“’n Aardjie na sy vaartjie”
Nie Asa nie!
WATTER soort mens was jou vader? Of, watter soort mens was jou moeder, indien jy ’n vrou is?
’n Algemene Afrikaanse gesegde is: “’n Aardjie na sy vaartjie.” Dieselfde gedagte word oorgedra deur: “Die appel val nie ver van die boom nie.” Die gesegdes vind hulle ontstaan in die feit dat ’n kind dikwels die karaktertrekke en gesindhede het wat sy ouer voor hom gehad het.
Is dit die geval met jou? Mense het moontlik al gesê dat jy soos jou ouer optree of dink. Is jy bly daaroor? Wil jy soos jou vader of moeder wees?
Jy kan waarskynlik aan talle bewonderenswaardige eienskappe van jou ouer dink wat jy graag self sou wou besit. Maar sê nou ’n persoon het waarlik gesien dat sy ouer se lewenswyse in stryd met sekere Bybelbeginsels is? Hy sal natuurlik nie openlik teen so ’n ouer in opstand kom nie. Maar in die lig van die sterk invloed wat ouers uitoefen, sal ’n seun of dogter in daardie situasie ’n opregte, volgehoue poging moet aanwend om weë of gesindhede te verkry wat nie die ouer se voorbeeld volg nie. Maar dit sal die moeite werd wees, veral as dit die kind nader aan God, ons hemelse Vader, bring. Dit blyk uit die interessante Bybelse voorbeeld van Asa.
DIE WEG WAT ASA INGESLAAN HET
In die 10de eeu v.G.J. het Asa koning van Juda geword. Sy vader Abia het ’n slegte voorbeeld gestel; in plaas daarvan om ywerig op Jehovah God te vertrou, het Asa se vader afgodediens by “hoogtes” van valse aanbidding geduld. Deur dit te doen, het Abia weer “gewandel in al die sondes van sy vader”, Rehabeam (1 Kon. 14:22-24; 15:3). Dink jy dus dat dit vir Abia se seun Asa moontlik was om weg te breek van hierdie patroon van ontrouheid? Of sou hy “’n aardjie na sy vaartjie” hê?
Die insiggewende geskiedenis wat in die Skrif opgeteken is, toon dat Asa nie in die voetstappe van sy vader of grootvader gevolg het nie. “Asa het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid.” Ja, hy het verkies om nie soos sy eie vader of selfs soos sy grootvader te wees nie. Hy het die voorbeeld van sy bet-oorgrootvader. Dawid, gevolg en ywer vir ware aanbidding getoon. Die Bybel sê voorts van Asa: “Hy het die skandseuns uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het” (1 Kon. 15:11, 12; 2 Kron. 14:2-5a). Hy het ’n groot veldtog teen afgodediens gevoer.
DEUR JEHOVAH BELOON
Asa se geloof in Jehovah is wonderlik beloon. Hoe? Wel, mettertyd het ’n mag van ’n miljoen manne onder Serag die Kusiet teen die koninkryk van Juda opgeruk. Die koning het ’n beroep op die Allerhoogste gedoen met die woorde: “HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God.”—2 Kron. 14:9-11.
God het geluister na hierdie koning wat anders as sy vader was. Met goddelike hulp het Asa se onderdane daarin geslaag om die vyandelike Kusiete ’n vernederende nederlaag toe te dien.—2 Kron. 14:12, 13.
Daarna het die profeet Asarja Asa tegemoetgegaan en hom en sy onderdane aangespoor om getrou aan Jehovah te bly: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” Met moontlike verwysing na die onstuimige tydperk van Israel se ontrouheid voor die begin van die monargie, het Asarja voortgegaan: “Daar was baie dae dat Israel sonder die ware God was . . . maar [daar was] groot beroering oor al die inwoners van die lande; en nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle deur allerhande nood in verwarring gebring het.” Maar dit hoef nie so te gewees het nie. “Daar is loon volgens julle werk”, het die profeet gesê, indien die volk sowel as die koning anders as hulle ontroue voorvaders was.—2 Kron. 15:1-7.
Asa en sy onderdane het goed op die woorde van Asarja gereageer. Hulle het voortgegaan om die nasie van afgodediens te reinig. By die tempel van Jehovah het hulle die altaar herstel, want dit is klaarblyklik vantevore besoedel. Tydens ’n byeenkoms in die 15de jaar van Asa se bewind het die volk ’n verbond gesluit om Jehovah te dien en ooreengekom dat diegene wat opsetlik geweier het om dit te doen, moes sterf. Onder diegene wat vergader het, was daar baie mense uit die noordelike tienstammeryk wat na Asa toe oorgeloop het “toe hulle sien dat die HERE sy God met hom was”.—2 Kron. 15:8-15.
En Asa self het nie geaarsel om op te tree teen sy afgodsaanbiddende grootmoeder Maäga, wat as ’n soort ‘gebiedster’ in die koninkryk beskou is nie. “Omdat sy ’n afgryslike voorwerp vir [die godin] Asjera gemaak het”, het Asa haar nie toegelaat om in haar posisie aan te bly nie.—1 Kon. 15:13; 2 Kron. 15:16.
DIE NEIGING OM TERUG TE VAL
Enigiemand wat besluit het om in een of ander opsig anders te wees as ’n goddelose ouer, sal vind dat volgehoue inspanning nodig is om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Dit sal ’n ruk lank lyk of ’n persoon daarin slaag om anders te wees, maar wanneer hy ouer word of groot druk op hom uitgeoefen word, kan hy terugval in die patroon van sy goddelose ouer. Asa se lewe lewer bewys van daardie gevaar.
Dit was “in die ses-en-dertigste jaar van die regering van Asa”b dat Israelitiese koning Baesa teen die suidelike koninkryk van Juda opgetrek het. Om te voorkom dat sy onderdane na Asa toe oorloop, het Baesa begin om die grensstad Rama te versterk. In plaas daarvan om steeds op Jehovah se beskerming te vertrou, het Asa begin knoei. Asa het Aramese koning Benhadad omgekoop om sy verbond met die Israelitiese tienstammeryk te verbreek. Die Siriërs het Israelitiese stede in die noorde aangeval en Baesa verplig om sy bouwerk te staak en sy magte aan Rama te onttrek. Asa het sy onderdane versamel en die gebied van die tienstammeryk binnegeval. Hulle het beslag gelê op die boumateriaal by Rama en dit gebruik vir bouwerk in Geba en Mispa.—2 Kron. 16:1-6.
Maar Asa se ontroue daad het Jehovah nie ontgaan nie. Deur sy profeet Hanani het God vir Asa gesê: “U [het] op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE U God [nie] . . . Was die Kusiete en die Libiërs nie ’n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.”—2 Kron. 16:7-9.
Het Asa homself verneder toe hy hierdie woorde hoor? Nee. Hy het aanstoot geneem en beveel dat Hanani opgesluit moet word. Asa het ook begin om van sy ander onderdane te verdruk. Die laaste drie jaar van Asa se lewe was nie gelukkige jare nie. Hy het gely aan ’n voetkwaal, moontlik jig. Maar ook in hierdie geval het hy hom nie tot Jehovah God gewend vir hulp nie, maar die hulp ingeroep van genesers wat moontlik van okkulte metodes gebruik gemaak het om hom te probeer genees. Na ’n bewind van ongeveer 41 jaar, het Asa gesterf.—1 Kon. 15:23, 24; 2 Kron. 16:10, 12-14.
Asa se lewe toon duidelik dat ons nie die invloed van ons ouers kan ignoreer nie, hetsy dit ’n invloed ten goede of ten kwade is. Maar Asa het getoon dat “’n aardjie na sy vaartjie” nie ’n onvermydelike reël is nie.
[Voetnote]
a Tweede Kronieke 15:17 en 1 Konings 15:14 toon dat “Asa nie die hoogtes afgeskaf het nie”. Dit kan beteken dat alhoewel die hoogtes vroeër verwoes is, hulle weer tydens Asa se bewind gebou is. Of dit kan beteken dat die hoogtes as sentrums vir afgodediens verwyder is, terwyl onbehoorlike aanbidding van Jehovah by die hoogtes voortgeduur het.
b Klaarblyklik nie die jare van sy werklike bewind nie, maar van die tyd af dat die 10 stamme van die koninklike huis van Dawid af weggebreek het.