’n Geestelike kyk opnuut na die HEL
’N GEESTELIKE van die Verenigde Metodiste-Kerk se twyfel oor die bestaan van ’n brandende hel is onlangs in die tydskrif U.S. Catholic gepubliseer. Hy het geskryf: “Daar is inderdaad soveel sterk Bybelse, leerstellige en logiese argumente teen die bestaan van ’n letterlike hel dat hierdie vraag natuurlik ontstaan: Waarom leer die kerke dit en waarom glo die mense dit dikwels?” Die predikant, Robert Short, voer aan dat die antwoord in die kerk se “ongelowige vrees om op te hou om ‘die evangelie onder bedreiging’ te verkondig” lê. Hy het gesê: “Die kerke is geneig om te glo, hetsy bewustelik of onbewustelik, dat vrees—eerder as liefde—alles oorwin.”
Die geestelike het aangevoer dat die “sterkste argument teen die bestaan van ’n letterlike hel is . . . dat ons iets aan sy vrugte kan ken (Matt. 7:16, 20).” Op grond van hierdie toets het hy gesê: “Dit is pynlik duidelik dat die ‘Christelike’ leerstelling wat die giftigste vrugte opgelewer het die leerstelling oor ’n letterlike hel is. Daar kan nie alleen bewys word dat hierdie leerstelling wrede, selfbehaaglike ‘Christene’ dwarsdeur Westerse geskiedenis voortgebring het nie, Christene wat gemeen het dat hulle die reg het om te haat en selfs te moor aangesien daar geredeneer kan word dat enige daad geregverdig is indien dit meer mense van die hel red. Maar ’n letterlike hel se hedendaagse en selfs dodeliker vrug is ateïsme.”
Short het ten slotte gesê: “Slegs indien die leerstelling oor die hel waar was, sou die kerke daarop geregtig gewees het om dit te behou. En al hoe meer teoloë—Katolieke sowel as Protestante—sê nou dat dit nie waar is nie. Indien dit nie waar is nie, moet die kerke geen tyd verspil om dit hard en duidelik vir die wêreld te vertel nie.”
Jehovah se Getuies het ’n voorsprong van ’n honderd jaar waartydens hulle dit ‘duidelik vir die wêreld vertel het’.—U.S. Catholic, April 1980, ble. 37-40.