Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/1 bl. 4-7
  • Wanneer kwellende probleme tot die verlede behoort

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer kwellende probleme tot die verlede behoort
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • POGINGS OM PROBLEME OP TE LOS
  • WAS KWELLENDE PROBLEME DEEL VAN GOD SE VOORNEME?
  • REDE EN OPLOSSING VIR WÊRELDWEË
  • WANNEER KWELLENDE PROBLEME VERDWYN HET
  • Werp al julle bekommernis op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Angstigheid
    Ontwaak!—2016
  • Werp al julle sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/1 bl. 4-7

Wanneer kwellende probleme tot die verlede behoort

ANGS word gedefinieer as ’n “gevoel van benoudheid wat ontstaan deur die gewaarwording van ’n dreigende of ’n vermeende gevaar”. ’n Baie beangste persoon ervaar dus benoudheid. En wie hou daarvan om benoud te wees?

POGINGS OM PROBLEME OP TE LOS

In ’n poging om die probleme van die lewe die hoof te bied, wend baie hulle tot susmiddels. Gedurende een onlangse jaar is daar byvoorbeeld net in die Verenigde State ongeveer 57 miljoen voorskrifte uitgevoer vir net een soort drogery—’n susmiddel. Daar is egter gevare wat ’n mens in aanmerking moet neem. In New York se Post van 26 April 1978 het Harriet Van Horne gesê: “Volgens die [Nasionale Instituut vir die Bekamping van Dwelmmisbruik] drink ongeveer 30 miljoen vroue susmiddels, en 16 miljoen drink barbiturate. Verlede jaar het 200 000 Amerikaners behandeling ondergaan om verslaafdheid te bowe te kom en hulle het almal drogerye gedrink wat vir hulle voorgeskryf is.” Probleme kan dus in werklikheid vergroot word tydens ’n poging om hulle die hoof te bied.

Party probeer om geld op te gaar in hulle soeke na vryheid van sorge. Nie lank gelede nie is ’n elektronikategnikus van Toronto deur advertensies in die versoeking gebring om sy huis te verkoop en die hele bedrag (R36 000) aan loterykaartjies te bestee. Hy het slegs R1 200 en twee reisbewyse gewen wat verval het die dag toe hy hulle gekry het. Dit is duidelik dat die begeerte om geld op te gaar probleme kan skep in plaas van oplos.

Besorgdheid oor die toekoms kwel baie persone. Daar is byvoorbeeld die immerdreigende gevaar dat swaar gewapende nasies eindelik hulle dodelike wapens met rampspoedige gevolge vir die mensdom sal gebruik. Die tydskrif To the Point International het in ’n hoofartikel gesê: “Die meeste Westerse militêre waarnemers neem dit as vanselfsprekend aan dat ’n konfrontasie tussen Ooste en Weste onvermydelik is. . . . Die uitwerking van ’n kernaanval deur die Sowjet-Unie op die vernaamste stede van die Verenigde State is tot in die fynste besonderhede bereken . . . Die teoretici praat van syfers wat die verstand laat stilstaan, soos ’n dodetol van 70 miljoen na ’n enkele vernietigende aanval.” Sulke woorde verlig beslis nie besorgdheid oor die toekoms nie.

En so gaan die lys voort. Probleme neem toe en duur voort, en elke indiwidu het ongetwyfeld sy eie bronne van probleme. Was die lewe veronderstel om so te wees?

WAS KWELLENDE PROBLEME DEEL VAN GOD SE VOORNEME?

Nee. Dit was nie Jehovah God se oorspronklike voorneme dat mense onder kwellende probleme gebuk moes gaan nie. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het dit nie moeilik gevind om die lewensbenodigdhede in die hande te kry nie. Die mensdom se eerste tuiste was immers ’n paradys waar voedsel volop was! Jehovah “het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet”. Die paradys kon dwarsoor die aarde uitgebrei word en die mens kon sondelose volmaaktheid, met die vooruitsig op ewige lewe in veiligheid en oorvloed aan sy afstammelinge oordra. Maar weens ongehoorsaamheid aan God het daardie eerste mensepaar die ewige lewe en alles wat daarmee gepaard sou gaan, verbeur.—Gen. 2:9, 16, 17; 3:1-7, 17-24.

Ondanks menslike sonde en onvolmaaktheid het God voorsiening vir die mensdom gemaak. Jehovah het beloof dat indien die eertydse volk Israel aan hom getrou was, hy hulle so ryklik sou seën dat die land so produktief sou wees dat die oestyd tot in die saaityd sou duur. (Lev. 26:3-5: vergelyk Amos 9:13.) Die apostel Paulus kon ook aan die inwoners van Listre sê: “God . . . het . . . Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul” (Hand. 14:15-17). Wat dit betref, het God hierdie aarde se weerkringlope so gereël dat daar ’n nimmereindigende voorraad goeie voedsel sou wees (Pred. 1:6, 7). Onder sulke omstandighede sal daar geen bekommernis oor lewensbenodigdhede wees nie.

Jehovah voorsien nie alleen oorvloedig in die behoeftes van sy knegte nie, maar hy is ook die Een “wat aan die verdruktes reg doen” (Ps. 146:7). Dit was nooit God se voorneme dat ‘die een mens oor die ander tot sy ongeluk moes heers nie’ (Pred. 8:9). Sou daar, indien God se wil op aarde geskied het net soos in die hemele, rede bestaan het vir bekommernis oor lewensbenodigdhede of oor die veiligheid en welsyn van diegene wat God liefhet? (Matt. 6:9, 10). Nee, beslis nie. Dit was nie Jehovah se voorneme dat mense onder kwellende probleme gebuk moes gaan nie.

REDE EN OPLOSSING VIR WÊRELDWEË

Jehovah God is nie die Bron van die probleme wat die mensdom kwel nie. Dit is eerder die gevolg van die ongehoorsaamheid van ons eerste mense-ouers, Adam en Eva. Omdat hulle aan God ongehoorsaam was, het hulle hulle oorspronklike intimiteit met hom asook hulle gerustheid verloor. Sondige Adam kon slegs sonde en onvolmaaktheid, saam met al die probleme wat menselewe bederf, aan sy afstammelinge nalaat (Rom. 5:12). Maar ’n geesskepsel, Satan die Duiwel, het agter al hierdie dinge gesit. Dit was hierdie “ou slang” wat die mens in die eerste plek oorreed het om te sondig.—Gen. 3:14, 15; Openb. 12:9.

Die Christenapostel Johannes het geskryf van ’n tyd wanneer Migael, of Jesus Christus, en sy engele die Duiwel en sy demonengele uit die hemel sou werp (Openb. 12:7-9). Toe het die apostel ’n harde stem in die hemel gehoor wat onder meer gesê het: “Wees verheug, o hemele en die wat daarin woon: wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openb. 12:12.

Ja, daar bestaan rede vir benoudheid en wêreldweë. Maar is daar ’n oplossing? Inderdaad! Ons word in die Skrif verseker: “Die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle!”—Rom. 16:20.

WANNEER KWELLENDE PROBLEME VERDWYN HET

Jehovah God is dus volkome daartoe in staat om van kwellende probleme ontslae te raak, en hy gaan dit beslis doen. Die apostel Petrus het mede-Christene negentien eeue gelede vermaan om “die dag van die Here” in gedagte te hou. Ons moet ook vertroue hê in die vervulling van die apostel se daaropvolgende woorde: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” Ons moet inderdaad wandel in ooreenstemming met die besef dat die “dag van die Here” naby, “voor die deur”, is en ons moet daarvoor gereed wees, want dit sal die verwydering van die huidige goddelose stelsel van dinge beteken. Dit sal vervang word deur die wonderlike nuwe orde wat God beloof het.—2 Pet. 3:10-13; Matt. 24:33, 34; Luk. 21:34-36.

Daardie nuwe stelsel van dinge sal droefheid, benoudheid en teisterende probleme oorwin. Watter seëninge sal die gehoorsame mensdom dan tog deur middel van God se hemelse koninkryk in die hande van die Messiaanse Koning Jesus Christus ontvang!

Toe Jesus ’n man op aarde was, het hy twee keer brood en visse vermeerder om duisende te voed. En daar het oorgebly (Mark. 6:37-44; 8:1-9). Daar sal dus geen sorge oor voedsel en drank onder die Koninkryksbewind bestaan nie.

Wat van klere? Daar bestaan ook geen rede om daaroor besorg te wees nie. Jesus het immers vir sy dissipels gesê: “Wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Matt. 6:28-30). Die antwoord is voor-die-hand-liggend. God kan dit doen—en hy sal, in die nuwe stelsel wat hy belowe het.

Sal die verskaffing van voldoende huisvesting dan ’n probleem wees? Nie vir Jehovah God, wat ’n paradystuiste vir ons eerste ouers voorberei het nie. Hy kan beslis gepaste wonings voorsien vir diegene wat op hom vertrou. En die bewoners van die aarde in die nuwe stelsel sal beslis nie minder geniet as wat eenkeer vir God se volk voorspel is nie: “Hulle sal huise bou en bewoon, . . . hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie” (Jes. 65:21, 22). Daar sal geen rede vir besorgdheid oor behuising bestaan wanneer God se wil dwarsoor die aarde geskied nie.

Wat van swak gesondheid, ’n bron van groot angs vir baie? Wel, God se Woord verseker ons daarvan dat Jehovah kwale kan wegneem (Deut. 7:15). Volgens een Evangelieverslag het God se Seun, Jesus Christus, “almal wat ongesteld was . . . gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.” (Matt. 8:16, 17; vergelyk Jesaja 53:4.) Daar bestaan dus geen rede vir onnodige bekommernis oor die verwydering van krankhede onder Koninkryksbewind nie.

Maar Jesus het nie alleen talle genesings verrig nie; hy was ook in staat om die benoudheid as gevolg van die dood te verdryf. Hoe? Deur persone op te wek. Dink byvoorbeeld aan die verligting van bekommernis en smart wat ervaar is toe hy die seun van die weduwee van Nain opgewek het (Luk. 7:11-17). En hoeveel vreugde het tog nie geheers toe Jesus sy vriend Lasarus van Betanië opgewek het nie! (Joh. 11:1, 30-44). Toe hy op aarde was, het Christus die versekering gegee dat ‘diegene in die grafte sy stem sal hoor en sal uitgaan’ (Joh. 5:28, 29). Daardie belofte sal vir seker vervul word, aangesien Jesus die dode kon opwek toe hy op aarde was.—Hand. 24:15.

Die “dag van die Here” sal goddeloosheid en groot probleme ten einde bring. Wat ’n seën sal dit tog wees! Hoe wonderlik sal dit tog wees om te lewe wanneer daar geen bekommernis oor voedsel, klere en huisvesting bestaan nie, wanneer siekte vervang is deur blakende gesondheid, en wanneer opstandings die mensdom se opmars na die dood vervang het! Dit sal voorwaar aangenaam wees om te lewe wanneer kwellende probleme tot die verlede behoort.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel