Hoe werklik is God vir jou?
TOE ’n Amerikaanse rabbi eenkeer vir Einstein gevra het: “Glo u aan God?” het hy geantwoord: “Ek glo aan Spinoza se God, wat Homself openbaar in die ordelike harmonie van die dinge wat bestaan.”
Maar watter soort begrip van God het daardie 17de-eeuse Joods-Nederlandse filosoof gehad? Kortom, dat “alles wat bestaan ’n deel van God is en dat God in alles is wat bestaan”. Spinoza was die mening toegedaan dat “ons letterlik in God lewe en beweeg en bestaan”. Maar hoe wesenlik was so ’n God vir Spinoza en Einstein?
Vir Spinoza en Einstein was Hy hoogstens ’n panteïstiese god. ’n Panteïstiese god? Ja, want die uitdrukking “panteïsme” kom van twee wortels wat beteken “al” en “god”, en word dus gedefinieer as “’n leer waarvolgens God gelyk gestel word met die magte en kragte van die heelal”.
Dit ly geen twyfel nie: Die heelal, die “boek van die natuur”, openbaar baie omtrent God. Maar ons het baie meer kennis van God nodig as wat ons net in die heelal kan sien as God waarlik vir ons werklik moet wees. Ons het inderdaad sy goddelike openbaring nodig. Soos ons lees: ‘Hoe kan ’n mens in God glo van wie jy nie gehoor het nie?’ (Rom. 10:14). As ’n blyk van sy liefde, wysheid en geregtigheid het God so ’n openbaring aan ons gegee—sy Woord, die Heilige Bybel. Daarin leer ons nie alleen dat hy die groot Skepper is nie, maar ons leer ook van sy eienskappe: dat hy onbeperkte mag en wysheid besit, volkome regverdig en reg is, en dat hy die verpersoonliking van liefde is. Ons leer daarbenewens in sy Woord van sy voornemens.—Gen. 18:14; Deut. 32:4; Jes. 45:23, 24; Rom. 11:33-35; 1 Joh. 4:8.
Het hy ’n liggaam?
Deur te leer dat God alomteenwoordig is, het die valse Christendom mense in werklikheid verwar en dit vir sy aanbidders moeiliker gemaak om ’n duidelike begrip van God te hê. Hoe kan God tegelykertyd oral wees? God is ’n Geespersoon, wat beteken dat hy nie ’n stoflike liggaam het nie, maar ’n geestelike. Het ’n gees ’n liggaam? Ja, want ons lees: “Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam” (1 Kor. 15:44; Joh. 4:24). Omdat God ’n indiwidu, ’n Persoon met ’n geesliggaam is, het hy ’n plek waar hy woon, en dus kan hy nie terselfdertyd op enige ander plek wees nie. Ons lees dus in 1 Konings 8:43 dat die hemele God se “vaste woonplek” is. Ons word ook in Hebreërs 9:24 meegedeel dat Christus ingegaan het “in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn”.
Daarbenewens het die dissipel Stefanus en die apostel Johannes gesigte van die hemel gehad waarin hulle God sowel as Jesus Christus gesien het. Jehovah God moet dus net soos Jesus Christus ’n persoon, ’n indiwidu wees (Hand. 7:56; Openb. 5:1, 9). Daardie Christene wat die hoop koester om eindelik in die hemele te lewe, is verseker dat hulle God sal sien en soos hy sal wees, wat toon dat Jehovah God waarlik ’n persoon is en ’n liggaam sowel as ’n bepaalde woonplek het.—1 Joh. 3:2.
Dit is heel moontlik dat party verwar is deur die feit dat God alles kan sien; ook omdat sy krag oral waargeneem kan word (2 Kron. 16:9). Ons kan hierdie feite toelig deur God met ’n kragsentrale te vergelyk. Dit het ’n sekere ligging op ’n sekere straat in ’n stad. Maar die elektrisiteit daarvan word oor die hele stad versprei en verskaf lig en krag. En so ook met Jehovah God. Hy het ’n woonplek in die hoogste hemele, maar sy werkende krag, sy heilige gees, verskaf verligting, en die krag daarvan kan oral, dwarsoor die heelal, waargeneem word.
Hoewel die Bybel herhaaldelik waarsku dat God se aanbidders hulle nie moet aanmatig om enige gelykenis van hom te maak en nie voor so ’n gelykenis moet neerbuig en dit nie moet aanbid nie, gebruik dit wel antropomorfismes; dit wil sê, dit skryf menslike karaktertrekke aan God toe. Die Bybel praat dus van God se aangesig, sy oë en ore, sy neus en mond, sy arms en voete (Deut. 4:15-20; Ps. 27:8; 1 Pet. 3:12; Ps. 18:16; Jes. 1:20; Deut. 33:27; Jes. 41:2). Sulke beskrywings beteken natuurlik nie dat sy geesliggaam dieselfde soort ledemate as menseliggame het nie. Maar hierdie uitdrukkings help ons, aangesien Jehovah God sodoende vir ons werkliker word.
Ja, God se Woord toon dat God ’n afsonderlike persoon is, dat hy gevoelens het, dat hy behaag of mishaag kan word, dat hy kan lag, dat hy kwaad kan word, dat hy vol medelye en ontferming is. Hy stel persoonlik in elke lid van die mensdom belang. Trouens, hy het die wêreld van die mensdom so lief gehad dat hy sy eniggebore Seun na die aarde gestuur het om as ’n offerande te sterf sodat elkeen wat in hom glo die ewige lewe kan verkry.—Ps. 2:4, 12; Joh. 3:16; Hebr. 10:38; Jak. 5:11; 1 Pet. 5:7.
Waarom moet ons hom vrees?
As God waarlik vir ons werklik is, sal sy eienskappe op sigself vrees by ons wek om hom te mishaag. Die Bybel sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid” en dit beteken “om te haat wat sleg is” (Ps. 111:10; Spr. 8:13). Beteken dit dat ’n mens bloot ’n eerbiedige vrees vir Jehovah moet hê? Beteken dit meer as om net heilsame respek vir God te hê? Ons kan ’n eerbiedige vrees hê vir persone wat deur God in hulle posisies van verantwoordelikheid aangestel is en ons kan heilsame respek vir alle eerlike mense hê. Maar om Jehovah te vrees, behels veel meer. Die apostel Paulus skryf: “Laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.” Daardie feit behoort ons beslis versigtig te maak om ons nie God se misnoeë op die hals te haal nie, want as ons dit sou doen, sou dit beteken dat ons gevaar loop om deur hom verteer te word!—Hebr. 12:28, 29.
Ons kan die vrees vir God so toelig: ’n Jong seun het rede om te vrees om sy vader te mishaag. Waarom? Omdat sy vader vir hom baie werklik is. Hy kan sy vader sien, sy stem hoor en hy weet dat sy vader sterker as hy is. Daarbenewens voorsien die vader liefdevol in al die seun se materiële behoeftes—voedsel, klere en huisvesting, asook in sy ontspannings-, verstandelike en geestelike behoeftes. Die seun het dus praktiese redes sowel as ’n morele verpligting om sy vader te gehoorsaam, om hom nie te wil mishaag nie. Die verstandige seun sal sorg dat hy hom nie sy vader se misnoeë op die hals haal nie, en hoe meer hy alles waardeer wat sy vader vir hom doen, des te meer sal hy waarlik sy vader wil behaag.
Wel, so behoort dit ook te wees met almal wat God aanspreek as “onse Vader wat in die hemele is” (Matt. 6:9). Alle goeie dinge kom van hom af (Jak. 1:17). ’n Voorval in die lewe van Josef, die seun van die aartsvader Jakob, toon dat ons ’n heilsame vrees sal hê om God te mishaag as Hy vir ons waarlik werklik is. Terwyl Josef in die huis van Potifar, ’n Egiptiese hofdienaar, gedien het, het Potifar se vrou probeer om die aantreklike, jong Josef te verlei. Wat het hom in staat gestel om hierdie groot versoeking te weerstaan? Die feit dat God vir hom werklik was, soos sy woorde aan haar toon: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Dit ly geen twyfel nie; God was vir Josef baie werklik. As God vir ons waarlik werklik is, sal dit ons ook help om versoekings te weerstaan.—Gen. 39:9.
Kom ons keer terug na ons gelykenis: Gestel dat die vader se werk vereis het dat hy rukke lank ver van sy gesin af moes gaan. Hy sal natuurlik nog steeds vir sy gesin sorg en ongetwyfeld aan hulle skryf, asook aan sy seun. Die seun sal daardie briewe aandagtig lees, en hulle sal hom verseker van sy vader se volgehoue belangstelling in hom. Maar omdat sy vader ver weg is, sal die seun dalk geneig wees om nie so hard te probeer om dinge te vermy wat hom sy vader se misnoeë op die hals kan haal nie. Maar daardie briewe sal hom voortdurend herinner aan sy verpligting teenoor sy vader, nie waar nie?
Daar kan ook vandag van Christene gesê word dat ons Vader in ’n sekere sin ver weg is, in die hoogste hemele. Maar getrou aan sy belofte voorsien hy in al ons behoeftes, en hy het briewe aan ons gestuur in die vorm van die 66 boeke van die Bybel. As ons waarlik ons Vader in die hemele liefhet en alles waardeer wat hy vir ons gedoen het, steeds doen en nog gaan doen, sal ons daardie geïnspireerde briewe baie hoog op prys stel. Ons sal hulle sorgvuldig en dikwels lees. En behoort daardie geïnspireerde briewe ons daarbenewens nie ook te help om op ons hoede te wees sodat ons ons nie sleg gedra en dinge doen wat God toornig sal maak nie? Beslis!
Daar is ook baie ander maniere waarop ons kan toon hoe werklik God vir ons is, soos deur dikwels in gebed met hom te gesels en vir ander van sy wonderlike eienskappe te vertel. Sodoende kan ons God vir ander waarlik werklik laat word terwyl hy terselfdertyd ook vir ons werkliker word.