18 GIDEON
Moedig en versigtig
’N PERSOON wat moedig is, moet ook versigtig wees. As hy nie versigtig is nie, sal hy dalk roekeloos word. Gideon was moedig en versigtig. Hy het in ’n tyd gelewe toe Israel weer eens hulle rug op Jehovah gedraai het. En daarom het Jehovah die Midianiete toegelaat om in die land in te stroom, sy volk te onderdruk en hulle te keer om hulle oes in te samel. Maar Gideon was moedig en het aanhou werk om kos vir sy mense te voorsien. Hy het dit versigtig in ’n wynpers gedoen sodat die Midianiete hom nie kon sien nie.
Die lewe het so moeilik geword dat die Israeliete Jehovah uiteindelik gesmeek het om hulle te help. En daarom het hy ’n profeet gestuur om hulle te herinner aan hoekom hy hulle verlaat het; daarna het hy ’n engel gestuur om Gideon die opdrag te gee om Sy volk te red. Gideon het vir ’n teken gevra. So die engel het ’n wonderwerk verrig deur vuur te gebruik om ’n offerande wat Gideon voorberei het, te verbrand. Daarna het die engel verdwyn. Daardie aand het Jehovah met Gideon gepraat en vir hom gesê om ’n altaar van Baäl en ’n heilige paal af te breek. Hy moes toe ’n altaar vir Jehovah bou en ’n offerande daarop vir Hom maak. Gideon was gehoorsaam, maar omdat hy bang was vir sy pa en die manne van die stad, het hy dit in die aand gedoen, toe hy seker was dat niemand hom sou sien nie.
Ná Gideon se moedige dade het die Midianiete saam met die Amalekiete en die Oosterlinge ’n groot leërmag gevorm. Hulle het gekom om teen Israel te veg en het die Jisreël-vallei bedek soos ’n swerm sprinkane. Jehovah se gees het Gideon beweeg om boodskappers na party van Israel se stamme te stuur om hulle te vra om saam met hom te veg. Maar Gideon was weer eens versigtig. Hy het Jehovah gevra om twee wonderwerke te verrig om te bewys dat Hy hom ondersteun het. Jehovah was geduldig met Gideon en het gedoen wat hy gevra het. Daardie aand, toe Gideon die vlies op die dorsvloer neergesit het, het Jehovah veroorsaak dat die vlies nat word met dou terwyl die grond rondom dit droog gebly het. Die volgende aand het Hy veroorsaak dat die vlies droog bly terwyl die grond rondom dit nat was.
Gideon en sy manne was baie minder as hulle vyande, maar Jehovah het vir Gideon gesê om sy leërmag selfs kleiner te maak
Daardie twee wonderwerke het Gideon die moed gegee wat hy nodig gehad het, om sy leërmag van net 32 000 manne te vat om teen 135 000 soldate te veg. Terwyl die Israeliete by die Harod-fontein kamp opgeslaan het, het Jehovah vir Gideon gesê dat sy leërmag te groot is! Jehovah het vir Gideon gesê om al die soldate wat bang was, huis toe te stuur. Net 10 000 manne het oorgebly. Maar Jehovah het gesê dat dit nog steeds te veel was. Hy het vir Gideon gesê om sy manne dop te hou terwyl hulle water drink. Dié wat op hulle knieë neergebuig het en direk water met hulle monde gedrink het, moes huis toe gaan. Maar die ander soldate was versigtig. Hulle het die water gedrink deur hulle hande na hulle monde toe te bring sodat hulle kon sien wat om hulle aangaan. Hierdie manne was gekies om te veg. Nou het Gideon net 300 manne oorgehad!
Al het hy ’n baie klein leërmag gehad, was Gideon moedig en voorbereid. Jehovah het hom weer verseker dat Hy saam met hom was. Hy het vir Gideon gesê om stilletjies in die nag in die kamp van die vyand te gaan. En Gideon het dit gedoen. Hy het gehoor hoe ’n soldaat ’n droom vertel wat gewys het dat Israel die oorlog sou wen. As gevolg van die versekering wat God Gideon gegee het, was hy nou vol selfvertroue. Hy het terug na sy manne gegaan en vir hulle instruksies gegee oor hoe om die oorlog te wen. Hy het vir hulle gesê: “Hou my dop, en doen presies wat ek doen.” In die nag het Gideon en sy manne die kamp van die vyand omsingel. Toe Gideon die teken gee, het hulle groot waterhouers, fakkels en horings gebruik om ’n skielike geraas en lig te veroorsaak. Hulle het uitgeroep: “Die swaard van Jehovah en van Gideon!” Hierdie taktiek het die vyand laat dink dat hulle omsingel was en dat hulle aangeval word. Hulle was baie bang en verward! Toe het Jehovah veroorsaak dat hulle mekaar aanval en doodmaak. Daar het omtrent net 15 000 oorleef en gevlug.
Gideon het hulle agternagesit. Hy het die vyand oorwin en hulle leiers doodgemaak. Hy het ook party Israeliete gestraf omdat hulle geweier het om hom en sy manne te ondersteun terwyl hulle vir Jehovah geveg het. Toe het die mense probeer om Gideon hulle koning te maak. Hy het nederig geweier en het gesê: “Jehovah sal oor julle regeer.” God het daardie moedige en versigtige man beloon. Gideon het vrede geniet terwyl hy as ’n rigter oor Israel gedien het en het op ’n goeie ouderdom gesterf. Hy was selfs genoem deur die apostel Paulus toe hy gepraat het van manne en vroue met sterk geloof. – Heb. 11:32.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Gideon gewys dat hy moedig is?
Soek dieper
1. In ’n droom het die soldaat ’n “ronde garsbrood” gesien. Hoekom het dit Gideon se leërmag goed verteenwoordig? (Rigt. 7:13; it “Gars” ¶7-wcgr)
2. Hoekom het die geluid van 300 horings die Midianiete verward en bang gemaak? (it “Horing” ¶3-wcgr) A
Prent A: Israeliete het ramshorings gebruik om inligting oor te dra
3. Wat moes Gideon en sy leërmag doen om die Midianiete te oorwin? (w04 10/15 16 ¶9-10) B
Prent B: Gideon het die Midianiete omtrent 80 kilometer na Jogbeha agternagesit (presiese roete onbekend)
4. Watter inligting in die Bybel wys dat hierdie verslag akkuraat is? (w05 4/15 32)
Dink aan die lesse
Gideon het God se volk tot ’n oorwinning gelei. Maar hy het nederig gebly en het die vrede behou wanneer hy met ander gepraat het (Rig 8:1-3). Hoe kan gesinshoofde en ouermanne Gideon navolg wanneer iemand ongelukkig is oor iets wat hulle gedoen het?
In watter situasies moet ons dalk moedig en versigtig wees? C
Prent C
Hoe kan jy Gideon se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Gideon graag wou vra nadat Jehovah hom opgewek het?
Leer meer
As jy ’n diensvoorreg ontvang, hoe kan jy Gideon navolg?
Gebruik hierdie Bybelse prenteverhaal om jou kinders te help om op God te vertrou.