16 BARAK EN DEBORA
“Ek sal beslis saam met jou gaan”
DIT was ’n donker tyd in Israel. Die mense het teen Jehovah gerebelleer. Net soos Jehovah gewaarsku het, het hy toegelaat dat hulle vyande hulle aanhoudend onderdruk en aanval. Die Kanaänitiese koning Jabin was in beheer. Die hoof van sy leërmag was ’n wrede man met die naam Sisera. Hy het ’n massiewe leërmag gelei wat 900 strydwaens met ysterlemme ingesluit het.
Vir 20 jaar het Sisera se leërmag die Israeliete geterroriseer. Dit lyk asof dit hulle gewoonte was om die jong vroue gevange te neem en hulle te verkrag wanneer hulle ’n dorp of ’n stad aangeval het. As gevolg van hierdie verskriklike dinge was die paaie leeg en die dorpies verlate. Die meeste Israelitiese manne het nie wapens gehad om hulleself te verdedig nie.
’n Moedige vrou met die naam Debora het op daardie stadium as Jehovah se profetes gedien. Sy het ook regterlike besluite gemaak oor moeilike sake wat die Israeliete na haar toe gebring het. Jehovah het Debora gebruik om instruksies te gee aan ’n man met die naam Barak. Jehovah het hom gekies om ’n redder vir sy volk te wees. Stel jou net voor hoe verbaas Barak moes gewees het toe sy vir hom Jehovah se instruksies gee om ’n leërmag van 10 000 manne bymekaar te maak en hulle na die berg Tabor te vat. Jehovah sou hom die oorwinning oor Sisera en sy leërmag gee!
Was Barak ’n trotse man wat geïrriteerd geword het omdat ’n vrou vir hom instruksies gegee het? Glad nie. Hy het eerder gesê dat hy net op hierdie toewysing sal gaan as Debora saam met hom gaan. Hy het dit nie gesê omdat hy min geloof gehad het nie. Die apostel Paulus het Barak later genoem toe hy geskryf het oor mans en vrouens met sterk geloof (Heb. 11:1, 2, 32). Barak het gewys dat hy geloof het deur Debora te vra om saam met hom en sy manne te gaan. Hy het geweet dat Jehovah haar gebruik, en hy wou soveel as moontlik van Jehovah se leiding hê. Debora was moedig en het gesê: “Ek sal beslis saam met jou gaan.” Sy het ook vir Barak gesê dat hy die geveg sou wen, maar dat geen man Sisera sou doodmaak nie, selfs nie eers Barak nie. God sou daardie voorreg vir ’n vrou gee.
Barak het dadelik aan die werk gespring. Hy het ’n leërmag van 10 000 moedige manne bymekaargemaak en hulle op die beste moontlike manier vir die geveg voorberei. Hy het sy leërmag na die top van die berg Tabor geneem. Daardie berg wat op die vlaktes van Jisreël is, is omtrent 562 meter hoog en lyk soos ’n onderstebo bak. Van daar af kon Debora, Barak en sy manne sien hoe Sisera en sy leërmag in die verte met baie strydwaens nader kom.
Wat sou Barak doen? Die meeste bevelvoerders sou eers wag tot Sisera en sy strydwaens naby die berg Tabor kom. Want wanneer hulle opdraand gaan, sou die strydwaens stadiger word en sou dit makliker vir Barak en sy manne wees om teen Sisera en sy leërmag te veg. Maar Barak het geweet dat hierdie geveg nie syne was nie, maar Jehovah s’n. Daarom het hy na Debora geluister. Deur middel van haar het Jehovah vir Barak gesê om op te staan en aan te val! Barak en sy manne het moedig teen die berg afgehardloop om teen daardie leërmag en hulle skrikwekkende strydwaens te veg!
’n Rigter en ’n profetes moes veg teen ’n wrede vyand en sy leërmag met oorlogstrydwaens
Uit ’n militêre oogpunt het hulle nie ’n kans gestaan nie. Maar Jehovah het hulle moed gesien en hulle daarvoor beloon. Hy het die Kanaänitiese leërmag heeltemal verwar. Die reën het begin neerstort. Nie lank daarna nie was die Jisreël-vallei heeltemal oorstroom en die strydwaens het in die modder begin vassit. Nou het die strydwaens niks vir hulle beteken nie. Sisera se soldate moes van hulle strydwaens afklim om teen die Israelitiese soldate te veg. Nie een van Sisera se soldate het oorleef nie. Wat het met Sisera gebeur?
Sisera het dit reggekry om deur die modder te hardloop en na ’n hoër gebied te vlug. Hy het dalk gedink dat hy ontsnap het, terwyl hy sy manne vir dood agtergelaat het. Maar Barak het hom agternagesit. Intussen het Jehovah alles gesien. Hy het iets in gedagte gehad vir Sisera.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Barak en Debora gewys dat hulle moedig is?
Soek dieper
1. Hoe was die lewe in Israel toe Sisera hulle onderdruk het? (w15 8/1 12 ¶6)
2. Hoekom word Debora nie gewoonlik getel onder die 12 rigters wat in Israel gedien het, voordat Samuel ’n profeet geword het nie? (w86 6/1 31 ¶6-8)
3. Op watter manier was Debora “’n moeder in Israel”? (Rigt. 4:4, 5; 5:7; w15 8/1 13 ¶1) A
Prent A
Prent A
4. Wat het Debora en Barak bedoel toe hulle gesing het dat ‘die sterre teen Sisera geveg het’? (Rigt. 5:20; w05 1/15 25 ¶5)
Dink aan die lesse
Wanneer sal ’n broer dalk die manier navolg waarop Barak nederig die hulp van ’n getroue vrou aanvaar het? B
Prent B
Hoekom het Debora moed nodig gehad om saam met Barak te gaan? Wanneer het ons soortgelyke moed nodig?
Op watter ander maniere kan jy die moed van Barak en Debora navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Barak en Debora graag wou vra nadat Jehovah hulle opgewek het?
Leer meer
Kyk hoe hierdie verslag ons verseker dat die dinge wat ons vir Jehovah doen vir hom belangrik is.
Wat leer Barak en Debora ons oor vertroue, beskeidenheid en gehoorsaamheid?
“Deur geloof het Barak ’n magtige leër op die vlug gejaag” (w03 11/15 28-31)