22 JONATAN
Hy het moed nodig gehad om lojaal te wees
TWEE manne, albei gewapen, klim vinnig by ’n steil, rotsagtige heuwel op. Hulle was op pad om ’n groot groep Filistynse soldate aan te val. Een van die twee manne was Jonatan, die seun van die eerste Israelitiese koning, Saul. Agter Jonatan was sy dapper wapendraer, wat aangespoor was deur Jonatan se woorde: “Jehovah kan deur baie of deur min red, en niks kan hom keer nie.” Jehovah het Jonatan toe reg bewys – daardie 2 manne het 20 soldate doodgemaak! En dit het die pad voorberei vir ’n selfs groter oorwinning vir God se mense.
Hierdie verslag alleen wys hoe moedig Jonatan was. Maar hy het daardie eienskap baie keer in sy lewe gewys. Hy was ’n uitsonderlike lojale man, en lojaliteit verg dikwels moed. Jonatan was lojaal aan sy pa, Saul, maar later het Saul sleg geword en was hy ongehoorsaam aan Jehovah. Jonatan het moed nodig gehad om lojaal aan Jehovah te bly.
Jare later, toe Jonatan omtrent 50 jaar oud was, het hy met jong Dawid vriende geword. Daardie jong man het so pas die Filistynse reus Goliat doodgemaak. Sonder twyfel het Saul en al die mense Dawid daarvoor geprys. Hoe het Jonatan gevoel? Daar was nie ’n teken van jaloesie in hom nie. Hy het eerder vir Dawid sy wapenrusting gegee, insluitende sy boog. Dit was ’n baie spesiale geskenk, want dit lyk asof Jonatan ’n baie goeie boogskutter was. Alhoewel Jonatan omtrent 30 jaar ouer as Dawid was, het hulle ’n gelofte van vriendskap gemaak wat nie een van hulle twee ooit gebreek het nie.
Jonatan moes sy lojaliteit aan sy God bo die lojaliteit aan sy eie pa stel
Aan die begin was Saul ook lief vir Dawid. Maar sy liefde het gou verdwyn en in bittere jaloesie verander. Hy wou hê dat Jonatan dieselfde moes voel. Maar Jonatan het Dawid se lojale vriend gebly, alhoewel Jehovah Dawid, in plaas van hom, gekies het om Israel se volgende koning te wees. Toe Saul gesê het dat hy Dawid wou doodmaak, het Jonatan vir sy vriend opgestaan. Dit het baie moed geverg. Alhoewel Saul alreeds oud was, was hy nog steeds ’n magtige vegter. Eenkeer toe Jonatan sy vriend verdedig het, het Saul hom, sy eie seun, met ’n spies gegooi! Die koning het sy teiken gemis, maar Jonatan was nog steeds diep seergemaak. Hy was lojaal aan Dawid en het vir hom gesê dat Saul Dawid wou doodmaak. Jonatan het ook vir Dawid gevra om vir sy familie te sorg as iets ooit met hom sou gebeur.
Saul het Dawid gedwing om ’n vlugteling te word. Die koning het selfs sy leërmag gebruik om Dawid agterna te sit, en daarom moes hy die heeltyd van die een plek na die ander vlug. Was Jonatan saam met hulle? Alhoewel die Bybel niks daaroor sê nie, is dit redelik om te glo dat hy nie saam met hulle was nie. Eenkeer het Jonatan uitgevind waar Dawid weggekruip het, en toe het hy na sy vriend toe gegaan. Hoekom? Ons lees dat Jonatan “hom gehelp [het] om sy vertroue in Jehovah te versterk”. Hy het vir Dawid gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa, Saul, sal jou nie vind nie. Jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees.” Die twee vriende se paaie het geskei, en dit was die laaste keer dat hulle mekaar gesien het.
Nie lank daarna nie, het Jonatan lojaal saam met sy pa teen die eintlike vyand geveg, ’n Filistynse leërmag. Maar teen hierdie tyd het Saul ’n slegte afvallige geword, en het hy selfs van ’n spiritistiese medium gebruik gemaak. Jehovah se seën was nie meer met Saul nie. Die koning was ernstig gewond, en daarna het hy homself doodgemaak. Drie van sy seuns, insluitende Jonatan, het daardie dag in geveg gesterf.
Dawid was baie hartseer. Hy het ’n lied geskryf om te beskryf hoe hartseer hy was en hoe lief hy vir sy dierbare vriend was. Hy het dit “Die boog” genoem, moontlik omdat hy die geskenk onthou het, wat Jonatan hom jare vroeër gegee het. Dawid het geskryf: “Ek is baie hartseer oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie dierbaar vir my.” Hy het sy belofte aan Jonatan behou. Nadat Dawid koning geword het, het hy probeer uitvind of daar nog enige van Jonatan se familielede was wat lewe, en hy het ’n seun gevind wat gebreklik was. Dawid het daardie seun, Mefiboset, gevat om naby hom in Jerusalem te bly, en van daardie tyd af het hy vir hom gesorg.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Jonatan gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. Wie was die Filistyne? (w95 2/1 31)
2. Hoe wys die woord “pim” dat hierdie verslag akkuraat is? (w05 3/15 29) A
Prent A: ’n Pimgewiggie
3. Hoekom was dit dalk moeilik om die kloof van Migmas oor te steek? Wat het Jonatan dalk gehelp om dit te doen? (it “Migmas” ¶4-wcgr) B
Todd Bolen/BiblePlaces.com
Prent B: Waar die kloof van Migmas moontlik was
Prent B: Waar die kloof van Migmas moontlik was
Todd Bolen/BiblePlaces.com
4. Wat het Dawid gedoen om sy belofte te hou om vir Jonatan se familie te sorg? (it “Mefiboset” nr. 2 ¶1-wcgr)
Dink aan die lesse
Jonatan was lojaler aan Jehovah as aan Saul. Wanneer sal ons dalk moet wys dat ons lojaler aan Jehovah is as aan enige iemand anders? C
Prent C
Wat leer Jonatan se verhouding met Dawid jou oor . . .
vriendskap?
nederigheid?
lojaliteit?
Op watter ander maniere kan jy Jonatan se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Jonatan graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
Wat het Jonatan en Dawid gehelp om sulke goeie vriende te wees, en hoe kan ons vandag soortgelyke vriendskappe hê?
Help jou kinders om te sien wat hulle uit Jonatan se lewe kan leer.