Psalms
hoe kan jy geluk vind?
DIE beroemde Engelse regsgeleerde Blackstone het gesê dat God se wette van geregtigheid so onafskeidelik met die geluk van elke indiwidu deureengeweef is, dat geluk nie gevind kan word as goddelike wette nie gehoorsaam word nie. Dit is redelik. want die mens se Maker se hoofeienskap is liefde en gevolglik is al sy wette gemaak om die welsyn van sy intelligente skepsele te bevorder.
Dit is waarom ware geluk in elke aspek van die lewe van ’n heilsame vrees vir die allerhoogste God afhang. Dit word beklemtoon in Psalm 128, waar ons lees: “Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy wee wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees. Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel!”—Ve. 1-6.
’n Behoorlike agting vir die Skepper word getoon as ’n persoon in Sy weë wandel, hom skik na die weg wat Hy uiteensit, Sy gebooie bewaar. Wanneer mense God se wet gehoorsaam, verkwis hulle nie hulle middele nie, maar behartig hulle hulle sake verstandig en lewer hulle goeie werk van hoë gehalte. Met God se seën geniet hulle dus die voorsienings waarvoor hulle werk en is hulle waarlik gelukkig en veilig.
Die vrou van ’n man wat God vrees, word vergelyk met ’n vrugbare wingerdstok. Waarom? ’n Wingerdstok het die een of ander ondersteuning, byvoorbeeld ’n paal, nodig. Daar sy baat vind by die goeie ondersteuning van haar man en deur die moeder van sy kinders te wees, is die vrou soos ’n vrugbare wingerdstok wat gelukkig en tevrede is om haar pligte binne-in die huis na te kom.
Die seuns van die gelukkige egpaar word met olyfboompies vergelyk. Stiggies wat van ’n volwasse boom afgesny word, word dikwels gebruik om nuwe bome te kweek. ’n Ou boom kan ook lote van sy wortels af uitstoot en homself so voortplant. Net soos sulke olyfboompies omring die seuns die vader en dra hulle hulle deel tot die geluk van die gesin by.
Toe hierdie psalm geskrywe is, was die heilige verbondsark, wat God se teenwoordigheid voorgestel het, op die berg Sion gehuisves. Aangesien die Allerhoogste in ’n verteenwoordigende sin daar gewoon het, kon daar gesê word dat alle seëninge vanuit Sion of Jerusalem kom. Aangesien Jerusalem die sentrum van ware aanbidding was, was die welsyn van indiwiduele Israeliete nou verbonde aan die voorspoed van Jerusalem. Dit was dus vir die indiwidu voordelig om die voorspoed van Jerusalem al die dae van sy lewe te aanskou—’n lang lewe wat hom in staat sou stel om sy kindskinders te sien.
Die geluk wat verkry kon word deur aan God se wet gehoorsaam te wees, was nie tot indiwiduele Israeliete beperk nie. Dit kon deur die hele nasie geniet word indien hulle gehoorsaam was. Die psalmis sluit dus gepas met die bede: “Vrede oor Israel” (Ps. 128:6). Ja, mag God se volk te alle tye vrede en veiligheid geniet.
Indien jy smag na die soort geluk waarna daar in Psalm 128 verwys word, moet jy die Bybel deeglik ondersoek en jouself deur die rigsnoere daarvan laat lei. Stel deur persoonlike ondervinding vas dat ware geluk voortspruit uit gehoorsaamheid aan God se wet.