Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 2/15 bl. 3-7
  • Waarskuwings waarop ons moet ag slaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarskuwings waarop ons moet ag slaan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GESINDHEID VAN DIE STADSLEIERS
  • HEDENDAAGSE WAARSKUWINGS
  • ARMAGEDDON—WANNEER?
  • MOET MENSE DAAROP AG SLAAN?
  • Party waarskuwings het natuurlik geen grondslag nie, en dit sou dwaas wees om daarop ag te slaan. Maar die feit dat baie—onder meer vername lede van die gemeenskap—met waarskuwings spot of dit geringskat, is nie genoeg rede om die waarskuwings in die wind te slaan nie. Dink aan die geval van Mont Pelée. Op 5 Mei, drie dae voor die groot uitbarsting, het die vulkaan ’n klomp lawa uitgestoot wat dosyne mense in die pad daarvan gedood het. Baie mense het dit beskou as ’n waarskuwing om te vlug, soos Peter Francis in sy onlangse boek Volcanoes skryf:
  • WAAR VEILIGHEID GEVIND KAN WORD
  • Is die voorspelde einde van die wêreld naby?
    Ontwaak!—1995
  • Nader ons Armageddon?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Is jy bewus van die tye waarin ons lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Armageddon—Moet jy dit vrees?
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 2/15 bl. 3-7

WAARSKUWINGS waarop ons moet ag slaan

DIT was lente in die jaar 1902. Alles het soos gewoonlik verloop op die pragtige Karibiese eiland Martinique. Die suikerrietoes het belowend gelyk, en in die eiland se grootste stad, St. Pierre, was politici druk besig met ’n verkiesingskampanje.

Maar teen die einde van Maart het iets gebeur wat die salige toneeltjie bederf het. Mont Pelée, sowat 8 kilometer van St. Pierre af, het aktief geword. Die mense het aanvanklik nie veel aandag daaraan geskenk nie. Maar toe dit in April rook, as en stukke rots, tesame met skerp dampe, begin uitblaas, het die dorpenaars bang geword. Teen die einde van April het ’n vrou aan haar suster in die Verenigde State geskryf:

“Die stad is bedek met as. Die swaelreuk is so sterk dat perde op straat stilstaan en proes. Baie mense is verplig om nat sakdoeke te dra om hulle teen die sterk dampe te beskerm.”

Vroeg in Mei het vulkaniese aktiwiteit toegeneem en was daar harde ontploffings. Les Colones, St. Pierre se koerant, het gesê dat “die asreën nooit ophou nie . . . ’n mens hoor nie meer die perdekarre op straat nie. Die geluid van die wiele word gedemp.” ’n Inwoner van St. Pierre het aan haar broer in Marseilles, Frankryk, geskryf:

“Dinge lyk vir my hier uiters somber, hoewel ek hoop dat ek die situasie oordryf. My man lag; maar ek kan sien dat hy baie bekommerd is. . . . Die hitte is verstikkend. ’n Mens kan niks ooplos nie, want die stof gaan oral in en brand ons gesigte en oë. Al die gesaaides is daarmee heen.”

Dit behoort duidelik te gewees het dat groot gevaar gedreig het. Maar is daar ag geslaan op die waarskuwings van Mont Pelée?

GESINDHEID VAN DIE STADSLEIERS

Omdat die suikerrietoes ophande was, het St. Pierre se sakemanne die mense verseker dat daar hoegenaamd geen gevaar bestaan het nie. Die politici, wat besorg was oor die komende verkiesing, wou nie hê dat die mense moes vlug nie, en het dus dieselfde gesê. Trouens, die burgemeester van ’n ander stad het na St. Pierre gekom om die mense te oortuig dat daar geen rede vir ontsteltenis was nie. Die godsdiensleiers, die Katolieke geestelikes, het met die sakemanne en politieke groepe saamgewerk en hulle gemeentelede probeer oortuig dat alles in orde was.

Toe het dit gebeur. Kort voor 8 vm. op 8 Mei het Mont Pelée met ’n geweldige gedonder ontplof. Reusagtige oorverhitte swart wolke het met ’n ongelooflike snelheid op St. Pierre afgerol, ’n Skrywer sê:

“Die derduisende lyke in die ruïnes het almal dieselfde verhaal vertel, naamlik van so te sê onmiddellike dood toe die versengende orkaan van Mont Pelée hulle bereik het. Daar was geen tyd om te probeer vlug of selfs om hulle teë te sit nie; honderde het eenvoudig in hulle spore gesterf. Die warm gas het sy werk vinnig gedoen en duisende lewens in twee of drie minute uitgewis.”

So te sê almal in St. Pierre het gesterf—sowat 30 000 of meer mense. Slegs drie persone het die ramp oorleef, en twee van hulle het kort daarna aan hulle beserings beswyk. Die enigste persoon wat van sy beserings herstel en gelewe het, was ’n jong gevangene. Hy was in die kerker onder die tronk opgesluit, waar hy ’n paar dae na die uitbarsting aangetref is.

Tot vandag toe is daar baie ruïnes, onder meer die kerker, in St. Pierre wat van hierdie ramp getuig. En ’n gedenkplaat vertel van die etlike honderde wat hulle lewens in ’n Katolieke kerk verloor het terwyl hulle die Mis bygewoon het.

Gesonde verstand moes vir ’n mens gesê het dat jy St. Pierre moet verlaat toe die lug so sleg geword het dat dit moeilik was om asem te haal. En indien die sakemanne, die politici en die geestelikes meer besorg was oor die mense as oor hulle eie onmiddellike voordeel, sou hulle nie die mense probeer oorreed het om te bly nie, maar saam met hulle uit die stad gevlug het. Dit sou hulle lewens gered het.

HEDENDAAGSE WAARSKUWINGS

Onlangs is daar waarskuwings oor ’n selfs groter vernietiging wyd en syd bekend gemaak. Van watter waarskuwings praat ons? Nie die wat verlede jaar deur die berg St. Helens van die staat Washington, V.S.A., gegee is nie. Een inwoner aldaar het geskryf: “Die berg het al hoe harder gedreun, amper asof dit ons gewaarsku het om gereed te maak vir die werklike ontploffing.” Staats- en plaaslike amptenare het ook gewaarsku teen die groot gevaar vir diegene in die omgewing van die vulkaan.

Dit is nie waarskuwings oor ’n verwagte plaaslike vernietiging wat ons in gedagte het nie. Ons praat eerder van waarskuwings wat nou dwarsoor die aarde gerig word oor ’n wêreldvernietiging—Armageddon—wat ophande is. Toe Jesus Christus hierdie vernietiging voorspel het, het hy gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Volgens Jesus se beskrywings sal hierdie “groot verdrukking” meer menselewens uitwis as al die natuurrampe in mensegeskiedenis tesame.

“Onmoontlik!” sê jy? God se profeet, Jesus Christus, het egter nog nooit tevore verkeerd gehad nie. “Die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, wat algemeen as Armageddon bekend staan, sal beslis kom (Openb. 16:14-16). Dit sal die laaste deel van die “groot verdrukking” wees. Het dit dus nie sin om ten minste aandag te skenk aan die waarskuwing dat Armageddon naby is en in die leeftyd van die meeste van vandag se mense gaan kom nie?

ARMAGEDDON—WANNEER?

In verband met die “groot verdrukking”, onder meer Armageddon, het Jesus voorts in hierdie lewensbelangrike profesie gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van mens wees.”—Matt. 24:37-39.

Jesus het dit dus duidelik gestel dat die komende wêreldvernietiging—wat selfs die vloed in omvang sou oortref—verband hou met sy teenwoordigheid. Dit is ‘wanneer hy in sy heerlikheid kom en op sy heerlike troon gaan sit’ om as koning te regeer (Matt. 25:31). Is daar ’n manier om uit te vind wanneer Armageddon gaan kom?

Ja, daar is. Jesus se dissipels het in hierdie sake belanggestel. Hulle het hom dus daarna uitgevra. Die vraag wat aanleiding gegee het tot Jesus se bespreking waar hy van die “groot verdrukking” gepraat het, was: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matt. 24:3). Dit behoort beslis vir ons ’n saak van groot erns te wees om “die teken” wat Jesus gegee het, te identifiseer. Jy kan self daardie “teken” nagaan. Dit is opgeteken in die Bybel in Mattheüs hoofstukke 24 en 25. Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21. Daar sal jy vind dat Jesus gesê het dat sy teenwoordigheid en die nabyheid van die “groot verdrukking” aangedui sou word deur groot moeilikhede op aarde. Daar sal oorloë wees, en nasie sal teen nasie opstaan, asook groot aardbewings, voedseltekorte, pessiektes, sowel as so ’n groot vermeerdering van ongeregtigheid dat die liefde van die meeste sal verkoel. Jesus het ook voorspel dat sy volgelinge vervolg sou word, en tog sou die “evangelie van die koninkryk . . . verkondig word in die hele wêreld . . . en dan sal die einde [onder meer Armageddon] kom.”

In ’n ander profesie is die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”—2 Tim. 3:1-5.

Sou jy sê dat Jesus Christus en die apostel Paulus se profesieë oor “die laaste dae” nou vervul word? Meer as tweemiljoen van Jehovah se Getuies glo dat dit die geval is, en dit is waarom Jehovah se Getuies ooral die waarskuwing rig dat Armageddon naby is. Hulle nooi mense om die getuienis te ondersoek om self vas te stel of hierdie waarskuwings ’n vaste grondslag het.

MOET MENSE DAAROP AG SLAAN?

Party waarskuwings het natuurlik geen grondslag nie, en dit sou dwaas wees om daarop ag te slaan. Maar die feit dat baie—onder meer vername lede van die gemeenskap—met waarskuwings spot of dit geringskat, is nie genoeg rede om die waarskuwings in die wind te slaan nie. Dink aan die geval van Mont Pelée. Op 5 Mei, drie dae voor die groot uitbarsting, het die vulkaan ’n klomp lawa uitgestoot wat dosyne mense in die pad daarvan gedood het. Baie mense het dit beskou as ’n waarskuwing om te vlug, soos Peter Francis in sy onlangse boek Volcanoes skryf:

“Baie het probeer om St. Pierre te verlaat en het na Fort-de-France, Martinique se tweede grootste stad, gegaan. Die plaaslike owerheid het egter nie die vooruitsig van ’n grootskaalse ontruiming verwelkom nie. Benewens die probleem dat ’n groot aantal bang vlugtelinge versorg sou moes word, sou daar ook ’n verkiesing op 10 Mei wees, en die politieke partye in die dorp wou nie hê dat enigiets dit in die wiele moes ry nie. Daar was dus ’n gesamentlike poging om die moontlike risiko te kleineer. ’n ‘Wetenskaplike kommissie’, wat uit van die geleerdste mense op die eiland bestaan het, is aangestel, en hulle het ’n verslag opgestel wat daarop gemik was om die mense gerus te stel.”

Hulle het tot ’n mate daarin geslaag om dit te doen. Die mense het gebly—en hulle het almal vergaan, met een uitsondering!

Vandag word die Bybel se profesieë oor “die laaste dae” vervul. Al die aspekte van die saamgestelde “teken” wat Jesus gegee het, kan gesien word. Ja, die dinge wat Christus en sy apostels voorspel het net voor die “groot verdrukking” sou gebeur, vind nou plaas. Die getuienis is oorweldigend. Net soos Jesus voorspel het, is daar “op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid”. En “mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Luk. 21:25, 26.

Die kommentaar van die redakteur van Miami se Herald, Jim Hampton, lig die vervulling van hierdie dinge toe. Alhoewel hy Armageddon nie heeltemal uit die Bybel se standpunt beskou nie, het hy op 4 Mei 1980 geskryf:

“Trek jou maag ook deesdae op ’n knop? Die verskriklike knop wat jou snags wakker hou en wat vir jou sê dat daar iets ernstigs met jou land en met die hele wêreld skort? Die knop wat jou soms laat ril omdat jy so pas besef het dat Armageddon nie net ’n allegorie is waarvan jy in die Bybel lees nie, maar dat dit ’n werklikheid is? En dat die vuurhoutjie vir die eerste keer in jou lewe so na aan die lont is dat Armageddon werklik moontlik is?

“Ek het daardie knop. En ek is nie skaam om dit te erken nie, want ek het ’n dosyn van my vriende gevra of hulle dit ook het, en daar is nie een wat dit nie het nie.”

Daar is persone wat spot met die gedagte dat God ’n einde aan goddeloosheid gaan maak. Ander kleineer die getuienis dat Bybelprofesieë tans vervul word. Maar die Bybel het hierdie einste situasie voorspel en gesê: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”—2 Pet. 3:3, 4.

Maar sulke spotters het dit mis. Die feit is dat dinge verander het. Bybelprofesieë word vervul. Die getuienis is net so duidelik dat Armageddon naby is as wat dit verlede jaar was dat die berg St. Helens op die punt gestaan het om uit te bars. Baie aldaar het egter geweier om ag te slaan op die waarskuwings om uit die gevaargebied te bly. Hulle het met hulle lewens daarvoor betaal. Een vrou met wie daar ’n onderhoud op die TV gevoer is, het haar afkeuring uitgespreek van die reisbeperkings wat ingestel is om mense uit die gebied te hou. Na die uitbarsting het sy weer op TV verskyn om haar nederige dank uit te spreek vir die beperkings wat volgens haar haar lewe gered het.

WAAR VEILIGHEID GEVIND KAN WORD

In die geval van ’n vulkaniese uitbarsting is dit baie duidelik waar veiligheid gevind kan word—ver van die vulkaan af. Die “dodelike gebied” van St. Helens se uitbarsting het verbasend genoeg volgens berig ’n gebied van 380 vierkante kilometer beslaan. Bome is 23 kilometer ver in drie rigtings afgemaai, en nog etlike kilometer verder was alles verskroei! Maar waar kan veiligheid gevind word gedurende die “groot verdrukking” wat ophande is?

Dit is nie in enige fisiese plek nie. Net soos tydens die Vloed het Jehovah God die middele om goddelose persone te vernietig waar hulle ookal wegkruip. Om dieselfde rede sal hy almal kan bewaar wat dit hom behaag om te bewaar, ongeag waar hulle woon. Die apostel Johannes verstrek die sleutel tot veiligheid wanneer hy sê: “Die wêreld [die ongehoorsame mensdom] gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Joh. 2:17.

Die enigste veilige hawe is ’n persoon se goeie verhouding met Jehovah, iets wat ’n mens slegs kan geniet deur sy wil te doen. Maar voordat ons Jehovah se wil kan doen, moet ons uitvind wat hy van ons verlang. Dit vereis ’n studie van sy Woord, die Bybel, en die toepassing daarvan in ons lewens. Is jy bereid om dit te doen? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help. Moet onder geen omstandighede die Bybelse waarskuwings wat hulle oor Armageddon se nabyheid rig in die wind slaan nie. Dit is waarskuwings wat noukeurige aandag verdien—en waarop daar ag geslaan moet word.

[Prent op bladsy 4]

Honderde wat geweier het om ag te slaan op die waarskuwings het in ’n kerk gaan skuil en hulle lewens verloor

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel