Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 4/15 bl. 5-7
  • Is ander se rokery vir jou nadelig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is ander se rokery vir jou nadelig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE ONGEBORE KINDERS BENADEEL WORD
  • UITWERKING OP JONG KINDERS
  • UITWERKING OP VOLWASSENES
  • WAT DIE GETUIENIS TOON
  • Kan jy jou naaste liefhê en rook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Is dit verkeerd om te rook?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 4/15 bl. 5-7

Is ander se rokery vir jou nadelig?

Miljoene is al ernstige en soms noodlottige skade berokken omdat iemand anders gerook het. As ’n moeder byvoorbeeld rook, ly haar ongebore baba dikwels daaronder. Trouens, hy kan sterf voordat hy gebore word.

“Hoe is dit moontlik?” vra jy dalk. “Hoe kan die rook die kind benadeel in die beskermde omgewing binnekant sy moeder?”

HOE ONGEBORE KINDERS BENADEEL WORD

Amper onmiddellik nadat die rook ingeasem is, neem die rokende moeder se bloedstroom nikotien uit die rook op. Hierdie sterk verdowingsmiddel laat die bloedvate en slagare in haar baarmoeder saamtrek, en dit ontneem die baba suurstof en voedingstowwe. Koolstofmonoksied gaan terselfdertyd maklik deur die plasenta na die baba. Dit vervang ’n deel van die lewensbelangrike suurstof in die baba se bloed wat nodig is vir normale groei en ontwikkeling.

’n Studie deur Engelse dokters aan Oxford-Universiteit is hier interessant. Hulle het gesê dat wanneer die moeder rook, ’n mens die baba “in die baarmoeder na sy asem sien snak, . . . amper asof hy tydelik ’n suurstoftekort ondervind”.

Die treurige gevolge is goed gedokumenteer. “As ’n swanger moeder rook, kan dit sulke ernstige aangebore misvormdheid tot gevolg hê dat die fetus sterf of dat die baba kort na geboorte sterf”, sê die tydskrif Family Health. Die moontlikheid is ’n derde groter dat die babas wat vir rokende moeders gebore word kort na geboorte sal sterf. En die moontlikheid is twee keer groter dat hulle met geboorte kleiner as die normale grootte sal wees.

Daarbenewens is die gevaar van “wiegiesterftes” (die sindroom van skielike sterftes by suigelinge) groter wanneer moeders rook—met 52 persent, sê navorsers. Babas van moeders wat rook, het klaarblyklik geringe abnormaliteite in hulle breinstam en dit kan hulle asemhaling belemmer sodat hulle skielik sterf.

Aangesien ’n ongebore baba benadeel kan word as sy moeder rook, ontstaan die vraag: Hoe word ’n kind na sy geboorte deur die rook geaffekteer?

UITWERKING OP JONG KINDERS

Ouers wat rook, dwing in werklikheid hulle kinders om te rook. “Wanneer ouers rook, is die uitwerking op jong kinders volgens raming omtrent dieselfde wat dit sou wees as die kind self drie tot vyf sigarette per dag sou rook”, het longspesialis dr. Alfred Munzer verduidelik. En vir die gevoelige longe van ’n jong kind is dit ’n klomp gif! As ’n ouer sou jy beslis baie ontevrede gewees het as jy moes hoor dat iemand jou kind gedwing het om vyf sigarette per dag te rook!

Maar word kinders werklik benadeel deur die rook van ouers wat rook? The Journal of the American Medical Association het die mediese navorsing oor hierdie kwessie opgesom deur te sê:

“Die moontlikheid dat babas van moeders wat rook met brongitis of longontsteking in die hospitaal opgeneem sal word, is groter as die van babas met moeders wat nie rook nie. ’n Ander studie het getoon dat die moontlikheid dat ’n baba longontsteking of brongitis sal kry amper twee keer so groot is as albei ouers rook. . . . Ander studies het getoon dat die voorkoms van asemhalingsimptome by kinders in ’n regstreekse verhouding is tot die hoeveelheid tabakrook in die kind se omgewing. Kinders wat aan tabakrook blootgestel word se hartslag en bloeddruk styg ook net soos in die geval van rokers.”

’n Roker kan verkies om sy eie gesondheid te benadeel in ruil vir die genot wat hy meen rook hom verskaf. Maar meen jy dat dit moreel reg is dat hy ook die gesondheid van sy kinders benadeel?

UITWERKING OP VOLWASSENES

Gestel jy is ’n volwassene wat nie rook nie. Word jy benadeel deur die rook van ander?

Wanneer jy naby iemand sit wat rook, kan die uitwerking op jou amper dieselfde wees asof jy self rook. Today’s Health het gesê: “Studies het getoon dat aangesien die gemiddelde roker slegs sy sigaret vir ’n klein deeltjie van die tyd wat dit aangesteek is, rook, ’n nie-roker in werklikheid gedwing word om amper net so veel koolstofmonoksied, teer en nikotien in te asem as die roker wat langs hom sit.”

Dr. John L. Pool het kommentaar gelewer oor die uitwerking van slegs ’n geringe vermeerdering in die hoeveelheid koolstofmonoksied in die lug. Hy het gesê dat wanneer die konsentrasie koolstofmonoksied “hoër as agt dele per miljoen is (skoon lug het een tot vier), daar ’n besliste afname is in die hoeveelheid suurstof wat die hart en longe bereik”. Hoeveel koolstofmonoksied kan daar in die lug van ’n rookgevulde kamer wees?

As redakteur van Science het Philip Abelson in ’n hoofartikel van daardie tydskrif geskryf: “In ’n swak belugte, rookgevulde vertrek kan die konsentrasie koolstofmonoksied maklik etlike honderde dele per miljoen bereik en aldus die gevaar van vergiftiging vir die rokers sowel as die nie-rokers daarin inhou.” Sulke konsentrasies koolstofmonoksied is baie hoër as die hoeveelhede wat deur die wet toegelaat word.

Maar kan hierdie rook jou werklik benadeel? Beslis! Wanneer jy die rook inasem, kan dit jou naar laat voel. Dit behoort rokers nie te verbaas nie, aangesien baie van hulle, toe hulle die eerste keer gerook het, naar gevoel het en selfs opgebring het.

Die feit is dat dit gevaarlik kan wees vir persone met hartkwaal om die lug in ’n rookgevulde vertrek in te asem. “Dit is ’n besliste gesondheidsgevaar.” Dit was die gevolgtrekking van ’n federale studiegroep onder leiding van dr. Wilbert S. Aronow in Kalifornië.

’n Meer onlangse studie van 2 100 middeljarige manne en vroue het getoon dat selfs gesonde volwassenes benadeel word wanneer hulle gedwing word om gereeld ander se rook in te asem. Daar is bevind dat hierdie nie-rokers dieselfde soort skade aan lugkanaaltjies diep binne-in die longe berokken word as rokers. “Dit is permanente skade wat voorkom in mense wat verkies om nie te rook nie”, het fisioloog James R. White verduidelik.

’n Studie in Erie-graafskap, Pennsilvanië, beklemtoon verder die gevaar wanneer mense gedwing word om tabakrook in te asem. Volgens New York se Times het hierdie studie “getoon dat die nie-rokende vroue van mans wat rook gemiddeld vier jaar jonger sterf as vroue wie se mans ook nie-rokers is.”

WAT DIE GETUIENIS TOON

Die getuienis is afdoende: As jy ’n nie-roker is wat die rook van ander moet inasem, kan dit jou benadeel. Dit word met verloop van tyd ’n algemeen erkende feit. Die meeste state in die Verenigde State en honderde stede het dus die een of ander verbod op rook in openbare fasiliteite. Party maatskappye laat mense ook toe om net in bepaalde gebiede te rook. En weens afnames in produktiwiteit as gevolg van rook, bied ’n aantal werkgewers hulle werknemers bonusse van honderde rande aan indien hulle ophou rook.

Baie regsgedinge is aanhangig gemaak deur nie-rokers wat probeer het om verligting te kry van die besoedeling wat deur rokers veroorsaak word. In een geval het die regter gesê dat rook in ’n sekere maatskappy se rekenaarvertrek verbied is omdat die toerusting sleg gewerk het wanneer dit aan sigaretrook blootgestel is. Hy het gevolglik beslis dat indien rokery beperk kon word ter wille van ’n masjien, dit ook gedoen kon word ter wille van mense.

Party rokers voel nou onthuts oor sulke wetgewing teen hulle gewoonte. Hulle meen dat dit ongegrond is. Een het byvoorbeeld gesê: “Rook is immers nie ’n sonde nie.”

Maar is dit werklik so dat dit nie ’n sonde is nie? Kan ’n persoon rook en werklik God behaag en sy naaste liefhê?

[Prent op bladsy 6]

ROOK ONTNEEM ’N ONTWIKKELENDE BABA VAN SUURSTOF EN VOEDINGSTOWWE WAT NODIG IS VIR NORMALE GROEI

[Prent op bladsy 7]

ROOK VERBODE SKADELIK VIR TOERUSTING

ROOK IS OOK NADELIG VIR MENSE

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel