Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 2/15 bl. 16-21
  • God se belofte oor sy wêreldregering is betroubaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se belofte oor sy wêreldregering is betroubaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE KOMENDE WÊRELDHEERSER BELOOF
  • DIE BETROUBAARHEID VAN DIE GODDELIKE BELOFTE
  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 10—2 Samuel
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bybelboek nommer 24—Jeremia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 2/15 bl. 16-21

God se belofte oor sy wêreldregering is betroubaar

“So spreek die HERE: AS julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie.”—Jer. 33:20, 21.

1. In watter opsig het koning Dawid se vorstehuis ’n ongeëwenaarde reputasie?

HIERDIE wêreld het nog nooit so iets gesien nie! Wat? ’n Reeks konings in een familie wat 470 jaar lank geregeer het en dan, na ’n onderbreking van 2 520 jaar, weer volle koninklike mag aangeneem het. Die familie met so ’n ongeëwenaarde reputasie was die van koning Dawid van Jerusalem, die beroemde voorvader van Jesus Christus, wat in Dawid se eie geboorteplek, Betlehem, gebore is.

2. Waar was Jeremia in 608 v.G.J. tydens die bewind van die laaste koning van Dawid se aardse geslag, en wie alleen kon gebruik word om die heerskappy van Dawid se geslag te laat herleef?

2 Dawid het in 1077 voor ons Gewone Jaartelling oor sy volk begin regeer. Maar toe die profeet Jeremia in 647 v.G.J. met sy onstuimige loopbaan begin het, het Dawid se aardse geslag konings sy laaste 40 jaar van bewind te Jerusalem betree. Jeremia was ’n getroue ondersteuner van God se plegtige verbondsbelofte aan Dawid vir ’n ewige koninkryk. Maar in die jaar 608 v.G.J. het Jeremia homself onder militêre bewaking in die koninklike hoofstad bevind. Hy is aangehou reg in die Voorhof van Bewaking teenaan die paleis van koning Sedekia, die 21ste koning in Dawid se geslag, as ons Dawid inreken. Toe Sedekia in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs onttroon is, het die 470 jaar van ononderbroke bewind deur Dawid se geslag in Hebron en aardse Jerusalem ten einde geloop. Slegs Jesus Christus, die voorspelde afstammeling van Dawid, kon deur God gebruik word om Dawid se koninkryk te laat herleef ter vervulling van God se verbond met hom vir ’n onverganklike koninkryk.

3. Wie het van buite af met Jeremia gekommunikeer terwyl hy onder militêre bewaking was, en hoe is daar ’n tweede keer op hierdie wyse met hom gekommunikeer?

3 Terwyl die profeet Jeremia onder militêre bewaking was, kon hy nie kommunikeer met die Babiloniërs wat Jerusalem beleër het nie, maar hy het met sy God gekommunikeer, soos ons lees: “Verder het die woord van die HERE vir die tweede keer tot Jeremia gekom, terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking, en gesê: So spreek die HERE wat dit doen, die HERE wat dit formeer om dit te bevestig, [Jehovah] is sy Naam: Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”—Jer. 33:1-3.

4. Wat was die “groot en ondeurgrondelike dinge” wat toe uiteengesit is?

4 Watter dinge? Dat die kruinstad Jerusalem met die grond gelykgemaak sou word en dat dit dan, nadat dit 70 jaar lank woes gelê het, herbou sou word. En dit was nie al nie. Dit sou weer bewoon word deur sy eie volk wat in ballingskap weggevoer is oor ’n roete van 1 600 kilometer! Selfs al sou die koninklike geslag van Dawid nie weer die aardse troon beklee nie, sou dit 639 jaar lank voortbestaan, tot 33 G.J., die tyd vir die verskyning van die permanente erfgenaam van die troon wat vir ewig sou regeer. Daardie Erfgenaam was Jesus Christus!—Kol. 1:13.

5. Wat het Jehovah God aangaande die destyds beleërde stad Jerusalem beloof?

5 Slegs die Maker en die Formeerder van die aarde, die God wat al die aangeleenthede daarvan beheer, kon sulke dinge voorsien en beloof. En hy het. Ondanks al die somber beskouings wat waarnemers oor die uitslag vir die dinastie van Dawid kon huldig, kon slegs hierdie Jehovah Jeremia inspireer om te sê:

“Want so sê die HERE, die God van Israel, met betrekking tot die huise van hierdie stad en die huise van die konings van Juda wat omgegooi is as verdediging teen die walle en die swaard—hulle kom wel om te veg teen die [beleërende] Chaldeërs, maar dit is om dié huise te vul met die lyke van mense wat Ek verslaan het in my toorn en in my grimmigheid en oor al die boosheid van diegene om wie Ek my aangesig vir hierdie stad verberg het. Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ’n oorvloed van duursame vrede. En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. En die stad [Jerusalem] sal vir My wees ’n vreugdevolle roem, ’n lof en ’n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle [die gevangenes] doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan [Jerusalem] bewys.”—Jer. 33:4-9.

6. Watter uitwerking sou Jerusalem se genesing nadat Jehovah se toorn en grimmigheid op haar uitgestort is op die nasies hê, en waarom?

6 Deur middel van die wêreldverowerende Babiloniërs het Jehovah God al sy toorn en grimmigheid op die stede van die Koninkryk van Juda uitgestort. En tereg ook, want die Jode het sy gebooie oortree en die verbond wat met hulle voorvaders gesluit is, verbreek. Jerusalem sou dus vernietig word en haar oorlewendes sou na Babilon weggevoer word en die land sou sonder mens en dier gelaat word. Slegs die onverdiende goedheid van Jehovah kon en sou Jerusalem se genesing en gesondmaking as ’n herboude stad bewerkstellig. Jehovah se genesing van haar wond sou vir die nie-Joodse nasies so onverwags en onverstaanbaar wees, dat hulle met vrees gevul sou word vir so ’n God wat wonders verrig. Die gevolge wat dit vir hierdie nasies kon inhou, sou hulle verontrus.

7. Watter aspekte van gewone Israelitiese lewe sou weer in die eens ontvolkte lande van Juda en Benjamin en Jerusalem aangetref word?

7 Hoewel Jerusalem 70 jaar lank ’n verlate woesteny sou wees, het Jeremia, die profeet van hierdie God wat wonders verrig, nie van onmoontlike dinge gepraat toe hy voorspel het wat tydens haar beleëring gesê sou word nie:

“So spreek die HERE: In hierdie plek waarvan julle sê: Dit is woes, sonder mens en sonder dier—in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mens en sonder inwoner en sonder dier, sal weer gehoor word die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: Loof die HERE van die leërskare, want die HERE is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid!—van die wat ’n lofoffer bring in die huis van die HERE; want Ek sal die lot van die land verander soos tevore, sê die HERE.

“In die stede van die Gebergte, in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland en in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die HERE.”—Jer. 33:10-13.

DIE KOMENDE WÊRELDHEERSER BELOOF

8. Het Jerusalem se genesing in 537 v.G.J. die herstelling van die koninkryk in die geslag van Dawid meegebring, en wat het nog voorgelê?

8 Jerusalem se genesing het in 537 v.G.J. begin, maar sy het nie toe ’n koning van die vorstehuis van Dawid gekry nie. Sy het slegs ’n provinsiale goewerneur in Dawid se geslag gekry. Hierdie goewerneur was onderworpe aan die ryk van die Meders en die Perse, die veroweraars van die Babiloniese Wêreldmoondheid. Wat dan van Jehovah se verbond wat hy met koning Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk in Dawid se nageslag? Ondanks die tydelike vernedering van Dawid se vorstehuis op daardie tydstip, het Jehovah se Koninkryksverbond gewaarborg dat die glorierykste tydperk vir Dawid se vorstehuis nog voorgelê het.

9, 10. Wat het Jehovah beloof om uit die vernederde vorstehuis van Dawid voort te bring om dit moontlik te maak?

9 Hoe dankbaar kan ons vandag daaroor wees! Waarom? Wel, Dawid se koninklike stamboom was afgekap, maar die onderstam was nie dood nie. Die almagtige God kon dit ’n “Spruit” laat voortbring wat die Permanente Erfgenaam van die beloofde koninkryk sou word. Kom ons luister hierna:

10 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda [waaraan Dawid behoort het]. In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ’n Spruit van geregtigheid [regverdige spruit, NW] laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. In dié dae sal Juda [Dawid se stam] verlos word en Jerusalem veilig woon [na haar beloofde genesing]; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” Dit is dieselfde naam wat haar toekomstige Koning sou hê.—Jer. 33:14-16; vergelyk Jeremia 23:4-6.

11. Wie was die beloofde “Spruit”, en hoe was hy in 1914 G.J. in werklikheid die “Spruit” van Jehovah?

11 Was hierdie belofte in verband met wêreldregering betroubaar? Ja! Alhoewel meer as 640 jaar sou moes verstryk, het die onderstam van Dawid se onttroonde, ontkroonde geslag wat van hulle septer beroof is, reg op Jehovah se bestemde tyd ’n spruit voortgebring. Dit was in die persoon van Jesus, wat in Dawid se tuisdorp Betlehem gebore is en wat deur sy voorloper, Johannes die Doper, gedoop is en wat onmiddellik met God se gees gesalf is om die Permanente Erfgenaam te wees van die Koninkryksverbond wat met Dawid gesluit is (2 Sam. 7:4-16; Eseg. 21:21-27). Hy het in werklikheid die “Spruit” van die Soewereine Heer Jehovah geword, want na die einde van die “sewe tydperke” (2 520 jaar) van Heidense soewereiniteit oor die aarde, is die verheerlikte Jesus Christus in 1914 G.J. gebruik om Jehovah se soewereiniteit ten opsigte van die aarde te laat herleef ter vervulling van die Koninkryksverbond.—Dan. 4:13-26; Sag. 6:12, 13.

12. (a) Hoe is daar bewys dat Jesus Christus ’n “regverdige” spruit was? (b) Wie se “Here” het hy geword, en hoe is verlossing vir “Juda” en “Jerusalem” moontlik gemaak?

12 Jehovah God het bewys dat hierdie “Spruit” “regverdig” was toe hy Jesus Christus op die derde dag na ’n marteldood opgewek het en hom tot aan Sy regterhand in die hemele verhef het. Sodoende het Jesus Christus, wat eens ’n aardse ‘seun van Dawid’ was, Dawid se “Here” geword (Ps. 110:1-4; Matt. 22:41-45). Toe hy na sy hemelse Vader se regterhand opgevaar het, was dit met die waarde van sy volmaakte mense-offer. Aldus kon hy “Juda”, waarvan “Jerusalem” die hoofstad was, verlos. Jesus het dus gewis die koningskap van Dawid se vorstehuis weer eens laat uitspruit!—Openb. 22:16.

13. (a) Watter Jerusalem woon nou veilig? (b) Na wie se “geregtigheid” verwys die naam “Die HERE ons geregtigheid”, en waarom is dieselfde naam ook tereg van toepassing op die een wat die “Spruit” genoem word?

13 Jesus Christus word genoem “die Leeu wat uit die stam van Juda is” (Openb. 5:5). Omdat aardse Jerusalem hierdie ‘Leeu van die stam van Juda’ verwerp en laat doodmaak het, het sy nie ‘veilig’ gewoon nie, maar is sy in 70 G.J. vernietig (Matt. 23:37, 38; Luk. 21:24). Maar die hoër Jerusalem, “hemelse Jerusalem”, geniet sulke veiligheid, want haar geestelike kinders, die 144 000 gesalfde volgelinge van Jesus Christus, woon veilig onder Jehovah se sorg (Hebr. 12:22; Gal. 4:26-28). Hierdie “Jerusalem daarbo” is eintlik die organisasie wat genoem word “Die HERE ons geregtigheid”. Aangesien dit ’n geval is van “ons geregtigheid” en nie ‘my geregtigheid’ nie, slaan dit op die 144 000 geestelike kinders van hemelse Jerusalem, want Jehovah God regverdig hulle of verklaar hulle regverdig weens die verdienste van Christus se offer. Jesus Christus se naam as die “Spruit” is ook “Die HERE ons geregtigheid”, daar hy sy 144 000 gesalfde volgelinge verteenwoordig.—Jer. 23:5, 6; kyk ook 1 Korinthiërs 1:30, 31; Romeine 3:21, 22.

14. Watter soort regering sal God se komende wêreldregering ongetwyfeld wees, aangesien Christus en sy deelgenote so ’n naam het?

14 Watter soort regering sal God se komende wêreldregering vir die hele mensdom dan wees, aangesien die gesalfde Koning en sy deelgenote so ’n Godgegewe naam het? Deur en deur ’n regverdige regering. Hoe dankbaar kan ons daaroor wees!

DIE BETROUBAARHEID VAN DIE GODDELIKE BELOFTE

15, 16. (a) Watter amptelike knegte sal Jehovah beslis volgens Jeremia 33:17, 18 hê? (b) Wie sal daardie amptelike posisies beklee, en waar sal hulle Jehovah dien?

15 Jehovah God sal ook die regte soort priesterdom tydens sy beloofde Koninkryk hê. Hy gee ons sekerheid hieromtrent wanneer hy na al die voorgaande sê: “Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ’n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie; en daar sal vir die Levitiese priesters nooit voor my aangesig ’n man ontbreek wat altyddeur brandoffers bring en spysoffers aan die brand steek en slagoffers berei nie.”—Jer. 33:17, 18.

16 Maak dit dus saak dat daar sedert die vernietiging van die herstelde Jerusalem in 70 G.J. geen stoflike tempel van Jehovah op aarde was nie en dat daar ook geen herkenbare lid van die stam van Levi en van die geslag van Moses se broer Aaron is om by so ’n tempel te dien nie? Glad nie! Want Jehovah se Hoëpriester en onderpriesters is nou diegene wat deur die eertydse Levitiese priesters van Israel afgebeeld is, naamlik Jesus Christus en sy uitverkore volgelinge wat met God se gees tot die geestelike priesterdom gesalf is. Die hemele waar God troon, is die Allerheiligste van die geestelike tempel waarin hierdie priesterdom dien.—Hebr. 9:24; 1 Pet. 2:9, 10.

17. Watter optrede van Jehovah in verband met die koninkryk en die priesterdom kan ons nie verhoed nie, net so min as wat ons kan verhoed dat dag en nag voorkom?

17 God se beloftes was dus aldeur betroubaar, en dit sal nog blyk dat hulle vir ons betroubaar is. Luister: “So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars. Soos die leer van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.”—Jer. 33:20-22.

18. Hoe lank na Jeremia se dag het Jehovah sy verbond in verband met die priesterdom in stand gehou, en tot wie se koms?

18 Net so min as wat die son sal ophou om op ons aarde te skyn en hierdie aarde sal ophou om rondom sy as te draai, sal Jehovah sy verbonde in verband met Dawid en die Leviete verbreek. Die almagtige God het die “nageslag” van Dawid tydens die volgende 600 jaar of wat vermenigvuldig totdat sy Permanente Erfgenaam, Jesus Christus, gekom het. Hy het die teenbeeld van die hoëpriester Aaron geword en het net soos Melgisedek ook ’n priester op sy hemelse troon geword (Ps. 110:1-4; Gen. 14:18-20; Sag. 6:13; Hebr. 6:20-7:3). Aldus het Jehovah oënskynlike rampe vir Jerusalem en haar tempel ongedaan gemaak en sy verbonde in stand gehou.

19. Dit is net so onmoontlik vir Jehovah om sy verbond met Dawid vir ’n ewige koninkryk te verbreek as wat dit sal wees vir watter gereelde verskynsels in verband met ons aarde om op te hou?

19 Toe die Babiloniese leër onder koning Nebukadnesar Jerusalem die tweede keer beleër het, is die volgende verslag byvoorbeeld opgestel: “Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie. So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie, dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.”—Jer. 33:23-26.

20. Wat het in Jeremia se dag gebeur wat dit laat lyk het asof Jehovah nie langer ’n koninkryk oor die aarde sou hê of dat sy aanbidding nie meer daarop beoefen sou word nie?

20 Gedurende die jaar na daardie profesie is Jerusalem ingeneem en vernietig. Die Joodse oorlewendes is gevange geneem en die meeste van hulle is na afgeleë Babilonië weggevoer. Dit het voorwaar gelyk of Jehovah die “twee geslagte” wat hy eens uitverkies het, verwerp het. Die situasie het vir die geslag van Dawid se koninklike afstammelinge sowel as vir die geslag priesters wat van Aaron, die eerste hoëpriester van Israel, afgestam het, hopeloos gelyk. In stryd met wat die Skepper van hemel en aarde gesê het, het dit gelyk asof Jehovah sy verbonde in verband met die koninklike geslag en die priesterlike geslag verbreek het. Die vraag was nou of daar ooit weer ’n koninkryk van Jehovah oor die aarde sou wees of ’n herlewing van sy ware aanbidding daarop sou plaasvind!

21. Hoe het Jehovah getoon dat hy sy verbonde konsekwent hou, met voordeel vir verbanne Israeliete?

21 Maar sedert daardie volksramp het dag en nag en die insettinge van hemel en aarde nie tot ’n einde gekom nie. Daar kon dus tereg verwag word dat die Skepper wat nie sy verbonde in verband met daardie lewelose dinge in die heelal verbreek het nie, ook nie sy verbonde met sy intelligente skepsele in verband met sy koninkryk en sy reine aanbidding sou verbreek nie. En hy het dit ook nie gedoen nie! Hy het hom oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob ontferm. Na 70 jaar van ballingskap is hulle weer in hulle Godgegewe tuisland ver samel.

22. Hoe het God sy verbond in verband met die “regverdige spruit” vir hierdie herstelde volk gehou, en wat bewys dit aangaande God se belofte?

22 Dit was na hierdie herstelde volk dat die “regverdige spruit”, Jesus Christus, 19 eeue gelede gekom het. Sy marteldood in 33 G.J. het nie God se verbond laat skipbreuk ly nie, want God het hom in die hemele verheerlik. Dit is daar dat hy gesê het: “Ek leef tot in alle ewigheid” (Openb. 1:18). Hy het voortgeleef totdat Jehovah hom as Koning in die beloofde wêreldregering ingehuldig het. God se belofte hieroor was betroubaar!

[Prent op bladsy 21]

God sal sy belofte hou net so seker as wat die son elke dag opkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel