HET ONS HULP NODIG OM DIE BYBEL TE VERSTAAN?
IN APRIL 1980 het die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Brasilië die volgende brief ontvang:
“Ek skryf om julle beleefd mee te deel dat ek ’n nederige verslaggewer, rolprentvervaardiger en fotograaf is . . . en dat ek alles gedoen het wat ek wou. Maar een ding kom ek kort: Geloof in God. Dit is nou al twee jaar dat ek die publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap lees, en ek hou van die leerstelling van ‘Jehovah se Getuies’, en ek wil graag een van hulle word en iets goeds vir die mensdom doen. Ek is moeg om draaiboeke vir rolprente, voorbladverhale en glansartikels te skryf wat mense selfs aanspoor tot prostitusie, moord, dwelmverslawing, aanranding en al die slegte dinge wat koerante op hulle voorblaaie publiseer en wat deur volwassenes en kinders verslind word. Ek moet verander. Ek het nog die geleentheid om die verbeelding wat God vir my gegee het tot voordeel van my broers te gebruik.
“Daarom versoek ek julle opreg om my te laat weet wat ek moet doen om een van ‘Jehovah se Getuies’ te word.
“Ek sien daarna uit om van julle te hoor.
“Hoogagtend die uwe.”
Sou dit genoeg gewees het om vir hierdie man te sê om net die Bybel te lees saam met ander wat dieselfde wil doen? Dit blyk dat hy reeds die Bybel gelees het. Maar dit was vir hom duidelik dat hy meer hulp nodig gehad het.
Hy was soos die Ethiopiër wat deur die Evangelieskrywer Lukas in Handelinge hoofstuk 8 gemeld is. Terwyl die Ethiopiër op sy wa gery het, het hy hardop uit die profesie van Jesaja gelees. Op aansporing van God se heilige gees het die evangelis Filippus die wa genader. Toe hy hoor hoedat die man lees uit wat vandag Jesaja hoofstuk 53 is, het Filippus gevra: “Verstaan u wel wat u lees?” Die Ethiopiër het geantwoord: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?”—Hand. 8:30, 31.
Ja, op sy eie sou die Ethiopiër nooit die een kon identifiseer wat deur Jesaja gemeld is toe hy geskryf het nie: “Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.” Filippus het dus verduidelik dat hierdie profesie deur Jesus Christus vervul is. Die man het die bewys aanvaar en gevra om by die eerste geleentheid gedoop te word.—Hand. 8:32-38.
’N BEHOEFTE AAN UITLEG
Hierdie selfde behoefte aan leiding word getoon in die verslag oor twee van Jesus se dissipels. Hierdie manne was drie dae na Jesus se dood op pad na Emmaüs. Hulle was vertroud met die Hebreeuse Skrifte, maar hulle kon nietemin nie begryp waarom Jesus moes ly en sterf nie. Toe die verrese Jesus by hulle aansluit, het hulle hom nie herken nie aangesien Jesus klaarblyklik ’n ander liggaam aangeneem het. Wat het Jesus gedoen om hierdie bedroefde dissipels te help?
Die Bybelverslag sê: “Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” Met watter gevolg? Nadat Jesus homself geïdentifiseer en uit hulle gesig verdwyn het, het hulle gesê: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?”—Luk. 24:27, 32.
’n Rukkie later op daardie selfde dag het hierdie twee dissipels saam met die 11 apostels in ’n vertrek in Jerusalem vergader en vir hulle van hulle ondervinding vertel. Terwyl hulle nog oor hierdie dinge gepraat het, het Jesus skielik in hulle midde verskyn. Het Jesus hulle nog verder ingelig? Ja, want hy het verduidelik: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.” En Lukas voeg by: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”—Luk. 24:44, 45.
Die geval van Apollos, “’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif, lig ook die behoefte aan leiding uit ’n behoorlike bron toe. Apollos was ’n welsprekende en oortuigende prediker oor die feit dat Jesus die Messias is. Maar dit was nogtans nodig vir ’n egpaar, wat noue omgang met die apostel Paulus gehad het, om vir hom Skriftuurlike leiding te gee. Toe hierdie Christenegpaar Apollos hoor preek het, kon hulle sien dat hy duidelikheid oor sekere leerstellings nodig gehad het. Hy het byvoorbeeld slegs van die doop van Johannes die Doper geweet.—Hand. 18:24-26, NAB.
’N MENSLIKE KANAAL
Uit sulke ondervindinge is dit duidelik dat Jehovah God die Bybel op so ’n wyse laat skryf het dat ’n mens in aanraking moet kom met Sy menslike kanaal voordat jy dit ten volle en akkuraat kan verstaan. Ons het wel die hulp van God se heilige gees nodig, maar ons ontvang die hulp daarvan ook hoofsaaklik deur omgang met die kanaal wat dit Jehovah God behaag om te gebruik.—1 Kor. 2:6-10.
Die Bybel toon dat God ’n georganiseerde gemeente sou hê waardeur mense onderrig sou word waar dit sê: “Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie.”—Ef. 4:11-14.
In die eerste eeu het mense hulle na so ’n gemeentelike reëling gewend vir leiding. Dit blyk byvoorbeeld uit wat gebeur het toe die vraag geopper is of nie-Joodse bekeerlinge besny moet word. Het die apostel Paulus by daardie geleentheid iets soos die volgende gesê: ‘Kyk hier, Jesus Christus het persoonlik aan my verskyn, hy het my bonatuurlike gesigte laat sien, hy het my die gawe van profesie en inspirasie gegee en het my in staat gestel om kragtige dade te verrig; laat ek nou vir julle die vraag oor besnydenis opklaar’? Glad nie!
Die apostel Paulus en sy metgeselle is na Jerusalem om die Christengemeente se bestuursliggaam, wat uit die apostels en ouere manne bestaan het, te raadpleeg. En dit was nie die apostel Paulus wat die uitspraak oor die besnydeniskwessie gelewer het nie, maar Jakobus, Jesus se halfbroer, wat destyds klaarblyklik die presiderende opsiener van die gemeente in Jerusalem was. Daarna het Paulus, Silas en ander hierdie besluite aan die broers bekend gemaak.—Hand. 15:1-35.
Wat van Paulus se sendingreise? Het hy hom nie gesteur aan die feit dat Jehovah hom as ’n apostel vir ’n sekere groep aangestel het nie? Nee, maar hy het sy toewysing gehoorsaam aanvaar, en dit is later erken deur die “pilare” van die bestuursliggaam te Jerusalem, soos Galasiërs 2:9 sê: “Toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Cefas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan.”—Hand. 9:15; 13:1-4; 22:17-21.
Toe Paulus later vir die laaste keer na Jerusalem gekom het, het die Jode aldaar misleidende berigte oor hom ontvang. Die “ouderlinge” in Jerusalem het Paulus dus aangeraai wat hy moes doen om te toon dat hierdie berigte vals was. En Paulus het hulle voorstelle geredelik aanvaar.—Hand. 21:17-36.
Jehovah God het liefdevol ’n sigbare organisasie onder Christus—die “getroue en verstandige dienskneg”—voorsien om ons te help om God se Woord te verstaan. Die wyse waarop Jehovah God die bedrywighede onder leiding van die “dienskneg”-klas geseën het, laat geen twyfel by toegewyde Christene dat hierdie “dienskneg” Jehovah God se goedkeuring wegdra nie.—Matt. 24:45-47.
’N EDELMOEDIGE BESKOUING
Hoe moet ons die geestelike voedsel beskou wat deur hierdie “getroue en verstandige dienskneg” voorsien word? Moet ons dit krities beskou: ‘Dit kan dalk waar wees, maar aan die ander kant is dit dalk nie waar nie, en dus moet ons alles baie krities ondersoek’? Dit is klaarblyklik hoe party die saak beskou. Ter ondersteuning van hulle beskouing haal hulle Handelinge 17:11 aan wat die volgende oor die nuwe belangstellendes in Berea sê: “Hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
Maar beteken dit dat daardie Bereane na foute gesoek het in die boodskap wat hulle gehoor het, of dat hulle baie skepties was? Stel dit ’n presedent om die publikasies van die “getroue en verstandige dienskneg” krities te beskou met die doel om fout te vind? Glad nie!
Kom ons kyk eerstens na die agtergrond van die verklaring oor die edelmoedige Bereane. Paulus, vergesel van Silas, was op sy tweede sendingreis. Weens vervolging wat ontstaan het, het die broers in Thessalonika hulle na Berea gestuur. In Berea het hulle opregte Jode met sterk geloof in God se Woord teëgekom. Hulle was nog nie Christene nie. Hulle was bloot belangstellendes wat hulself moes tevrede stel dat wat Paulus vir hulle vertel het deur die Hebreeuse Skrifte gesteun word.
Tot op daardie tyd het hierdie vroom Jode in Berea dalk nog nooit van Jesus Christus gehoor nie. Die dinge wat Paulus vir hulle vertel het, was heeltemal nuut. Daardie edelmoedige Jode in Berea het dus elke dag die Skrif ondersoek om seker te maak dat die verwysings wat Paulus gegee het werklik deel van God se Woord is. En met watter gesindheid het hulle gestudeer? Met ’n skeptiese gesindheid en met die doel om te bewys dat Paulus verkeerd gehad het? Nee, hulle was heeltemal anders as Paulus se kritici op Marsheuwel, want ons lees dat hulle Paulus se getuienis met “alle welwillendheid” aangehoor het.—Hand. 17:11, 32.
Hierdie Bereane het met welwillendheid geluister, ja, met ’n gretigheid om te glo. Hulle was dus nie alleen ontvanklik nie, maar hulle wou hê dat hierdie “goeie nuus” gestaaf moes word. Trouens, voordat ’n persoon geloof kan verkry, moet hy “die wil hê om te glo”. As hy hom voorgeneem het om nie te glo nie, sal geen getuienis ter wêreld hom oortuig nie; want as ’n persoon daarna soek, sal hy altyd verskonings, aanneemlike redes kan vind om nie die aanspreeklikheid te aanvaar wat geloof sal meebring nie. Die apostel Paulus het tereg gesê: “Die geloof is nie die deel van almal nie” (2 Thess. 3:2). Maar die Bereane het die wil gehad om te glo. Hulle het die dinge wat hulle gehoor het met ’n ontvanklike gemoed oorweeg. Ja, “baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ’n groot aantal, vroue en manne.”—Hand. 17:12.
Jesus se dissipels het baie briewe geskryf aan Christengemeentes, aan persone wat reeds op “die weg van die waarheid” was (2 Pet. 2:2). Maar ons lees nêrens dat daardie broers eers skepties die Skrif nagegaan het om seker te maak dat daardie briewe Skriftuurlike steun gehad het en dat die skrywers werklik geweet het waarvan hulle praat nie.
ONS BESKOUING VAN DIE “DIENSKNEG”
Ons kan baat vind by hierdie bespreking. As ons eers vasgestel het watter instrument God as sy “dienskneg” gebruik om geestelike voedsel aan sy volk te gee, sal dit Jehovah beslis nie behaag as ons daardie voedsel ontvang asof dit iets skadeliks kan bevat nie. Ons moet ons vertroue stel in die kanaal wat God gebruik. By die hoofkwartier in Brooklyn waarvandaan die Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies uitgaan, is daar meer ryp Christen- ouere manne, van die “oorblyfsel” sowel as van die “ander skape”, as op enige ander plek op aarde.
Die broers wat hierdie publikasies voorberei, is weliswaar nie onfeilbaar nie. Hulle geskrifte is nie geïnspireerd soos die van Paulus en ander Bybelskrywers nie (2 Tim. 3:16). Dit was gevolglik nodig om soms sekere beskouings reg te stel nadat ’n duideliker begrip verkry is (Spr. 4:18). Maar dit lei tot ’n voortdurende loutering van die versameling Bybelse waarhede wat Jehovah se Getuies onderskryf. Namate veranderinge oor die jare heen aan daardie versameling waarhede aangebring is, het dit al hoe wonderliker en toepasliker in hierdie “laaste dae” geword. Die Bybelkommentators van die valse Christendom is ook nie geïnspireer nie. Ondanks hulle aansprake op groot kennis het hulle versuim om selfs basiese Bybelwaarhede sterk te laat uitkom—soos die komende Paradysaarde, die belangrikheid van God se naam en die toestand van die dode.
Maar die reputasie van die “getroue en verstandige dienskneg”-organisasie oor die afgelope honderd jaar of wat dring ons om die gevolgtrekking te maak wat die apostel Petrus geuiter het toe Jesus vir sy apostels gevra het of hulle nie ook wou weggaan nie, naamlik: “Na wie toe sal ons gaan?” (Joh. 6:66-69). Dit ly geen twyfel nie. Ons het almal hulp nodig om die Bybel te verstaan, en ons kan nie die Skriftuurlike leiding wat ons nodig het op ’n ander plek as by die “getroue en verstandige dienskneg”-organisasie vind nie.