Wat rook aan die roker doen
Die advertensie skep die indruk van skoonheid en koelte. Daar is ’n glashelder meer tussen die berge met ’n pakkie sigarette wat in jou, die leser, se rigting wys. Hierdie soort reklame is baie doeltreffend. Dit verbind rook met aangename gevoelens. Elke jaar word miljarde rand bestee om die rookgewoonte met die mooi dinge in die lewe te verbind. Maar wat sit agter die beeld?
FEITE OOR ROOK
In 1979 het die Kanadese Longvereniging baie ontnugter toe hulle onomwonde gesê het: “Elke jaar sterf daar 50 000 Kanadese ontydig weens die uitwerking van rook. Baie ander lewe voort met beskadigde longe en harte wat ooreis word.”
In 1979 het die geneesheer-generaal van die Verenigde State, dr. Julius B. Richmond, ’n lywige verslag gepubliseer wat “onomstootlike bewyse” bevat het dat rook gevaarlik is vir die gesondheid. Die verslag het geraam dat rook elke jaar omtrent 350 000 Amerikaners se lewens eis. En Brittanje se onderminister van gesondheid, sir George Young, het onlangs gesê dat die rookgewoonte elke jaar 50 000 sterftes in Brittanje veroorsaak.
Hoe word hierdie groot dodesyfers bereken? Dit is basies deur die sterftesyfer van rokers met dié van nie-rokers te vergelyk. Die Encyclopedia Americana het die volgende gesê oor ’n omvattende studie waarby meer as ’n miljoen mense betrokke was: “Vir elke 100 sterftes onder nie-rokers gedurende ’n tydperk van waarneming, was daar 168 sterftes onder ’n soortgelyke en vergelykbare groep sigaretrokers; dit wil sê, daar was 68 meer sterfgevalle.”
Maar is sulke getuienis afdoende? Ja, dit is. “Daar is geen polemiek oor die feite nie”, sê die Kanadese Longvereniging. “Duisende noukeurige studies het dit gedokumenteer. Geen groot mediese of gesondheidsagentskap bevraagteken dit nie.” Science 80, wat deur die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap uitgegee word, stem saam: “Daar is onomstootlike bewys dat sigarette die lewe verkort; hierdie oorsaaklike verband is net so deeglik gestaaf as enige ander in die geneeskunde.”
Oortuigende studies is moontlik gemaak deur die groot aantal mense wat die grootste deel van hulle lewe gerook het. “Agterna beskou”, sê John Cairns, ’n molekulêre bioloog en kankerdeskundige, “lyk dit amper asof Westerse gemeenskappe hulle voorgeneem het om in ’n reusagtige en taamlik goed beheerde eksperiment in karsinogenese [kanker-verwekking] uit te voer wat etlike miljoene se sterftes veroorsaak het, en hulle eie mense as die proefkonyne gebruik het.”
Ja, miljoene lewens—sommer talle miljoene—is deur die rookgewoonte kortgeknip. The World Book Encyclopedia verduidelik: “Mediese studies toon dat die gemiddelde lewensduur van ’n roker drie tot vier jaar minder is as dié van ’n nie-roker. Die vermoedelike lewensduur van ’n strawwe roker—’n persoon wat twee of meer pakkies sigarette per dag rook—kan tot agt jaar korter wees as die van ’n nie-roker.”
Om die gevare te verminder, word sogenaamde “veiliger” sigarette nou verkoop. Maar is hulle werklik veilig? Hoe benadeel rook die roker?
’N VEILIGE SIGARET?
Die nikotien en partikulaatstof van sigaretrook—wat sommer teer genoem word—is klaarblyklik die vernaamste agente wat siekte veroorsaak. Stappe is dus gedoen om te sorg dat sigaretrook baie minder teer en nikotien bevat. Trouens, dit bevat amper glad nie meer teer nie, iets wat sigaretadvertensies dikwels beklemtoon. Sigarette wat min teer en min nikotien bevat, is al soms as “veilig” bestempel. ’n Tipiese voorbladopskrif in Atlanta se Constitution het gelui: “’n Pakkie per dag van party soorte sigarette kan veilig wees.”
Maar wat is die feite? Om maar een ding te meld, sigarette met min teer bevat smaakmiddels. “As hierdie sigarette met min teer en min nikotien nie smaakmiddels bevat het nie, sou jy niks proe nie”, het Peter Micciche, ’n groot tabakhandelaar, verduidelik. Maar wat is hierdie smaakmiddels? Dit is ‘bedryfsgeheime’ wat slegs aan die sigaretmaatskappye en die voorsieners van hulle smaakmiddels bekend is. Maar hierdie chemiese smaakmiddels kan heel moontlik gevaarlik wees vir die gesondheid, soos een analis gesê het: “Jy weet nie of party van hierdie dinge erger as teer is nie.”
En die getuienis toon dat wanneer rokers sigarette met min teer en min nikotien rook, hulle meer sigarette rook en die rook langer in hulle longe hou. Hulle doen dit om hulle lus vir nikotien te bevredig, want nikotien is ’n verdowingsmiddel wat meer gewoontevormend kan wees as heroïen. Weens sulke veranderde rookgewoontes kan rokers wat sigarette met min teer en min nikotien rook amper net soveel van hierdie skadelike stowwe inkry as uit ander sigarette.
Daarbenewens kan die gevaarlikste bestanddeel van sigaretrook die koolstofmonoksied wees eerder as die teer of nikotien. En party sigarette wat min teer en min nikotien bevat, gee selfs meer koolstofmonoksied af as die gewone soorte!
Twee Deense navorsers, professor Poul Astrup en dr. Knud Kjeldsen, het hulle bevindinge oor die uitwerking van koolstofmonoksied in sigaretrook gepubliseer. Op grond van ’n groot hoeveelheid eksperimentele getuienis het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat “koolstofmonoksied, en nie nikotien nie, die vernaamste giftige bestanddeel is wat rokers se kanse om aterosklerose en hartkwaal te kry, vergroot”. En ons moet daarop let dat die meeste sterftes weens rook klaarblyklik te wyte is aan bloedvat- en hartkwaal, en nie kanker nie.
Gesonde verstand behoort vir ’n mens te sê dat as jy sigaretrook inasem dit ’n nadelige uitwerking op jou asemhalingstelsel sal hê. En die getuienis bewys dat dit die geval is. Die trilhaartjies aan die binnekant van die longpype word beskadig sodat hulle nie meer heen en weer kan beweeg om kieme en stofdeeltjies uit te vee nie. Die rook belemmer ook die longe se vermoë om hulself van ingeasemde onreinhede te reinig. Dit beteken dat rokers ’n groter gevaar loop om siek te word weens skadelike stowwe wat deur die lug gedra word.
Dit is in werklikheid oneerlik om voor te gee dat enige sigaret “veilig” is. Die hoof-gesondheidsbeampte in die Verenigde State, dr. Julius Richmond, het gesê: “Daar is nêrens in die massa wetenskaplike getuienis oor die gevare van rook enige data wat enige hoop uithou dat daar iets soos ’n veilige sigaret of ’n veilige hoeveelheid rook is nie.” Dr. Richmond het die gevolgtrekking gemaak: “Die enigste veilige sigaret is ’n sigaret wat nie opgesteek is nie.”
Maar is jy veilig teen die slegte gevolge van ander mense se rook, al is jy self nie ’n roker nie?
[Prent op bladsy 4]
MENSE WAS SELF DIE PROEFKONYNE WAT BEWYS HET DAT DIE ROOKGEWOONTE DODELIK IS