Bevryding en oorlewing van die Christendom se val
1, 2. (a) Wanneer en tydens wie se profetiese loopbaan moes die laaste Jubeljaar vir die Jode gehou word? (b) Wat het Jehovah se wet deur Moses die Jode aangaande die Jubeljaar beveel?
IN JEREMIA se dag moes die sabbatsjaar ’n tyd van bevryding vir Joodse slawe gewees het. Die laaste van hierdie sabbatsjare het op 9 Tisjri 609 v.G.J. geëindig, ’n dag voor die Joodse Versoendag. Sedert Jeremia se volk in 1473 v.G.J. die land Kanaän binnegegaan het, is daar van hulle verwag om sabbatsjare te hou. Elke 50ste jaar van toe af moes as ’n Jubeljaar gehou word, en elke Jubeljaar het op die Versoendag begin. Die 17de Jubeljaar sou die laaste een wees. Dit het geëindig in 623 v.G.J., tydens Jeremia se profetiese werk. As ’n priester by die tempel moes Jeremia die trompetgeskal gehoor het wat die begin van daardie Jubeljaar, ’n spesiale jaar van bevryding, aangekondig het. Jehovah se wet wat deur die profeet Moses gegee is, het beveel:
2 “Julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan. ’n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees.”—Lev. 25:10, 11.
3. Wat was God se wet in verband met elke sewende jaar tussen Jubeljare, en hoe lank kon Hebreeuse kopers Hebreeuse slawe hou?
3 Net soos die weeklikse sabbat moes elke sewende jaar tussen Jubeljare ’n sabbatsjaar wees (Lev. 25:1-9). Jehovah se wet het nog ’n soortgelyke reëling bevat: “As jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan” (Ex. 21:2). “As jou broer, ’n Hebreeuse man of ’n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.”—Deut. 15:12.
4. Wat sou dit dus tydens die sabbatsjaar van 610-609 v.G.J. gepas gewees het vir Hebreeuse slawe-eienaars om te doen, maar hoe het hulle God bykomende rede gegee om hulle te straf?
4 In Jeremia se dag, in daardie sabbatsmaanjaar van 610-609 v.G.J., was dit dus goed in Jehovah se oë dat Joodse slawe-eienaars ’n verbond in die tempel te Jerusalem voor hom sluit om hulle Hebreeuse slawe vry te laat. Ondanks die internasionale situasie wat so dreigend vir Jerusalem was, was dit die gehoorsame weg vir Jeremia se volk. Maar voor die einde van daardie jaar van bevryding het daardie gewese slawe-eienaars hulle plegtige verbond verbreek en hulle gewese diensknegte en diensmaagde gedwing om weer slawe te word. Dit het Jehovah, wat sy verbonde hou, mishaag en hom nog ’n rede gegee om hulle te straf.—Jer. 34:8-16.
5. (a) Watter vreemdelinge wat destyds in Jerusalem was, was onskuldig, maar het nogtans in gevaar verkeer? (b) Hoe verkeer Jerusalem se hedendaagse teenbeeld eweneens in gevaar, en wat is die bron van die gevaar?
5 Gelukkig is daardie minagting vir ’n verbond wat plegtig voor Jehovah gesluit is, nie gedeel deur sekere persone wat destyds in Jerusalem was en wat bekend gestaan het as die Regabiete, die afstammelinge van Jonadab, die seun van Regab, nie (Jer. 35:6-11). Hulle het egter in gevaar verkeer weens die verdiende straf wat daar op Jerusalem se Joodse inwoners gewag het. Maar hulle was in ’n posisie om beskerm te word teen dit wat Jehovah God voorts voorspel het oor die Jode sou kom omdat hulle so selfsugtig en troueloos gehandel het. Net soos in die geval van Jerusalem van Jeremia se dag, behoort Jehovah se verdere woorde van die grootste belang te wees vir die hedendaagse valse Christendom. Net soos Jerusalem destyds, verkeer die Christendom in die laaste dae van haar lang bestaan. Die laaste wêreldmoondheid wat in Bybelprofesie voorspel word, die agtste wêreldmoondheid, is nou hier. Dit is in die vorm van die Verenigde Volke. Dit het ’n dodelike rol om teenoor die Christendom, Jerusalem se hedendaagse teenbeeld, te vervul. Die V.V.O. en sy voorganger, die Volkebond, is saam 60 jaar oud (Openb. 17:7-11). Voordat dit vergaan, sal dit optree!
6. Hoe het die valse Christendom haar lidmate verslaaf, al beweer sy dat sy vir vryheid is?
6 Omdat die valse Christendom beweer dat sy Christelik is, behoort sy ’n voorstander te wees van vryheid van gevangenskap aan hierdie wêreld wat die slaaf van sonde is. Maar in werklikheid het sy haar lidmate die slawe van hierdie wêreld gemaak om haar eie belange te bevorder. Dit is omdat sy haarself ’n vriendin van hierdie wêreld maar ’n vyand van God gemaak het.—Jak. 4:4.
7. (a) Waarvan is die Christendom se kerkgangers slawe gemaak, en teen wie word hulle opgesteek? (b) Na watter woorde in Jeremia se profesie word sy vervolgens genooi om te luister?
7 Die valse Christendom se geestelike slawe dien nie God se koninkryk in die hande van Christus nie, maar die gedoemde wêreld en sy owerste en god, Satan die Duiwel (1 Joh. 2:15-17; Ef. 2:2). Die Christendom steek haar kerkgangers op om die Christengetuies van Jehovah, wat deur Jeremia afgebeeld is, teë te staan. Laat haar dus luister na wat hy vervolgens gesê het:
“Daarom, so sê die HERE: Julle het na My nie geluister om ’n vrylating uit te roep elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie; kyk, Ek roep ’n vrylating uit, spreek die HERE, om julle oor te gee aan die swaard, die pes en die hongersnood, en Ek sal julle ’n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde. En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het: die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het. En Ek sal hulle gee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. En Sedekia, die koning van Juda, en sy vorste sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek, naamlik aan die leër van die koning van Babel wat van julle af opgetrek het.
“Kyk, Ek gee bevel, spreek die HERE, en sal hulle na hierdie stad terugbring; en hulle sal daarteen oorlog voer en dit inneem en met vuur verbrand; en Ek sal die stede van Juda ’n wildernis maak, sonder inwoner.”—Jer. 34:17-22: vergelyk Genesis 15:10-18.
8. Wat word in die lig van daardie profesie van Jeremia vir die valse Christendom van vandag afgebeeld?
8 Voorspel daardie profesie die valse Christendom se val voor die wêreldlike magte wat Jehovah toelaat om haar te beleër? Wat anders kan dit afskadu in die lig van wat met Jerusalem gebeur het? Die feit dat koning Sedekia gevang sou word en na Babilon weggevoer sou word om daar te sterwe, is gehoorsaam deur Jeremia aan hom voorspel (Jer. 34:1-7). Tydens ’n groter vervulling van daardie profetiese gebeurtenis van Bybeltye wag daar voorwaar niks goeds op die heersers van die Christendom nie!
9. Wanneer het die beleëring van Jerusalem na die sabbatsjaar begin, hoe lank het dit geduur, en hoe het die stad ’n voorwerp geword wat ’n mens kon laat bewe van vrees vir ’n soortgelyke einde?
9 In 609 v.G.J. het die sabbatsjaar geëindig op die 9de dag van die 7de maanmaand (Tisjri), die dag voor die Versoendag. Daarna, op die 10de dag van die 10de maanmaand (Tebet) van daardie selfde jaar, het keiser Nebukadnesar en sy Babiloniese strydmagte met hulle beleëring van Jerusalem begin (2 Kon. 25:1, 2). Agttien maande het omgekruip voordat Jerusalem op die 9de dag van die 4de maanmaand (Tammus) in 607 v.G.J. geval het. Tydens sy poging om te ontsnap en dus Jehovah se profesie te verydel, het koning Sedekia slegs so ver as die stad Jerigo gekom, en toe het sy Babiloniese agtervolgers hom ingehaal. Toe het hulle hom teruggebring om Nebukadnesar van aangesig tot aangesig te ontmoet en vir permanente ballingskap in afgodsaanbiddende Babilon (Jer. 34:2, 3). Die volgende maanmaand, of op 7 Ab 607 v.G.J., is Jerusalem geplunder en verbrand. Die ontheiligde tempel van Jehovah het die stad nie gered nie (2 Kon. 25:3-17). Die afgryslike vernietiging van Jerusalem was voorwaar iets om ander nasies te laat bewe van vrees vir soortgelyke behandeling deur die Babiloniërs.
10. Laat daardie antieke skouspel die valse Christendom bewe, en waarvan sal haar eie vernietiging die begin wees?
10 Maar eeue later laat die afgrysingwekkende skouspel van Jerusalem in puin die valse Christendom koud. Sy bewe nie. Sy sien nie in die antieke skouspel enige profetiese afbeelding wat haar waarsku oor haar eie vinnig naderende vernietiging op ’n globale skaal nie. Dit sal die begin wees van die vernietiging van alle valse godsdiens tydens die grootste verdrukking wat ooit hierdie anti-Jehovah-wêreld getref het. Dit sal wees soos in Mattheüs 24:15-22 voorspel is.
11. Wanneer is Jerusalem se land woes gelaat sonder mens of dier, en was Jeremia en Barug die enigstes wat Jehovah se guns geniet het en gespaar is?
11 Hoe sal enige mens dan so ’n verdrukking oorlewe? Net soos Jeremia en sy sekretaris Barug Jerusalem se beproewing deur die swaard, hongersnood, pes en verwoestende brand oorlewe het! Later, tydens die sewende maanmaand van daardie rampspoedige jaar, is Jeremia na Egipte geneem deur daardie paniekbevange manne wat teen oorheersing deur Babilon in opstand gekom het. Die hele land van die Koninkryk van Juda het dus verlate geword sonder mens of dier (2 Kon. 25:22-26). Die land het dus ’n ononderbroke sabbat van 70 jaar geniet (2 Kron. 36:20, 21). Maar benewens Jeremia en sy sekretaris Barug het ander wat Jehovah se guns geniet het ook Jerusalem se vernietiging en die verwoesting van die land Juda oorlewe. Dit is deur Jeremia vir hulle gewaarborg. Ons behoort vandag belang te stel in die geval van daardie oorlewendes, indien ons die komende verdrukking wil oorlewe.
OORLEWENDES VAN DIE CHRISTENDOM SE VAL AFGESKADU
12. Deur watter nie-Joodse swerwers is die oorlewendes van die komende verdrukking afgebeeld, en hoe het dit gekom dat Jeremia hulle in Jerusalem aangetref het?
12 Op wie sal die Groot Bewaarder van menselewe se oë gevestig wees tydens die naderende verdrukking waartydens die gedoemde stelsel van dinge sal vergaan? Op daardie toegewyde, gedoopte Christene wat hy laat afbeeld het deur ’n sekere groepie nie-Joodse vlugtelinge in Jerusalem. Hierdie vriende van die Jode het verplig gevoel om hulle nomadiese lewe te staak en tydelik in Jerusalem te gaan woon omdat hulle nie by die vyand wou aansluit wat onder die koning van Babilon, Nebukadnesar, besig was om na Jerusalem op te trek om dit te beleër nie. Hulle voorvader was Jonadab, die seun van Regab. Hulle is egter nie Jonadabs genoem nie, want Dawid het ’n neef genaamd Jonadab gehad. Maar hulle is Regabiete genoem, en hierdie naam het hulle as nie-Israeliete onderskei. Hulle was goed bekend aan Jeremia.
13. Hoe het die Israeliete se vermoë om ’n verbond te hou vergelyk met die Regabiete se vermoë om getrou te bly aan ’n eed, en wat is Jeremia aangesê om met die Regabiete te doen?
13 Meer as 250 jaar lank was hulle getrou aan die eed wat deur hulle bekende voorouer Jonadab aan hulle opgelê is. Die Israeliete kon nie so ’n reputasie van getrouheid teenoor die Wetsverbond wat hulle voorvaders deur Moses as hulle middelaar in 1513 v.G.J. met Jehovah God gesluit het, ewenaar nie. Nou het die God wie se verbond hulle oortree het, hom voorgeneem om die verskil tussen hierdie Israeliete en die Regabiete, wat hulle eed gehou het, aan te toon. Gevolglik moes die Regabiete nou beproef word in ’n plek wat vir Jehovah heilig was, sy tempel in Jerusalem. Hy het dus vir Jeremia gesê: “Gaan na die huis van die Regabiete en spreek met hulle en bring hulle in die huis van die HERE, in een van die kamers en gee hulle wyn om te drink” (Jer. 35:1, 2). Dit moes gedoen word selfs al was dit goed bekend dat die Regabiete geheelonthouers was.
14. Hoe het die Regabiete verduidelik waarom hulle geweier het om op Jeremia se versoek wyn te drink, en ook waarom hulle in ’n stad gewoon het?
14 Jeremia het gedoen soos hy beveel is (Jer. 35:3-5). Selfs ten spyte van die profeet se versoek, het die Regabiete geweier om wyn te drink. Hulle het verduidelik:
“Ons sal geen wyn drink nie, want Jonadab, die seun van Regab, ons vader, het ons beveel en gesê: Julle mag geen wyn drink, julle en julle kinders, tot in ewigheid nie. Ook mag julle geen huis bou of saad saai of wingerd plant of dit besit nie; maar julle moet in tente woon al julle dae, sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle as vreemdelinge vertoef.
“En ons het geluister na die stem van ons vader Jonadab, die seun van Regab, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters; en geen huise te bou om in te woon nie, en geen wingerd of landerye of saad te besit nie; en ons het in tente gewoon en geluister en gedoen net soos ons vader Jonadab ons beveel het. Maar toe Nebukadresar, die koning van Babel, na die land opgetrek het, het ons gesê: Kom, laat ons na Jerusalem gaan vanweë die leer van die Chaldeërs en die leer van die Arameërs. So het ons dan in Jerusalem gebly.”—Jer. 35:6-11.
15. In watter opsig was die eed wat die Regabiete opgelê is vir hulle ’n beskerming, en hoe is daar vir hulle in die Mosaïese Wetsverbond voorsiening gemaak?
15 Die eed wat die Regabiete opgelê is, het hulle beskerm. Dit het hulle ’n eenvoudige lewe as vreemdelinge in die land laat lei en hulle weggehou van die verdorwenheid van die stede. Aangesien hulle nie Israeliete onder die Mosaïese Wetsverbond was nie, was hulle soos vreemdelinge binne die poorte van die Israeliete en het hulle geen probleme vir hulle Israelitiese gashere geskep nie. Hulle het die Israeliete nie verhoed om hulle verbond met Jehovah na te kom nie, maar het eerder die Wetsverbond gehou in sover dit op hulle van toepassing was. Maar wat die drink van sterk drank betref, was hulle soos die Israelitiese Nasireërs. Deur nugter te bly, het hulle hulle sinne bewaar. Die leërs van koning Nebukadnesar se inval van die land Juda het gedreig om hulle eenvoudige nomadiese lewe te ontwrig. Dit is net natuurlik dat die Regabiete voor die invallende leërs uit na Jerusalem gevlug het.
16. Hoe het die Regabiete wat hulle eed gehou het, vir Jehovah ’n voorbeeld gegee om te gebruik teen die verbondverbrekende Israeliete, en wat het hy dit nodig gevind om oor die Israeliete te bring?
16 Hulle vasberade onderhouding van hulle eed om nie wyn te drink nie, selfs wanneer hulle deur die profeet-priester Jeremia genooi is om dit te doen, het Jehovah ’n voorbeeld gegee wat hy teen die verbondverbrekende Israeliete kon gebruik. Die Regabiete het hulle eed gehou, selfs al is dit deur ’n blote man, hulle voorvader, aan hulle opgelê. Die Israeliete het hulle Wetsverbond oortree, selfs al is dit nie met ’n blote man nie, maar met die allerhoogste God gesluit. Heel gepas het Jehovah nou vir Jeremia gesê:
“Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie? spreek die HERE. Die woorde van Jonadab, die seun van Regab, wat hy sy kinders beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou; want hulle het geen wyn gedrink tot vandag toe nie, maar het geluister na die gebod van hulle vader. En Ék het met julle gespreek, vroeg en laat, maar julle het na My nie geluister nie. En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en maak julle handelinge goed en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien nie; dan sal julle bly in die land wat Ek aan julle en julle vaders gegee het. Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie. Ja, die kinders van Jonadab, die seun van Regab, het die gebod van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het; maar hierdie volk luister nie na My nie.
“Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die onheil wat Ek teen hulle gespreek het; omdat Ek met hulle gespreek, maar hulle nie geluister en Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie.”—Jer. 35:13-17.
17. Waarom moet die afval van die Israeliete as moedswillig bestempel word, en wat kon hulle dus nie vermy nie?
17 Uit hierdie vergelyking van die Regabiete met die Israeliete blyk dit dat die hoogsbegunstigde Israeliete, met die hulp van God se profete, in staat was om hulle verbond met Jehovah hulle God te hou. Hy het sy tempel en die priesterdom voorsien om offerandes te bring om versoening te doen vir hulle onopsetlike sondes wat hulle begaan het weens die swakheid van hulle vlees. Ten spyte hiervan het hulle bykomende gode gekies, veral Baäl, en allerhande goddeloosheid wat deur Jehovah se wet deur middel van Moses verbied is, by hulle aanbidding ingesluit. Hulle afval van God se Wetsverbond wat reine aanbidding vereis het, was dus moedswillig. Dit het geen agting getoon vir die een lewende en ware God of vir hulle plegtige geloftes aan hom nie. Dit het net maar onheil vir sulke afvalliges voorspel. Weens soortgelyke redes wag daar onvermydelike onheil op die hele valse Christendom!
ONTVLUG DIE VERNIETIGING VAN ALLE VALSE GODSDIENS
18. Uit watter woorde van Jeremia aan die Regabiete put die “groot menigte” die versekering dat hulle die vernietiging van die valse Christendom en haar vriend, die wêreld, sal oorlewe?
18 Wie wil vandag nie saam met die valse Christendom en haar boesemvriend, hierdie Godonterende stelsel van dinge, vernietig word nie? “Ons!” sê die lede van die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is. Hulle put sterk versekering uit Jehovah se belofte aan die Regabiete wat hulle eed gehou het, en wat uiteengesit is in Jeremia 35:18, 19, waar ons lees: “En aan die huis van die Regabiete het Jeremia gesê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Omdat julle geluister het na die gebod van julle vader Jonadab en al sy gebooie gehou en gedoen het net soos hy julle beveel het, daarom, so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal vir Jonadab, die seun van Regab, nooit ’n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie.”
19. (a) Wat was Jonadab se gesindheid teenoor Baälaanbidding? (b) Van wie het die name Jonadab en Jaäsanja kennis geneem, en watter posisie het hulle ten opsigte van wyn ingeneem?
19 Gevolglik sou Jonadab, die seun van Regab, al was hy nie ’n Israeliet nie, vir ewig ’n afstammeling hier op aarde hê wat goedgekeurd in Jehovah se teenwoordigheid staan. Laat ons onthou dat hierdie Jonadab koning Jehu met sy hart en siel ondersteun het toe dié Baälaanbidding in die afvallige Koninkryk van Israel uitgeroei het (2 Kon. 10:15-28). Die naam van hierdie seun van Regab, dit wil sê, Jonadab, het van die enigste lewende en ware God kennis geneem, want dit beteken “Jehovah is milddadig”. Die Regabiet teenoor wie Jeremia die goddelike belofte uitgespreek het, was Jaäsanja, en sy naam beteken “Jah [dit wil sê, Jehovah] hoor” (Jer. 35:3-5). Getrou aan hulle eed het Jaäsanja en sy broers geweier om op versoek van Jeremia in Jehovah se tempel wyn te drink. Daar in Jehovah se teenwoordigheid was hulle getrou aan hulle eed.
20. Waarvan kan ons seker wees in verband met die Regabiete toe Jerusalem vernietig is, en ook daarna, al het ons geen regstreekse Bybelse bewys nie?
20 Jehovah het die getrouheid van daardie Regabiete gerespekteer en beloof dat hulle nie uitgewis sou word tydens die komende vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. nie. Ons kan daarvan seker wees dat die Regabiete destyds nie uitgewis is voor Jehovah se aangesig nie, want hy het sy belofte eerbiedig net soos daardie Regabiete hulle eed in verband met wyn eerbiedig het. Daar is moontlik geskiedkundige bewys dat hulle oorlewe het in die persoon van Malkia, die seun van Regab, wat ’n poort van Jerusalem in die dae van goewerneur Nehemia herstel het (Neh. 3:14). Dit is nie in Jehovah se Woord opgeteken of enige Regabiete tot die dae van Jesus Christus voortgelewe en sy dissipels geword het nie. Maar dit sou heel gepas gewees het!
21. Watter volksramp het die Regabiete oorlewe, en wat is dit dus gepas dat hulle hedendaagse teenbeeld oorlewe?
21 Natuurlike Regabiete kan nie vandag uitgeken word nie, maar hulle het ’n hedendaagse teenbeeld. Dit is die intieme metgeselle van die geestelike Israeliete wat deur Jeremia afgebeeld is. Die Regabiete van die ou tyd het afvallige Jerusalem se vernietiging oorlewe. Aangesien hulle die “groot menigte” van Christus se “ander skape” afgebeeld het, is dit gepas dat hierdie teenbeeld van die Regabiete die wêreld se “groot verdrukking” oorlewe, ’n verdrukking wat sal begin met die vernietiging van die valse Christendom, die teenbeeld van Jerusalem.
22. (a) Wanneer is daar vir die eerste keer gesê dat Jonadab ’n “skape”-klas afgebeeld het wat die “groot verdrukking” sal oorlewe? (b) Waarna het The Watchtower van 15 April 1935 hulle in die besonder genooi om te kom?
22 Deel III van Regverdiging, wat op Maandag, 18 Julie 1932, in Engels in Brooklyn, N.Y., vrygestel is, was die eerste wat (op bladsye 77-83) verduidelik het dat Jonadab van die ou tyd ’n klas Godvresende mense afgebeeld het wat, met God se beskerming, die “groot verdrukking” sal oorlewe reg tot in die Nuwe Orde van Christus se koninkryk (Ble. 230-233 van The Watchtower van 1 Augustus 1932). Daar is gemeen dat die interessante onderwerp vir bespreking, “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” op hulle van toepassing is. Dit is dus logies dat The Watchtower van 15 April 1935 hierdie aankondiging bevat het:
The Watchtower herinner weer sy lesers daaraan dat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies en Jonadabs vanaf 30 Mei tot 3 Junie 1935 in Washington, D.C., gehou sal word. Ons hoop dat talle van die oorblyfsel en die Jonadabs hierdie byeenkoms sal kan bywoon. Tot op hede het nie baie Jonadabs die voorreg gehad om ’n byeenkoms by te woon nie, en die byeenkoms te Washington sal vir hulle ’n ware troos wees en hulle tot voordeel strek.—Bl. 114.
23. Wat is by daardie byeenkoms in Washington (D.C.) aan daardie Jonadabs geopenbaar, en baie van wie is dus die volgende dag in water gedoop?
23 En dit was die geval, want op Vrydag, 31 Mei, is daar vir hulle geopenbaar dat die Jonadab-klas dieselfde as die “groot menigte” is wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is. Die meeste van die 840 byeenkomsgangers wat die volgende dag in water gedoop is, was waarskynlik Jonadabs of antitipiese Regabiete.
24. Wie van vandag is ook deur Jonadab se afstammelinge afgebeeld daar hulle Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. oorlewe het?
24 Die oorspronklike Jonadab het in die 10de eeu v.G.J gelewe en het nie Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. beleef nie. Maar sy afstammelinge, die Regabiete, wie se getrouheid aan hulle eed deur Jeremia op die proef gestel is, het Jerusalem se ondergang beleef en ’n onbepaalde tyd daarna geleef. Omdat hulle van Jonadab afgestam het, het hulle ook die “groot menigte” afgeskadu wat bestem is om die valse Christendom se ondergang te oorlewe.—Kyk U kan Armageddon oorlewe in God se nuwe wêreld in, bladsye 64-68.
25. Watter vermaning word gerig tot die hedendaagse teenbeeld van Jonadab en die Regabiete, in die lig van laasgenoemdes se besondere eienskappe?
25 Skenk dus aandag, toegewyde, gedoopte Christene, wat deur daardie eertydse Regabiete afgebeeld is! Net soos hulle moet julle onmatigheid en valse aanbidding vermy en nie by hierdie wêreld betrokke raak en dit julle vriend maak nie (Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17). Volg steeds die voorbeeld van Jonadab, die seun van Regab, na deur ywer vir Jehovah aan die dag te lê en hedendaagse Baälaanbidding teë te staan, sodat julle kan sien hoedat Jehovah, deur middel van sy Grotere Jehu, Jesus Christus, die valse Christendom en alle ander valse godsdienste vernietig. Lewe julle toewyding aan die Soewereine Heer Jehovah uit met getrouheid soos dié van die Regabiete en dra julle deel by om die belange van sy glorieryke koninkryk in die hande van Christus te bevorder. Dit sal julle in staat stel om julle bevryding uit hierdie gedoemde wêreld te handhaaf totdat dit nie meer bestaan nie. As julle julle geseënde vryheid volgens God se wil gebruik, sal julle nie uitgewis word wanneer hy wraak neem op hierdie goddelose wêreld en al die vriende daarvan nie, maar sal julle goedgekeur voor hom staan en beloon word met lewe op ’n paradysaarde onder sy Seun se koninkryk. Die vreugde waarmee die oorblyfsel van die Jeremia-klas hulle jubelend oor julle sal verheug, sal waarlik groot wees!
(Die bespreking van die profesie van Jeremia sal voortgesit word in Die Wagtoring van 15 April 1980.)
[Prent op bladsy 25]
Oorlewing van die Christendom se val