Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 2/15 bl. 13-15
  • Ghana reageer gunstig op Koninkryksverkondiging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ghana reageer gunstig op Koninkryksverkondiging
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • BAIE SOEK BYBELWAARHEID
  • ’N FERME STANDPUNT VIR BYBELWAARHEID HELP ANDER
  • BYEENKOMSTE HELP OM DIE “GOEIE NUUS” TE VERSPREI
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 2/15 bl. 13-15

Ghana reageer gunstig op Koninkryksverkondiging

IN SY groot profesie oor die tyd van die einde het Jesus gesê: “Hierdie evangelie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14, vgl. NW.

Ghana is deel van die “hele wêreld” waar die “goeie nuus” nou verkondig word. Gevolglik het talle baat gevind by die werk van Jehovah se Getuies wat probeer om elke persoon met die Bybel se boodskap te bereik. Gedurende die afgelope dekade het die werk uitgebrei sodat daar nou ongeveer 21 000 Getuies is wat gereeld die “goeie nuus” verkondig.

Om toesig oor hierdie werk te hou, is die eerste takkantoor van die Wagtoringgenootskap in 1947 in Ghana opgerig. Weens die toenemende werk was groter geriewe eerlank nodig. Dit was skaars betrek toe planne gemaak moes word vir nog groter geriewe sodat daar in die behoeftes van die groeiende gemeentes voorsien kon word. ’n Nuwe gebou is dus gebou en in 1963 toegewy. Weer eens was hierdie gebou ontoereikend vir die toenemende behoeftes, en ’n nuwe stuk grond is in Nungua, ’n voorstad van Akkra, gekoop. Nou word voorbereidings getref vir ’n aansienlik groter takgebou en drukkery.

Die vinnige aanwas van Jehovah se Getuies in Ghana weerspieël die Ghanese volk se bereidwilligheid om na die Bybel se boodskap te luister en die ywer waarmee hulle reageer op die goeie dinge wat hulle leer. ’n Paar voorbeelde sal genoeg wees om te toon hoe Ghanese na Bybelwaarheid honger. Die volgende is ’n verslag vanaf ’n gemeente in Akkra.

BAIE SOEK BYBELWAARHEID

“Ons is genooi om ’n groep van ongeveer 60 persone toe te spreek wat besluit het om die Bybel te bestudeer om die ware geloof te vind. Nadat hulle ’n ruk lank op hulle eie bestudeer het wat die Skrif oor verskeie leerstellings sê, het hulle begin om leiers van verskeie kerke te nooi om hulle toe te spreek en sake te bespreek. Nadat hulle na hierdie godsdiensleiers geluister het en hulle oor verskeie onderwerpe uitgevra het, het hulle die leier van hulle groep versoek om ons ook te nooi.

“Die groepleier het gesê dat die hoofrede waarom hulle ons genooi het, was dat hulle, nadat hulle ’n ruk lank gestudeer het, gevind het dat hulle verplig was om vir mense te preek. Hulle het dus van huis tot huis begin gaan. Hy het gesê dat die gewone vraag wat aan hulle gestel is, was: ‘Is julle Jehovah se Getuies?’ waarop hulle ontkennend geantwoord het. Hierdie ervaring het die groep laat besluit om ons te nooi. Hulle het vyf onderwerpe vir bespreking gekies. Nadat ’n spreker elke onderwerp behandel het, het die groep talle vrae gestel. Ongeveer ’n maand later is ons genooi om ’n gereelde Bybelstudie saam met hulle te hou. Nadat hulle die vernaamste leerstellings bestudeer het, het hulle leier vir ons gesê dat hulle gevind het dat ons die waarheid het en dat hulle besluit het om met ons te assosieer.

“Hierdie groep was verbonde aan ’n groep in ’n ander dorp. Hulle het intussen gehoor wat die eerste groep besluit het om te doen. ’n Paar van die ouere manne van ons gemeente is genooi om sake vir hulle te kom verduidelik. Die gevolg was dat 18 lede van die groep gedoop is.”

’N FERME STANDPUNT VIR BYBELWAARHEID HELP ANDER

Die dorpie Amanya in die Volta-gebied is deur twee Getuies besoek wat met die inwoners oor die Koninkryksboodskap gepraat het. Die Getuies het ’n Bybelstudie saam met ’n klein groepie belangstellendes begin. Niemand het egter ’n ferme standpunt ingeneem vir wat hy geleer het nie. ’n Jong man van daardie dorpie het pas tevore gematrikuleer en teruggekeer om in die plaaslike Middelbare Skool te kom onderrig. Hierdie jong man was ’n ywerige Protestantse lekeprediker en het die toewysing ontvang om in sy kerk te preek. Een van die Getuies, wat op kollege hierdie jong man se senior was, het hom teëgekom en met hom gepraat. Die Getuie het nie die jong man onthou totdat hy homself voorgestel het nie. Die boodskap het die jong man aanvanklik nie baie beïndruk nie. Maar hy het die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen? aanvaar. Nadat hulle ’n paar hoofstukke van die boek saam met die Bybel bestudeer het, was hy daarvan oortuig dat die leerstellings van sy kerk nie met die Skrif ooreenstem nie. Hy het dus besluit om uit die kerk te bedank.

Tydens ’n ander besoek van die twee Getuies het hierdie jong man vir hulle gesê dat hy iets gaan doen, maar hy sou hulle eers later vertel wat dit was. Hy het inderdaad ’n bedankingsbrief aan die kerk geskryf. Die predikant was geskok. Hy het die jong man genooi om hom te besoek en gevra of dit waar was wat hy in die brief geskryf het. Hy het bevestigend geantwoord. Die predikant, wat nie oortuig was nie, het die jong man versoek om huis toe te gaan en die saak drie dae te oordink en dan te kom en die brief terug te neem. Die jong man het geantwoord dat hy elke woord bedoel het, maar dat hy oor die saak sou nadink aangesien hy versoek is om dit te doen. Intussen is die ouderlinge van die jong man se kerk asook die hoof van sy familie daarvan verwittig. Hy is herhaaldelik deur hierdie manne bestraf en beledig. Die hoof van sy familie het gesê dat indien hy hom aan sy kerk onttrek, hulle geen beswaar daarteen sou hê indien hy by ’n ander geloof, onder andere die spiritualistiese kerke, aansluit of na die “moederkerk”, die Rooms-Katolieke Kerk, terugkeer nie, maar dit was ondenkbaar dat hy een van Jehovah se Getuies sou word! Die jong man het vir die enkele Getuie wat in daardie dorpie woon, vertel wat gebeur het. Sy het hom aangespoor om by sy besluit te bly om een van Jehovah se Getuies te word en nie die stryd gewonne te gee nie. Sy het vir hom gesê dat dit vir hom aanvanklik moeilik sou wees, maar dat sake later goed sou verloop indien hy standvastig bly en dat party van die teenstanders moontlik daardeur gehelp sou word om ’n duideliker kennis van Bybelwaarheid te verkry. Hy het saamgestem.

Later is die jong man genooi om voor die hele gemeente van sy kerk te verduidelik waarom hy hom gaan onttrek. Hy het die Getuies hiervan vertel, en hulle het hom gehelp om ’n goeie verdediging voor te berei. Voor die gemeente het hy begin deur die Onse Vader te bespreek en getoon dat die kerk se leerstelling dat almal wat die lewe ontvang hemel toe gaan, nie reg kon wees nie. Die predikant het dadelik opgespring en geprotesteer dat hy nie genooi is om vir hulle te kom preek nie, maar om vir hulle te sê waarom hy bedank. Die jong man het geantwoord dat aangesien die rede vir sy bedanking op die Bybel gebaseer is, hy niks kon sê sonder om na die Bybel te verwys nie. Die predikant wou hom nie toelaat om voort te gaan nie; en hy is uitgejaag. Daar het toe verdeeldheid in die kerk ontstaan. Party wou na hom luister, terwyl ander nie wou hê dat hy die aandag op die Bybel moes vestig nie. Dit het die weg vir ’n groter getuienis oor die “goeie nuus” in daardie dorpie geopen omdat baie na die jong man gekom het om meer te hoor.

Vervolgens is die jong man genooi om tydens ’n vergadering voor die hoof van die familiegroep te verskyn. Hier het die oudstes van die gemeenskap begin om hom te bestraf. Op daardie stadium het ’n man wat as ’n dronklap bekend was, by die vergadering ingeloop. Hy het ’n ruk lank kop onderstebo gesit. Skielik het hy opgestaan en versoek om die vergadering toe te spreek. Terwyl almal hom stip dophou, het hy gesê: “Waarom probeer julle hierdie jong man keer om God te aanbid? Het enigeen van julle al iemand wat sê dat hy een van Jehovah se Getuies is, gesien dronk word soos ek? Of het julle al ooit ’n meisie wat sê dat sy een van Jehovah se Getuies is, swanger gesien weens hoerery? Waarom die wêreld vir hom moeilik maak? Gekke! Laat hom met rus sodat hy sy God kan aanbid” Toe het hy gaan sit en niemand het die moed gehad om verder iets teen die jong man te sê nie. Dit was die einde van die vergadering.

BYEENKOMSTE HELP OM DIE “GOEIE NUUS” TE VERSPREI

Teokratiese byeenkomste was mylpale in die vooruitgang van ware aanbidding in hierdie land. Dit het vooroordeel in die gedagtes van selfs hooggeplaaste indiwidue in die nasie afgebreek. By die “Vreugdevolle Werkers”-Streekbyeenkoms wat in Desember 1977 in Mampong, Asjanti, gehou is, was die opperhoof van die gebied byvoorbeeld op die laaste dag teenwoordig en was hy verbaas oor die byeenkomsreëlings en die gedrag van die broers. Hy kon nie woorde vind om sy gevoelens te beskryf nie. Baie van sy oudstes wat hom vergesel het, het net so gevoel. Al wat hy kon sê, was: “Julle is pragtig; julle is skoon!”

Onder Jehovah se liefdevolle toesig en beskerming gaan die verkondiging van die “goeie nuus” en die maak van dissipels in betreklik vreedsame toestande voort, ondanks ’n bietjie teenstand. Ons sien daarna uit dat nog baie meer dissipels van die Here Jesus Christus sal word. Die rede hiervoor is dat meer as 70 000 persone dwarsoor Ghana die Gedenkmaal van ons Here se dood op 11 April 1979 bygewoon het.

[Kaart op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GHANA

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel