Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 5/1 bl. 25-30
  • Maak jou goeie naam nou!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak jou goeie naam nou!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE BEHOEFTE AAN LEIDING
  • DIE SOORT MENSE WAT ONS BEHOORT TE WEES
  • DIT IS NOU JOU KANS!
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
  • Deel 1: Christelike oortuigings
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 5/1 bl. 25-30

Maak jou goeie naam NOU!

“Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Pred. 9:10.

1. Wanneer moet ons ’n goeie naam by God maak?

GESTEL party sou sê: ‘Maar sê nou die einde kom nie in my lewe nie? Deur die eeue heen het mense gedink dat die einde in hulle lewe gaan kom en dit het nie.’ Ondanks die feit dat hulle verwagtinge nie verwesenlik is nie, was baie van hierdie mense se lewe nogtans hulle tyd om ’n goeie naam by God te maak, om geloof in die Seun van God te beoefen, sodat hulle “in die laaste dag” tot ewige lewe opgewek kan word (Joh. 6:40; 11:24). Lank voor hierdie huidige “laaste dae” kon die apostel Paulus sê: “Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê.” Ongeag wanneer ’n persoon lewe, dit is sy tyd om ’n goeie naam te maak, of die wêreld se einde nou naby is of nie.—2 Tim. 4:8, NW; Hebr. 11:4-38.

2. (a) Is daar enigiets, hetsy stoflik of nie, wat ’n mens kan saamneem wanneer jy sterf? (b) Watter vermaning is dus gepas?

2 “Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie” (Pred. 5:14). Op materiële gebied is daar niks wat die oorledene “met hom kan saamneem nie”. Maar hy kan die enigste ding van blywende waarde waarvoor hierdie lewe goed is—’n goeie naam by God—saamneem. Terwyl elkeen van ons lewe, is dit ons tyd om ’n goeie naam by God te maak. Gebruik daardie tyd! Koop dit uit! “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” Veral nou, aan die einde van hierdie stelsel van dinge, wanneer baie van die lewendes nooit sal sterf nie, is dit die tyd vir ons om met alle mag te doen wat ons hand in Christelike aktiwiteit vind om te doen.—Pred. 9:10.

3. Watter juiste kennis is noodsaaklik, en wat kan dit tot gevolg hê?

3 As ons ’n goeie naam by God wil maak, moet ons ons oor twee kategorieë bekommer: dinge wat verkeerd is en dinge wat reg is. Ons moet ophou doen wat verkeerd is en begin doen wat reg is. Hoe gaan ons te werk? Die verstand moet betrek word. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie”, het Paulus gesê, “maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom. 12:2, NAB). Hy herhaal die voorskrif in Efesiërs 4:23 (NW): “Julle moet vernuwe word in die krag wat julle denke aandryf.” En daardie krag word in Kolossense 3:9, 10 (NW) geïdentifiseer: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van Hom wat dit geskape het.” Die krag wat jou denke aandryf, wat jou denke vernuwe en wat jou na God se guns lei, is die juiste kennis van sy Woord die Bybel.

4. Waarom is dit nie genoeg om op te hou om verkeerde dinge te doen nie, en wat nog moet gedoen word?

4 Dit help nie altyd om vas te byt en jou streng voor te neem om op te hou om die verbode dinge te doen nie. Gestel jy slaag daarin om ’n ruk lank op te hou. Jy is steeds nie veilig nie. Jesus het dit met ’n gelykenis getoon. ’n Onrein gees het ’n man, sy “huis”, verlaat en later teruggekeer. Toe hy die huis leeg vind, het hy met sewe ander geeste ingetrek, en “aan die einde is so ’n mens slegter daaraan toe as aan die begin” (Matt. 12:43-45, NAB). Dit was nie genoeg dat die bose gees uit die huis uitgewerp is nie; dit moes met goeie dinge gevul word sodat die bose geeste nie kon terugkeer nie. Dit is nie genoeg om op te hou om verkeerde dinge te doen en ’n vakuum te laat nie—ons moet begin doen wat reg is. Verdring die misdrywe deur jouself met goeie dade besig te hou. “Weerstaan die duiwel”, het Jakobus gesê, “en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jak. 4:7, 8). Ledigheid is die Duiwel se oorkussing; as ’n mens jou verstand met waarhede vul, is dit ’n beskerming.—Filip. 4:8, 9.

DIE BEHOEFTE AAN LEIDING

5. Waarom is dit vir baie mense moeilik om die Bybel te lees, en hoe is die probleem opgelos vir ’n man wat 19 eeue gelede gelewe het?

5 Op die gebied van godsdiens en die filosofie is daar vandag ’n mag der menigte teenstrydige menings oor wat reg en verkeerd is. In hulle soektog probeer party om die Bybel te lees, maar hulle vind dit moeilik. Hulle is nie die eerstes wat dit moeilik vind nie. Negentien eeue gelede het ’n Ethiopiër in sy wa gery en in die boek Jesaja gelees. “Filippus [die evangelis] het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” Filippus het op die wa geklim en saamgery en hom die weg gewys.—Hand. 8:26-35; 21:8.

6. Waar kan ons verwag om hedendaagse ‘Filippusse’ te vind, en waar nie?

6 Waar is die ‘Filippusse’ van vandag wat bekwaam is om ander die weg te wys sodat hulle uit die Bybel kan vasstel watter weg vir ’n mens ’n goeie naam by God verwerf? Nie in die gevestigde, gerespekteerde, ortodokse kerke van die Christendom soos ’n mens dalk sou verwag nie. Filippus was nie ’n vername skrifgeleerde of Fariseër nie, maar was een van die veragte, beswadderde, vervolgde Christene. Die lesse van die geskiedenis leer vir ons dat die gevestigde, aanvaarde godsdiensstelsels dikwels begin om menslike filosofieë te verkondig en die woorde van God vervals.

7. (a) Hoe het eertydse Israel God se Woord vervals? (b) Tot watter mate volg party hedendaagse kerke en lidmate van die Christendom Israel na, en watter tekste skend hulle aldus?

7 Die nasie Israel het Jehovah se wet gehad, maar hulle het hulle aanbidding vervals deur die afskuwelike afgoderye van Baäl-seksaanbidding, wat in die boorde en by hoogtes beoefen is, daarby te voeg. Tweede Kronieke 33:17 verwys na hierdie mengsel waar dit sê: “Tog het die volk nog op die hoogtes geoffer, maar net aan die HERE hulle God.” Dit was in verband met hierdie vermenging van die ware en die valse dat Elia die uitdaging tot Israel gerig het: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” (1 Kon. 18:21). Baie kerke en lidmate is vandag verdraagsaam teenoor pornografie, rolprente oor ongeoorloofde seks, voorhuwelikse omgang, owerspel en homoseksualiteit—dermate dat hulle hierdie dinge wat deur God verbied word, vergoelik en bedryf.—Rom. 1:26, 27, 32; 1 Kor. 6:9, 10; Openb. 21:8.

8. Op watter nuwe manier het die nasie Juda, na hulle terugkeer uit gevangenskap in Babilon, God se Woord vervals en kragteloos gemaak?

8 Weens sulke onwelvoeglikhede is Juda na Babilon weggevoer. Na hulle terugkeer het hulle weer eens God se Woord vervals—hierdie keer nie met afgodiese seksaanbidding nie, maar deur menslike tradisies en filosofieë by te voeg. Jesus het hulle godsdiensleiers, die skrifgeleerdes en Fariseërs, hiervoor veroordeel en gesê: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”—Matt. 15:3, 7-9.

9. Op watter kragtige wyse het Paulus oneerlike wynhandelaars met ontroue godsdiensleiers vergelyk?

9 Paulus het die besoedeling van God se Woord met menslike filosofieë veroordeel toe hy gesê het: “Ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie.” In daardie dae het oneerlike wynhandelaars goedkoop drank of selfs water by hulle wyn gegooi om dit meer te maak en meer wins te maak. Party godsdiensleiers het eweneens menslike tradisies en filosofieë by God se Woord gevoeg om dit smaakliker vir wêreldlike mense te maak. Maar nie Paulus nie! “Ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie”, het hy gesê, “maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.”—2 Kor. 4:2; 2:17.

10. Watter waarskuwing het die apostel Paulus laat hoor, en hoekom was dit geen vals alarm nie?

10 Paulus het gewaarsku dat die Christendom afvallig sou word, en in die vierde eeu G.J. het Romeinse keiser Konstantyn dit op flagrante wyse vervals (Hand. 20:29, 30). Daar was gevolglik ’n samesmelting van die Christelike godsdiens met demonistiese leerstellings wat in Egipte en Babilon ontstaan het—die Drie-eenheid, onsterflike siel, helse vuur, vaevuur, gebede vir die dode, die gebruik van rosekranse en dies meer. Hierdie leerstellings word nie in die Bybel geleer nie, maar hulle is by die geloofsbelydenisse van sogenaamde Christenkerke ingesluit. Ons vind hulle tot vandag toe daarin. Daarbenewens vervals die hedendaagse kerke van die Christendom God se Woord selfs verder: hulle het hoër kritiek bygevoeg wat probeer om die Bybel se gesag te ondermyn, en die onwetenskaplike ewolusieteorie wat loën dat God die Skepper van die hemel en aarde en lewe is!

11. Watter heeltemal verskillende eienskappe en oortuigings kenmerk hedendaagse ‘Filippusse’ as veilige gidse?

11 Wie is dan die hedendaagse ‘Filippusse’ wat veilige gidse is? Diegene wat glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is; wat dit as ’n lamp vir hulle voet en ’n lig vir hulle pad beskou; wat niks daarby voeg of niks daaruit weglaat nie; wat God en sy Woord waaragtig laat wees terwyl hulle ‘elke mens ’n leuenaar’ maak; en wat hulle heelhartig wy aan die openbare ‘verkondiging van hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis’ (2 Tim. 3:16; Ps. 119:105; Deut. 4:2; Rom. 3:4; Matt. 24:14). Hulle gebruik die Bybel as hulle gesag, en spoor hulle hoorders aan om na te gaan wat hulle sê en nie hulle woord te aanvaar nie maar slegs God se Woord (Hand. 17:11). As jy ’n naam by God wil maak, moet jy jou dit ten doel stel om so ’n getroue gids te wees en ‘altyd bereid wees om verantwoording te doen aan elkeen wat van jou rekenskap eis omtrent die hoop wat in jou is, met sagmoedigheid en vrees’. Of, soos Paulus gesê het: ‘Jy moet weet hoe jy iedereen moet antwoord.’—1 Pet. 3:15; Kol. 4:6.

DIE SOORT MENSE WAT ONS BEHOORT TE WEES

12. Wat beteken vir jou meer as net ’n studie van God se Woord en die verkondiging daarvan aan ander?

12 Om ’n goeie naam by God te maak, is dit nie genoeg om te studeer en antwoorde te leer nie. Ons moet eers hierdie kennis op onsself toepas. Om persoonlik baat te vind, moet ons dit persoonlik toepas. Net soos die man in die klaaghuis in eertydse Israel moet ons “dit ter harte neem” (Pred. 7:2). “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ’n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel?” Selfs die apostel Paulus het gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (Rom. 2:21, 22; 1 Kor. 9:27). Dit is meer fundamenteel as wat ons doen. Dit is: Wat is ons? Wat is “die verborge mens van die hart”? “Watter soort mense behoort julle dan te wees?”—1 Pet. 3:4; 2 Pet. 3:11. NW.

13. Hoe het Jehovah Samuel se denke oor die taksering van mense reggestel?

13 Wat ons is, word nie deur ons voorkoms bepaal nie. Die profeet Samuel is na Isai gestuur om een van sy seuns as koning van Israel te salf. Samuel is beïndruk deur die fris eersgeborene, maar Jehovah het vir Samuel gesê: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Sam. 16:7.

14. Watter verdere getuienis word aangevoer wat toon dat die skyn bedrieg, en wat is die belangrike ding?

14 Die skyn bedrieg. Jesus het gesê dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs van buite regverdig gelyk het, maar van binne verdorwe was (Matt. 23:3, 27, 28). Die Jode in Paulus se dag het geglo dat die uiterlike teken van besnydenis hulle sou red, maar Paulus het gesê: “Nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart” (Rom. 2:28, 29). En Paulus het groot dinge opgenoem wat hy kon vermag, maar toe bygevoeg: “En ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” Alles wat ons doen om ’n goeie naam by God te maak, moet gemotiveer word deur liefde uit die hart. “Ek, die HERE, deursoek die hart.”—1 Kor. 13:1-3; Jer. 17:10.

15. Watter soort mense behoort ons te wees?

15 Watter soort mense behoort ons dus te wees? Die apostel Paulus gee hierdie lang lys dinge wat ons beveel is om te doen en dinge wat ons verbied is om te doen:

“Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind teenoor mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”—Rom. 12:9-19, 21.

16. Wat moet ons vermy, en waarna moet ons streef?

16 Dit is die soort mense wat ons behoort te wees! Dit sou verskriklik wees indien God se genade nie beskikbaar was wanneer ons weens ons swakheid te kort skiet nie. Hier is ’n groot bron van hulp: assosieer met persone met dieselfde doelwitte. “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Vermy die owerspelige wêreldryk van valse godsdiens wat God se Woord vervals. “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê . . . nie.” Haar gewete is so verstomp dat sy geen skuldgevoelens ervaar nie, al reik haar sondes tot aan die hemel. Sy tree op net soos die letterlike hoer: “So is die weg van ’n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie.” Dit is dus noodsaaklik om krag te verkry deur omgang met persone wat daarna streef om ’n goeie naam by God te maak en ‘nie ons onderlinge byeenkoms te versuim soos sommige die gewoonte het nie’.—Spr. 13:20; 1 Kor. 15:33; Openb. 18:4; Spr. 30:20; Hebr. 10:25.

DIT IS NOU JOU KANS!

17, 18. Waarop moet ons ons nou toespits, en waarom moet dit sonder versuim gedoen word?

17 Namate die einde van Satan se goddelose stelsel nader kom, moet ons ons toespits op ‘watter soort mense ons behoort te wees’, om ons denke te vernuwe, om die ou persoonlikheid af te lê en ons met die nuwe te beklee, en om ’n goeie naam by God te maak ‘sodat ons sterfdag beter sal wees as ons geboortedag’ (Pred. 7:1). Of, in die geval van diegene wat hoop om ’n aardse paradys te beërwe, sodat daar nooit ’n sterfdag sal wees nie!

18 Maar jy dink moontlik dat die einde alreeds moes gekom het. Dink jy dat die Here sy koms uitgestel het? Begin jy om die hand te verslap in die lewensbelangrike werk om God se koninkryk te verkondig, of begin jy jouself skuldig maak aan wangedrag? Ongeag wanneer die einde kom, dit is nou die tyd vir jou hand om te doen wat dit vind om te doen in jou strewe om ’n goeie naam te maak. Enigeen van ons kan more dood wees. Ons is soos die blom wat verwelk, die damp wat verdwyn, die skaduwee wat nie standhou nie (Job 14:1, 2; Jak. 4:14). Prediker 9:12 waarsku: “Die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet—soos hulle word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval.”

19, 20. (a) Wat is nodig benewens om nou ’n sedelik rein lewe te lei? (b) Waarom is dit dringend om nou op te tree?

19 Ons moet meer doen as die jongman wat na Jesus gekom het en gevra het hoe hy die ewige lewe kon verwerf. Hy het klaarblyklik ’n sedelik rein lewe gelei, maar dit was nie genoeg nie. Jesus het vir hom gesê om ook die volgende te doen: “Kom hier, volg My.” Jesus is die voorbeeld (Matt. 19:16, 22; 1 Pet. 2:21). Hy het nie alleen God se gedragsreëls in sy persoonlike lewe toegepas nie; hy het ook “die evangelie van die koninkryk” aan ander verkondig. “Bekeer julle”, het hy gesê, “want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Hy “het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig” (Matt. 4:17; 9:35). Toe die skares wou hê dat hy langer by hulle moes bly en probeer het om hom te vertraag, het hy gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” Toe hy die skare sien wat geestelik “moeg en uitgeput was”, het hy “vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer” (Luk. 4:43; Matt. 9:36; Mark. 6:3). Hy het sy apostels uitgestuur om te preek en hulle beveel: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”—Matt. 10:7, 8.

20 Ons lewe nou in die kritieke laaste dae van hierdie duiwelse stelsel. “Die tyd is kort.” Dit is dringend dat ons die “evangelie” verkondig (1 Kor. 7:29; 9:16). Dit is nou die voorspelde tyd vir ‘hierdie evangelie van die koninkryk om in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig te word voordat die einde kom’ (Matt. 24:14). Ongeag wanneer Jehovah se tyd aanbreek om hierdie goddelose stelsel te vernietig, moet jy nooit die volgende vergeet nie: NOU terwyl jy lewe; NOU voordat die onvoorspelbare dood jou neem; NOU is jou kans om deel te neem aan die verkondiging van die “evangelie” en om ’n goeie naam by God te maak!

[Prent op bladsy 28]

Ongeag wanneer ’n persoon lewe, dít is sy tyd om ’n goeie naam te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel