Maak ’n goeie naam by God
“’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag.”—Pred. 7:1.
1. Wat maak elkeen vir homself, en wat gee hy soms aan ander?
ELKEEN maak iets bo en behalwe wat hy doen, selfs die persoon wat niks doen nie. ’n Man maak goeie meubels en maak boonop ’n naam as ’n bedrewe vakman. ’n Vrou maak heerlike maaltye, en maak aldus ’n naam as ’n goeie kok. ’n Derde persoon doen niks, en maak ’n naam as ’n luiaard. Elkeen maak vir homself ’n naam. En soms gee ons vir ander name. Met hulle laster het Saul en sy metgeselle vir Dawid ’n slegte naam gegee. Met sy psalms het Dawid vir God ’n goeie naam gegee. Jehovah het Dawid in staat gestel om vir homself ’n goeie naam te maak. Party wat beweer dat hulle God verteenwoordig, gee vir hom ’n slegte naam met hulle godsdiensleuens en onsedelike dade. Met hulle woorde en hulle dade gee ware aanbidders vir God ’n goeie naam en maak sodoende ’n goeie naam vir hulleself by Jehovah God.—Ps. 64:2-7; 1 Kron. 17:8; Eseg. 36:20-23.
2. Watter oënskynlik eienaardige verklaring vind ons in Prediker, en watter raad volg daarop?
2 Daar is ’n vers in die Bybelboek Prediker wat vir party lesers ’n baie eienaardige verklaring bevat: “’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag.” Hoe is dit moontlik? Hoe kan die dood beter as die lewe wees? Sou jy, as jy ’n keuse gehad het, nie verkies het om jou lewe te begin eerder as om die einde daarvan te nader nie? Kom ons lees nou weer hierdie vers, saam met die wat daarop volg:
“’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem. Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart. Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde. Dit is beter om te luister na die bestraffing van ’n wyse as dat ’n mens luister na die lied van die dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder ’n pot, so is die gelag van ’n dwaas. Dit is dan ook tevergeefs.”—Pred. 7:1-6.
3. (a) Watter ou gebruik in Israel word hier bespreek, en wat is die mees vertroostende gedagte in so ’n tyd? (b) Hoe weet ons dat die naam wat hier gemeld word ’n goeie is?
3 Helder dit die eienaardige verklaring dat jou sterfdag beter as jou geboortedag is op? Ja, as jy weet van watter geleentheid daardie woorde praat en wat die agtergrond is. Dit gaan om ’n gebruik in eertydse Israel. Wanneer ’n gesin ’n dierbare in die dood verloor het, het hulle woning ’n klaaghuis geword. Dit was die gebruik dat vriende en bure hulle meegevoel kom betoon het. Die mees vertroostende gedagte sou wees dat hierdie dierbare se sterfdag beter was as sy geboortedag—mits hy ’n goeie naam by God gemaak het. Dit is waar dat vers een van hierdie passasie in die oorspronklike Hebreeus slegs “’n naam” in plaas van “’n goeie naam” sê.a Maar dit spreek vanself dat die naam ’n goeie moet wees. Spreuke 22:1 is ’n soortgelyke geval: “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom.” Party vertalings voeg die byvoeglike naamwoord “goeie” in om te toon watter soort naam bedoel word.b Die naam is noodwendig ’n goeie, in die spreuk sowel as in Prediker 7:1; anders sal nie een van die verklarings sin hê nie.
4. Wat het ons by ons dood wat ons nie by ons geboorte gehad het nie, en waarom?
4 Gedurende ons lewe maak ons ’n naam vir onsself—’n goeie of ’n slegte. As ons verstandig in God se oë optree, maak ons ’n goeie naam vir onsself by God. Maar dit verg tyd. Op ons geboortedag het ons nog nie lank genoeg gelewe om enige soort naam hoegenaamd te maak nie. Daarbenewens word ons met Adamitiese sonde gebore en is ons ter dood veroordeel (Rom. 5:12). Indien ons dus jare later, op ons sterfdag, ’n goeie naam by God gemaak het, het ons iets wat ons nie op ons geboortedag besit het nie. Ons het ’n naam wat God sal onthou wanneer hy die dode onder Christus se koninkryk opwek. “Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddelose vergaan.”—Spr. 10:7.
DIE ROUKLAERS VIND BAAT
5. Waaroor kan die rouklaer nadink terwyl hy in ’n klaaghuis sit?
5 Maar wanneer ’n eertydse Israeliet na ’n klaaghuis gegaan het om die bedroefdes te vertroos, was dit ook vir hom voordelig. Dink hieraan terwyl ons weer ’n paar van die verse lees. “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem” (Pred. 7:2). Hy betoon nie alleen liefdevolle simpatie aan die oorlewendes in plaas daarvan om ongevoelig sy eie genot na te jaag nie, maar hy dink ook na oor die feit dat ’n persoon in hierdie huis gesterf het, dat dit nie iets buitengewoons is nie, dat almal die een of ander tyd sterf, en dat hy ook eendag sal sterf. Sal sy sterfdag dan beter as sy geboortedag wees? Sou hy verstandig opgetree het gedurende sy leeftyd, sodat hy teen sy sterfdag ’n goeie naam by God gemaak het? Die lewende moet dit ter harte neem terwyl daar tyd is om te verander, want ’n goeie naam kan nie in ’n paar minute van berou ter elfder ure gemaak word nie.
6. Waarom is verdriet in hierdie geval beter as ’n gelag?
6 “Om verdrietig te wees, is beter as om te lag”, sê die Bybel voorts, “want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart” (Pred. 7:3). In plaas daarvan om tyd met ligsinnige pret te verwyl, is dit beter om jou lewe te ondersoek, om foute van die verlede onder die oë te sien en spyt te wees oor oortredings wat begaan is. Dit sal jou hart verbeter en jou beweeg om jou weë te verander en verstandig te begin optree in plaas daarvan om jou lewe soos ’n onverantwoordelike dwaas om te lag en te giggel. “Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde”—Pred. 7:4.
7. (a) In watter gemoedstoestand kan dit die rouklaer plaas? (b) Waarom word die gelag van die dwase vergelyk met die geknetter van doringtakke onder ’n pot?
7 Boonop is dit “beter om te luister na die bestraffing van ’n wyse as dat ’n mens luister na die lied van die dwase” (Pred. 7:5). Kontak met die dood, soos by ’n begrafnis, is ’n ervaring wat ’n mens ernstig stem, en dit behoort ’n persoon oor sy eie lewensweg te laat nadink. Dit kan hom ook ontvanklik maak vir wyse raad. Selfs wanneer kritiek op ’n vriendelike wyse gegee word, is dit moeilik om dit te aanvaar, maar dit is beter as om na die lied of die “lof van dwase” te luister (The New English Bible). As ons na die wyse bestraffings wat in die bladsye van die Bybel aangetref word, luister en daarop ag slaan, sal dit ons in staat stel om ’n goeie naam by God te maak. Dit is tevergeefs om ons tyd te verbeusel deur na dwase vleiery te luister: “Want soos die geknetter van doringtakke onder ’n pot, so is die gelag van ’n dwaas. Dit is dan ook tevergeefs” (Pred. 7:6). ’n Mens bereik niks as jy doringtakke gebruik om vuur onder ’n pot te maak nie. Die vlam skiet op met ’n luide geknetter, maar dit gaan gou dood wanneer die dorings in as verander. Die dorings is nie dik genoeg om die vuur aan die gang te hou totdat die vleis gaar is nie. Die luidrugtige vertoon is net so nutteloos soos die dwaas se gelag. Nie een van die twee dinge bring iets van blywende waarde tot stand nie.
’N SELFS EIENAARDIGER VERKLARING
8. Watter les onderskei ons noudat ons groter insig het?
8 Met hierdie groter insig kan ons nou terugkeer na die verklaring dat ‘die sterfdag beter as die geboortedag is’. Ons sien dat dit nie langer eienaardig is nie, maar ’n kragtige les bevat oor hoe ons ons lewens moet lei om ’n goeie naam by God te maak. Dan sal ons sterfdag beter as ons geboortedag wees. Dit wil natuurlik sê as ons sterfdag ooit aanbreek. ‘Hoe nou?’ sal party uitroep. ‘As ons sterfdag ooit aanbreek? Jy bedoel dit sal dalk nie kom nie? Dit is ’n selfs eienaardiger verklaring as die een wat sê dat die dood beter as die geboorte is!’
9. Watter toestande sien jou oë, en wat behoort hulle werklik te sien?
9 Dit is weer eens ’n saak van insig in die tye waarin ons lewe. Het jy oë wat sien, werklik sien? Jy sien ongetwyfeld dat ons in swaar tye lewe, dat baie mense egosentries en hoogmoedig is, dat huwelike ineenstort en gesinne verbrokkel, dat daar oral bedrog en leuens en gewelddadige misdade is, en dat selfs baie van diegene wat bely dat hulle Christene is huigelaars is. Maar sien jou oë wat hierdie dinge beteken? Tweede Timotheüs 3:1-5, 13 deel ons mee wat dit beteken:
“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
10. Wat hoor jou ore, en wat behoort hulle verder te besef?
10 Het jy ore wat hoor, werklik hoor? Jy het ongetwyfeld gehoor van die oorloë, hongersnode, aardbewings en pessiektes wat die wêreld sedert 1914 teister. Jy weet van die sedelike verval wat die hele wêreld teister. En jy het gehoor van die wêreldwye prediking van die goeie nuus van Christus se koninkryk deur Jehovah se Getuies, en van die vlaag vervolging wat oor hulle gespoel het omdat hulle verkondig dat hierdie duisendjarige koninkryk ophande is. Maar hoor jou ore die betekenis van hierdie dinge? Registreer hulle die waarheid dat hierdie dinge deur Jesus voorspel is as ’n teken van die einde toe sy dissipels vir hom gevra het: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wereld?”—Matt. 24:3.
11. Wat sê spotters, en waarvoor sorg hulle aldus?
11 Is jou hart gevoelig vir die betekenis van al hierdie dinge, of is dit verhard met eelte wat jou laat sê: “Al hierdie dinge het al vantevore plaasgevind”? Die spotters sorg vir nog ’n deel van die teken dat ons in die “laaste dae” lewe. Hulle teenwoordigheid is in 2 Petrus 3:3, 4 voorspel: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”
IETS NUUTS
12. Wat is nou nuut in wêreldgeskiedenis?
12 Maar jou hart is ongetwyfeld gevoelig vir die feit dat, wanneer jy die aardwye besoedeling van ons planeet in aanmerking neem, jy kan onderskei dat ‘alles NIE bly soos dit was van die begin van die skepping af nie’. Nog nooit tevore het mense die vermoë gehad om die aarde as ’n bewoonbare planeet te verwoes nie. Hulle besit nou daardie vermoë en hulle gebruik dit om juis dit te doen! Die wetenskaplikes het aan die nyweraars ’n tegnologie gegee wat ’n seën vir die mensdom moes wees, maar wat in ’n vloek verander het omdat dit die omgewing besoedel, en dodelike kwale teister die aarde. Die lug wat ons inasem, is vergiftig, die grond waarin ons ons voedsel kweek, is vol gifstowwe, baie riviere en mere wat ons drinkwater voorsien, is besig om dood te gaan, en die oseane word internasionale vuilputte!
13. Oor watter aspek van die teken kan spotters nie sê: “Dit het al tevore gebeur” nie?
13 Is jou hart bewus van die feit dat die aarde se vermoë om lewe te onderhou in gevaar verkeer, dat dit nog nooit tevore gebeur het nie en dat spotters dit nie kan afmaak as die geskiedenis wat homself herhaal nie? Hulle sal dit dalk graag wil doen, want hierdie verderwing van die aarde is ook as ’n deel van die teken van die “laaste dae” voorspel. Die Bybelboek Openbaring het dit amper 19 eeue gelede in hoofstuk 11, vers 18, geopenbaar: “Die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan . . . die wat u Naam vrees . . . en om die verderwers van die aarde te verderf.”
14. Waarom het die oorgrote meerderheid in Jesus se dag, en nou die oorgrote meerderheid in ons dag, nie op die waarskuwing ag geslaan nie?
14 As jou oë werklik sien, en jou ore werklik hoor, en jou hart nie verhard is nie, sal jy begryp dat ons in “die laaste dae” lewe en dat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge nader kom. Maar die oorgrote meerderheid van die mensdom begryp dit nie, net soos die oorgrote meerderheid in Jesus se dag nie sy waarskuwingsboodskap verstaan het nie. Wat hy destyds vir hulle gesê het toe hy die profesie van Jesaja aangehaal het, geld dus vandag vir die mensdom:
“Omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stom geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”—Matt. 13:13-15.
15. Wie kan hulle nou verheug, en met watter hoop?
15 In die volgende vers voeg Jesus hierdie woorde vir sy volgelinge by: “Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.” Persone wat vandag oë en ore en harte het wat sien en hoor en verstaan dat ons in “die laaste dae” lewe, is waarlik gelukkig. “As hierdie dinge begin gebeur”, word ons meegedeel, “kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Party van diegene wat in “die laaste dae” lewe, sal nooit ’n sterfdag hê nie. Jesus het hierdie tydperk met die dae van Noag vergelyk. Net soos Noag en sy gesin bewaar is deur die vloed wat daardie goddelose wêreld vernietig het, sal diegene wat vandag verstandig optree en ’n goeie naam by God maak nie sterf wanneer Jehovah God hierdie goddelose stelsel van dinge tydens sy oorlog te Armageddon vernietig nie. Ons sê dus nie onmoontlike dinge wanneer ons sê dat party nooit ’n sterfdag sal sien nie. Ons betuig eerder ’n Godgegewe hoop.
16, 17. Wat is mense onwillig om te aanvaar, en waarvan hang ons lewens nou af?
16 In eertydse Israel kon ’n man dalk redeneer dat hy die res van sy lewe gehad het om ’n goeie naam by God te maak. ’n Man skram weg van die gedagte dat hy môre kan sterf. Hy weet ander sal, maar nie hy nie. Mense wat jonger as hy is, sal sterf, maar nie hy nie. Hy sien altyd nog ’n paar jaar vir homself in die toekoms. Sulke redenering is ’n menslike fout, ’n gevaarlike. Dit sou so wees in die geval van ’n man in eertydse Israel, maar dit is ’n baie gevaarliker fout vir ons wat vandag lewe. Ons lewe nie in normale tye wanneer ons kan verwag om ’n normale leeftyd van sewentig of selfs tagtig jaar te bereik nie. Ons is in “die laaste dae”. Die einde van ’n stelsel van dinge kom nader. Dit is lewensbelangrik dat ons ag slaan op die woorde in Efesiërs 5:15-17 (NAB): “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos dwase mense nie, maar verstandig. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”
17 Dit is nou die tyd, terwyl jy lewe, voor jou sterfdag, om ’n goeie naam by God te maak.
[Voetnote]
a Kyk die New World Translation of the Holy Scriptures.
b Authorized Version, American Standard Version, The New English Bible, ens.; kyk ook die voetnoot in die New World Translation.
[Prent op bladsy 21]
Hoe is dit moontlik dat die sterfdag beter as die geboortedag kan wees?
[Prent op bladsy 24]
Hoe kan die sterfdag beter as dít wees?