Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 5/15 bl. 8-11
  • Hulle vind geestelike tevredenheid in Denemarke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle vind geestelike tevredenheid in Denemarke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • VROEË BEDRYWIGHEID VAN JEHOVAH SE GETUIES
  • BELANGSTELLING ONDER JONGMENSE
  • SKOLE KRY ’N GOEIE GETUIENIS
  • DIT IS STEEDS NODIG OM VIR DIE GELOOF TE STRY
  • NOG WERK OM TE DOEN
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 5/15 bl. 8-11

Hulle vind geestelike tevredenheid in Denemarke

BY DIE ingang tot die Oossee lê Denemarke. Hierdie land, wat uit ’n skiereiland en ’n klompie eilande bestaan, het ’n oppervlakte van sowat 43 000 vierkante kilometer en ’n bevolking van nagenoeg 5 000 000.

Eeue gelede het die invloed van hierdie koninkryk baie verder as sy huidige grense gestrek. Gedurende die jare 800 tot 1000 G.J. het die Wikings die seë in hulle skepe met drake op die boë oorgesteek en groot gebiede wes van Denemarke geplunder en verower. Nadat die land “gekersten” is, was daar tye toe gebiede noord, oos en suid ook onder die beheer van die Deense monarge gekom het. Twee van hierdie gebiede, die Färöer-eilande en Groenland, word nog steeds deur Denemarke regeer.

Denemarke het meer as 100 jaar lank geen oorloë gevoer nie, alhoewel dit nie die uitwerking van die twee wêreldoorloë vrygespring het nie. Danksy hoogs ontwikkelde landboumetodes is die land een van Europa se koringskure. Die lewenstandaard is hoog, en die Dene geniet ’n groot mate van sekuriteit as gevolg van hulle maatskaplike wette.

Daar steek nietemin nog ’n mate van waarheid in die woorde wat die Engelse dramaturg William Shakespeare in die Deense prins Hamlet se mond geplaas het: “Iets in die staat Denemarke is verdorwe.” Die werkloosheidsyfer en die ongunstige handelsbalans getuig van finansiële probleme, en die talle gevalle van trombose en kanker lewer bewys van algemene gesondheidsprobleme. Die mense is nie gelukkiger gemaak deur die vryheid en voorspoed wat hulle geniet of deur die losse sedes wat gewild geraak het nie. Volgens statistiek het Denemarke een van die wêreld se hoogste selfmoordsyfers. Dit beklemtoon die waarheid van Jesus se woorde: “Iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Luk. 12:15). Om waarlik gelukkig en tevrede met hulle lot in die lewe te wees, moet daar in mense se geestelike behoeftes voorsien word.—1 Tim. 6:6-8.

VROEË BEDRYWIGHEID VAN JEHOVAH SE GETUIES

Dit was belangstelling in hierdie geestelike behoefte wat C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, beweeg het om Denemarke in 1891 te besoek. Toe hy daar kom, was die land soos ’n landery wat gelê en wag het om geoes te word. Die omstandighede was ideaal vir die verspreiding van die Bybel se boodskap.

Meer as 40 jaar tevore, in 1849, het die voormalige absolute monargie ’n konstitusionele monargie geword. Tot op daardie tyd het die Evangelies-Lutherse Staatskerk die babas van Baptiste-ouers met geweld gedoop. Maar met die koms van die konstitusionele monargie het die Staatskerk ’n Nasionale Kerk geword, en toe was lidmaatskap daaraan nie meer verpligtend nie. En na ’n tydperk van groot onverskilligheid teenoor die Bybel, het ’n paar godsdiensherlewings belangstelling in geestelike sake gaande gemaak. Boonop het die beroemde Deense teoloog en filosoof Sören Kierkegaard die kerk in die middel van die 19de eeu skerp aangeval. Hy het dit daarvan beskuldig dat dit Jesus se woorde oor die ‘smal weg’ wat na die lewe lei, vervals het en dat die kerk die pad so breed getrap het dat enigiemand daarop kon wandel.—Matt. 7:13, 14.

Dit was dus in meer as een opsig gepas dat die eerste “Bybelstudent”, ’n Deens-Amerikaner, in 1894 na Denemarke gestuur is. Van 1897 af is artikels uit The Watchtower in ’n tydskriffie genaamd Tusindaars-rigets Budbœrer (Boodskapper van die Millennium) gepubliseer, en van 1900 af word Die Wagtoring in Deens gepubliseer. Hierdie tydskrif het ’n belangrike rol gespeel om baie se geestelike eetlus te wek.

Maar Sóren Kierkegaard se woorde is steeds waar. Die algemene gesindheid is een van onverskilligheid teenoor godsdiens. Dit blyk uit ’n artikel in die Danish Journal, wat deur die Departement van Buitelandse Sake uitgegee word. In die nommer vir Januarie 1978 is die volgende opmerkings gemaak: “As die ou Deense spreekwoord waar is, naamlik dat dit beter is om in die kroeg te sit en aan die kerk te dink as om in die kerk te sit en aan die kroeg te dink, dan doen die Dene die regte ding.” Hoewel meer as 93 persent van die bevolking steeds lidmate van die kerk is, gaan slegs 2 persent elke Sondag kerk toe. Vier persent gaan een of twee keer per maand, terwyl “51 persent van die volwasse bevolking sê dat hulle nooit kerk toe gaan nie”. In die laaste jare het al hoe meer, veral jongmense, hulle kerklidmaatskap opgesê.

BELANGSTELLING ONDER JONGMENSE

Die welvaart wat op die Tweede Wêreldoorlog gevolg het, het meegebring dat baie lede van die geslag wat nou middeljarig is materialistiese doelwitte nastreef. Maar probleme soos die bedreiging van ’n atoomoorlog, besoedeling en werkloosheid het daartoe bygedra dat talle jongmense hulle geloof in sulke waardes verloor. Hierdie jongmense soek elders na tevredenheid.

Beskou die geval van ’n jong man wat ’n kursus van ses maande voltooi het aan ’n godsdiens-kollege sonder om enige oplossing vir sy probleme te vind. Op die ouderdom van 18 het hy elders na ’n oplossing begin soek—in Hindoeïsme, okkultisme, sterrewiggelary, spiritisme, Skiëntologie en dwelmmiddels. Later het hy gesê: “Ek het gedink dat hulle almal saam my sekerlik ’n idee van God sou gee.” Teleurgesteld deur die verloop van sake het hy ’n dwelmslaaf geword en geleidelik tot so ’n mate onder die invloed van demoniese magte beland dat hy gemeen het dat sy lewe bedreig word. Hy het nietemin nog ’n bietjie geloof in ’n God van liefde en in Christus gehad. In verband met sy volgehoue soektog het hy gesê: “Ek is na die gelowe wat bely dat hulle Christene is—die Pinksterkerke, die Apostels, die Baptiste, die Christenjeuggroepe en Jehovah se Getuies. Ek het voortdurend vrae gestel, teenstrydige antwoorde gekry, gewonder, gebid en in die Skrif gesoek.”

Op die ouderdom van 22 het die jongman tot die gevolgtrekking gekom dat die waarheid by Jehovah se Getuies te vinde is. Hy het daarin geslaag om met sy dwelmgewoonte te breek nadat hy ’n jaar en ’n half ’n dwelmslaaf was. Ondanks kwaai teenstand deur sy ouers het hy ’n gedoopte Getuie geword en verkondig hy nou Bybelwaarhede ywerig aan ander. Hy het geestelike tevredenheid gevind.

SKOLE KRY ’N GOEIE GETUIENIS

In Deense skole is daar ook groot ontevredenheid met die standaarde van die gemeenskap. Een positiewe gevolg hiervan is ’n gewilligheid om antwoorde uit ander bronne te ondersoek. Baie onderwysers sluit byvoorbeeld informasie oor Jehovah se Getuies by hulle lesse in. Daar was veral gedurende die laaste jare al hoe meer belangstelling in klaskamerbesoeke deur die Getuies.

Hoe word sulke besoeke hanteer? ’n Jong paartjie wat al omtrent 60 of 70 keer na skole gegaan het, sê: “Ons gee eers ’n praatjie waarin ons ’n paar basiese leerstellings van ons geloof verduidelik—byvoorbeeld ons predikingswerk oor God se koninkryk en die komende paradys op aarde, geloof in die skepping, ons beskouing van die Bybel, die gebod dat ons ons naaste moet liefhê en hoe dit verband hou met die kwessie van neutraliteit, ons geskiedenis en hoe ons organisasie se vorm ooreenstem met dié van die vroeë Christengemeente. Die res van die tyd word gebruik om die klas se vrae te beantwoord. Ons het onlangs agtergekom dat daar ’n verandering is in die dinge waarin skoliere belangstel. Twee of drie jaar gelede het die klasbesprekings gehandel oor maatskaplike probleme en ons politieke neutraliteit. Nou is daar al hoe meer belangstelling in sake van ’n menslike, morele en suiwer Bybelse aard.” Nadat die Getuies eenkeer ’n sessie met 40 skoliere gehad het, het die onderwyser sy verbasing en trots uitgespreek omdat die skoliere so aandagtig geluister en sulke relevante vrae gestel het.

DIT IS STEEDS NODIG OM VIR DIE GELOOF TE STRY

In Denemarke is daar egter een onderwerp waaroor mense baie opgewonde raak, moontlik meer as op ander plekke. Dit staan in verband met Jehovah se Getuies se standpunt ten opsigte van bloedoortappings. Dit was in Maart 1975 dat hierdie saak groot publisiteit ontvang het toe ’n jong egpaar hulle driejarige seun uit die kinderhospitaal in Kopenhagen geneem het. Hulle het dit gedoen omdat die dokter, wat ’n bloedoortapping in stryd met die ouers se bevele wou toedien, regstappe gedoen het om die kind uit hulle sorg te neem.

Omdat hulle geweet het dat die polisie na hulle sou soek, het die ouers by mede-gelowiges gaan wegkruip. Hulle het terselfdertyd probeer om ’n dokter te vind wat die kind sonder die gebruik van bloed sou behandel. Daar was ’n nasionale polisiesoektog met klopjagte, deursnuffeling en deeglike ondersoeke by die grensposte. Dit het gepaard gegaan met ’n ware vervolgingsveldtog deur die pers, met opskrifte soos “Kindermoordenaars”, “Godsdiensdwepers” en “Siniese ouers”. Daar was selfs bomdreigemente en gevalle van geweld. ’n Paar geestelikes en ’n parlementslid het gevra of die owerheid nie teen Jehovah se Getuies moet optree nie. Die ouers het intussen ’n dokter gevind wat bereid was om hulle geloof te respekteer en ander vorms van behandeling te gebruik. Die seun is vandag blakend gesond.

NOG WERK OM TE DOEN

In die laaste jare het die Deense gemeenskap groot veranderinge ondergaan. Dit het ’n invloed gehad op die fasiliteite wat Jehovah se Getuies vir hulle vergaderinge gebruik. In die verlede het die Getuies sportstadions vir hulle halfjaarlikse kringbyeenkomste gebruik. Maar huurkoste wat die hoogte ingeskiet het, het dit vir hulle raadsaam gemaak om hulle eie byeenkomssale te bou.

Die toewyding van die eerste byeenkomssaal op 17 Maart 1979 was voorwaar ’n vreugdevolle geleentheid. Hierdie saal, wat met ongevraagde bydraes en vrywillige arbeid gebou is, sal gebruik word deur die Getuies in die dele van die land genaamd Jutland en Fyn. In die oostelike deel van die land, met die eiland Sjaelland en die hoofstad Kopenhagen, word daar goed gevorder met die plan vir ’n soortgelyke saal. Daar word beplan om saam met die tweede byeenkomssaal ook ’n nuwe en baie groter takkantoor van die Wagtoringgenootskap te bou.

Gedurende die nagenoeg 90 jaar wat verstryk het sedert C. T. Russell Denemarke besoek het, het die werk om ander te help om juiste Bybelkennis te verkry bestendig gevorder, met tye van vinnige groei en tye van stabilisasie. Naas die Nasionale Kerk is Jehovah se Getuies die grootste godsdiensliggaam in die land—moontlik met die uitsondering van die Katolieke Kerk, wat etlike jare lank geen lidmaatskapsyfers gepubliseer het nie. Min lande met ’n bevolking soos die van Denemarke het ’n soortgelyke verhouding van Getuies tot bevolking—1 tot 387.

Vandag bestaan ’n groot deel van die werk om geestelike voedsel te verskaf uit die onderrigting en versterking van die talle bedrywige Getuies. Hulle berei hulself terselfdertyd voor vir ’n selfs groter getuienis oor God se koninkryk. Solank as wat dit Jehovah se wil is, sal hulle die “goeie nuus” aan die Deense volk verkondig en vir hulle wys hoe om geestelike tevredenheid te vind.

[Kaart op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DENEMARKE KOPENHAGEN SWEDE

[Prent op bladsy 10]

DAAR IS TOENEMENDE BELANGSTELLING IN KLASKAMERBESOEKE DEUR JEHOVAH SE GETUIES

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel