Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 1/15 bl. 17-22
  • “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Vrede wat “alle verstand te bowe gaan”
  • Harte en sinne word bewaar
  • Lewensbenodigdhede verseker
  • Die weg na ware sukses
  • “Vrede vir julle”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Wees oor niks besorg nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Kan jy vrede vind in hierdie veelbewoë wêreld?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 1/15 bl. 17-22

“Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”

“Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filip. 4:7.

1. Waarom het die apostel Paulus geweet dat godvresende persone geen rede het om hulle onnodig te bekommer nie?

DIE Christenapostel Paulus het uit ondervinding geweet dat godvresende persone geen rede het om hulle onnodig te bekommer nie, want Jehovah is met hulle. Paulus is in die tronk gestop, geslaan, gestenig, was dikwels in doodsgevaar en het baie gevare getrotseer, selfs onder valse broers. Maar God het hom nooit verlaat nie. Die apostel het hom voortdurend tot sy hemelse Vader gewend in ernstige gebed, sy sorge op hom gewerp en is nooit teleurgestel nie.—2 Kor. 4:7-9; 11:23-27.

2. Wat sal die gevolg wees indien mede-Christene ag sou slaan op Paulus se raad in Filippense hoofstuk vier, vers ses?

2 Dit was dus met die grootste vertroue dat Paulus mede-Christene aangespoor het om oor niks besorg te wees nie, maar om hulle versoeke aan God bekend te maak en alles na Hom te neem in gebed en smeking met danksegging. Wat sou die gevolg hiervan wees? Die apostel het voorts gesê: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filip. 4:6, 7.

’n Vrede wat “alle verstand te bowe gaan”

3. (a) Wat is die “vrede van God”? (b) Waarom het ons geen rede vir oorweldigende besorgdheid as ons Godgegewe vrede geniet nie?

3 Die “vrede van God” is ’n kalmte en rustigheid wat toegewyde getuies van Jehovah selfs te midde van die allermoeilikste omstandighede geniet. Dit spruit voort uit ’n intieme verhouding met ons Vader in die hemel. As persone wat sulke vrede van Jehovah besit, laat ons toe dat God se heilige gees ons aandryf en laat ons ons geredelik daardeur lei. Trouens, ons bid vir daardie gees, en vir sy vrug van vrede (Luk. 11:13; Gal. 5:22; Ef. 4:30). Ons het dus geen rede om deur besorgdheid oorweldig te word nie, want ons weet dat niks kan gebeur as goddelike voorsienigheid dit nie toelaat nie. (Vergelyk Handelinge 11:26, NW.) Jehovah laat inderdaad al sy knegte “in veiligheid woon”.—Ps. 4:9.

4, 5. (a) Watter soort vrede het persone wat nie Jehovah se Getuies is nie? (b) Hoe verskil die “vrede van God” van diegene wat Jehovah nie getrou dien nie?

4 Vergeleke met Jehovah se Getuies het baie mense groter geleerdheid of groter vermoë op sekere gebiede. Hulle het natuurlik probleme, maar hulle vertrou dat hulle geskikte oplossings sal kan uitdink. Hulle voel dus heeltemal veilig en is nie juis besorg oor hulle persoonlike toekoms nie. Dit lyk of hulle vrede geniet en betreklik rustig lewe. Die Skrif praat dan selfs van “die vrede van die goddelose”!—Ps. 73:3, NW.

5 Die “vrede van God” is egter heeltemal iets anders. Dit is nie gebaseer op selfvertroue en die beskouing dat menslike redenasies altyd welslae sal behaal nie. Paulus het gesê dat hierdie Godgegewe vrede “alle verstand te bowe gaan” of “alle begrip te bowe gaan”. Dit word ook genoem “die vrede van God, wat soveel groter is as wat ons kan verstaan” (Filip. 4:7, AB; The New American Standard Bible; New Testament; The Jerusalem Bible). Ja, diegene wat Jehovah getrou dien, besit ’n kalmte wat mense oor die algemeen nie besit of begryp nie.

6. (a) Wanneer word dit veral duidelik dat ons die “vrede van God” besit? (b) Het ons enige hulp terwyl ons wag dat Jehovah moet optree in ’n saak waaroor ons gebid het? (c) Is dit geestelik versterkend om ‘ons sorg op Jehovah te werp’, en waarom sê jy so?

6 Dit word veral duidelik of diegene wat aan Jehovah toegewy is waarlik die “vrede van God” besit wanneer dinge gebeur wat hulle diep raak maar waaroor hulle geen beheer het nie. Hulle is, menslik gesproke, nie in staat om sulke sorge die hoof te bied nie. Bevind ons ons soms in hierdie omstandighede? Hoe gepas tog dat ons dan ernstig bid, spesifieke versoeke rig en bepaalde bede om goddelike hulp of leiding doen! (Vergelyk Rigters 6:36-40.) Dan moet ons op Jehovah wag. Indien ons die “vrede van God” besit, kan ons intussen die hulp van Jehovah se gees aanvoel en kalm bly terwyl ons geduldig wag om te sien hoe die Allerhoogste die probleem gaan oplos. Daar is niks onverskilligs omtrent hierdie gesindheid nie, want die psalmis Dawid het gesê: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Ps. 55:23). Wanneer die probleem op hierdie wyse opgelos word en die toets tot die verlede behoort, sal ons weet dat die “God wat vrede gee” ons gebede verhoor het.—Rom. 15:33, NAB.

Harte en sinne word bewaar

7. (a) Wat dui “hart” dikwels in die Skrif aan? (b) Waarom sal ons nie ‘toornig wees op die kwaaddoeners’ as ons die “vrede van God” besit nie?

7 Paulus het gesê dat die “vrede van God” ‘ons harte en ons sinne sal bewaar’ (Filip. 4:7). Een Bybelvertaling noem hierdie vrede “’n garnisoen om julle harte en gedagtes te bewaak” (Weymouth). In die Skrif dui die “hart” dikwels die setel van gevoelens en beweegredes aan (Ex. 35:21, 26, 29; Ps. 119:11). Indien ons ons onnodig bekommer, kan dit ’n nadelige uitwerking op ons gevoelens en beweegredes hê en kan ons op ’n ongebalanseerde of onbehoorlike manier optree. Ons kan byvoorbeeld ‘toornig wees op die kwaaddoeners’ en dus van al ons kalmte beroof word. Maar dit sal nie gebeur indien ons die “vrede van God” besit nie, want dan sal ons weet dat Jehovah alles sien en mettertyd met hulle sal afreken (Ps. 37:1-11). Ons harte sal dus kalm bly en ons nie onbesonne laat optree nie. Dit is vir ons emosioneel, geestelik en selfs fisies goed, want “’n rustige hart is die lewe vir die vlees”.—Spr. 14:30.

8. (a) Wat is die verskil tussen “harte” en “sinne” in Filippense 4:7? (b) Waarom is dit onwaarskynlik dat ons ons geestelike balans sal verloor as ons die “vrede van God” besit? (c) Sal enigiets wat ons hemelse Vader toelaat ons permanente skade berokken?

8 “Sinne” is nie dieselfde as “harte” nie, hoewel daar ’n wisselwerking tussen hulle is. Terwyl die verstand oor informasie redeneer, spoor die hart ’n persoon aan. Om seker te maak dat ons ’n regte weg bewandel, moet ons dus kennis van God se Woord hê en biddend op hom vertrou. As ons verstande onnodig ontsteld is—as ons baie besorg is—kan ons nie verstandige besluite neem nie. Ons kan selfs ons geestelike ewewig verloor. Dit is egter onwaarskynlik indien ons die “vrede van God” besit, want dan sal ons harte in toom gehou word en sal ons verstande gerus wees. Ons glo waarlik dat ‘die hand van Jehovah met ons is’ en dat niks wat ons hemelse Vader toelaat ons permanente skade sal berokken nie (Matt. 10:28; Hand. 11:21). In plaas daarvan om besorg te wees en deur baie kwelgedagtes geteister te word, vertrou ons werklik op Jehovah en word ons “sinne” aldus bewaar. Hoe? “In Christus Jesus”, deur wie ’n intieme verhouding met die hemelse Vader moontlik gemaak is.—Gal. 1:3-5.

9. Het Paulus, alhoewel hy die “vrede van God” besit het, hoegenaamd geen hartgrondige besorgdheid gehad nie?

9 Paulus self het natuurlik geweet dat Christene nie heeltemal sonder hartgrondige besorgdheid is nie. Hy het erken dat mede-Jode se verwerping van die “goeie nuus” vir hom ’n ‘groot droefheid en ’n onophoudelike smart vir sy hart’ was. Die apostel was egter nie oorweldig deur besorgdheid nie en was tevrede om sake in God se hande te laat, want Hy tree regverdig op wanneer hy diegene kies oor wie Hy barmhartig wil wees (Rom. 9:1-18). Ondanks sterk gevoelens het Paulus dus die “vrede van God” sy hart en sinne laat bewaar.

10. Hoe sal Godgegewe vrede dus ons harte en sinne bewaar?

10 Net soos Paulus, wat onteenseglik baie besorg was, kan ons die “vrede van God” hê—daardie innerlike rustigheid en kalmte wat voortspruit uit ’n kosbare verhouding met Jehovah. Dit kan waarlik ons harte en sinne bewaar sodat ons ons nie onnodig oor ons behoeftes bekommer nie. Ons kan vol vertroue wees, ten volle verseker dat Jehovah vir sy knegte sorg en hulle gebede verhoor. In plaas daarvan om voortdurend in beroering te wees, sal ons harte en sinne gerus wees, want ons vertrou ons hemelse Vader volkome.—Ps. 33:20-22.

Lewensbenodigdhede verseker

11. Waarom moet ons ons nie onnodig oor die lewensbenodigdhede bekommer as ons die “vrede van God” besit nie?

11 Indien ons waarlik die “vrede van God” besit en daarvan oortuig is dat hy die “Hoorder van die gebed” is, sal ons sorge die hoof kan bied (Ps. 65:3). Ons sal altyd bewus wees van goddelike hulp, en dit verskaf groot gemoedsrus. Ons sal byvoorbeeld nie onnodig besorg wees oor lewensbenodigdhede nie. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.” Waarom moet ons ons nie daaroor bekommer nie? Omdat Jehovah, wat goed vir die voëls en die lelies sorg, beslis sy getroue knegte kan en sal voed en klee. Jesus het gesê: “Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; . . . Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Luk. 12:22-31). Ja waarlik, as ons geestelike belange eerste in die lewe stel, kan ons daarvan seker wees dat ons hemelse Vader vir ons sal sorg.

12. Watter Skriftuurlike voorbeeld toon waarom selfs diegene wat aan Jehovah toegewy is, moet oppas dat hulle nie te veel klem op materiële dinge lê nie?

12 Selfs indiwidue wat aan Jehovah toegewy is, moet oppas dat hulle nie te veel klem op materiële dinge lê nie. Omdat die land nie albei kon onderhou nie en om ’n einde te maak aan die twis tussen hulle veewagters, het Abraham byvoorbeeld sy neef Lot die geleentheid gebied om te kies waar hy wou woon. Lot het die beste deel van die land gekies, maar dit het beteken dat hy tussen oortreders moes woon. Mettertyd is hy gevange geneem en moes hy gered word (Gen. 13:1-14:16). Later was dit vir Lot nodig om sy materiële besittings te verlaat om sy lewe te red toe Jehovah Sodom vernietig het. En nog later het Lot verplig gevoel om die stad Soar te verlaat en in ’n grot te gaan woon (Gen. 19:1-26, 30-38). Alhoewel hy “regverdige Lot” genoem word, blyk dit dat hy op die “moeilike manier” geleer het hoe dwaas dit vir ’n godvresende persoon is om groot klem op vermeende materiële voordele te lê (2 Pet. 2:7, 8). Hoeveel beter is dit tog om vir spesifieke leiding te bid en altyd geestelike belange eerste in die lewe te stel!

13. Waarom moet Christene nie in angs en spanning oor die lewensbenodigdhede lewe nie?

13 Indien geestelike sake voorkeur in ons lewens geniet, sal dit tot ons gemoedsrus bydra. Ons kan beslis daarvan seker wees dat die Een aan wie al die goud en silwer behoort, ten volle daartoe in staat is om sy knegte van die lewensbenodigdhede te voorsien (Hag. 2:8). Dit is natuurlik reg om tot God te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, en dit is gepas om vlytig te werk om in ware behoeftes te voorsien (Spr. 6:6-11; 31:10, 13-24; Matt. 6:11). Maar ‘aangesien ons niks in die wêreld ingebring het en niks daaruit kan wegdra nie, moet ons vergenoeg wees met voedsel en klere’ (1 Tim. 6:6-12). Waarom in angs en spanning lewe? Die psalmis het reg gehad toe hy gesê het: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Ps. 37:25.

Die weg na ware sukses

14. Waarom is dit nie vir ons as Christengetuies gepas om groot klem op menslike prestasies en die vermeende sukses wat daarmee gepaard gaan te lê nie?

14 Dit is nie buitengewoon vir manne van die wêreld om vir hulself besorgdheid te skep deur groot klem op menslike prestasies te lê nie. Die Bybel staan natuurlik vlyt en die verkryging van vaardigheid in ’n mens se werk voor (Spr. 22:29). Maar blinde ambisie en groot besorgdheid oor vermeende sukses kan nie met die “vrede van God” versoen word nie. Trouens, die ambisieuse persoon se soeke na baasskap kan hom beweeg om verdagte metodes te gebruik, moontlik die pogings van medewerkers af te kam en ’n slinkse weg te bewandel wat goddelike misnoeë meebring (Spr. 3:32; 2 Kor. 4:1, 2). Die oordrewe ambisieuse persoon kan weliswaar die toejuiging van mense ontvang, net soos die skynheilige godsdiensleiers van 19 eeue gelede op so ’n wyse geskenke gegee, gebid en gevas het dat hulle lof kon ontvang. Maar Jesus Christus het hulle dade veroordeel en gesê dat daardie egosentriese geveinsdes “hulle beloning klaar weg” het (Matt. 6:1-18, NAB). Hoe dwaas sal dit vir enige van Jehovah se Getuies wees om homself sorge op die hals te haal met ’n poging om “groot” te wees, slegs om uit te vind dat hy ewige seëninge verbeur het!—Vergelyk Jeremia 45:5.

15. Wat kan ’n godvresende persoon uit Prediker 9:11 en 10:5-7 leer oor vermeende sukses?

15 Vir die persoon wat waarlik die “vrede van God” geniet, lei die weg tot ware sukses nie tot verdagte metodes en sinlose strewes nie. Uit die Skrif het hy geleer dat dit in die hedendaagse samelewing, wat net uit onvolmaakte en sondige mense bestaan, dit die geval is dat ‘die wedloop nie vir die vinniges, of die oorlog vir die helde, of die brood vir die wyse, of rykdom vir die slimmes of guns vir die verstandiges’ is nie (Pred. 9:11). Dit is waarlik so dat ‘dwaasheid op talle groot hoogtes gestel is’, en ’n mens kan ‘slawe te perd sien terwyl vorste soos slawe op die grond loop’ (Pred. 10:5-7). Ja, vorstelike of adellike indiwidue ontvang dalk nie die waardigheid wat hulle verdien nie terwyl slawe—manne wat baie minder bekwaam is—‘te perd’ is net soos die adel.

16. Waarvan hang godvrugtige sukses en prestasie af?

16 Is jy as ’t ware ‘op die rak gesit’ sodat jy nie die vermeende sukses geniet wat jy eens begeer het nie? Waarom jou daaroor bekommer? Laat die “vrede van God” in jou hart heers en ervaar die vertroostende rustigheid wat dit bring. Gaan voort om die goddelike wil te doen en wend jou tot jou hemelse Vader vir seën op jou pogings in sy diens. Dit is wat werklik in die lewe van belang is. Godvrugtige sukses en prestasie hang van geestelike doelwitte en standpunte af. Die psalmis het tereg gesê: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose . . . nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”—Ps. 1:1-3.

17. (a) Wat moet ons doen om die grootste sukses te geniet? (b) Wat kan jy doen om ander te help om “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” te geniet?

17 Ons kan geen groter sukses in die lewe behaal as om ’n intieme verhouding met Jehovah God te verkry en te behou nie. ’n Groot begeerte om hom te behaag, sal ons beweeg om hom met ons godvrugtige woorde en dade te vereer, om aan ons medemens goed te doen en “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” met hulle te deel (1 Tim. 1:11). As ons, met die seën van ons hemelse Vader, ander kan help om van sy wonderlike voornemens te leer en ook ’n kosbare, toegewyde verhouding met hom te verkry, sal ons groot vreugde smaak. Dan sal hulle net soos ons leer om die sorge van die lewe die hoof te bied. Hulle sal ook “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, geniet.

[Prent op bladsy 18]

Selfs in die allermoeilikste omstandighede kan die Christen die “vrede van God” geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel