Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 5/15 bl. 4-7
  • Kan jy tevrede wees met jou lot in die lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy tevrede wees met jou lot in die lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N VOORBEELD VAN TEVREDENHEID
  • WAARSKUWENDE VOORBEELDE VAN ONTEVREDENHEID
  • IS JY TEVREDE?
  • Wees tevrede
    Ontwaak!—2025
  • Is dit moontlik om vergenoeg te wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Het jy “die geheim daarvan geleer” om tevrede te wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Vind tevredenheid deur Bybelbeginsels toe te pas
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 5/15 bl. 4-7

Kan jy tevrede wees met jou lot in die lewe?

“AS TWEE engele uit die hemel gestuur is, een om oor ’n ryk te heers en die ander om strate te vee, sou hulle geen begeerte hê om posisies om te ruil nie.” Dit is wat die Engelse geestelike John Newton sowat twee eeue gelede gesê het. Dit was een benadering wat ’n mens kan help om tevrede te wees met jou lot in die lewe.

Maar wat is tevredenheid? Dit is ’n gevoel van innige en blywende vergenoegdheid met ’n mens se omstandighede. ’n Persoon wat tevrede is, kla of vit nie. Een woordeboek definieer die woord “tevrede” as “voldaan: vergenoeg, veral met ’n mens se lot in die lewe”. Wat van jou? Wens jy dat jy ’n ander werk, ’n ander huis, ’n ander huweliksmaat gehad het? Vind jy dat jou begeertes sterk drange word wat jou jou balans kan laat verloor?

As ’n mens tevrede is, beteken dit nie dat jy jou nie sal inspan om jou omstandighede te verbeter nie. Tevredenheid moet nie inisiatief smoor en ons met skaars genoeg laat om van dag tot dag te lewe nie. Maar dit beteken dat ons nie iets dermate moet begeer dat ons ons onder die ongelukkige murmureerders bevind nie.

’N VOORBEELD VAN TEVREDENHEID

Beskou die voorbeeld van die Christenapostel Paulus. Hy was ’n Romeinse burger en het waarskynlik uit ’n vooraanstaande Hebreeuse gesin gekom, hy het die wet aan die voete van die geleerde Gamaliël bestudeer en die respek van sy mede-Fariseërs afgedwing. Maar wat het gebeur? Jehovah God het hom deur sy Seun geroep om ’n verkondiger van die “goeie nuus” te word. Om homself te onderhou en nie vir ander in die Christengemeente ’n las te wees nie, het Paulus met sy eie hande gewerk. Dit het hom in staat gestel om vryelik van stad tot stad te reis net waar sy sendingwerk hom geneem het. Weens sy werk as evangelis is hy kwaai vervolg, selfs geslaan, gestenig en gegesel. Maar was hy tevrede?

In sy brief aan die Filippense het Paulus geskryf: “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry . . . want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is” (Filip. 3:8; 4:11). Ja, die apostel Paulus het ware tevredenheid in sy getroue diens aan God gevind.

WAARSKUWENDE VOORBEELDE VAN ONTEVREDENHEID

Maar ander het ontevrede geraak, met tragiese gevolge. Die eerste vrou, Eva, het ’n volmaakte man, ’n ideale tuiste in ’n paradystuin, ’n groot verskeidenheid voedsel in oorvloed, die liefdevolle sorg van haar hemelse Vader en God, en die vooruitsigte om vir ewig te lewe gehad. Maar toe die Versoeker gesê het dat God iets teruggehou het wat haar toegekom het, het sy hom geglo en ontevrede geraak met haar lot. Sy het ’n weg ingeslaan wat die belofte van onafhanklikheid ingehou het sowel as die geleentheid om haar eie standaarde oor wat goed en wat kwaad is vas te stel. Hierdie keuse het slegs lyding en die dood vir haar meegebring. Hoeveel beter sou dit tog gewees het as sy tevrede, onderdanig aan haar man, en bowenal, aan haar God gebly het!

Eeue later, toe Jehovah God sy volk deur die woestyn gelei het, het ontevredenheid sy kop herhaaldelik uitgesteek. By een geleentheid het 254 owerstes van Israel ontevrede geraak met hulle lot en dit het gelei tot openlike opstand teen Moses en Aäron. “Dit is nou genoeg; . . . Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?” het hulle uitdagend gesê. Moses se antwoord het die oorsaak van hulle ontevredenheid haarfyn aangewys. Ons lees: “Is dit nie genoeg dat die God van Israel julle . . . afgeskei het . . . om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig . . . nie, . . . dat julle nou ook die priesteramp begeer?” (Num. 16:1-10). Die gevolg? Die meeste is deur vuur verteer; die ander is deur die aarde ingesluk.

Dit was ander omstandighede wat Demas, ’n medewerker van die apostel Paulus, ontevrede gemaak het. Hy was by die apostel tydens sy eerste gevangenskap in Rome. Tydens Paulus se tweede gevangenskap ‘het Demas hom verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het’ (2 Tim. 4:10). Hy het sy ware tevredenheid verloor.

IS JY TEVREDE?

Wat van jou? Is jy, as jy die broodwinner in julle gesin is, tevrede? Daar is voorwaar baie dinge wat ’n Christen kan kwel—oneerlikheid onder hooggeplaastes, die onregverdige behandeling van die armes en behoeftiges, en partydigheid, om nie eers te praat van baie betrekkings waar die werk vervelig is nie. Hoe kan ’n persoon onder sulke omstandighede tevrede wees? Dit is goed om in gedagte te hou dat jy nie alleen is nie. Getroue knegte van God in vervloë tye het met dieselfde probleme te kampe gehad en die maniere waarop hulle dit te bowe gekom het, is vir ons bemoediging in die Bybel opgeteken.

Daar was byvoorbeeld die Leviet Asaf, ’n bekende sanger en musikant. Hy het geskryf: “Ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.” Hy het gevolglik vir homself begin sê: “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.”—Ps. 73:3, 5, 13.

Trouens, Asaf het homself afgevra: ‘Wat is die nut daarvan om te probeer doen wat reg is? Ander oortreders bly ongestraf. Waarom nie ek nie?’ Maar toe het hy besef dat hy verkeerd geredeneer het. Terwyl hy saam met ander aanbidders van Jehovah by die heiligdom was, het hy besef dat die voorspoed van die goddelose van korte duur is.—Ps. 73:15-19.

Hoewel ons gekwel word deur die boosheid om ons, kan ons troos put uit die wete dat daar ’n dag van afrekening voorlê (Hand. 17:31). In hierdie stelsel is daar baie dinge wat nie verander kan word nie. “Wat krom is, kan nie reguit word nie”, sê die Bybel (Pred. 1:15). Wanneer ons sake dus nie op behoorlike maniere kan regstel nie, is ons verstandig as ons op Jehovah God wag om op sy bestemde tyd op te tree. So behou ons ons tevredenheid.

Wat van julle tuiste? Is dit vir jou ’n bron van tevredenheid? Liefdevolle gesinslede kan beslis tot tevredenheid bydra. Watter verligting is dit tog vir ’n man om na ’n moeilike dag by die werk sy vreedsame tuiste binne te kom en assosiasie met sy vrou en kinders te geniet! Die Bybelspreuk stel dit goed wanneer dit sê: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.”—Spr. 15:17.

Die geestelike gesin wat uit medegetuies van Jehovah bestaan, is ook ’n groot hulp om tevrede te bly. Hoe aangenaam is dit tog om te assosieer met persone wat eerlik, regskape en liefdevol is! Het jy nie al gevind dat die bywoning van Jehovah se Getuies se vergaderinge jou laat vergeet van die probleme wat jou ontmoedig nie?

‘Maar wat van my lot?’ vra ’n huisvrou miskien. Dit sal voortdurende inspanning verg om waarlik tevrede te bly terwyl daar so baie oor “vrouevryheid” gesê word. Maar is diegene wat aan die voorpunt van hierdie beweging is werklik tevrede? Hoe kan hulle wees as hulle die feit ignoreer dat ’n vrou se Godgegewe rol dié van ’n hulp en komplement is, nie dié van ’n hoof of mededinger nie? (Gen. 2:18). ’n Vrou kan baie tot die geluk van die hele gesin bydra. In hierdie dae van wegholinflasie kan sy die uitgawes besnoei deur verstandig inkopies te doen (Spr. 31:14). Deur woord en voorbeeld kan die Christenvrou haar kinders geestelik opbou en hulle help om te besef wat dit beteken om soos dissipels van Jesus Christus te lewe.

Dit is deur haar Godgegewe rol te vervul dat ’n Christen-eggenote die geluk van die deugsame vrou wat in die boek Spreuke beskryf word, kan smaak. Ons lees daar: “Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Die hart van haar man vertrou op haar, . . . Sy doen aan hom goed . . . al die dae van haar lewe. . . . Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na . . . Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar . . . ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.”—Spr. 31:10-30.

Wat van julle jongmense? Is julle tevrede met julle lot? Jongmense het vandag met ernstige probleme te kampe. Onsedelikheid, kullery en dwelmmisbruik het verstommende afmetings aangeneem. Sulke dinge hoef jou nie jou balans en jou doelgerigtheid te ontneem en jou ’n uitsakker te laat word nie. Deur die skool vroeg te verlaat, moet jy dalk vir lief neem met ’n swak besoldigde betrekking en omstandighede by die werk wat selfs erger is as die waarmee jy by die skool te kampe gehad het. Doen dus jou bes op skool en kies die soort opleiding wat jou in staat sal stel om jouself te onderhou sonder om jouself uit te put. Dit is goed as God se knegte hulself bekwaam vir ’n soort werk wat hulle in staat sal stel om baie van hulle tyd en energie te gebruik om ander geestelik te help. Dit bring mee dat hulle die veel groter geluk smaak wat ’n mens kry as jy aan ander gee.—Hand. 20:35.

As jy ’n aanbidder van Jehovah God is, moet jy probeer om vordering as ’n Christen te maak terwyl jy nog op skool is. Gryp die geleentheid aan om die “goeie nuus” by die skool en saam met ander lede van die gemeente te verkondig. Dink daaraan om jou deelname aan die openbare verkondiging van die “goeie nuus” tydens skoolvakansies te vergroot. Diens as ’n hulppionier kan jou groot genot verskaf. Moenie nalaat om die Bybel en publikasies wat geskryf is om jou te help om dit beter te verstaan, te lees nie. Goeie voorbereiding sal jou in staat stel om aan gemeentelike vergaderinge deel te neem.

Is daar siekes, gestremdes of bejaardes in julle gemeente? Kan jy inkopies, herstelwerk of huiswerk vir hulle doen? Is daar iemand wat nie meer goed kan sien nie? Kan jy elke week tyd afknyp om vir hierdie persoon te lees? Om ’n dissipel van Jesus Christus te wees, beteken om ander te dien soos hy mense gedien het. As jy in jou jeug leer om ander te dien, sal jy groot vreugde smaak en baie seëninge ontvang.

Is daar enige nuwe maniere om die sleutel tot ware tevredenheid te vind? Nee, daar is niks nuuts nie. Meer as 1 900 jaar gelede het die apostel Paulus raad gegee wat nou net so prakties is as destyds. Hy het geskryf: “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid [of tevredenheid] is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”—1 Tim. 6:6-8.

Peins dus oor jou lot. Dit kan weliswaar beter wees, maar dit kan ook baie erger wees. Lê jou daarop toe om tevrede te wees met wat jy het en om jou nie te bekommer oor wat jy nie het nie. Vind geluk deur alles in jou vermoë te doen om ander geestelik by te staan en om vir hulle ’n bron van bemoediging te wees. Doen dit, soos vele ander al gedoen het, en jy kan tevrede wees met jou lot in die lewe.

[Prent op bladsy 5]

‘Maar wat van my lot in die lewe?’ vra ’n huisvrou miskien

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel