Kan vroue “bedienaresse” wees?
DAAR is vandag al hoe meer vroue op Protestantse kansels. In ’n sekere kerk deel party vroue selfs die kansel met hulle mans. Baie nonne agiteer dat die Katolieke Kerk vroue ook moet toelaat om as geestelikes of priesteresse georden te word, maar tot dusver het die pous geweier om hulle versoeke toe te staan.
Ongeag wat menslike wysheid oor die onderwerp voorskryf, of wat ons eie neigings of voorkeure ook al mag wees, sal die ‘wysheid van bo’, wat in God se Woord uiteengesit word, die beslissende faktor wees vir alle opregte volgelinge van Jesus Christus.—Jak. 3:15-17.
God se Woord toon dat Jesus Christus ’n presedent geskep het deur slegs mans as die 12 apostels en die 70 evangeliste aan te stel (Matt. 10:1-4; Luk. 10:1). In ooreenstemming met hierdie presedent vind ons dat die apostel Paulus die aanstelling van gemeentelike ouere manne (en bedieningsknegte) tot mans beperk het (1 Tim. 3:1-13; Tit. 1:5-9). Daarbenewens het hy Timotheüs daaraan herinner: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.”—1 Tim. 2:12.
Maar uit ander tekste is dit duidelik dat hierdie beperking slegs binne die gemeente geld. Die profesie in Joël 2:28, 29 toon dat vroue predikers, verkondigers, bedienaresse van die “evangelie” buitekant die gemeentelike vergaderinge kan wees. Die apostel Petrus het getoon dat daardie teks op Pinksterdag vervul is deur te sê: “In die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer . . . En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Ja, op Pinksterdag is die heilige gees op manne sowel as vroue uitgestort.—Hand. 1:14, 15; 2:1-4, 17, 18.
Jesaja 61:6 is ook hier ter sake. Dit lui ten dele: “Júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars [ministers, Engels] van onse God!” Hierdie profesie het sy eerste vervulling gehad toe die Joodse ballinge, as ’n samegestelde of volksgroep, uit antieke Babilon teruggekeer het. Maar soos uit die fisiese feite blyk en ooreenkomstig Romeine 15:4 het hierdie woorde ’n hedendaagse vervulling op geestelike Israeliete (Gal. 6:16).a Hulle was gedurende die Eerste Wêreldoorlog in geestelike gevangenskap aan “Babilon die Grote”, en is kort daarna vrygelaat toe daardie wêreldryk van valse godsdiens simbolies geval het.
Wie word ingesluit in die uitdrukking “dienaars” of “ministers” (in Engels) in ’n verhewe of heilige sin, aangesien hierdie herstellingsprofesie ’n hedendaagse vervulling ondergaan? Is dit beperk tot ouere manne en bedieningsknegte, of “diakens”, in die gemeente? Klaarblyklik nie. Hierdie profesie was destyds van toepassing op al die Jode wat as ’n samegestelde of volksgroep uit Babilon teruggekeer het. Hierdie profesie kan vandag eweneens toegepas word op die hele geestelike Israel wat uit hedendaagse Babilon gekom het, manne sowel as vroue, oud sowel as jonk—ja, ongeag ouderdom of geslag, mits hulle natuurlik “dien”.
Beteken dit dat die uitdrukking “bedienaars” of “ministers” (in Engels) nou beperk is tot die gesalfde geestelike oorblyfsel? Nee, want hierdie uitdrukking kan ook toegepas word op die “groot menigte” “ander skape” wat die oorblyfsel vandag bystaan. Dit blyk uit die wyse waarop talle ander tekste op hierdie “ander skape” van toepassing is.—Joh. 10:16; Openb. 7:9.
Jesaja 43:10-12 was byvoorbeeld eers van toepassing op die natuurlike Israeliete wat Jehovah God uit Egipte verlos en sy getuies gemaak het. Hierdie teks is vandag van toepassing op die geestelike Israeliete wat Jehovah uit Satan se organisasie verlos en Jehovah se Getuies gemaak het. Die bewys dat hierdie uitdrukking nie tot die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel beperk kan word nie, blyk uit die feit dat daar vandag meer as tweemiljoen aanbidders van Jehovah is wat ’n aardse hoop het en wat waarlik oor hulle God, Jehovah, getuig.
BEDIENARESSE
Ja, alle toegewyde en gedoopte Christene kan verkondigers, predikers, bedienaars, “knegte” in ’n verhewe of heilige sin, wees, ongeag hulle geslag of ouderdom—mits hulle bewys daarvan lewer deur hulle gedrag en hulle getuieniswerk. Die apostel Paulus het dus in Romeine 16:1, 2 geskryf: “Ek beveel by julle aan ons suster Febe, wat ’n dienares [minister, Engels] is van die gemeente in Kenchreë, dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie ’n beskermster en ook vir my.” Paulus se verwysing is klaarblyklik na iets meer as bloot fisiese diens. Dit hou verband met die gesproke woord, die Christelike bediening. Sy was egter nie as ’n vroulike bedieningskneg aangestel nie, aangesien Jehovah God deur Paulus geen voorsiening vir vroue in daardie amp gemaak het nie.
En in Paulus se brief aan die Christengemeente in Filippi verwys hy na Euodia en Sintiche as “vroue . . . wat met my saamgestry het in die evangelie [klaarblyklik deur die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig en aan ander te leer], ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is.”—Filip. 4:2, 3.
Ons moet ook nie van Priscilla, Aquila se vrou, vergeet nie. Sy word herhaaldelik gemeld, en dikwels selfs eerste (Hand. 18:2, 18, 26; Rom. 16:3; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19). Toe welsprekende Apollos in Efese aangekom het en dit duidelik was dat hy verdere onderrigting nodig gehad het, ‘het Priscilla en Aquila hom in hulle huis geneem en het hulle albei die woord van God noukeuriger vir hom uitgelê’.—Hand. 18:26, Kingdom Interlinear Translation.
Verskeie howe in die Verenigde State het vroue wat Jehovah se Getuies is en van huis tot huis evangelisasiewerk doen as bedienaresse (ministers, Engels) erken. Die Appèlhof van Vermont het byvoorbeeld in Vermont v. Greaves (1941) gesê dat Elva Greaves “’n geordende bedienares [minister, Engels] is van ’n sekte of groep bekend as en genaamd ‘Jehovah se Getuies’”.
JEUGDIGE BEDIENAARS
Dieselfde beginsel geld in die geval van jong Christene. Alhoewel hulle in geen sin van die woord as aangestelde knegte in die gemeente kan dien nie, verhinder hulle ouderdom hulle glad nie om predikers of verkondigers van die “evangelie”, bedienaars van God, te wees nie. Toe Jesus 12 jaar oud was, het hy getoon dat hy in staat was om God se Woord te ‘bedien’ (Luk. 2:46-50). Samuel het “’n dienaar [minister, Engels] van Jehovah” geword toe hy nog maar net ’n “seun” was. (1 Sam. 2:11, NW; kyk ook American Standard Version; The Jerusalem Bible; Rotherham.) Deur die goeie nuus van God se koninkryk by elke geleentheid te verkondig nadat hulle hulself aan Jehovah toegewy het en gedoop is, asook deur hulle gedrag, toon party in hulle vroeë tienderjare of selfs nog jonger in ons dag dat hulle voorwaar dienaars [ministers, Engels] van God is.—2 Tim. 2:22; Pred. 12:1.
’N “HEILIGE DIENS”
Jesus het die reël uitgespreek dat ’n man se woorde aan sy werke geoordeel moet word. Hy het gesê: “Die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het” (Joh. 5:36). Om dieselfde rede kan die dienaars (ministers, Engels) in ’n verhewe sin wat deur God uitgestuur word, hetsy manlik of vroulik, jonk of oud, herken word aan hulle diens ter bevordering van Koninkryksbelange, hulle “heilige diens” aan hulle God, Jehovah.—Matt. 4:10, NW; Rom. 12:1, 2, NW.
Dieselfde geld vandag onder Jehovah se Getuies. Enigiemand wat na toereikende onderrig in God se Woord gedoop is as ’n simbool dat hierdie persoon sy of haar lewe aan God toegewy het, en wat Jehovah God daarna ernstig begin dien deur vir sy naam en koninkryk te getuig, is waarlik ’n bedienaar (minister, Engels) in God se oë (Joh. 12:26). Maar of hulle hulle altyd in Engels as ’n “minister” wil voorstel wanneer hulle van huis tot huis gaan, sal afhang van die omstandighede, onder meer die plaaslike gesindheid teenoor die Engelse woord “minister”. In elk geval, vandag se ‘groot menigte uit alle nasies’ word in Openbaring 7:9-17 (NW) beskryf as mense wat ‘dag en nag vir God heilige diens verrig in sy tempel’. Almal is God se bedienaars (ministers, Engels)—sy knegte in ’n heilige, verhewe sin.
[Voetnoot]
a Kyk Die Wagtoring, 15 September 1978, ble. 6–18.
[Prent op bladsy 18]
Op Pinkster het heilige gees manne en vroue gemagtig om dienaars van onse God, Jehovah, te wees
[Prent op bladsy 19]
Jongmense kan as ‘dienaars van God’ dien deur die “evangagelie” te verkondig en vir ander geestelike vertroosting te bring