Die dinge wat die nasies offer, offer hulle aan duiwels’
HOE die apostel Paulus aan Christene in die berugte stad Korinthe geskrywe het, het hy die waarskuwing gerig “dat die heidene [nie-Joodse nasies] wat . . . offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor. 10:20). Hoe kan Christene van die twintigste eeu by hierdie waarskuwing baat vind? Kan ons inderdaad ‘met die duiwels gemeenskap hou’ sonder om diere-offers te bring? Wat is die beginsel agter die apostel se woorde?
OFFERANDES VAN DIE VERLEDE
In die ou tyd het baie mense offerandes aan hulle gode gebring. Dit was ’n daad van toewyding, selfs liefde, van hulle kant. Deur sy offer wou die een wat die offer gebring het die god wat hy aanbid het, behaag of paai.
As ’n onberouvolle sondaar het die eerste man, Adam, nooit ’n offerande aan God gebring nie. Die eerste offerandes wat in die Bybel gemeld word, is die van Adam se seuns Abel en Kain. Kain se offer het uit “die vrugte van die land” bestaan, terwyl Abel “van die eersgeborenes van sy kleinvee” geoffer het. “Die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien”, word ons meegedeel, “maar Kain en sy offer nie aangesien nie.”—Gen. 4:3-5.
Jehovah, wat die hart kan lees, het Kain se offer verwerp as ’n formalistiese offer sonder enige geloof as grondslag. Sy offer sou die indiwidu wat dit bring, verhoog in plaas van liefde aan die Goddelike Wese betoon. Dit was vir Jehovah duidelik dat Kain nie sy Maker probeer nader het om in ’n behoorlike, intieme verhouding met Hom te kom nie. Abel se bedoelings was egter net die teenoorgestelde.
Toe Paulus aan die Hebreeuse Christene geskryf het, het hy daarop gewys dat Abel se offer die produk van geloof was. Abel het waarskynlik geleer en onthou wat Jehovah vir die slang gesê het terwyl ons eerste ouers nog in die tuin van Eden was: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Gen. 3:15). Abel het ongetwyfeld daardie woorde ontleed en het vas geglo dat iemand sy bloed sou moes vergiet of ‘in die hakskeen gebyt’ sou moes word sodat die mensdom weer verhef kon word tot die volmaaktheid wat Adam en Eva voor hulle opstand geniet het.
Later kon nasies wat Jehovah nie aanbid het nie van ‘’n beloofde saad’ gehoor het. In klassieke Griekse geskrifte lees ’n mens van die waarde van ’n god se bloed wat vergiet kon word om die mensdom los te koop. En wie het nog nie gehoor van die mitiese held Achilles met die onsterflike liggaam maar, helaas, die kwesbare hakskeen nie? Mettertyd het ware sowel as valse aanbidders dus offers gebring, eersgenoemde aan God en laasgenoemde aan sogenaamde gode.
Onmiddellik nadat hy in die jaar 2370 v.G.J. uit die ark gekom het, het Noag sy opregte dank vir die verlossing betoon. Hy het dit gedoen deur ’n altaar te bou en offers daarop aan Jehovah te offer (Gen. 8:20, 21). Daarna was offerandes ’n manier waarop ’n persoon getoon het dat hy ’n verhouding met God het en van Hom afhanklik is. Later het dit die gebruik geword dat die manlike gesinshoof as priester optree.—Gen. 31:54; Job 1:5.
Mettertyd was die opoffering van rein diere ’n onontbeerlike deel van Jehovah se aanbidding soos dit deur die Israeliete beoefen is. Hierdie offerandes het die offerande van Jesus se lewe om die hele gehoorsame mensdom te red, afgebeeld. Net soos Adam, die voorvader van die mensdom, onvolmaaktheid en die dood aan sy afstammelinge oorgedra het, sou “die laaste Adam”, Jesus Christus, uiteindelik sy volmaakte lewe gee as losprys vir allerhande mense.—Matt. 20:28; Rom. 5:12; 6:23; 1 Kor. 15:22, 45.
Die talle soorte offerandes wat gebring is onder die wet wat deur middel van Moses aan die Israeliete gegee is, was dank-, vredes- of gemeenskapsoffers. In die geval van hierdie offer het Jehovah die behaaglike rook van die brandende vet gekry en het die dienende priester, asook ander priesters wat op diens was, ’n keurige deel van die dier ontvang. Die aanbidder en sy gesin het die slagoffer in die voorhof van die tempel geëet waar eetsale voorsien is. Dit was inderdaad ’n gemeenskapsoffer. Jehovah het hierdie gemeenskap of verhouding met die een wat die offer gebring het as ’n baie ernstige saak beskou, só ernstig dat die persoon wat daarvan geëet het terwyl hy volgens die voorskrifte van die Wet onrein was, met die dood gestraf is.—Lev. 7:20, 21; 19:5-8.
Dit blyk uit die apostel Paulus se woorde dat heidense priesters diereslagoffers geëet het. En so ook die indiwidue wat hierdie offers aan valse gode geoffer het. Maar die apostel het medegelowiges gewaarsku: “Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here [’n daad wat vrede met God aandui omdat hulle aan die Here se Aandmaal deelneem] en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?”—1 Kor. 10:18-22.
Toe die Mosaïese wet van krag was, kon ’n persoon tussen ware en valse aanbidding onderskei. Hy kon redeneer dat indien die offerande nie deur een van die Aäronitiese priesters by Jerusalem se tempel geoffer is nie, so ’n offerande outomaties nie vir God aanneemlik was nie (Deut. 12:5-7; 26:2, 3). Maar vandag offer ’n Aäronitiese priesterdom nie slagoffers in Jerusalem of enige ander plek nie. Sulke offerandes is deur Jesus se offerande vervul en uit die weg geruim (Kol. 2:13, 14; Hebr. 7:12). Waarvoor moet ons dus vandag op ons hoede wees sodat ons nie met die duiwels gemeenskap hou nie?
ONS MOET VANDAG OP ONS HOEDE WEES
Offerandes getuig van toewyding aan ’n hoëre mag of godheid. Vandag hou dit dus verband met ons gedrag, ons optrede, ons denke en dade. Paulus het getoon dat “die god van hierdie wêreld” niemand anders as Satan die Duiwel, die hoofduiwel, is nie (2 Kor. 4:4). Dit is dus logies dat Christene nie deel kan wees van hierdie stelsel waaroor hy heers nie. Anders sal ons gemeenskap met hom hê en deur hom gebruik word (Jak. 4:4). Baie dinge wat deur die mense van hierdie stelsel gedoen word, is strydig met Jehovah se wil en weë, en as ’n mens aan hierdie gebruike meedoen, sal dit beteken dat jy met, die duiwels gemeenskap het in oortreding. Dink maar aan die talle aspekte van valse godsdiens, nasionalisme, materialisme, die aanbidding van vermaaklikheids- en sportsterre, ensovoorts.
Ware Christene is ‘nie van die wêreld nie’ (Joh. 15:19). Hulle lewe in hierdie stelsel van dinge, maar behoort nie daaraan nie. Hulle het uit sy valse godsdiensryk gekom (Openb. 18:4). Hierdie stelsel se godsdiens, politiek, ambisies, materialistiese begeertes, verwagtings en dies meer was eens ’n deel van ons lewens. In die verlede het party van ons vir hierdie stelsel geveg, dit probeer hervorm, dit probeer verewig. Maar nou sien ons hoe tevergeefs ons opregte pogings van die verlede was. Toe ons ons steun gegee het aan hierdie stelsel van dinge, wat in stryd met Jehovah se wil en weë is, was ons in God se oë dood. Maar Jehovah het barmhartigheid aan ons betoon. Hy het vir ons die uitweg getoon. Ja, hy het Christus se gesalfde volgelinge geestelik lewend gemaak. Paulus beskryf dit in Efesiërs 2:1-6.
Laat ons onthou dat eertydse Israel ’n nasie was wat van alle ander nasies verskil het. Hulle het Jehovah as hulle God, ’n unieke plek van aanbidding, ’n priesterdom en ’n wet gehad. Daardie wet het nie alleen vir God se volk getoon hoe om sedelik en geestelik rein te wees nie, maar het hulle ook verbied om verbintenisse met die ander nasies aan te gaan en by hulle gebruike betrokke te raak.—Deut. 18:9-13.
Jehovah se knegte van vandag verskil van die nasies van hierdie wêreld. Hierdie Christene het Jehovah as hulle God, asook hulle eie vorm van aanbidding wat op sy Woord gebaseer is. Hulle aanvaar die Bybel as God se boek en gehoorsaam die gebooie daarin. Een van die Bybel se bevele is: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Joh. 2:15-17.
Slegs wanneer ons begryp wat dit beteken om geen deel van hierdie wêreld te wees nie, kan ons Paulus se woorde aan die Korinthiërs verstaan: “Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor. 10:20). Geseënd is diegene wat vandag ’n rein posisie voor Jehovah en sy Seun bewaar en nie ‘met die duiwels gemeenskap hou nie’.