die volgende onder die opskrif “Gesigte van die toring af” gesê:

Min ken hierdie kolporteurs as die Here se ware verteenwoordigers, of erken daardie waardigheid wat die Here in hulle nederigheid en selfopoffering sien. Sendelinge? Nee, sê die wêreld en die kerk in naam, ons mense wat na ander lande gaan, is sendelinge. Ja, sê die Here, hierdie mense is my sendelinge, en ’n heerlike sending is aan hulle opgedra— . . .

Bedienaars [ministers, Engels]? Nee, sê die wêreld en die kerk in naam, slegs ons manne wat “klerikale” klere dra en van ons kansels af preek, is God se bedienaars [ministers, Engels]. Ja, sê die Here, hulle is my knegte (bedienaars), want hulle dien my en dra die huidige waarheid aan my huishouding oor. Die boodskap wat hulle verkondig, kom van my af. Hy wat hulle verag, verag my, en hy wat die verseëling in die voorhoof ontvang wat ek deur hulle stuur, sal die leerstellings ken, naamlik dat dit van my af kom. “My skape ken my stem.”

(Kyk ook nommer van 1 Februarie 1899 paragrawe 6 en 7, onder die opskrif “Is huidige waarheid onredelik?”)

11. Uit watter taal kom die Engelse woorde “minister” en “ministry”, en hoe word hulle gedefinieer?

11 Maar was Die Wagtoring verwaand of vermetel toe dit gesê het dat elke toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus in Engels ’n “minister” is? Glad nie! Die Engelse woorde “minister” en “ministry”, asook die ooreenstemmende woorde in Italiaans, Spaans, Portugees en Frans kom van die antieke Latynse woorde minister en ministerium af, woorde wat in die Latynse Vulgata gevind word. Minister word soos volg gedefinieer: “’n Dienaar, kelner, kneg, ook ’n priester se dienaar, of assistent; eweneens ’n ondergeskikte beampte, onderbeampte.” Ministerium word gedefinieer as “die amp of funksies van ’n minister, diens, bediening, in ’n goeie of slegte sin; ’n amp, beroep, werk, taak, betrekking, administrasie, ens.”—A New Latin Dictionary, deur Lewis en Short, bladsy 1146.

12. Hoe algemeen word die Bybelvertaling waaruit hierdie tydskrif en ander Wagtoring-publikasies aanvanklik aangehaal het selfs vandag nog gebruik, en bespreek ons politiek wanneer ons oor “ministers” praat?

12 Die Engelse woorde “minister” en “ministry” behoort dus ’n breë betekenis te hê. Ons moet hier onthou dat The Watch Tower en ander publikasies van die Genootskap van die begin af die Authorized Version, of King James Version, van 1611 G.J. as hulle fundamentele Bybelvertaling gebruik het. Hierdie erkende vertaling word tot vandag toe dwarsdeur Groot-Brittanje en die Britse Statebond sowel as in die Verenigde State van Amerika gebruik. In aanhalings uit daardie Bybelvertaling wat algemeen gebruik word, word die sleutelwoorde “minister” en “ministry” dus gebruik in die sin wat dit in die Christelike Griekse Skrifte (Die Nuwe Testament) het, en nie in die hedendaagse politieke sin nie. Ons is nie besig om politiek te bespreek nie.

HOE ONLANGSE WEERGAWES VERKIES OM DIE WOORDE TE VERTAAL

13. Hoe verkies die meeste Bybelvertalers om die omstrede woord di·a·ko·ni’a in Engels te vertaal, en wat gaan God se toegewyde volk doen omtrent die verpligtinge wat daaruit voortspruit?

13 Daar is talle hedendaagse Engelse vertalings van die Christelike Griekse Skrifte (Die Nuwe Testament). Hoe verkies die meerderheid van hierdie hedendaagse Engelse vertalings om die omstrede Griekse woord dia·ko·ni’a vir hulle lesers weer te gee? Met die woord “ministry”, met al die waardigheid wat die Heilige Bybel daaraan verleen. Die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah verdraai dus nie die Bybel wanneer hulle die gepaste woord “ministry” op hulle toegewese Christelike bedrywigheid toepas nie. Wat gaan hierdie bedienaars (ministers, Engels) nou met hulle bediening (ministry, Engels) doen? Gaan hulle dit vervul en die verpligtinge daarvan nakom, of gaan hulle dit verwerp weens besware of druk deur teenstanders? Uit geopenbaarde Bybelprofesie weet ons wat die vervreemde politieke owerhede aan die predikante, biskoppe, diakens, priesters en patriarge van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gaan doen. Ons moet nie ons oë sluit vir die dinge wat voorlê nie.

14. Wat toon die beeldspraak van Openbaring, hoofstuk 17, sal tydens “die groot verdrukking” met Babilon die Grote gebeur?

14 Soos in die beeldspraak van Openbaring getoon word, sal die sekulêre politieke magte ’n einde maak aan die huwelike tussen Kerk en Staat. Hulle sal ophou om intieme omgang met die internasionale godsdienshoer te hê. Hulle sal haar van hulle rug afgooi, haar ontdoen van haar aansprake op koninklikheid met sy skarlaken en purper, haar beroof van haar goud, pêrels en kosbare stene waarmee sy haar oordadig versier het. Hulle sal die “goue beker” vol van alle onreinheid en gruwels uit haar hand ruk, die beker waaruit sy alle nasies laat drink het sodat hulle denke beneweld was asof hulle dronk was. Haar ryk versierde godsdiensgeboue sal hulle omskep in plekke vir gewone, sêkulere gebruike, of hulle selfs verbrand nadat hulle die onregmatig verkreë rykdom daarin geplunder het. Wee die dag van afrekening met Babilon die Grote gedurende “die groot verdrukking”!—Openb. 17:1-18; 7:14.

15. Wat sal die Christengetuies van Jehovah dan verplig wees om te doen?

15 Wat sal daardie toekomstige handelwyse van die politieke magte van die wêreld vir die Christengetuies van Jehovah beteken? Dit: hulle bediening ter bevordering van die belange van God se koninkryk sal verwerp word. Hulle sal nie meer die “jaar van die welbehae van die HERE” verkondig nie. Selfs na die vernietiging van Babilon die Grote moet hulle onverskrokke voortgaan met die verkondiging van die “dag van die wraak van onse God”.—Jes. 61:1, 2; 59:17, 18.

16. Hoe sal Jehovah se Getuies die apostel Paulus navolg in wat hy volgens baie vertalings in Romeine 11:13 sê?

16 Wat gaan Jehovah se Getuies tot dan met hulle bediening maak? Omdat hulle die dinge wat volgens Bybelprofesie voorlê goed in gedagte hou, sal hulle wyslik besluit om te doen wat daardie goeie voorbeeld, die apostel Paulus, gedoen het. As ’n internasionale gesant van Jehovah God het die apostel Paulus in Romeine 11:13 beskryf wat hy daaromtrent gedoen het. Hier volg sy woorde soos weergegee deur verskeie hedendaagse vertalings: “Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening [“ministry”]” (Die Afrikaanse Bybel; The International Hebrew/Greek English Bible; British Revised Version; Die New World Translation; The New American Bible; Rotherham; Revised Standard Version).” . . . eer ek my bediening [“ministry”]” (Murdock; The Emphatic Diaglott; Die Rooms-Katolieke Douay Version; The New English Bible). “. . . dink ek veel van my bediening [“ministry”]” (The New International Version) vervul ek my bediening [“ministry”] na my beste vermoë (Phillips se Modern English). “. . . is ek trots op my bediening [“ministry”]” (Weymouth). “. . . dink ek veel van my amp [“office”]” (The Bible in Living English) “. . . verheerlik ek my amp [“office”]” (Authorized Version; Tyndale). “Juist omdat ik heidenapostel ben, houd ik mijn ambt hoog” (Leidsche Vertaling). Luther se Duitse Bybelvertaling lui: “. . . sal ek my amp prys.”

17. Sê Paulus as ’n Jood dat hy sy werk verlaag het tot die vlak van net ’n gewone diens, al was dit ten behoewe van heidense nie-Jode?

17 Uit die bogemelde vertalings sien ons dat Paulus se dia·ko·ni’a nie verlaag word tot die vlak van ’n blote “diens” nie. Paulus gebruik die Griekse woord dox·a’zo in verband met sy “bediening”. Dit kom van die Griekse wortel do’xa wat “heerlikheid” beteken. Paulus se di·a·ko·ni’a was inderdaad niks om voor skaam te wees nie. Today’s English Version gee Romeine 11:13 soos volg weer: “Ek spreek nou tot julle nie-Jode: Solank as wat ek ’n apostel vir die nie-Jode is, sal ek trots wees op my werk.” The Jerusalem Bible lui: “Dit wil ek vir julle heidene sê: Ek is na die heidene gestuur as hulle apostel, en ek is trots daarop dat ek gestuur is.”a

18. Waarom moet die geestelikes met hoogdrawende titels wat aan kweekskole gestudeer het nie Jehovah se Getuies vekleineer in die lig van wat die twaalf apostels van Jesus Christus as mense was nie?

18 ’n Mens se Christelike bediening (ministry, Engels) is natuurlik niks om opgeblase oor te raak nie. Ons behoort eerder baie nederig te voel omdat God sy toegewyde, gedoopte aanbidders so begunstig het deur aan hulle so ’n bediening onder die tans heersende koning, Jesus Christus, te gee. Die Christendom se geestelikes wat aan kweekskole gestudeer het, word as Eerwaarde, Hoogeerwaarde, Weleerwaarde, Seereerwaarde en ander hoogdrawende titels aangespreek, en kleineer gevolglik moontlik die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah. Vier van Jesus se apostels was andersyds vissermanne, een was ’n tollenaar, en daar word nie gesê dat die sewe ander aan enige van die Rabbynse skole van die eerste eeu gestudeer het nie. Nogtans word hulle eervol vermeld in die laaste boek van die Bybel, waar dit gesê word dat hulle name op die twaalf fondamentstene van die Nuwe Jerusalem geskryf staan.—Openb. 21:14.

19. Is die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah ministers van enige regering, en hoe duursaam is hulle ministerskap?

19 Wat regeringsministers betref, is daardie toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah ministers van die grootste regering wat ooit bestaan het. Nee, hulle is glad nie soos kabinetsamptenare van ’n mensgemaakte regering soos ’n ryk, koninkryk of demokrasie nie, maar hulle is ministers van die Soewerein van die Heelal, die Skepper van hemel en aarde. Ter vervulling van Mattheüs 24:14 is hulle die aangestelde boodskappers van die Messiaanse koninkryk van die tans heersende Koning, Jesus Christus. Hulle ministerskap sal nie eindig met die rampspoedige einde van die ou stelsel van dinge tydens die “groot verdrukking” wat voor die deur is nie.

20. Het Paulus in sy vermanings in Kolossense 4:17 en 2 Timotheüs 4:5 verwys na die gewone, alledaagse diens wat deur mense oor die algemeen verrig word?

20 Die apostel Paulus kon onmoontlik nie die gewone, alledaagse dienste wat deur wereldse mense oor die algemeen verrig word in gedagte gehad het toe hy aan sy mede-Christen Archippus geskryf het nie: “Gee ag op die bediening [ministry, Engels] wat jy ontvang het in die Here, dat jy dit vervul” (Kol. 4:17). Tydens sy laaste gevangenskap het Paulus aan Timotheüs, sy medesendeling, geskryf: “Doen die werk [er’gon, Grieks] van ’n evangelis; vervul jou bediening [ministry, Engels]” (2 Tim. 4:5). Hierdie geïnspireerde instruksies aan getroue bedienaars van die vroeë Christengemeente is uitstekende vermanings wat alle hedendaagse toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah op hulself kan toepas gedurende hierdie “tyd van die einde” van die gedoemde ou stelsel van dinge, alles tot God se ewige eer.—Dan. 12:4.

[Voetnoot]

a Reeds in 383 G.J., die jaar toe Eusebius Hieronymus begin het om sy Latynse Vulgata-vertaling van die Heilige Skrif uit die oorspronklike tale te vertaal, het hy woorde wat verwant is aan minister onder Latynssprekende en -lesende Christene gewild gemaak deur die Latynse selfstandige naamwoord minister van Mattheüs 20:26 af aan te gebruik; die Latynse selfstandige naamwoord ministerium (ministry, Engels) van Lukas 10:40 af aan; en die Latynse werkwoord ministrare (to minister, Engels) van Mattheüs 4:11 af aan.

Latyn was die internasionale diplomatieke taal van die Westerse wêreld. In 1378, die jaar van die “Groot skisma van die Weste” in verband met die pousdom, het John Wycliffe sy vertaling van die Nuwe Testament (die Christelike Griekse Skrifte) gepubliseer. “Wycliffe het regstreeks uit die Latynse Vulgata vertaal omdat hy homself nie bekwaam genoeg geag het om die oorspronklike Hebreeus en Grieks as grondslag te gebruik nie. Sy vertaling is baie letterlik en eenvoudig, maar styf en vol Latynse vorme; dog nie so erg as in baie van Wycliffe se ander geskrifte nie” (M’Clintock en Strong se Cyclopœdia, Deel X, bladsy 1043, kolom 1. onder “Wycliffe”). Reeds in die 14de eeu het Wycliffe dus die woord “minister” gebruik. William Tyndale het dit ongetwyfeld “baie gebruik in sy vertaling uit die oorspronklike tale”. In Romeine 13:4 lui Wycliffe se vertaling: “He is the mynystre of God.” In Romeine 11:13: “I schal onoure my mynysterie.”—Oxford-Deur die Clarendon Press.

[Venster op bladsy 22]

“Die Gees van die Here HERE is op My . . . om uit te roep die jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God”—Jes. 61:1, 2.

[Venster op bladsy 23]

“Vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, . . . Maar júlle . . . priesters van die HERE . . . aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!”—Jes. 61:5, 6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel