GAAN! MAAK DISSIPELS
1, 2. (a) Hoe sou die uitdrukking “die uiterste van die aarde” mettertyd nuwe betekenis verkry? (b) Hoe het Jesus getoon dat die Christelike opdrag om te getuig nie met die eerste-eeuse Christene sou eindig nie?
JESUS se afskeidsopdrag dat sy volgelinge tot aan die uiterste van die aarde sy getuies moes wees, soos opgeteken in Handelinge 1:8, het nie met die vroeë Christene geëindig nie, nie wat tyd of landoppervlakte betref nie. Hulle het hulle goed van hulle taak gekwyt deur die “evangelie” te verkondig so ver as wat hulle in hulle dag in “die hele wêreld” of “in die ganse mensdom onder die hemel” kon kom (Kol. 1:5, 6, 23). Maar met verloop van tyd sou daardie uitdrukkings nuwe betekenis verkry, namate die immer toenemende bevolking oor ses vastelande en tallose eilande, letterlik “tot aan die uiterste van die aarde” versprei het.
2 Jesus was terdeë bewus hiervan. Tot voordeel van al sy dissipels—nie slegs die eerste-eeuse Christene nie, maar alle Christene deur die jare heen, en veral daardie Christene wat gedurende “die voleinding van die wêreld” op aarde sou lewe—het die verrese Christus gesê:
“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Matt. 28:18-20.
3. Watter werk sou gesalfde Christene, volgens een geleerde, moes verrig?
3 Vir almal wat dit nodig het, is daar hier bewys dat die opdrag wat Christus op die dag van sy hemelvaart aan sy dissipels gegee het nie ten volle in die eerste eeu G.J. vervul is nie. Dit sou vervul word reg tot die “voleinding van die wêreld”. Deur wie? Dit is interessant dat professor F. F. Bruce van Rylands-Universiteit die volgende oor Handelinge 1:8 geskryf het: “Net soos Jesus tydens sy doop met die Heilige Gees en krag gesalf is, sou sy volgelinge nou op soortgelyke wyse gesalf word en in staat gestel word om sy werk voort te sit. Dit sou ’n getuieniswerk wees—’n tema wat opvallend is in die apostoliese prediking dwarsdeur Handelinge (vgl. Hfste. 2:32; 3:15; 5:32; 10:39; 13:31; 22:15, ens.). ’n Profeet van die OT [Ou Testament] het Israel geroep om God se getuies in die wêreld te wees (Jes. 43:10; 44:8); die taak wat Israel as ’n nasie nie verrig het nie, is opgeneem deur Jesus, as die volmaakte Kneg van die Here, en deur hom aan sy dissipels oorgedra.”
4. Van wanneer af voer die oorblyfsel hierdie opdrag uit, en waarom het dit ontsaglike geloof geverg?
4 Ja, die opdrag om getuies tot aan die uiterste van die aarde te wees en om tydens hierdie “voleinding van die wêreld” dissipels van al die nasies te maak, is oorgedra aan die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel, wat gesamentlik Jehovah se “kneg” en sy “getuies” is (Jes. 43:10-12). Dit is veral sedert 1919 dat hulle hierdie opdrag getrou uitvoer. Maar hoe kon hierdie paar duisend geesverwekte Christene die duisendmiljoene mense bereik wat “tot aan die uiterste van die aarde” verstrooi is? Watter ontsaglike geloof het dit tog geverg om selfs net so ’n taak te oorweeg!
5. Watter middele het hedendaagse Christene gehelp om tot aan die einde van die aarde te getuig?
5 Lees weer ’n slag die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuiesa en jy sal sien dat een van die vernaamste maniere wat gebruik is om die Koninkryksboodskap wyd en syd uit te dra die verspreiding van tydskrifte was, naamlik Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! (voorheen The Golden Age, toe Vertroosting). Daar is letterlik miljardeb van hierdie Bybelse tydskrifte in meer as 100 tale en tot by die vier hoeke van die aarde versprei.
“LEËRS VAN PERDERUITERS”
6, 7. (a) Hoe word die gesalfde oorblyfsel in Openbaring hoofstuk 9 afgebeeld, en wat het hulle tot hulle beskikking? (b) Wat beeld dit af? (c) Watter kommentaar het die boek “Then Is Finished the Mystery of God” oor hierdie profesie gemaak?
6 In Openbaring hoofstuk 9 word die gesalfde oorblyfsel afgebeeld deur “vier engele” of boodskappers wat bevry is van gevangenskap aan Babilon die Grote, “by die groot rivier, die Eufraat” (verse 14, 15). Hierdie bevryde boodskappers het tot hulle beskikking “leërs van perderuiters” waarvan daar “twee maal tienduisend maal tienduisend”, of 200 000 000, is wat gebruik word om, figuurlik gesproke, ’n groot deel van die mensdom “dood” te maak (verse 16-19). Die “perde” in hierdie gesig beeld die middele af wat die gesalfde oorblyfsel gebruik om Jehovah se oordeelsboodskappe, wat veral gerig is teen die valse Christendom, die laakbaarste deel van “Babilon die Grote” (die wêreldryk van valse godsdiens), bekend te maak.
7 Waar die boek “Then Is Finished the Mystery of God” hierdie boeiende gesig verduidelik, sê dit: “Die stormloop van hierdie simboliese ‘perde’ het grootliks toegeneem toe daar begin is om die Wagtoringgenootskap se tydskrifte op straat, van huis tot huis en van winkel tot winkel aan te bied” (Bladsye 246, 247). Hoewel hierdie simboliese “perde” boeke, boekies en traktate insluit, het die tydskrifte ongetwyfeld ’n belangrike rol gespeel om die Koninkryksgetuienis “tot aan die uiterste van die aarde” uit te dra, en speel hulle nog steeds ’n groot rol.c
8. Hoe het die gesalfde oorblyfsel ook Christus se bevel om ‘dissipels te gaan maak’ gehoorsaam?
8 Die gesalfde oorblyfsel het nie alleen sulke simboliese perderuiters ywerig en moedig gerig om die bolwerke van valse godsdiens aan te val nie, maar hulle het ook ag geslaan op Christus se bevel om ‘dissipels te maak van die mense van alle nasies en hulle te doop’. Sedert 1935 het al hoe meer mense die oordeelsboodskappe gelees wat teen die wêreldryk van valse godsdiens gepubliseer is en die goddelike bevel gehoorsaam om ‘uit “Babilon die Grote” uit te kom’ (Openb. 18:1-4). Hulle het hulself aan Jehovah God toegewy en is gedoop “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Omdat hulle self deur Die Wagtoring en Ontwaak! gehelp is, het hulle begin om hierdie puik tydskrifte saam met die gesalfde oorblyfsel wyd en syd te versprei, ja, “tot aan die einde van die aarde”.—Jes. 49:6.
IS JY ’N AKTIEWE VERKONDIGER VAN DIE “GOEIE NUUS”?
9. Wat is elke Christen se plig?
9 Die bevel om getuies te wees “tot aan die uiterste van die aarde” en om ‘dissipels te maak van al die nasies’ geld vir almal wat bely dat hulle Christene is. Alle toegewyde getuies van Jehovah moet dus ’n diepgesetelde, hartgrondige vasbeslotenheid hê om deel te neem aan die uitvoering van daardie geseënde opdrag.
10. (a) Wat moet lede van die “groot menigte”onthou? (b) Wat is egter party se gesindheid?
10 As jy nou ’n lid van die “groot menigte” is wat in Openbaring 7:9-17 beskryf word, moet jy onthou dat as jy “uit die groot verdrukking” wil kom jy moet aanhou sê: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” en nie moet ophou om ‘dag en nag vir Jehovah heilige diens in sy tempel te verrig’ nie. Maar in die laaste tyd het party die gesindheid dat dit voldoende is om die Gedenkmaal van Christus se dood een keer per jaar by te woon, op hoogte te bly van huidige Bybelkennis deur die Wagtoringgenootskap se publikasies te lees, vergaderinge van tyd tot tyd by te woon en hulle lig net te laat skyn deur ’n goeie lewe te lei en nou en dan te getuig as en wanneer die geleentheid homself voordoen.
11. Kan die Christelike opdrag uitgevoer word bloot deur ’n goeie lewe te lei, of hoe anders?
11 Maar is dit genoeg? Hoe kon die Christengetuienis “tot aan die uiterste van die aarde” gegee word indien die vroeë Christene en die hedendaagse gesalfde oorblyfsel net gebly het waar hulle was en goeie lewens gelei het? Om ‘dissipels van al die nasies te maak’ moes hulle eerstens “GAAN”! Ja, hulle moes “van huis tot huis” en “in mense se huise” gaan getuig (Hand. 5:42, AB; Today’s English Version). Hierdie openbare getuieniswerk is ’n onmisbare deel van ons “heilige diens”.
12. Wat het party vergeet, en wat word hulle nou aangespoor om te doen?
12 Waar staan jy? Is jy ’n Koninkryksverkondiger wat innige vreugde smaak wanneer jy die “goeie nuus” en ook Jehovah se oordele deur middel van die simboliese “perde”, veral die Genootskap se tydskrifte, bekend maak? As jy minder doen of selfs heeltemal opgehou het, is dit dan omdat jy die geestelike betekenis van sulke bedrywighede uit die oog verloor het, naamlik om die gesalfde oorblyfsel te help om hulle opdrag uit te voer om ‘’n jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God uit te roep’? (Jes. 61:1, 2, 5). Dan is dit hoog tyd dat jy weer daardie vreugde herontdek deur jouself in Jehovah se diens te werp.
VIND JY DIT MOEILIK OM JOU GEDAGTES IN WOORDE UIT TE DRUK?
13, 14. (a) Waarom wil party nie van huis tot huis getuig nie? (b) Watter praktiese wenke word gegee om hulle te help om hulle skugterheid te bowe te kom?
13 Jy vind dit moontlik moeilik om van huis tot huis te getuig omdat jy sukkel om jou gedagtes in woorde uit te druk. Of miskien is jy een van die miljoene wat dit geniet om die Genootskap se tydskrifte te lees en saam met Jehovah se Getuies in hulle Koninkryksale te vergader, maar wat nog nooit van huis tot huis getuig het nie omdat hulle bang is dat hulle nie sal weet wat om te sê nie. Jy is deeglik daarvan bewus dat die getuienis “tot aan die uiterste van die aarde” gegee moet word en dat dissipels onder die mense van “al die nasies” gemaak moet word, maar jy meen dat jy nie bekwaam is om met mense by hulle deure te gesels nie. Jy weet jy moet dit doen, en jy voldoen aan die Skriftuurlike vereistes, maar jy dink dat jy dit nie kan doen nie. Jou hart is vol waardering vir die waarheid in God se Woord, maar jou bene weier om jou na daardie eerste deur te dra omdat jy bang is dat jou lippe nie die nodige woorde sal vind nie. Wat kan jy daaromtrent doen?
14 Jy kan dalk begin deur jou Bybel te vat en weer ’n slag Romeine 10:8-15 te lees. Dit behoort jou voete te laat jeuk om uit te gaan en ‘die evangelie van die goeie te verkondig’. Bid dan tot Jehovah vir krag—ja, tot ‘Hom wat krag gee’. (Filip. 4:13, NAB; vergelyk Handelinge 1:8.) Wanneer jy dan weer na die Koninkryksaal of na julle plaaslike gemeenteboekstudie toe gaan, kan jy vir een van die Christen-ouere manne vra om jou in aanraking te bring met ’n Getuie wat ondervinding het in die werk om die “goeie nuus” van huis tot huis te verkondig. Hierdie Koninkryksverkondiger sal nie verwag dat jy sommer uit die staanspoor Bybelse gesprekke met die huisbewoners moet voer nie. Hy (of sy) sal heel waarskynlik voorstel dat julle ’n bietjie tyd saam deurbring om die inhoud van die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! te bespreek voordat julle saam van huis tot huis gaan om hierdie puik tydskrifte vir die publiek aan te bied.
15. Waarom is die tydskrifwerk ’n ideale manier om ondervinding in die getuieniswerk van huis tot huis te verkry en om tuis-Bybelstudies te begin?
15 Tydskrifwerk is ’n ideale manier om die predikings- en dissipelmaakwerk te begin doen of weer op te neem. Dit is ongetwyfeld een van die maklikste en beste maniere om vir mense te getuig en ondervinding te verkry in die getuieniswerk van huis tot huis. Elke nommer bevat nuwe besprekingspunte. As jy boonop teruggaan na almal wat ’n tydskrif aanvaar, sal jy eerlank ’n lys van mense hê wat jy gereeld met die jongste nommers kan besoek. Jy sal hierdie mense geleidelik leer ken. Artikels soos die reeks “Het jy al ooit gewonder. . . ?” (in Ontwaak!) sal jou in staat stel om ’n gesprek aan te knoop en selfs ’n Bybelstudie te begin. Lees die eerste paragraaf vir die huisbewoner, stel die eerste gedrukte vraag (tussenhofie)—en bied die persoon die geleentheid om te antwoord—voordat jy die volgende paragraaf en enige gesiteerde tekste lees. Stel dan die volgende vraag (tussenhofie), ensovoorts na gelang van die tyd wat die huisbewoner tot sy beskikking het. Stel dit gerus op die proef. Jy sal verbaas wees oor die vreugde en godvrugtige tevredenheid wat jy smaak as jy gereeld sulke “heilige diens” vir Jehovah verrig.—Openb. 7:15, NW.
JONG CHRISTENE, LAAT LOOP MET DAARDIE “PERDE”!
16. Watter tekste toon dat jong Christene ook by die saak betrokke is?
16 Die verantwoordelikheid om “getuies” te wees “tot aan die uiterste van die aarde” rus op alle Christene, jonk en oud. Die profetiese 110de Psalm sê van Christus:
“U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe” (Ps. 110:2, 3).
Nog ’n Messiaanse psalm praat van “jonkvroue” wat die “vriendinne” sou wees van Christus se bruid (Ps. 45:14, 15). Albei hierdie gedeeltes is van toepassing op die gesalfde oorblyfsel en op die “groot menigte” wat letterlik “jong manskappe” en “jonkvroue” insluit. Julle moet dus ook ‘baie gewillig wees’ en lojale ‘vriende’ wees van die oorblywende lede van die gesalfde bruidsklas wat nog op aarde is en wat afgebeeld is deur die “vier engele” wat die “leërs van perderuiters” teen Satan se godsdienstige wêreldryk rig.—Openb. 9:15-19; 21:2, 9.
17. Hoe verrig talle voorbeeldige jongmanne en -vroue “heilige diens”?
17 Talle sulke jongmanne en -vroue verrig “heilige diens” by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn en die 97 takke dwarsoor die aarde. Daar verrig hulle gewillig verskeie take wat regstreeks verband hou met die voorbereiding en die versending van die simboliese “perde”—publikasies wat oordeelsboodskappe bevat in verband met die “dag van die wraak van onse God” en wat ook vertroostende waarhede uiteensit oor die “jaar van die welbehae van die HERE” (Jes. 61:1, 2). Al hierdie gewillige persone het nie alleen ’n aandeel aan die voorbereiding van die “perde” vir gebruik in die veld nie, maar hulle doen self ook velddiens en maak omvattend gebruik van sulke “perde”, veral die tydskrifte.
18. (a) Hoe toon ander jong Christene dat hulle ywerige vriende van die oorblyfsel is? (b) Hoe beskou die Koning en sy “broeders” hulle ywer?
18 Ander jong Christene is ook “baie gewillig” en toon dat hulle ywerige vriende van die gesalfde oorblyfsel is deur as “pioniers” te dien, dit wil sê, deur ten minste 1 000 uur per jaar aan die openbare getuieniswerk te wy. Die koning Jesus Christus en sy gesalfde “broeders” wat nog op die aarde is, stel die ywer van al hierdie jong Christene hoog op prys.—Vergelyk Mattheüs 25:34-40.
19. Wat word alle ander jong Christene aangespoor om te doen?
19 Maar daar is duisende ander “jong manskappe” en “jonkvroue” in die gemeentes van Jehovah se volk. Is julle ‘baie gewillig op die dag van Christus se krygsmag’? Of laat julle toe dat die simboliese “perde” in julle kamer ophoop of ledig in julle velddienstasse lê? Laat loop met daardie “perde”! Doen velddiens smiddae na skool, op julle vry dag in die week (waar hierdie reëling bestaan), oor naweke en tydens die verskillende vakansies wat julle gedurende die jaar het. Die hulppionierdiens bied julle ’n wonderlike geleentheid om “baie gewillig” te wees vir “heilige diens”. En die tydskrifwerk is ’n vorm van Christelike getuieniswerk wat veral gepas is vir julle jongmense. Dit is binne julle vermoë en kan goeie resultate meebring.
BEDRYWIGE GETUIES REG TOT DIE EINDE TOE
20, 21. (a) Watter opdrag het Christus aan eerste-eeuse Christene en aan diegene in die “laaste dae” gegee? (b) Wat toon die getuienis van ’n geskiedenisprofessor? (c) Hoe het Jehovah se Getuies tydskrifte gebruik om dit te doen?
20 Vir die vroeë Christene het Jesus gesê: “Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Vir Christene wat in die “laaste dae” of die “tyd van die einde” lewe, het hy profeties gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14; Dan. 12:4; 2 Tim. 3:1.
21 Die Joodse hoëpriester, ’n aartsvyand van die vroeë Christene, het droewig erken: “Kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul” (Hand. 5:28). In sy boek These Also Believe het geskiedenisprofessor Charles Braden geskryf: “Jehovah se Getuies het letterlik die aarde met hulle getuieniswerk oordek. . . . Daar kan waarlik gesê word dat geen enkele godsdiensgroep in die wêreld meer ywer en volharding as Jehovah se Getuies getoon het in hulle poging om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie.” Alhoewel daar in 1919 slegs ’n paar duisend van die gesalfde oorblyfsel was, het hulle die uitdaging aanvaar. Deur die “krag” van die heilige gees en met al hoe meer hulp van die immer toenemende “groot menigte” vriende het hulle inderdaad “letterlik die aarde met hulle getuieniswerk oordek”. Van 1919 tot 1980 het hierdie Christene meer as vier-en-’n-drie-kwartmiljard eksemplare van Die Wagtoring en sy medetydskrif (The Golden Age; Vertroosting; nou Ontwaak!) versprei.
22. Wat toon die feite, en wat word ons dus almal aangespoor om te doen?
22 Hierdie twee puik Christelike tydskrifte was en is steeds belangrike middels om die getuieniswerk tot aan die einde van die aarde te doen en “dissipels van al die nasies” te maak (Matt. 28:19, 20). Die feite toon dat daar nog baie getuieniswerk is om te doen. Saal dus julle “perde” op, al jul getroue Christengetuies! Laat loop met hulle in die “veld” en handhaaf ’n stywe pas, en mag Jehovah voortgaan om die intensiewe gebruik van Die Wagtoring en Ontwaak! gedurende die dae wat voorlê, te seën.
[Voetnote]
a Kyk die boeke Jehovah’s Witnesses in the Divine Purpose en die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is.
b Tussen 1919 en 1980 is 4 767 784 340 tydskrifte deur Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld versprei, en die miljoene eksemplare wat aan intekenaars op Die Wagtoring en Ontwaak! gepos is, is nie hierby ingereken nie. Dit is dubbeld soveel as die aantal traktate en boekies wat gedurende dieselfde tydperk versprei is.
c Kyk die boek “Then is Finished the Mystery of God”, bladsye 238-247 vir ’n volledige verduideliking van hierdie profesie.
[Tabel op bladsy 19]
Verspreidingstabel van wêreldwye bedrywigheid
1879 tot 1917
419 078 170 Traktate en pamflette (Boekies) (Tydskr. Ingesluit)
9 894 056 Gebonde boeke
428 972 226 Totaal
1918
102 775 Traktate en pamflette (Boekies)
13 140 Tydskrifte
256 609 Gebonde boeke
372 524 Totaal
1919 tot 1980
2 322 888 592 Traktate en pamflette (Boekies)
4 767 784 340 Tydskrifte
450 642 739 Gebonde boeke
7 541 315 671 Totaal
Eindtotale
2 742 069 537 Traktate en pamflette (Boekies)
4 767 797 480 Tydskrifte
460 793 404 Gebonde boeke
7 970 660 421 Totaal