Wie weet raad met die probleme van die lewe?
“WAAROM kan die slimste manne van alle lande nie die koppe bymekaar steek en hulle verstande gebruik om dit ’n vreedsame wêreld te maak nie? Waarom moet daar voortdurend oral probleme en spanning wees?” Hierdie vrae het ’n bekende aktrise gekwel. En heel waarskynlik het baie ander soortgelyke gedagtes. Vir mense oor die algemeen lyk dit of die lewe vol verwarrende vrae is en dat daar ’n magdom probleme bestaan.
Niemand hoef vir jou te vertel dat die mensdom met ontsaglike probleme te kampe het nie. Die lewensduurte skiet die hoogte in. Gesinsverbrokkeling gee aanleiding tot al hoe meer egskeidings, gebroke gesinne en bring mee dat ouers ’n mate van beheer oor hulle kinders verloor. Menigtes sukkel met swak gesondheid, terwyl ander ly weens ’n skaarste aan voedsel, goedere en energie. En mense dwarsoor die aarde is rusteloos, beangs en besorg oor die toekoms.
Dink byvoorbeeld aan die lewensduurte. Gedurende 1979 was die inflasiekoers 172,6 persent in Argentinië, 32,4 persent in die Filippyne en 27,5 persent in Griekeland (U.S. News & World Report, 1 Okt. 1979). Besorgdheid oor die verkryging van lewensbenodigdhede onder sulke omstandighede is te verstane.
Wat van gebroke gesinne? In die Verenigde State eindig een uit elke drie huwelike in ’n egskeiding. Die situasie in Rusland is soortgelyk, want die tydskrif Soviet Life het erken: “Gemiddeld elke derde huwelik word amptelik ontbind.” Die hedendaagse ineenstorting van gesinslewe veroorsaak beslis baie probleme.
Geen goed ingeligte persoon sal ontken dat mense in baie dele van die aarde te kampe het met tekorte aan voedsel en goedere nie. En energieprobleme kom dwarsoor die wêreld voor. Voeg hierby die ophoping van kernwapens, en daar bestaan goeie rede om besorg te wees oor die toekoms. Gevolglik vra jy moontlik: Wie weet raad met die probleme van die lewe?