Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 2/1 bl. 3-5
  • Isolasie kan gevaarlik wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Isolasie kan gevaarlik wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme van isolasie
  • Moenie jouself isoleer nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Waarom is daar soveel eensame mense?
    Ontwaak!—2004
  • Veg teen eensaamheid met vriendskap – Hoe die Bybel kan help
    Nog onderwerpe
  • Het ons ander werklik nodig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 2/1 bl. 3-5

ISOLASIE KAN GEVAARLIK WEES

“WAARSKUWING: Isolasie kan gevaarlik wees vir jou gesondheid.” Soortgelyke kennisgewings word gewoonlik net gebruik in die geval van ernstige gevare vir ’n persoon se welsyn, asook die gevare wat chemikalieë en dwelmmiddels inhou. Maar onlangse bevindings dui daarop dat dit ’n waarskuwing is wat tereg gerig kan word aan diegene wat, weens omstandighede of uit keuse, ’n geïsoleerde lewe lei.

Die verlies van ’n huweliksmaat kan byvoorbeeld baie skadelik wees. Die tydskrif Time berig dat “die sterftesyfer weens kroonslagaartrombose onder weduwees tussen die ouderdom van 25 en 34 vyf keer groter is as dié onder getroude vroue in dieselfde ouderdomsgroep. In alle ouderdomsgroepe is geskeides se kanse om longkanker of beroerte te kry twee keer groter as dié van getroudes.”

Maar eensaamheid as gevolg van isolasie eis ook sy tol onder volwassenes wat nooit getrou het nie. ’n Studie deur dr. James Lynch van die Universiteit van Maryland toon dat die sterftesyfer weens hartkwaal onder ongetroude persone twee tot vyf keer hoër is as dié van getroudes. Hierdie studie toon dat ’n vrygesel se kanse om in ’n sielsieke-inrigting te beland 23 keer groter is as dié van getroude mans, en ’n ongetroude vrou se kanse 10 keer groter is as die van ’n getroude vrou. Dit is baie duidelik dat hierdie dokter nie ondersoek ingestel het na die lewens van diegene wat nou volgens die geïnspireerde Heilige Bybel lewe, soos die Christengetuies van Jehovah nie. Hulle statistiek sal heeltemal anders lyk. Volgens die dokter se statistiek kan eensaamheid weens isolasie aanleiding gee tot geestes- en emosionele angs wat ’n bedreiging vir die lewe inhou.

Die ondervinding by metropolitaanse noodlynsentrums weerspieël die erns van die probleem. Beskou metropolitaanse Toronto, Kanada, met ’n bevolking van meer as tweemiljoen. In een jaar het net een van verskeie sulke sentrums sowat 33 000 telefoonoproepe ontvang. Dit is een oproep elke 16 minute. Omtrent 75 persent van die persone wat gebel het, het weens isolasie gely, “die wandelende gewondes”, soos een dokter hulle beskryf het. Ses persent van hulle het gedreig om selfmoord te pleeg. Toronto se Star het van hulle gepraat as persone wat ly aan ’n “onsigbare siekte” wat epidemiese afmetings aangeneem het. Dr. Vello Sermat het dit gedefinieer as “’n gevoel van volslae verlatenheid asof die persoon heeltemal van ander indiwidue afgeskei is. . . . ’n Gebrek aan bande met ander.” Baie van diegene wat weens isolasie ly, is bejaardes, onder meer weduwees en wewenaars.

Ongelukkig is bejaardes wat alleen woon dikwels die slagoffers van misdadigers. In talle groot stede is hierdie stomme mense verplig om in buurte aan te bly wat vinnig versleg en waar jong boewe hulle as maklike slagoffers beskou. Diefstal, ernstige aanranding, verkragting en marteling was al die lot van party van hierdie eensame bejaardes. Vrees laat hierdie bejaardes hulself nog verder isoleer. Hulle versper hulle deure en slaan planke voor hulle vensters, en laat hulle voedsel en ander benodigdhede afgelewer word.

Jongmense ly ook weens die gevare van ’n eensame lewe. Party het gedink dat hulle ’n nuwe lewenswyse kon skep wat nie afhanklik sou wees van die konvensionele samesyn van die verlede nie. Hulle het gehoop om ’n gelukkiger lewenswyse te vind. Maar is dit waarlik bevredigend? Toronto se Star berig dat die selfmoordsyfer in die provinsie Ontario wat die vinnigste toeneem dié onder 20-en 30-jariges is. Dan is daar diegene wat te laat besef dat hulle die slagoffers is van persone met slegte beweegredes. Een 26-jarige het gesê: “Hy het vir my gesê dat hy dol is oor my, . . . hy het vir my blomme gestuur . . . ons het uitgeëet . . . en toe het hy vir my die waarheid vertel—dat hy saam met ’n ander vrou woon.”

Probleme van isolasie

Selfs persone wat sommer net ‘saamwoon’, begin uitvind dat ’n mens nie maklik die natuurlike in die lewe kan loën nie. Ongeag hoe dinge op die oog af lyk, begin al hoe meer jongmense besef dat trou in ’n verhouding waarlik wenslik en nodig is vir ’n bevredigende lewe. In ’n artikel met die titel “Alleen in die skare—Losbolle se drome is besig om in duie te stort”, het Kanada se weekblad Maclean’s gesê: “Al hoe meer vroue—en party mans—erken dat hulle moeg is vir losse geslagsomgang en dat dit hulle frustreer en verveel.” Seks op sigself is nie die oplossing nie. Iets ontbreek: Ware liefde en verbondenheid. Omdat die jare gans te vinnig verbysnel, sit baie met die probleem om ’n geskikte huweliksmaat te vind. Hulle selfopgelegde isolasie kan soos volg opgesom word—swier in die sestigerjare, dikmond in die sewentigerjare en vol pyne vandag.

Iets gebeur klaarblyklik met die redeneervermoëns van ’n persoon wat uit keuse of weens omstandighede geïsoleerd is. Wat dikwels gebeur, is dat die persoon, in stryd met die raad van die Bybel, te veel oor homself dink en selfs voor selfbejammering swig. Hy begin om ander se tekortkominge te kritiseer en maak ’n bohaai oor die dinge wat hulle nalaat om vir hom te doen, en skryf soms slegte beweegredes aan hulle toe. Hy wag op ander om met hom vriendelik te wees en meen dat hulle hom in die steek gelaat het indien hulle nie is nie. Dit is wat met een met jong getroude vrou met twee kinders gebeur het. ’n Ruk lank het hierdie moeder haarself aan die geselskap van haar goeie kennisse onttrek. Toe ’n vriendin sê dat sy haar lank laas gesien het, het sy geantwoord: “Ek het dit gedoen om te kyk of enigiemand dit raaksien of omgee.”

Daar is dus duidelike aanduidings dat die versuim van mense oor die algemeen om hegte menseverhoudings te vorm nadelig vir die gesondheid kan wees. Maar wat moet ’n persoon doen indien omstandighede oënskynlik buite sy beheer is? Hoe kan hy hom by ongewenste veranderinge in sy lewe aanpas?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel