Die goddelike waarskuwing word uitgebasuin
“Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Matt. 24:21, 22.
1, 2. (a) Hoekom is die wêreld vandag klein? (b) Wat is die gevaarlike gevolge omdat alle volke bure is?
Die wêreld is vandag klein. Met ons vinnigste vervoermiddel kan ons in minder as ’n dag al langs die ewenaar of oor die pole rondom die aarde vlieg. Met behulp van telefoondrade of met ’n radiofoon kan ons in enkele minute met ’n medemens in amper enige deel van die aarde gesels. Ons kan talle uitheemse kosse eet, en hiervoor is ons van baie mense in afgeleë dele van die aarde afhanklik.
2 Omdat die hele mensdom so nou saamgebind is, het hulle gemeenskaplike gevare. Net 66 jaar gelede, dit wil sê, nog in hierdie eeu, het die werklikheid van ’n ramp soos ’n wêreldoorlog skielik tot mense in alle dele van die aarde deurgedring. Een-en-twintig jaar na die ergste globale botsing geëindig het, is die wêreld getref deur ’n oorlogsnagmerrie wat baie erger was. En nou, 36 jaar na die einde van daardie wêreldomwenteling, word ons bedreig deur iets wat selfs baie verskrikliker is. Niemand kan nou sê: ‘O, wat dáár, so ver weg, gebeur, kan my nie hier raak nie!’ Dit is selfbedrog om sulke dinge te dink en te sê. Ons is nou almal bure, maar dit is ons onbuurskaplike optrede wat ’n probleem, ja, wêreldgevaar skep. Gevolglik word daar ernstige waarskuwings gerig.
3. (a) Waarom meen opmerksame persone dat die wêreld in doodsgevaar verkeer? (b) Wat is wêreldwyse persone se gesindheid teenoor God?
3 Omdat dit alles so groot is, vra party twyfelaars: Verkeer die hele wêreld werklik in doodsgevaar? Op hierdie vraag antwoord opmerksame persone wat geensins doemprofete is nie: Ja! Hulle droefgeestige antwoord is nie net gebaseer op wat die mensdom homself kan aandoen nie. Daar is iets baie ernstigers wat ons in aanmerking moet neem. Is dit werklik moontlik? Ja. Hoe so? Dit is weens die Persoon aan wie hierdie aarde en al die diere en mense daarop behoort. Dit is waar dat baie min vandag die moeite doen om hom in aanmerking te neem. Die wêreldwyse persone van hierdie wetenskaplik gevorderde eeu beskou hulself as sulke onafhanklike denkers dat dit benede hulle is om aan ’n Skepper te glo of hulself af te vra: Wat het hy in gedagte? Maar die Skepper is nie so hardvogtig dat hy hom nie oor die mens se verknorsing bekommer nie. Hulle ignoreer hom egter asof hy nie bestaan nie of asof hy so ver weg is dat hy nie betrokke is of selfs nie eens belangstel nie.
4. (a) Hoe besorg is Jehovah, as die aarde se besitter, oor sy eiendom? (b) Wat moet gedoen word om die aarde ’n aangename plek te maak?
4 Maar behoort ’n besitter van eiendom nie besorgd te wees oor wat aan hom behoort nie? Hy behoort dit in so ’n goeie toestand moontlik te wil hou. Dit is veral die geval indien sy eiendom werklik waardevol is. Dit is hoe ons Skepper daaroor voel. Daar kan nie ontken word dat die aarde vandag geruïneer word en dat die gevaar bestaan dat dit tot ’n skokkende mate geruïneer kan word nie. Dit lyk asof die tyd al lankal ryp is vir hom om ontslae te raak van almal wat daarvoor verantwoordelik is dat sy oorspronklik volmaakte eiendom geruïneer word. Hierdie reinigingswerk behoort teen hierdie tyd baie naby te wees. Hy het ’n boek hieroor laat skrywe. Wat is hy, volgens daardie boek, voornemens om te doen?
’N VROEËRE SITUASIE WAT MET VANDAG S’N OOREENKOM
5. Wanneer was mense in ’n situasie wat met vandag s’n ooreenkom?
5 Dit sal baie dalk verbaas, maar daar was al voorheen ’n tyd toe die hele mensdom in ’n situasie verkeer het soos dié waarin die hele aarde se bevolking hulle vandag bevind. Destyds het iets op ’n globale skaal plaasgevind. Dit was in die dae van ’n man wat die voorvader is van almal wat vandag lewe. Hierdie gemeenskaplike voorvader van ons was die man genaamd Noag, die seun van Lameg. Van Noag se dae sê die Skepper se geïnspireerde Boek: “En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”—Gen. 6:10-12.
6, 7. (a) Watter waarskuwing is in Noag se dag tot die wêreld gerig? (b) Hoe het die aarde weer eens ’n vreedsame plek geword?
6 Wat het toe plaasgevind om hierdie aarde ’n vreedsame, veilige plek te maak? Het daardie gewelddadige verderwers van die aarde ’n globale oorlog gevoer en mekaar sodoende uitgewis? Was die waarskuwing wat Noag destyds moes laat hoor ’n waarskuwing oor ’n mensgemaakte ramp wat die mensdom nie sou kon oorlewe nie? Nee! Hy het eerder ’n goddelike waarskuwing tot die mensdom gerig, een wat God hom beveel het om te laat hoor. Dit het alle mense verwittig van wat God die Skepper sou doen om ’n rustige, veilige aarde tot stand te bring waarop ordentlike mense die lewe kon geniet. God het vir Noag te kenne gegee dat die mense nie na hom sou luister nie, en dus moes Noag ’n ark of drywende kis vir homself en sy gesin, agt mensesiele, bou. Op die voorspelde dag van die jaar 2370 v.G.J. het die globale vloed begin. Dit was “’n daad van God”. Die verdronke mensdom het vir hul sondes geboet.
7 Daardie eertydse “daad van God” het die hele mensdom tot voordeel gestrek. Dit het aan die mensdom ’n nuwe begin met ’n regverdige, Godvresende gesin gegee, en dít op ’n aarde wat voorlopig vreedsaam en veilig was.
’N SOORTGELYKE GLOBALE VERNIETIGING IS OPHANDE
8. (a) Hoe het Jesus Christus ’n vergelyking getref tussen Noag se dag en ons tyd? (b) Watter gebeurtenis is ophande, en wat moet dus daaromtrent gedoen word?
8 Dit was die enigste keer in die verlede dat die hele mensdom uitwissing in die gesig gestaar het. Dit het ons dag afgebeeld, wanneer ’n wêreld wat uit miljarde persone bestaan, bedreig word. Dit is nie ons pessimistiese menslike gevolgtrekking, ’n ekstremistiese gedagte nie. Dit is net so min oordrewe as die woorde van ’n wêreldberoemde figuur, ’n profeet groter as Noag. Dit was Jesus Christus. Toe hy na ons dag verwys het, het hy gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:37-39). Volgens Christus se profesie oor wêreldtoestande tydens sy onsigbare teenwoordigheid op aarde, kom ons wêreldsituasie sedert die jaar 1914 ooreen met dié van Noag se dag. ’n Soortgelyke “daad van God” moet dienooreenkomstig ophande wees. Dit is nou die tyd dat die Godgegewe waarskuwing tot die hele bedreigde mensdom gerig moet word. Die persoonlike vraag is: Wie sal wees soos die wat saam met Noag in die ark ingegaan het?
9. (a) Waarom het ons rede om te glo dat die voorspelde “groot verdrukking” ophande is? (b) Waarom moet die groter vervulling van Jesus se profesie oor die “groot verdrukking” nog iets toekomstigs wees, al het ’n “groot verdrukking” Jerusalem in 70 G.J. getref?
9 Benewens wat die Skepper se geïnspireerde Boek, die Bybel, te sê het, het ons rede om te glo dat hierdie stelsel van dinge in sy “tyd van die einde” is. Sy laaste dae het so te sê verstryk. Daar kan verwag word dat sy volkome einde gepaard sal gaan met ’n tyd van moeilikheid, ’n “groot verdrukking” wat selfs die vloed van Noag se dag in skouspelagtigheid en vernietigingskrag sal oortref. Jesus se verwysing na Noag se dag was deel van sy finale profesie wat in die jaar 33 G.J. gegee is. Sy voorspelling het verder gereik as die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in die jaar 70 G.J., ja, reg tot in ons dag. Die vernietiging van daardie heilige stad was die klimaks van ’n “groot verdrukking” vir die Jode in die Romeinse provinsie Judea in die Midde-Ooste. Maar Jesus moes klaarblyklik meer in gedagte gehad het as Jerusalem se destydse vernietiging toe hy gesê het: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe [die jaar 33 G.J.] nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Matt. 24:21, 22; Mark. 13:19, 20.
10, 11. (a) Hoe het die apostel Petrus ’n komende globale vernietiging beskryf? (b) Wat is vandag die algemene gesindheid teenoor so ’n globale vernietiging deur God?
10 Jesus se dissipel, die apostel Petrus, het die einde van die wêreld in Noag se dag profeties verbind met die einde van vandag se stelsel van dinge tydens die klimaks van hierdie “tyd van die einde” (Dan. 12:4). In teenstelling met die water wat in Noag se dag neergestort het, het Petrus voorspel dat ’n “vuur” nie net die simboliese aarde nie, maar ook die simboliese hemele sou verswelg (2 Pet. 3:5-12). In sy vergelyking het Petrus nie die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine, iets wat kort na sy marteldood plaasgevind het, te berde gebring nie.
11 Destyds in Petrus se dag het die Christene geglo aan wat algemeen “die voleinding van die wêreld” genoem word (Matt. 24:3). Maar wat van vandag, negentien eeue later, veral onder diegene wat bely dat hulle Christene is of wat lede van die kerke van die Christendom is? Glo hulle aan so iets? Nouliks! Ons hoef maar net te kyk hoe hulle die materiële dinge van hierdie gedoemde wêreld najaag.
12. (a) Watter wêreldramp vrees verantwoordelike persone vandag? (b) Hoe is mense voornemens om so ’n wêreldslagting te voorkom?
12 Daar is vandag nietemin verantwoordelike persone wat glad nie hulle voorspellings op die Bybel baseer nie, maar wat nogtans iets voorspel wat op die “voleinding van die wêreld” neerkom. Hulle waarsku ons dat dit heel moontlik kan gebeur. Dit is die geval sedert die ontploffing van twee atoombomme aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Vandag besit die nasies wat “die kernmoondhede” genoem word soveel kernbomme dat hulle alle lewe op aarde etlike kere sou kon uitwis, indien dit vir hulle moontlik sou wees. Daar word selfs met gedempte stemme van radiologiese bomme gepraat. Dit sal alle mense doodmaak sonder om hulle lewelose materiële besittings te beskadig. Maar van watter nut is geboue indien daar geen lewende mense is om hulle te bewoon nie? Hulle sal bloot ’n “spookdorp” of ’n “spookwêreld” uitmaak. En wie verlustig hom in die gedagte aan so iets? Die gevaar is baie wesenlik. Daar word op die Verenigde Volke, wat nou 153 lede het, staatgemaak om so ’n groot slagting te voorkom. Maar dit is tevergeefs om op die Verenigde Volke, wat al die Kernmoondhede insluit, staat te maak om die mensdom se uitwissing deur sy eie middele af te weer.
13. (a) Watter lewensbelangrike vraag moet beantwoord word? (b) Waarom het ongodsdienstige persone geen bevredigende antwoord nie, en is daar een?
13 Maar wie kan die mensdom werklik van selfvernietiging, selfmoord, red? Manne wat glad nie godsdienstig is nie, is nou verplig om ernstig oor daardie vraag na te dink. Omdat hulle nie in die Bybel glo nie, kan hulle met geen bevredigende antwoord vorendag kom nie. Hulle kan ons na geen verlosser rig nie. Beteken dit dat daar geen verlosser is nie? Nee, gelukkig is daar een!
DIE ENIGSTE BRON VAN WARE HOOP
14. Waarom is dit redelik om te glo dat die Skepper ’n doel met die aarde het?
14 Wetenskaplikes kan nie bewys dat ons aarde en die mensdom daarop hulself gemaak het nie. Daar moes ’n Skepper gewees het. Wat dus van hom? Reeds in die 16de eeu voor ons Gewone Jaartelling het hy die getroue man Job geïnspireer om die wetenskaplike waarheid te uiter dat Hy ons aarde oor ’n niks in die ruimte gehang het (Job 26:7). Het hy dit sonder rede daar gehang? Is dit blote toeval dat daar duisendmiljoene mense daarop is? Was dit ’n fout of doellose daad van Sy kant? Hy het toegelaat dat die aarde nou met lewende skepsele wemel. Was dit sy voorneme dat vandag se duisendmiljoene mense hulleself moes afmaai sodat ons aarde soos ’n dooie planeet in die ruimte ronddryf? Met die oog op wat hy ons meedeel, kan ons nie sulke dwaasheid aan hom toeskryf nie.
15. (a) Wat is God se doel met die aarde? (b) Wat kan ons dus seker wees dat God binnekort gaan doen?
15 Hy het die wyse man Salomo, die seun van koning Dawid, geïnspireer om in die Bybel te skryf: “Die een geslag [van die mensdom] gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Pred. 1:4). Hy het ook Jesaja geïnspireer om te skryf: “So sê die HERE . . . wat die aarde geformeer en dit gemaak het . . . Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie” (Jes. 45:18). Hy belowe dus dat die aarde altyd deur mense bewoon sal word. Gevolglik is dit hierdie stelsel van dinge wat geweldenaars op God se eiendom opgerig het wat Hy van die aarde afgaan uitwis. Om hierdie rede kan ons die dankbetuiging wat in die laaste boek van die Bybel opgeteken is, ons eie maak: “Ons dank U, Here God, Almagtige, . . . dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. . . . En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.”—Openb. 11:17, 18.
16. (a) Watter gevorderde planne het die nasies nou, en watter waarskuwings word in hierdie verband gehoor? (b) Maar op watter waarskuwing moet ons almal wyslik ag slaan?
16 Om ’n voorsprong op militêre gebied te behaal, het die nasies reeds ver gevorder met planne om die aarde tot die grootste mate en op die verskriklikste wyse denkbaar “te verderf”. Kieme, chemikalieë en verskriklike plofstowwe word gereed gehou om binne oomblikke op die mees strategiese manier teen enige vyand gebruik te word. Daar word geen geheim hiervan gemaak nie. Hier en daar word flou waarskuwings gehoor oor die bedreiging wat dit vir menselewe inhou. Hoewel sulke waarskuwings tydig en gegrond is, het hulle nie die steun van die aarde se Skepper, Jehovah God, nie. Sy waarskuwing, wat in die Bybel opgeteken is, is oor sy eie optrede “om die verderwers van die aarde”, sy eie skepping, “te verderf”. Sy optrede sal beheerst wees. Daar sal goedgekeurde oorlewendes wees. Persone wat lief is vir die lewe, veral ewige lewe in die paradys, wil graag onder die oorlewendes wees.