Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 5/1 bl. 3-5
  • Bestaan God werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bestaan God werklik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ANDER BEWYSE DAT GOD WERKLIK BESTAAN
  • Die geheime van die paling word ondersoek
    Ontwaak!—1993
  • Het dit werklik ’n begin gehad?
    Ontwaak!—1999
  • Hoe het ons heelal hier gekom?—Die geskilpunt
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • ’n Heelal vol verrassings
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 5/1 bl. 3-5

Bestaan God werklik?

NAPOLEON het eenkeer vir die beroemdste Franse sterrekundige van sy dag, Laplace, gevra waarom hy geen melding van God gemaak het in sy boek Celestial Mechanics wat kort tevore verskyn het nie. Sy antwoord was: “U majesteit, ek het nie daardie hipotese nodig nie.”a Laplace was klaarblyklik nie die eerste of die laaste wat so min van God gedink het nie.

Maar in teenstelling met sulke ongelowiges is daar “reuse” op die gebied van die wetenskap soos sir Isaac Newton, wat eenkeer gesê het dat hy bewyse van God se wesenlikheid, Sy bestaan, wou beklemtoon toe hy sy Principia geskryf het. Dit lyk vandag asof al hoe meer sterrekundiges Newton se standpunt bo die van Laplace verkies.

Robert Jastrow, een van Amerika se beroemdste sterrekundiges, het byvoorbeeld geskryf oor die onderwerp “Het sterrekundiges God gevind?” Hy het onder meer gesê: “Teoloë is hoog in hulle skik dat die astronomiese getuienis ’n Bybelse beskouing van Genesis ondersteun—maar sterrekundiges is eienaardig genoeg ontsteld.”

Jastrow sê voorts omtrent hierdie sterrekundiges: “Hulle reaksies bied ’n interessante voorbeeld van die reaksie van die wetenskaplike verstand—wat veronderstel is om ’n baie objektiewe verstand te wees—wanneer getuienis deur die wetenskap self gevind word wat teenstrydig is met die geloofsartikels van ons professie. Dit blyk dat die wetenskaplike net soos die res van ons optree wanneer ons opvattings strydig is met die getuienis. Ons raak ergerlik, ons maak asof die teenstrydigheid nie bestaan nie, of ons verdoesel dit met sinlose uitdrukkings.”

Jastrow bied heel interessant drie soorte getuienis wat daarop dui dat daar 20 miljard jaar gelede ’n groot ontploffing was wat meegebring het dat melkweë teen ontsaglike snelhede van mekaar af weg beweeg, party teen ’n snelheid van 160 miljoen kilometer per uur! Daar is ook vasgestel dat hoe verder hierdie melkweë beweeg, des te vinniger beweeg hulle. Hy berig ook dat Einstein—en nie net Einstein nie—aanvanklik baie skepties was oor hierdie “ontploffingsteorie” oor die ontstaan van die heelal en dinge gesê het soos: “Myns insiens is dit sinloos om sulke moontlikhede te erken.” “Hierdie gedagte van ’n uitdyende heelal irriteer my.”

Maar dit strek tot Einstein se eer dat hy later wel erken het dat die teorie vir hom sin het, net soos dit nou ook vir baie ander wetenskaplikes sin het. Soos Jastrow gemeld het, stem so ’n beskouing van die oorsprong van die heelal ten minste ooreen met die Bybel se verklaring dat die stoflike heelal ’n begin gehad het: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Gen. 1:1.

ANDER BEWYSE DAT GOD WERKLIK BESTAAN

Dit is nie alleen die feit dat die heelal ’n begin gehad het wat bewys dat God, die Skepper, werklik bestaan nie, maar ook die harmonie en ordelikheid wat ’n mens sien net waar jy kyk. Gevolglik het een van Engeland se vernaamste sterrekundiges, sir Bernard Lovell, geskryf van sy “ekstase en verwondering oor die harmonie van natuurwette, wat getuig van ’n intelligensie wat so voortreflik is dat alle sistematiese denke en dade van mense ’n uiters onbeduidende afskynsel in vergelyking daarmee is”.

Dink byvoorbeeld aan al die faktore wat saamwerk om lewe op ons planeet, die aarde, moontlik te maak. Die son is 150 miljoen kilometer van die aarde af. Indien die aarde net ’n paar miljoen kilometer nader aan die son was, sou geen lewe moontlik wees nie weens die intense hitte. As die aarde andersyds net ’n paar miljoen kilometer verder van die son af weg was as wat dit tans is, sou geen lewe op die aarde moontlik gewees het weens die koue nie.

Dink ook aan die lug wat ons inasem. Ons kan nie sonder suurstof klaarkom nie, en 21 persent van die atmosfeer is suurstof. Maar as daar die helfte soveel suurstof of dubbeld soveel suurstof was as wat daar nou is, sou lewe soos ons dit ken nie op die aarde gedy het nie. Dan is daar die harmonie of balans tussen plant- en dierelewe. Plante absorbeer koolstofdioksied maar gee suurstof af, terwyl alle lewende skepsele suurstof inasem en koolstofdioksied uitasem. Hoe het sulke harmonie en balans tot stand gekom? Is dit nie getuienis dat God bestaan nie?

Ewe oortuigende bewys dat God werklik bestaan, word gevind in die letterlik miljoene der miljoene selle wat die menseliggaam uitmaak. Hoe klein is hulle tog! Maar elk van hierdie miljoene selle kan vergelyk word met ’n ommuurde stad waar chemikalieë, proteïene en hormone gemaak word. Al hierdie bedrywigheid word deur ’n kern beheer, en die produkte wat vervaardig word, word na en vanaf die sel vervoer deur middel van ’n kanaalnetwerk. Party van die deeltjies in hierdie selle is so klein dat hulle nie gesien kan word selfs wanneer hulle 200 000 keer vergroot word nie! Dit is dus geen wonder nie dat Amerika se toonaangewendste mediese tydskrif gesê het dat ten minste 80 persent van alle wetenskaplikes op die gebied van die biologie geredelik sal erken dat biologie en lewe deur ’n hoëre mag beheer word.

Verdere bewys dat God waarlik bestaan, word in die instink van diere gesien. Waarom kan voëls sekuur duisende kilometer ver na hulle gekose destinasie vlieg, en dit ongeag die weer? Watter wysheid lê insekte soos bye en miere tog aan die dag! En let ook op die wonder van palings. Beide Europese en Amerikaanse palings kom na die Sargasso-see om daar eiers te lê en dood te gaan. Wanneer hulle eiers uitbroei, swem die jong palings terug na die plek waar hulle moeders vandaan gekom het. Daar word gesê dat ’n Europese paling nog nooit in Amerikaanse waters of ’n Amerikaanse paling in Europese waters gevind is nie. Hoe verklaar ’n mens dit?

Die getuienis is onloënbaar: Daar is ’n Skepper. God bestaan werklik. Hy het inderdaad tallose wonderwerke verrig. In die naam van die wetenskap verwerp party mense wonderwerke. Maar die Engelse digter Cowper het eenkeer gesê: “Alles wat ons sien, is wonderwerke, maar omdat ons dit so gereeld sien, is alles tevergeefse wonderwerke”—maar nie vir diegene wat erken dat God werklik bestaan nie!

[Voetnoot]

a Ons kan net terloops meld dat die teorie oor die ontstaan van die sonnestelsel waarmee Laplace in Celestial Mechanics vorendag gekom het, vervang is deur ander teorieë wat ewe onoortuigend is.

[Prente op bladsy 4]

Die lewende sel—’n ingenieurswonder

Voëls se vermoë om te migreer

[Prent op bladsy 5]

Jong palings—hulle swem terug na die gebied waar hulle ouers vandaan gekom het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel