24 ABIGAIL
Sy was in die middel van ’n moeilike situasie
ABIGAIL was vasgevang tussen twee woedende manne. Een van hulle was haar man, Nabal – ’n wrede, ongevoelige en verstandelose man. Die ander een was Dawid – ’n goeie man, ’n getroue kneg van Jehovah en die toekomstige koning van Israel. Maar Nabal het Dawid woedend gemaak, en nou was Abigail se huishouding in groot gevaar. Abigail was ’n pragtige en wyse vrou. Maar sou sy die moed hê om hierdie probleem te hanteer?
Abigail het vir die eerste keer gehoor dat moeilikheid op pad was, toe ’n kneg haar daarvan vertel het. Hy het vir haar gesê dat Dawid op pad was met 400 gewapende manne en dat hulle vasbeslote was om Nabal en “sy hele huis” dood te maak. Hoekom? Dawid het Nabal vir kos gevra. Dit was ’n redelike versoek. Dawid en sy manne was soos ’n beskermende muur om die ryk Nabal, sy herders en sy baie kudde. Dawid het Israel en sy mense lojaal verdedig teen diewe en hulle vyande – selfs al het koning Saul hom forseer om te vlug en hom sonder rede vervolg. En nou, toe Dawid sy manne na Nabal gestuur het om vir kos te vra, het hy op hulle geskree en hulle beledig, en selfs gesê dat Dawid ’n wegloperkneg is!
Nabal se kneg het geweet dat dit niks sou help om sy meester te probeer oortuig om van plan te verander nie. Hy het vir Abigail gesê: “Hy is so ’n slegte man dat niemand met hom kan praat nie.” Maar hy het geweet dat Abigail na hom sou luister en die regte ding sou doen. Wat sou sy doen?
Sy het kalm gebly. Maar sy moes vinnig optree. Sy het baie kos as ’n geskenk vir Dawid en sy manne voorberei, dit op donkies gelaai en toe met knegte vooruit gestuur. Sy het op haar eie donkie agter hulle aangery en niks vir Nabal gesê nie. Sy het moontlik geweet dat hy haar sou probeer keer om die regte ding te doen.
Abigail het met ’n groep vegters gaan praat wat woedend was vir haar dwase man
Terwyl sy op ’n donkie teen die berg afgery het, kon Dawid en sy manne haar nie sien aankom nie. Toe hulle mekaar sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim en reguit na die woedende Dawid gegaan. Sy het voor Dawid gekniel en met haar gesig na die grond toe neergebuig en hom gesmeek om haar toe te laat om met hom te praat. Haar nederigheid het sekerlik Dawid se gesindheid verander.
Abigail het verantwoordelikheid gevat vir die hele situasie, en sy het erken dat Dawid die reg gehad het om kwaad te wees vir haar man, wat sleg en verstandeloos opgetree het. Toe het sy Dawid herinner aan sy sterk geloof in Jehovah God, en dat Hy nie sou wou hê dat Dawid enige onskuldige persoon moes doodmaak, iets waaroor hy later spyt sou wees nie. Sy het ook gesê dat Jehovah altyd iemand uit Dawid se huis sou kies om koning oor Israel te wees, en dat Jehovah hom van sy vyande sou red. Dit is duidelik dat Abigail geweet het dat Jehovah Dawid as die volgende koning gekies het.
Haar wyse, liefdevolle woorde het Dawid se hart sag gemaak. Hy het gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag na my toe gestuur het!” Hy het Abigail geseën vir haar verstandigheid en het nederig haar wyse raad aanvaar. Hy het gesê: “Ek het na jou stem geluister.”
Nabal het niks hiervan geweet nie. Hy het daardie aand feesgevier en het “smoordronk” geword. Abigail het tot die oggend toe gewag totdat hy nugter was – maar hy was seker weer in ’n slegte bui soos altyd. Toe het sy vir hom die hele storie vertel. Het sy haarself voorberei vir ’n woedeuitbarsting en geweld? As dit die geval was, was dit nie nodig nie. “Sy hart het soos ’n dooie man s’n geword, en hy het onbeweeglik daar gelê soos ’n klip.” Toe omtrent tien dae later, “het Jehovah ’n einde aan Nabal se lewe gemaak”. God het Nabal gestraf omdat hy Dawid, Sy gesalfde kneg, sleg behandel het. Jehovah het Abigail ook geseën deur haar uit ’n verskriklike huwelik te red.
Daar het nog baie seëninge vir Abigail voorgelê. Toe Dawid hoor dat Nabal gesterf het, het hy Abigail gevra om sy vrou te word. Sy het ingestem. Dawid het toe later koning geword, eers van Juda en toe van die hele Israel, en hy en Abigail het ’n seuntjie gehad. Op een stadium was sy ontvoer deur vyande van God se mense – maar nie vir lank nie. Haar moedige en goeie man het haar kom red.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Abigail gewys dat sy moedig is?
Soek dieper
1. Hoekom het Abigail dalk met Nabal getrou? (ia 77 ¶6)
2. Beskryf die geleentheid van skaapskeerdery, toe Dawid vir Nabal vir kos gevra het. (w97 7/1 14 ¶4) A
Prent A: Skaapskeerdery was ’n vreugdevolle tyd
Prent A: Skaapskeerdery was ’n vreugdevolle tyd
3. Hoekom moes Nabal dankbaar gewees het vir die hulp van Dawid se soldate? (ia 77-78 ¶9-10) B
Hanan Isachar/Alamy Stock Photo
Prent B: Die gebied om Karmel was rotsagtig en droog
4. Wat het Abigail bedoel toe sy gesê het dat Dawid se lewe “veilig in die sak van die lewe by Jehovah . . . toegebind [sou] wees”? (1 Sam. 25:29; w91 6/15 14 ¶3)
Dink aan die lesse
Wat kan mans by Dawid leer, wat na Abigail geluister het? C
Prent C
Wat kan susters met ongelowige mans by Abigail leer?
Hoe kan jy Abigail se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Abigail graag wou vra nadat Jehovah haar opgewek het?
Leer meer
Wat kan ’n Christen doen om sy of haar huwelik te versterk met iemand wat nie Jehovah dien nie?
Abigail het Dawid gehelp om sy woede te beheer. Kyk na maniere hoe jy jou woede kan beheer selfs wanneer iemand jou aanstoot gee of uittart.
“Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn” (w14 12/1 12-13)