Getuies tot aan die uiterste van die aarde
1. Wat was een van die mees dramatiese oomblikke in die geskiedenis van die mensdom?
DIT was ongetwyfeld een van die mees dramatiese oomblikke in die geskiedenis van die mensdom. Nog nooit tevore was ’n afskeid so roerend nie. Die Seun van God het op die punt gestaan om afskeid te neem van sy volgelinge op aarde, en hy sou nooit weer in die vlees sigbaar by hulle wees nie. Daar was tyd vir nog net een vraag en een antwoord. Oor watter onderwerp? Daardie laaste gesprek sou Christus se volgelinge reg tot aan die einde van die huidige stelsel van dinge raak!
2. Wat was die laaste vraag wat aan Jesus gestel is voordat hy die aarde vir ewig verlaat het, en waarom stel ons vandag baie in sy antwoord belang?
2 Die laaste vraag wat Jesus se dissipels aan hom gestel het, was: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Ons kan maar net gis waarom hulle nou eintlik daardie vraag gestel het. Een ding is duidelik, ongeag wat hulle verwag het: hulle wou weet wanneer God se voornemens in verband met die Koninkryk vervul sou word. Wie kan hulle daarvoor blameer? Hulle was nie die eerste of die laaste wat ongeduldig na hulle finale verlossing uitgesien het nie. Jesus se kommentaar, ja, sy heel laaste woorde voordat hy die aarde vir ewig verlaat het, is dus vandag vir ons van die allergrootste belang.
CHRISTUS SE AFSKEIDSOPDRAG
3, 4. (a) Hoe het Jesus geantwoord? (b) Watter tweevoudige les het Jesus sy dissipels geleer?
3 Jesus het geantwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” Die verslag voeg by: “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.”—Hand. 1:6-9.
4 Jesus se afskeidswoorde het ’n tweevoudige betekenis gehad. Hy het eers taktvol maar ferm vir sy dissipels gesê dat die rooster vir die uitvoering van Jehovah se voornemens nie hulle saak was nie. Hy het aldus bevestig wat hy reeds in sy profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge gesê het (Matt. 24:36; Mark. 13:32-37). Toe het hy vir hulle getoon wat voortaan wel hulle saak sou wees. Hulle moes Christengetuies wees—eers in Jerusalem, waar hulle beveel is om voorlopig te bly (Hand. 1:4), dan in die hele Judea en Samaria en eindelik “tot aan die uiterste van die aarde”. Dit is met daardie doel dat hulle “krag” deur middel van die heilige gees sou ontvang.
5. Wanneer het Jesus se dissipels “krag” ontvang, en wat het dit hulle beweeg om te doen?
5 Hulle het daardie “krag” ’n week en ’n half later op Pinkster ontvang. Die apostels en ander dissipels het gehoorsaam in Jerusalem gebly, en op daardie feesdag “was hulle almal eendragtig bymekaar”. Skielik is hulle “almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek”. Hulle het nie ’n onverstaanbare brabbeltaal gepraat nie, maar “oor die groot dade van God”.—Hand. 2:1, 4, 11.
“IN JERUSALEM”
6. Hoe het hierdie gesalfde Christene hulle opdrag begin uitvoer, maar met watter teenstand?
6 Hierdie pasgesalfde Christene het dadelik die opdrag begin uitvoer wat hulle van die verrese Christus ontvang het. Hulle het eers “in Jerusalem” gepreek; maar nie sonder teenstand nie. Die godsdiens- en burgerlike leiers van die Jode het teen hulle saamgesweer en gesê:
“Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ’n kenlike teken [die genesing van ’n kreupele] deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie. Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam [Jesus] met enige mens te spreek nie.”—Hand. 4:16, 17.
7. (a) Hoe het Christus se dissipels daarop gereageer? (b) Hoe het ’n godsdienstige teenstander bewys gelewer dat die vroeë Christene hulle opdrag getrou uitgevoer het?
7 Christus het gesê: “Julle sal my getuies wees.” Die Joodse Raad het die vroeë Christene gedreig “om nie meer in hierdie Naam . . . te spreek nie”. Wie het hulle gehoorsaam? Hulle het hulle vervolgers eerbiedig meegedeel: “Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:18-20). Hulle het eenvoudig aangehou preek. Alhoewel die apostels in die tronk gestop is, het hulle, na hulle wonderdadige bevryding gedurende die nag, “vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer” (Hand. 5:17-21). Watter ywer tog! Hulle is weer in hegtenis geneem.
“Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul” (Hand. 5:27, 28).
Hierdie godsdienshoogwaardigheidsbekleër het onwetend getuig van die feit dat hierdie vroeë Christene getrou die eerste deel van die opdrag wat hulle van Christus ontvang het, uitgevoer het. Hulle was ywerige getuies van hom “in Jerusalem”.
8. Hoe het hierdie Christene “Jerusalem met hulle leer vervul”, en watter resultate het hulle behaal?
8 Nadat hulle geslaan en beveel is “om nie in die Naam van Jesus te spreek nie”, het hierdie Christene “van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly”. Hulle was geensins ontmoedig nie, “en hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand. 5:40-42). Let op dat hulle “nie opgehou” het om “van huis tot huis” te getuig nie (AB; NW). Dit is hoe hulle, al was hulle betreklik min, daarin geslaag het om ‘Jerusalem met hulle leer te vervul’. Daar is wonderlike resultate met hierdie metode behaal. “En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder.”—Hand. 6:7.
NA SAMARIA EN JUDEA
9. Onder watter omstandighede het die getuieniswerk na Judea en Samaria uitgebrei?
9 Maar die vroeë Christene kon nie daar ophou nie. Hulle moes ook Christus se getuies “in die hele Judea en Samaria” wees. Dit was inderdaad die ywer waarmee hulle die eerste deel van hulle opdrag uitgevoer het wat daartoe gelei het dat hulle die tweede deel van hulle Christelike werk gedoen het. Die teenstand teen hulle getuieniswerk in Jerusalem het ’n hoogtepunt bereik met die godsdiensmoord op Stefanus, en dit het aanleiding gegee tot ’n vlaag vervolging teen die gemeente Christengetuies in Jerusalem. Die doel van hierdie gewelddadige teenstand was om hierdie Getuies van Christus die swye op te lê. Dit het egter die getuieniswerk ’n nuwe stoot gegee en dit het dit laat uitbrei presies na waar Christus wou hê dit moes gaan. “Almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels.” En wat het daardie Christene wat verstrooi is in daardie gebiede gedoen? Hulle “het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig”.—Handelinge hfst. 7; 8:1, 4.
10. Wat het die apostels gedoen toe hulle gehoor het dat “Samaria die woord van God aangeneem het”, en watter ‘sleutel’ het Petrus gebruik?
10 Dit was nie lank nie of “die apostels in Jerusalem” het gehoor dat “Samaria die woord van God aangeneem het”. Die apostels, wat opgewasse was vir die taak, het twee van hulle geledere, Petrus en Johannes, gestuur om die goeie werk van hierdie Christene wat verstrooi is, onder meer dié van Filippus die evangelis, te konsolideer. Deur die prerogatief uit te oefen wat Christus aan hom gegee het, het Petrus die weg vir die Samaritane geopen om geesverwekte, gesalfde Christene te word wat geroepe is om saam met Christus in “die koninkryk van die hemele” te deel (Matt. 16:18, 19; Hand. 8:14-17). Die verslag in Handelinge gaan voort: “Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle . . . die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig” (Hand. 8:25). Genoeg oor Samaria!
11. Watter getuienis is daar dat die “hele Judea” ’n goeie getuienis ontvang het?
11 Wat Judea betref: daar was ongetwyfeld baie Judeërs in Jerusalem tydens Pinkster wat die goeie getuienis van die pasgesalfde Christene, veral van Petrus, gehoor het (Hand. 2:9, 14-36). Ons weet ook dat “die menigte van die stede in die omtrek” voor die vlaag vervolging teen die Christene in Jerusalem uitgebreek het “in Jerusalem bymekaar gekom [het] en siekes gebring [het] en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees” (Hand. 5:16). Al hierdie bewoners van Judea het die getuienis oor Jesus ontvang. Met verwysing na die tydperk na Paulus se bekering het Lukas geskryf: “Die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad” (Hand. 9:31). Omtrent 15 jaar later kon Paulus aan Christene in Thessalonika skryf: “Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judea” (1 Thess. 2:14). Die vroeë Christene het onteenseglik die opdrag wat hulle van Christus ontvang het om sy getuies “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria” te wees ywerig uitgevoer.
“TOT IN DIE UITHOEKE VAN DIE WÊRELD”
12. Hoe is die sade vir toekomstige uitbreiding op Pinksterdag gesaai?
12 Maar Jesus se afskeidsopdrag het nog meer ingesluit. Dit het gelui: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8, NAB). Daar is getuienis dat die Jode van die Diasporaa reeds vroeg ’n getuienis oor Christus se naam ontvang het, selfs voor 36 G.J.—die jaar wat Petrus weer die prerogatief gebruik het wat hy van Christus ontvang het, hierdie keer om die Koninkryk vir die onbesnede nie-Jode te open (Matt. 16:18, 19; Handelinge hfst. 10). Die 3 000 Jode en proseliete wat op Pinksterdag van 33 G.J. gedoopte Christene geword het, was nie net inwoners van Jerusalem en Judea nie. Baie van hulle het gekom van afgeleë plekke soos Parthië, Medië, Elam en Mesopotamië (hedendaagse Iran en Irak), Klein-Asië (hedendaagse Turkye), Noord-Afrika en Italië (Hand. 2:8-11). Met hulle terugkeer na hulle tuislande op die drie vastelande van Asië, Afrika en Europa, het hierdie pasbekeerde Christene ongetwyfeld oor Christus se naam getuig, ten minste vir ander Jode en proseliete in hulle onderskeie lande. Die sade vir toekomstige uitbreiding is dus daar tydens Pinkster gesaai.
13. Wat toon dat mense buite Judea en Samaria reeds vroeg ’n getuienis oor Christus ontvang het?
13 Daarbenewens lees ons in Handelinge 11:19: “Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het [’n ruk na Pinkster, maar voor die bekering van Paulus in 34 of 35 G.J.], het die land deurgegaan tot by Fenicië en Ciprus en Antiochië [in Sirië] sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen.” Dit lewer onomstootlike bewys dat Christus ver anderkant die grense van Judea en Samaria verkondig is selfs nog voordat die boodskap na die nie-Jode gedra is.
14. Waar het die stelselmatige getuieniswerk onder die onbesnedenes klaarblyklik begin? Verduidelik.
14 Nadat Petrus nog een van die “sleutels van die koninkryk” in 36 G.J. gebruik het om Koninkryksgeleenthede vir onbesnedenes te open, was die weg nou oop om die Christelike boodskap na alle volke te dra, ja! “tot in die uithoeke van die wêreld” (NAB). Dit was klaarblyklik in Antiochië in Sirië, destyds die derde-grootste stad in die wêreld naas Rome en Alexandrië, dat daar begin is met ’n stelselmatige getuieniswerk onder onbesnede nie-Jode. Dit het so gebeur: ’n Ruk na 36 G.J., maar voor 44 G.J., was daar “sommige van hulle [Christene], Cipriese en Cirenese manne [uit Noord-Afrika], wat in Antiochië gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was met hulle, en ’n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.”—Hand. 11:20, 21.
15. (a) Wat het die gemeente in Jerusalem omtrent hierdie nuwe situasie gedoen, en waarom was hulle keuse ’n verstandige? (b) Wat het Paulus reeds etlike jare lank gedoen? (c) Waarom is die geval van die vroeë gemeente in Antiochië van besondere belang?
15 Die ywerige predikingswerk van hierdie Cipriese en Cirenese Christene onder nie-Jode is deur Jehovah geseën. “Die gemeente wat in Jerusalem was”, het ’n spesiale verteenwoordiger noord na Sirië gestuur om hierdie nuwe situasie te hanteer. Hulle het Barnabas gekies. Hy was self ’n Griekssprekende Jood van Ciprus. Nadat Barnabas hierdie nuwe dissipels van Christus bemoedig het, is hy na Tarsus om Paulus te gaan haal wat reeds etlike jare lank ‘die geloof verkondig het’ in Sirië en Cilicië, nou suidoostelike Turkye. (Vergelyk Handelinge 9:26-30 met Galasiërs 1:18-23.) “En hulle [Barnabas en Paulus] het ’n hele jaar lank [omstreeks 45 G.J.] in die gemeente [wat nou uit Jode sowel as nie-Jode bestaan het] saam vergader en aan ’n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem.”—Hand. 11:22-26.
16, 17. (a) Hoe is die getuieniswerk van Antiochië in Sirië af uitgebrei? (b) Watter profesie het Paulus en Barnabas aangehaal om hulle bedrywigheid te verdedig, en op wie was hierdie profesie oorspronklik van toepassing? (c) Hoe werp dit lig op Handelinge 1:8?
16 Antiochië in Sirië was omtrent 10 jaar lank die sentrum vanwaar intense sendingwerk onder leiding van die heilige gees gedoen is (Hand. 13:1-4; 14:26; 15:35, 36; 18:22, 23). Saam met verskeie medesendelinge het Paulus drie omvattende predikingsreise onderneem wat die Christelike godsdiens dwarsoor Klein-Asië en Griekeland versprei het. Hulle het Christus aan Jode sowel as nie-Jode verkondig. By een geleentheid het Paulus en Barnabas hierdie optrede voor ’n groep woedende Jode verdedig deur te sê:
“Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.”
Lukas voeg by: “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat [die regte gesindheid gehad het teenoor die ewige lewe].”—Hand. 13:46-48, vgl. NW.
17 Deur profesieë oor die Messiaanse Kneg (Jes. 42:6; 49:6) aan te haal en op hulle eie bedrywigheid toe te pas, het Paulus en Barnabas getoon dat hulle en hulle mede-Christene in werklikheid opgetree het “namens Christus”, wat die opdrag van Jehovah ontvang het om “lig” en “redding” “tot aan die einde van die aarde” te neem. Christus het weer sy volgelinge opdrag gegee om sy getuies te wees”, tot aan die uiterste van die aarde”.—2 Kor. 5:20, NAB; Hand. 1:8; vergelyk Jesaja 49:5-9 met Lukas 2:25-32.
’N LANGDURIGE WERK
18. Wat weet ons van die vroeë Christene se pogings om getuies te wees “tot aan die uiterste van die aarde”?
18 Soos ons gesien het, toon die boek Handelinge die ywer waarmee die apostels en vroeë Christene Christus se opdrag om te getuig uitgevoer het. Hulle het dit gedoen in Jerusalem, Judea, Samaria en so na as wat hulle kon kom “aan die uithoeke van die wêreld”. Ons weet byvoorbeeld dat die apostel Petrus ’n getroue getuie van Christus tot by Babilon in die ooste was, en dat Paulus tot by Italië in die weste en moontlik selfs so ver as Spanje getuig het. 1 Pet. 5:13; Handelinge hfst. 28; Rom. 15:23-28.
19. Wat toon egter dat Christus se afskeidsopdrag aan Christene tot vandag toe uitgevoer sou word, en watter vraag ontstaan?
19 Maar dit is baie duidelik dat Christus se afskeidsopdrag dat hulle sy getuies “tot aan die uiterste van die aarde” moes wees, baie verder gereik het as dit. Volgens Jesus se profesie sou dit verder reik as die apostoliese tydperk, reg tot die “voleinding van die wêreld” (Matt. 24:3, 14). Maar dit was baie opbouend en geloofversterkend om die goeie voorbeeld van die vroeë Christene te hersien. Nou ontstaan die vraag: Wie sit vandag die goeie werk van die apostels voort, en met behulp waarvan is hulle getuies vir Christus en sy hemelse Vader, letterlik “tot aan die uiterste van die aarde”? Die volgende artikel sal die antwoorde verstrek.
[Voetnoot]
a Die “verstrooiing” van die Jode nadat hulle deur Assirië en Babilonië weggevoer is.
[Prent op bladsy 13]
“Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde”—Hand. 1:8.
SAMARIA
JERUSALEM
JUDEA
[Lokteks op bladsy 14]
“Kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul”
[Lokteks op bladsy 15]
‘Hulle het die evangelie aan die Samaritane verkondig’