Haar gebed is verhoor
Die Bybel lewer getuienis dat engele diegene rig wat die “evangelie” verkondig (Hand. 8:26-38; Openb. 14:6, 7). Dit is dus gepas dat getuies van Jehovah tot hom bid vir hulp en welslae in hulle predikingswerk. In hierdie verband berig ’n Christin in Trinidad:
“Dit was koud en het gereën toe ek my huis daardie oggend verlaat het om die groep vir velddiens te ontmoet. My gemoedstoestand het by die weer gepas, daar ek effens terneergedruk gevoel het. . . . Toe ek en my metgesel vertrek, het ek in my hart tot Jehovah gebid dat ek iemand moes ontmoet wat die Bybel waarlik graag wil bestudeer. Ek het nog gebid toe ons by die eerste hek kom. Ons het aangeklop, en ’n jong vrou het die deur oopgemaak en ons binnegenooi.”
’n Bybelbespreking het gevolg en die jong vrou is genooi om ’n Christenvergadering by te woon. Sy het dit gedoen en ook die tuis-Bybelstudie aanvaar wat die Getuie vir haar gereël het. Omdat sy graag die goeie dinge wat sy geleer het vir ander wou leer, het sy begin om ’n studie saam met haar moeder en ’n vriendin te hou. Die jong vrou het geestelik vinnig gevorder en is gedoop om haar toewyding aan Jehovah God te simboliseer.
Die Getuie sê van hierdie ondervinding: “Ek dink dikwels terug aan hoe ek daardie reënerige oggend gevoel het, en ek dank Jehovah dat hy my gebed om iemand te ontmoet wat die Bybel waarlik graag wil bestudeer, verhoor het.”
Ja, Jehovah se Getuies neem hulle deelname aan die verkondiging van die “evangelie” ernstig op en bid altyd tot God vir sy leiding en seën op daardie werk. Wil jy graag die waarheid van God se Woord leer? Moet dan nie aarsel om jou wens uit te spreek wanneer ’n Getuie weer by jou deur aanklop nie.