Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 1/15 bl. 13-17
  • “Wees oor niks besorg nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wees oor niks besorg nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Heeltemal sorgvry?
  • ’n Liefdevolle Vader wat magtige dade verrig
  • ‘Laat julle begeertes bekend word by God’
  • “Met danksegging”
  • “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • ‘Gebruik elke vorm van gebed en smeking’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Werp al julle bekommernis op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Werp al julle sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 1/15 bl. 13-17

“Wees oor niks besorg nie”

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”—Filip. 4:6.

1. Om watter Skriftuurlike redes kan ons sê dat Jehovah die “God van vrede” is?

JEHOVAH is die “God van vrede” (Filip. 4:9). Hy ervaar geen angswekkende benoudheid, geen ongerustheid of vrees nie. Niks—nie eens die gemene dade van die goddelose—kan God van sy kalmte beroof of hom van balans af gooi nie. Sy eienskappe is altyd in volmaakte balans. Uit liefde, byvoorbeeld, laat Jehovah “sy son opgaan oor slegtes en goeies” (Matt. 5:44, 45; 1 Joh. 4:8). Hy verdraai nooit die reg nie (Gen. 18:25). God se weergalose wysheid stel hom in staat om ‘die einde van die begin af te sien’ en om enige onverwagte gebeurtenis die hoof te bied. En sy onbeperkte mag, wat nooit op onverantwoordelike wyse gebruik word nie, lei altyd tot die volbrenging van sy regverdige wil.—Job 12:13; Jes. 40:26; 46:9, 10.

2. Hoe moet Jehovah se aanbidders hom beskou?

2 Hoe moet hierdie weergalose “God van vrede” beskou word deur die lede van sy universele gesin aanbidders? (Vergelyk Efesiërs 3:14, 15, NW.) Omdat hulle hemelse Vader opgewasse is teen enige situasie, het lowers van Jehovah alle rede om kalm te wees. Hulle kan ’n gevoel van ware veiligheid in hulle verhouding met hom geniet.

Heeltemal sorgvry?

3. Waarom is dit nie verbasend dat Jehovah se knegte sorge het nie?

3 Dit beteken natuurlik nie dat “liefhebbers van die HERE” heeltemal sorgvry is nie (Ps. 97:10). Hulle het gebreke van Adam geërf en moet lewe onder ander sondige afstammelinge van die eerste man (1 Kon. 8:46; Rom. 5:12). ‘Die dae van hulle jare’ is vol moeite, en alle onvolmaakte mense “is kort van dae en sat van onrus” (Job 14:1; Ps. 90:10). Dit is dus nie verbasend dat Jehovah se knegte sorge het nie.

4. Watter tekste toon waarom godvresende persone nie heeltemal sorgvry kan wees nie?

4 Daar kan byvoorbeeld emosionele ontsteltenis wees, net soos Esau se Hetitiese vroue “’n bitter verdriet” vir sy godvresende ouers Isak en Rebekka was (Gen. 26:34, 35). Siekte is vandag ’n bron van bekommernis vir God se knegte, net soos dit die geval moes gewees het in die lewens van getroue Christene soos Timotheüs en Trofimus (1 Tim. 5:23; 2 Tim. 4:20). Net soos “regverdige Lot” is hedendaagse lowers van Jehovah ontsteld oor die losbandigheid van sedelose mense (2 Pet. 2:7). Soms moet persone wat aan Jehovah toegewy is met gebrekkige voorsienings aan die lewe bly, beslis ’n bron van kommer bo die normale (Filip. 4:12). En net soos die apostel Paulus bekommer baie Christelike manne van ons tyd hulle oor medegelowiges (2 Kor. 11:28). Voeg hierby al die uiteenlopende probleme waarmee godvresende persone indiwidueel te kampe het en dit is duidelik dat hulle nie heeltemal sorgvry kan wees nie.

5. (a) Watter spesiale hulp het Jehovah se volk om sorge die hoof te bied? (b) Wat dui “vrede” aan soos dit in die Skrif gebruik word?

5 Maar Jehovah se knegte ontvang goddelike hulp om al hulle sorge die hoof te bied—kosbare hulp wat persone sonder geestelikheid nie het nie. (Vergelyk Judas 17-21.) Jehovah is nie alleen die “God van vrede” nie, maar gelukkig is hy ook die “God wat vrede gee” (Rom. 15:33, NAB). In die Skrif beteken “vrede” meer as die afwesigheid van tweedrag. Dit dui onder andere op ‘welsyn, geluk, voorspoed en alles wat goed is’ (Gen. 41:16, Authorized Version; Mark. 5:34; Luk. 1:79). Sulke allesomvattende vrede behoort beslis die lewe se sorge teë te werk of te verminder.

6. Wat moet ons doen indien ons Godgegewe vrede wil verkry en behou?

6 Maar om hierdie Godgegewe vrede te verkry en te behou, moet ’n persoon ’n innige liefde vir Jehovah en sy Woord hê. Dit behels liefde vir God, die onderhouding van sy gebooie, geloof in die naam van sy Seun Jesus Christus en die betoning van liefde aan ander (1 Joh. 3:19-24; 5:2-4). Voordat ons God se gebooie kan onderhou, moet ons hulle leer ken. Dit verg ’n daaglikse studie van die Skrif (Jos. 1:8). En namate ons meer tyd aan Jehovah se Woord wy, sal ons ongetwyfeld ’n groter ‘verlange’ daarna kry. Dit sal ons weer groter gemoedsrus verskaf.—1 Pet. 2:1-3.

’n Liefdevolle Vader wat magtige dade verrig

7. Hoe beïnvloed groter kennis van God se Woord ons verhouding met hom, en hoe verlig dit ons bekommernis?

7 Ons groter kennis van God se Woord sal ons immer nader aan die Allerhoogste bring, mits ons hom nader in kinderlike nederigheid en met ’n opregte begeerte om “die wysheid van bo” te verkry (Jak. 3:17, 18). Ons sal beïndruk word deur die feit dat Jehovah ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” is (Ex. 34:6). Ons sal deegliker besef dat hy “goed en vergewensgesind” is (Ps. 86:5). Omdat ons onvolmaak en sondig is, sal ons soms struikel, maar ons het hierdie versekering: “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps. 103:13, 14). Hoe bevry dit tog ons harte en verstande van die sorge waaronder ons andersins gebuk sou gegaan het! En ’n liefdesdaad wat alle menslike begrip te bowe gaan, is Jehovah se voorsiening van die losprys, gemaak deur sy dierbare Seun “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”.—Joh. 3:16; 1 Tim. 2:5, 6.

8, 9. (a) Watter tekste vertel hoe Jehovah “magtige dade” verrig? (b) Waarom sou jy sê dat God se dade van die verlede bewys dat sy volk op sy hulp kan staat maak in hulle pogings om die sorge van die lewe die hoof te bied?

8 Ons hemelse Vader is ook die Verrigter van “magtige dade” (Ps. 106:1, 2; 145:4, 11, 12). Toe Moses God om guns gesmeek het, kon hy sê: “Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U?” (Deut. 3:23, 24). Moses kon onthou hoe Jehovah Sy volk op kragtige wyse uit slawerny in Egipte gered en hulle droogvoets deur die Rooi See gelei het (Ex. 12:29-42; 14:5-31). Die profeet het ook gesien wat Jehovah gedoen het om Israel te laat seëvier oor die Amoriete, onder die bewind van konings Sihon en Og. En aangesien Jehovah vir die Israeliete geveg het, het Moses die vertroue gehad dat God ander vyandelike koninkryke sou omverwerp en Sy volk die beloofde land sou gee (Deut. 3:1-22). Ja, en dit is presies wat God gedoen het, want hy hou sy beloftes (Jos. 23:1-5). Hoe moet “liefhebbers van die HERE” dus voel wanneer hulle God se betroubaarheid en sy verlossingsdade in aanmerking neem? Bestaan daar vandag rede vir angswekkende benoudheid aan die kant van sy volk? Glad nie, want Jehovah is getrou, en hy “weet om die godsaliges . . . te verlos”.—2 Pet. 2:5-9.

9 God se dade ten behoewe van diegene wat ten volle aan hom toegewy is, is natuurlik nie beperk tot verlossingsdade nie. Sulke dade bewys egter dat ‘Jehovah sy volk nie sal verwerp nie’ (Ps. 94:14). Ons kan dus daarvan seker wees dat hy hulle sal help om die sorge van die lewe die hoof te bied.

‘Laat julle begeertes bekend word by God’

10. Hoe kan ons ons band met die “God van vrede” versterk, volgens die apostel Paulus se woorde in Filippense 4:6, 7?

10 ’n Gereelde studie van God se Woord sal ’n opregte persoon nader aan Jehovah bring. So ook bepeinsing oor die hemelse Vader se liefdevolle weë en sy magtige dade ten behoewe van diegene wat hom getrou dien. Daar is egter nog ’n manier waarop ons ons band met die “God van vrede” kan versterk. Die Christenapostel Paulus het getoon wat dit is toe hy medegelowiges soos volg aangespoor het: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Dit lei tot ’n Godgegewe kalmte wat alle menslike begrip te bowe gaan.—Filip. 4:6, 7.

11. Watter Bybelse voorbeeld kan jy versterk om te bewys dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is?

11 Lank voordat Paulus daardie woorde geskryf het, het Jehovah bewys gelewer dat hy die liefdevolle, betroubare “Hoorder van die gebed” is (Ps. 65:3). Sy aanbidders kon hulle verskillende sorge op hom werp met die vertroue dat hulle versoeke verhoor sou word. Ter toeligting: Die gebed van Abraham se dienaar Eliëser is verhoor toe hy gelei is om ’n vrou vir sy heer se seun, Isak, te vind (Gen. 15:2; 24:10-27, 62-67). Onvrugbare Hanna het “lank gebid” en geween en het ’n seun, Samuel, ontvang wat sy dankbaar ‘al die dae van sy lewe aan Jehovah afgestaan het’ (1 Sam. 1:4-28). Koning Hiskia, wat dodelik siek was, het Jehovah met baie geween gesmeek en is genees (2 Kon. 20:1-11). Nehemia het dae lank gevas en gebid—en op ’n kritieke oomblik stil “tot die God van die hemel gebid”—met die blye resultaat dat die koning hom gemagtig het om verwoeste Jerusalem te herbou (Neh. 1:1-2:8). By die tempel het getroue Anna nag en dag “met vaste en gebede” heilige diens gelewer en is sy beloon deur teenwoordig te wees toe die baba Jesus daarheen gebring is (Luk. 2:36-38). Tydens die laaste nag van sy aardse lewe het Christus Jehovah gesmeek en is hy deur sy hemelse Vader versterk om die “beker” wat vir hom bestem was te drink.—Mat. 26:36-47.

12. Waarom kan Jehovah se knegte met vertroue tot hom bid wanneer hulle besorg is?

12 Dink ook aan die talle ander gebede wat in die Skrif opgeteken is—belydenis-gebede, lofprysing en danksegging. Vra dan: Moet Jehovah se hedendaagse knegte hulle nie ook in gebed tot hom wend wanneer hulle gelukkig, dankbaar, ontsteld of beangs is nie? Hulle moet beslis, vol vertroue dat hulle hemelse Vader hulle nederige, opregte versoeke en betuigings sal hoor.

13. Waarom kon die apostel Paulus mede-Christene aanspoor om “oor niks” besorg te wees nie?

13 Net voordat Paulus mede-Christene aangeraai het om hulle begeertes aan God bekend te maak, het die apostel hulle aangespoor: “Wees oor niks besorg nie” (Filip. 4:6). Toe hy dit doen, het hy die raad herhaal wat Jesus gegee het: “Moenie julle kwel oor jul lewe . . . nie” en “moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie” (Matt. 6:25; Mark. 13:11). Die apostel het geweet dat die hemelse Vader vir Sy aanbidders sou sorg en dat hulle die hulp van Jehovah se heilige gees sou geniet wanneer hulle enigiets gedoen het wat God se goedkeuring wegdra.

14. Wat is “versoeke” waar dit by gebed kom?

14 Met die wete dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is, kan ons wat vandag ’n godvrugtige lewe lei met vertroue ag slaan op Paulus se vermaning: “Maar laat julle begeertes [versoeke, NW] in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Ons gebede is dikwels “versoeke”. Dit wil sê, ons vra vir spesifieke dinge of rig bepaalde versoeke. Eliëser en Hanna was onder die getroue persone wie se bepaalde versoeke deur God toegestaan is, en Jesus het getoon dat dit behoorlik was om spesifiek te wees wanneer ’n mens versoeke tot God rig. Christus het byvoorbeeld vir sy dissipels gesê om vir die Vader te vra: “Gee ons elke dag ons daaglikse brood.”—Luk. 11:2, 3.

15. (a) Wat dui “smeking” aan waar dit by gebed kom? (b) Wat leer Hebreërs 5:7 ons omtrent die gebede van Jesus Christus?

15 Party sake kan groot sorg wek, en soms verg dit “smeking”. Hierdie uitdrukking beklemtoon behoefte en nederige, opregte afsmeking. Dit behels dus meer as om God bloot eerbiedig in algemene gebed aan te spreek. Soms is versoeke sowel as smekinge nodig. Ons lees: “In die dae van sy vlees het Christus met sterk geroep en trane smekinge en ook versoeke opgedra aan die Een wat hom uit die dood kon red, en hy is gunstig verhoor weens sy godvrugtige vrees” (Hebr. 5:7, NW). Omdat Jesus van onbetwisbare behoeftes bewus was, het hy hartgrondige smeekgebede gedoen en sy Vader opreg gesmeek. Daarbenewens het Christus versoeke tot Jehovah gerig deur spesifieke dinge te vra.—Joh. 17:9, 10, 15-21.

16. Watter uitwerking kan dit op ’n Christen hê wanneer sy gebede verhoor word?

16 Wanneer ’n Christen se spesifieke versoeke toegestaan word, en wanneer sy opregte smeekbede verhoor word, weet hy dat Jehovah met hom is. Hierdie besef van goddelike hulp kan ’n soortgelyke reaksie as die van Job ontlok. Nadat hy beproewing verduur het, het hy uitgeroep: “Volgens hoorsê het ek van U [Jehovah God] gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job 42:5). Net soos Job kan ons met die oog van begrip, geloof en waardering na Jehovah se handelinge met ons kyk en hom “sien” soos ons hom nog nooit tevore gesien het nie. Watter gemoedsrus spruit tog voort uit hierdie intiemheid met ons hemelse Vader!

“Met danksegging”

17. Waarom moet ons God in gebed dank?

17 Paulus het medegelowiges aangespoor om hulle versoeke aan God bekend te maak deur gebed en smeking “met danksegging” (Filip. 4:6). Daar bestaan voorwaar baie redes om die Allerhoogste te dank en te loof (1 Kron. 29:10-13). Jesus het vir sy volgelinge ’n voorbeeld gestel toe hy gedank het vir voedsel en vir die sinnebeeldige brood en wyn wat tydens die Here se Aandmaal gebruik is (Matt. 15:36; 26:26, 27; Luk. 22:19, 20). Benewens soortgelyke dankbetuigings aan God, moet ons ‘Jehovah loof’ om “sy wonderdade aan die mensekinders”, vir sy “regverdige verordeninge” en vir soveel ander dinge (Ps. 33:2-5; 92:2, 3; 100:4, 5; 107:1, 8, 15, 21, 31; 119:62). Hoe gepas om God te dank vir sy weergalose Woord van waarheid! En hoe dankbaar moet ons wees oor sy Seun se offerande wat versoening met Jehovah moontlik gemaak het!—Rom. 5:6-11.

18. Waarom het ons geen rede om deur sorge oorweldig te word wanneer ons die goddelike wil getrou doen nie?

18 “Liefhebbers van die HERE” kan hom ook dank omdat hy waarlik vir hulle sorg. Die apostel Petrus het geskryf: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet. 5:6, 7). Petrus sowel as Paulus het medegelowiges dus aangespoor om oor niks besorg te wees nie, maar om al hulle sorge aan Jehovah op te dra. En hoe gepas is daardie raad tog! Daar is absoluut niks wat die Allerhoogste nie kan doen of kan beheer ten behoewe van diegene wat heelhartig aan hom toegewy is nie (Mark. 10:27; 12:29, 30). Die getroues kan verduur wat God ook al toelaat, want hy gee hulle ‘krag vir alles’ (Filip. 4:13, NW; 1 Kor. 10:13). Die psalmis Dawid het dus met goeie rede gesê: “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer” (Ps. 37:5). Ja, doen die goddelike wil getrou en daar is geen rede vir paniek en oorweldigende besorgdheid nie. Daar bestaan eerder gegronde rede om innerlike vrede te hê, selfs te midde van verdrukking en beroering. Maar hoe groot is daardie vrede?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel