VRAE van LESERS
• Moet daar ’n onderskeid getref word tussen God se koninkryk en Christus se koninkryk? En hoe is dit dat Jesus se heerskappy eindig wanneer hy “die koninkryk aan God die Vader oorgee” indien die apostel Petrus daarna verwys as “die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus”?—1 Kor. 15:24; 2 Pet. 1:11.
Jesus het sy volgelinge leer bid: “Laat u [die Vader se] koninkryk kom” (Matt. 6:9, 10). Die koninkryk behoort dus aan God, maar Jehovah, die “Koning van die eeue”, het vir ’n beperkte tyd en met ’n spesifieke doel heersersverantwoordelikhede aan sy eniggebore Seun gegee. Gedurende hierdie bestemde tydperk dien Jesus as ’n onderheerser wat vanaf sy Vader se regterhand uitgestuur is.—1 Tim. 1:17; Ps. 110:1, 2; Dan. 4:17.
In die lig van die opstand van die geesseun wat die Duiwel geword het, asook van die eerste mense op aarde, het Jehovah hom voorgeneem om sy heerskappy op ’n nuwe wyse uit te oefen. Dit sou wees deur die beloofde “saad” (Gen. 3:15: Ef. 1:8-12). Op die dag van sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk.” Maar die Vader sou diegene kies wat saam met hom sou heers en vir hulle plekke in die Koninkryksregering gee.—Matt. 20:23; Luk. 12:32; 22:29, 30; Rom. 8:16, 17.
Weens hierdie gedelegeerde gesag om saam met die 144 000 mede-konings te heers, kan dit tereg gesê word dat Jesus ’n koninkryk, die Messiaanse koninkryk, het. Daniël het ’n gesig gehad van die inhuldiging van Jesus en hierdie “heiliges” wat destyds nog in die toekoms was en gesê: “Hy het gekom tot by die Oue van dae [Jehovah], en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap: en al die volke en nasies en tale het Hom vereer: sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. . . . Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste.”—Dan. 7:13, 14, 27.
Hierdie aangestelde gesag werk binne Jehovah se universele koninkryk of goewermentele reëling, sodat wanneer Jesus as Messiaanse koning begin heers, stemme in die hemel gepas sing: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here [Jehovah] en sy Gesalfde, en Hy [Jehovah] sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die Messiaanse koninkryk kry dus sy mag en gesag van Jehovah, wat die Universele Soewerein oor sy hele skepping is.—Openb. 11:15, NAB; 4:11; Joh. 5:19, 30.
Na sy opstanding het die verheerlikte Jesus Christus aan die regterhand van sy Vader gewag totdat hy uit die hemele oor die mensdom oor die algemeen moes begin heers (Hand. 2:32-36; Hebr. 10:12, 13). Dit val saam met die tyd wanneer ’n harde stem uit die hemel aankondig: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus.” (Openb. 12:10; vergelyk 11:17, 18.) Die 144 000 wat uit die mensdom gekies is, sal as mede-erfgename saam met Jesus regeer, aangesien daar van hulle gesê is: “Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openb. 20:6; 14:1, 3.
Aan die einde van sy duisendjarige bewind sal alle mense op aarde wat Koninkryksvoordele benut het, volmaak voor God staan. Hulle sal ooreenkom met Adam voor sy sonde. Omdat hy die werk volbring het wat sy Vader aan hom opgedra het, gee Jesus dan “die koninkryk aan God die Vader” oor (1 Kor. 15:24-28). Geen ondergeskikte koninkryk bly daarna tussen Jehovah en die gehoorsame mensdom oor nie. Messiaanse aspekte eindig, maar Jehovah se koninkryk bestaan vir ewig voort. Die heerskappy van Christus en sy koninkrykserfgename ‘sal in ewigheid nie vernietig word nie’ en “sal aan geen ander volk oorgelaat word nie” (Dan. 2:44). Die spesiale, gedelegeerde gesag sal bloot weer deur Jehovah teruggeneem word. “Dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”—1 Kor. 15:28.
Die voordele van daardie Koninkryk in die hande van Christus sal ‘ewig’ wees, hoewel dit in werklikheid slegs “eeue-durend” sou wees, volgens een betekenis van die Griekse woord ai·oʹni·os wat in 2 Petrus 1:11 gebruik word. Relatief gesproke is sy bewind van 1 000 jaar ’n ewige. In teenstelling met die bewindsduur van enige mensekoning wat op aarde geregeer het, duur Jesus se koninkryk oor die mensdom talle eeue lank voort. Sy bewind duur langer as die leeftyd van die oudste man in mensegeskiedenis, naamlik Metúsalag, wat net 31 jaar minder as ’n millenium geleef het (Gen. 5:27). Daarbenewens sal Jesus steeds ’n erekoning wees, want sy posisie van koningskap eindig nie bloot omdat hy die Messiaanse koninkryk aan sy Vader teruggee nie. Hy sal altyd in die mensdom belangstel, want as Jehovah se Meester-werker word die volgende woorde aan hom toegeskryf: “My verlustiginge was met die mensekinders” (Spr. 8:31). Hy sal altyd ’n spesiale plekkie in die harte van mense beklee weens alles wat hy vir hulle gedoen het. Dit strook met wat Hebreërs 7:17 sê, naamlik dat Jesus ’n “priester vir ewig” sal wees.
Die Bybel sê nie watter werk Jesus en sy mede-heersers na die duisendjarige bewind presies gaan doen nie. Waar dit die stadagtige Nuwe Jerusalem in die hemele beskryf, meld Openbaring 22:5 diegene wat “as konings regeer tot in alle ewigheid”, klaarblyklik met verwysing na Jesus se mede-heersers, die 144 000 wat sy bruid uitmaak. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah talle wonderlike voorregte en geleenthede in dienstoewysings dwarsoor sy skepping vir hulle voorhet.
• Waarom sê Die Wagtoring van 1 Februarie 1980 (bladsye 26, 27) dat die “nuwe verbond” eerdaags ten einde gaan loop, as Hebreërs 13:20 (NAB) van hierdie verbond as “die ewige verbond” praat?
Die Wagtoring het gesê: “Die nuwe verbond sal klaarblyklik eersdaags ten einde loop as ’n middel om 144 000 geestelike Israeliete voort te bring wat God se goedkeuring wegdra om saam met Jesus Christus te heers in die hemelse koninkryk, die ideale regering vir die mensdom. Wanneer die laaste van hierdie goedgekeurde geestelike Israeliete ophou om ‘mense’ te wees weens ’n dood op aarde en ’n opstanding tot ’n aandeel in die hemelse koninkryk, dan sal Jesus Christus se middelaarskap ook ten einde loop.”
Let daarop dat Die Wagtoring nie sê dat die voordele van hierdie nuwe verbond sou eindig nie. Diegene wat op aarde lewe, sal vir ewig baat vind by die feit dat hierdie nuwe verbond sy doel bereik het en 144 000 geestelike seuns van God voortgebring het wat as mede-erfgename saam met Christus in die hemele gaan regeer. Ter toeligting: ’n Man gaan ’n kontrak met ’n ander aan om vir hom ’n huis te bou. Die huis word volgens die bestek gebou, die bouer word betaal en die kontrak is vervul, maar die voordele van die kontrak duur tot in die onbepaalde toekoms omdat die huis steeds gebruik word.
In Hebreërs 13:20 (NAB) praat die apostel Paulus van hoe Jehovah “ons Here Jesus . . . deur die bloed van die ewige verbond [Grieks, di·a·theʹke ai·oʹni·os] . . . uit die dood teruggebring” het. The Emphatic Diaglott vertaal dit as “die Bloed van ’n aeoniese Verbond” (interlineêre lesing; “eeue-durend”). Dieselfde Griekse uitdrukking is deur die vertalers van die Septuaginta gebruik om die Hebreeuse woorde berithʹ ʽoh·lamʹ in Exodus 31:16 in verband met die Sabbatswet (deel van die Wetsverbond wat geëindig het te vertaal, hoewel baie vertalings ook daarvan praat as ’n “ewige verbond” (Ex. 31:17, LXX; Kol 2:13-16). Die verbond met Aäron en sy seuns vir ’n “ewige [Hebreeus, ʽoh·lamʹ; Grieks, ai·o·niʹa] priesterskap” was eweneens slegs “vir onbepaalde tyd” (New World Translation).—Ex. 40:15; Num. 15:13; Hebr. 7:11, 12.
Die Hebreeuse woord oh·lamʹ en die Griekse ekwivalent ai·oʹni·os kan vir ewig beteken in die sin dat iets nooit eindig nie, of hulle kan verwys na iets wat tot in die onbepaalde toekoms duur. Die Mosaïese Wetsverbond en die verbond vir die Levitiese priesterskap het geëindig nadat hulle ’n onbepaalde tyd lank bestaan het en hulle doel gedien het, maar met blywende voordele. Die nuwe verbond sal eweneens eindig wanneer al die gesalfdes tot onsterflike hemelse lewe opgewek is.
Jehovah het eweneens gesê dat sy belofte aan Abraham in verband met die ‘saad’ waardeur mense geseën sou word “’n verbond tot onbepaalde tyd” [Hebreeus, ʽoh·lamʹ; Griekse Septuaginta, aiʹoʹni·on], “’n ewige verbond” (AB) sou wees (Gen. 17:7; 22:18, NW). Toe die Mosaïese Wetsverbond uit die weg geruim is nadat Jehovah dit aan die folterpaal vasgenael het, het die nuwe verbond die plek daarvan ingeneem as ’n komplement vir die Abrahamitiese verbond. Dit duur “tot onbepaalde tyd” daar die verbond met Abraham vervul word wanneer die laaste lede van die bykomstige deel van die ‘saad van Abraham’ hulle beloning in die hemel ontvang en hierdie “saad”—Christus en sy 144 000 medeheersers—hulle duisendjarige toewysing volbring om lewegewende voordele en ’n volmaakte regering vir die mensdom te voorsien.—Gal. 3:16, 19, 29; Openb. 14:1; 20:6; 1 Kor. 15:24, 28.