Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 2/1 bl. 5-7
  • Moenie jouself isoleer nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie jouself isoleer nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oplossing
  • Voorkoming
  • Isolasie is onchristelik
  • Isolasie kan gevaarlik wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Waarom is daar soveel eensame mense?
    Ontwaak!—2004
  • Dis goed om soms alleen te wees
    Ontwaak!—1998
  • Eensaamheid—Identifiseer die oorsake
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 2/1 bl. 5-7

Moenie jouself isoleer nie

IN DIE meeste situasies is isolasie onnatuurlik. Volgehoue isolasie is onchristelik. Hoewel Jehovah God heeltemal selfstandig is en geen geselskap nodig het nie, het hy dit goedgedink om hom met miriades geesseuns te omring (Job 38:4-7; Dan. 7:10). Dit was ’n blyk van sy liefde. Weens dieselfde liefde het hy later ’n aardse seun, Adam, gemaak. Sy hemelse sowel as aardse seuns is begaaf met ’n wonderlike vermoë om te kommunikeer (1 Kor. 13:1). God het nie hierdie intelligente wesens voortgebring bloot om dinge van hulle te ontvang nie, maar eerder om te gee. Hy het hom in sulke seuns verlustig en dit was vir hulle aangenaam om by hom en by mekaar te wees.—Vergelyk Spreuke 8:30, 31.

Die Allerhoogste het ook besluit dat dit nie goed was dat Adam alleen is nie, en dus het hy vir hom ’n maat voorsien (Gen. 2:18). Die uitvoering van Jehovah se opdrag aan die eerste paar om die aarde te vul, sou ’n aardwye, kommunikerende mensdom in aansyn gebring het (Gen. 1:28). Hoe duidelik is dit tog dat mense nie bedoel was om te ly aan die slegte gevolge van isolasie nie!

Dit is dus geen wonder dat die meeste Bybelse verwysings na vorms van isolasie met negatiewe aspekte verband hou nie (Ps. 25:16; 102:8). Toe Kain weens die moord van sy broer verban is, is hy van die res van die mensdom geïsoleer. Hy het dit as ’n straf beskou, iets wat moeilik was om te verduur.—Gen. 4:11-14.

Die oplossing

Maar wat kan ’n persoon doen wanneer hy alleen, verstote of onwelkom voel? In plaas daarvan om vir homself jammer te voel, om te wag dat ander iets moet doen en te verwag om dinge te ontvang, moet hy die inisiatief neem om in navolging van God en Christus liefde aan ander te betoon. Wanneer ’n persoon homself isoleer, hetsy doelbewus of per ongeluk, tree hy strydig op met God se voorneme vir die mensdom. Geen wonder dat isolasie probleme skep nie! Die oplossing is dus om te doen wat die Skepper vir ons in gedagte gehad het. Hy wou hê dat ons omgang met ander mense moet geniet. Een vrou wat tevore eensaam was, het hierdie punt begryp. Sy het gesê: “Dit het eindelik tot my deurgedring. Ek het myself dus reggeruk, opgehou om aan myself te dink en begin om hard te werk. Ek werk sedertdien een stryk deur hard.”

Wat kan ons uit hierdie ondervinding leer? ’n Persoon hoef nie eensaam te wees nie. Hy kan iets positiefs daaromtrent doen. Hy kan die basiese Christelike godsdiens beoefen. Kan ’n persoon per slot van rekening ’n Christen en terselfdertyd ’n isolasionis wees? Nee, want om ’n mens se naaste lief te hê, moet jy goed doen aan jou naaste en die Skepper daadwerklik navolg (Matt. 22:37-39; 7:12). En dit verskaf vreugde om op ’n barmhartige wyse aan behoeftiges te gee. Sulke mededeelsaamheid verdryf die ongelukkigheid wat dikwels ’n eensame lewe kenmerk.

Voorkoming

Dit verg natuurlik inspanning om dinge vir ander te doen en nie toe te laat dat ’n mens mismoedig raak omdat jy onvolwaardig voel nie. Omdat dit nie maklik is om eensaamheid te bowe te kom nie, is dit goed om nie ’n slagoffer van hierdie kwaal te word nie. Selfs al stel ander ons teleur, moet ons dus daarteen waak dat ons ons aan ander onttrek. Die Bybel sê: “Niemand van ons leef vir homself nie” (Rom. 14:7). Wanneer ’n persoon homself eers afgesonder het, loop hy die gevaar om onverstandig, selfs dwaaslik en tot sy eie nadeel te redeneer. ’n Bybelspreuk stel dit soos volg: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek”—Spr. 18:1.

Beskou die geval van ’n jong vrou wat verslaaf geraak het aan pornografiese rolprente wat saans laat oor die televisie uitgesaai is. As gevolg van hierdie ongesonde invloed het sy eerlank opgehou om te bid, die Skrif te lees en Christelike vergaderinge by te woon. Dit was nie lank nie of sy het begin dink dat haar man nie goed genoeg is nie en haarself begin bejammer. Sy het ’n weg ingeslaan wat sy maande tevore gou as dwaasheid sou verwerp het.

Verlok deur haar verkeerde begeertes het sy haar man en dogtertjie verlaat en by ’n ander man ingetrek. Het sy werklik geluk gevind? Nee. Sy het later aan ’n vriendin bely dat haar nuwe gesel haar slaan en dat sy ongelukkig was sonder haar kind. Hierdie vrou het haarself, haar man, haar kind en haar mede-Christene benadeel en die Skepper veel smaad aangedoen—net omdat sy haarself geïsoleer het.

Isolasie is onchristelik

Isolasie is inderdaad onchristelik. Dit is verdelend, plaas ’n domper op ywerige Christelike werke en beperk kommunikasie. Omdat die indiwidu van ander afgeskei is, kan hy terneergedruk raak en swig voor twyfelgedagtes oor betroubare mense, selfs oor God en die Skrif. Die dissipel Jakobus toon dat party mense in sy dag nie besef het dat selfs engele hulself skade berokken het toe hulle omgang met God en getroue engele verlaat het om hulle verkeerde begeertes te botvier nie.—Jud. 6, 8, 10, 20-22.

Die hele gees van die Bybel druis in teen isolasie en die onwenslike gevolge daarvan—onbedrywigheid, gebrek aan kommunikasie en versuim om liefde te betoon. Die Skrif leer en staan positiewe aksie voor en gebruik baie aksiewoorde om dit te doen. Ons word aangespoor om ‘aan ander te doen’, om ‘dissipels te maak’, om ‘te bid, sodat ons kan ontvang’, om ‘te klop’ totdat daar vir ons oopgemaak word, om ‘ons naaste lief te hê’, om ‘saam met ander Christene te vergader’, om ‘gasvryheid na te streef’. Al hierdie dinge is rate vir traagheid, selfbejammering en die gevoel dat ’n mens onwelkom of nutteloos is. Christelikheid vereis dat ’n persoon medelye betoon deur vir ander jammer te voel en iemand nodig en nuttig te laat voel eerder as nutteloos. As ons heelhartig gee, kan ons daarvan verseker wees dat ons oorvloedig van ons hemelse Vader sal ontvang (Matt. 6:1-4). Mededeelsaamheid maak ’n mens by ander bemind en verdryf eensaamheid.

Daar is natuurlik tye wanneer ons ons privaatheid nodig het. Selfs Jesus Christus, wat ander voortdurend gehelp het, het tyd afgeknyp om alleen te wees. Toe hy die nuus oor Johannes die Doper se dood hoor, het hy “vertrek na ’n verlate plek alleen” (Matt. 14:13). Vir diegene wat gewoonlik in ander se geselskap is, kan isolasie ’n verkwikkende verandering en ’n goeie geleentheid vir bepeinsing wees. Die Seun van God het eenkeer vir sy dissipels gesê: “Kom julle self in die eensaamheid na ’n verlate plek en rus ’n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie” (Mark. 6:31; 3:20). ’n Bietjie eensaamheid was net wat hulle nodig gehad het.

Wanneer ons ons met tye afsonder vir doelgerigte bepeinsing, kan ons ons geloof versterk. Sulke bepeinsing kan ons nader aan God bring. Dit kan ons help om onsself met waardering in gebed uit te spreek en aldus ons verhouding met die Almagtige verbeter. Maar sulke geleenthede is tydelik van aard. Ons moet ons nooit wil isoleer tot die mate dat ons ’n kloosterlewe lei nie.—Vergelyk Johannes 17:15.

Ons het voorwaar goeie redes om ’n lewe van isolasie te vermy. Dit is inderdaad skadelik. Isolasie kan ’n nadelige uitwerking op Christelike bedrywigheid, omgang en kommunikasie hê. Benut dus God se geestelike voorsienings ten volle. Lees sy Woord daagliks. Moenie gebed verwaarloos nie. Hou jou gedagte met opbouende dinge besig. Gaan gereeld om met diegene wat dieselfde kosbare geloof het. Bly besig in die waardevolle werk om God se Woord aan ander te leer en voorsien op ander maniere in die behoeftes van jou medemens. As jy na aan Jehovah en sy Woord bly en jou deur sy gees laat lei, sal dit voorkom dat jy “ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus” is (2 Pet. 1:5-8). Moenie jouself isoleer nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel