10 MOSES
Hy het die regte keuse gemaak
MOSES het nie sy naam by sy Hebreeuse ouers gekry nie, maar eerder by die Egiptiese prinses wat hom aangeneem het. Sy het die naam gekies omdat dit iets beteken soos “uit die water gered”, en sy het die babaseuntjie op hierdie manier gered. Sy het moontlik gehoop dat hy ’n belangrike lid van die Egiptiese koninklike familie sou word. Sy was sekerlik baie bly om te sien dat hy die beste opvoeding in Egipte kry. Die Bybel sê: “Moses is dus in al die wysheid van die Egiptenare onderrig.”
Hy het ’n indrukwekkende jong man geword. Die Bybel sê: “Om die waarheid te sê, hy was kragtig in sy woorde en dade.” Hy kon daarop gefokus het om baie ryk en magtig te word, en om al die lekker dinge in Egipte te geniet. Maar Moses het geweet dat hy Jehovah se guns sou verloor as hy só ’n lewe sou lei. So Moses moes ’n keuse maak: Wat sou hy met die res van sy lewe doen?
Toe Moses 40 jaar oud was, het hy sy keuse aan almal baie duidelik gemaak. Ons lees: “Deur geloof het Moses geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word toe hy groot was. Hy het eerder gekies om saam met God se volk sleg behandel te word as om sonde ’n kort tydjie te geniet.” Hy het die regte keuse gemaak, en dit het gewys dat hy geloof en moed gehad het. Maar hy het ook ’n hele paar foute gemaak.
Moses het die Israeliete as “sy broers” beskou en wou hulle help omdat hulle sleg behandel was. Eendag het hy gaan kyk hoe swaar hulle kry. Hy het gesien hoe ’n Egiptenaar, moontlik ’n toesighouer, ’n Hebreeuse slaaf slaan. Het Moses vir die Egiptenaar geskree om te stop? Ons weet nie. Maar die Bybel sê dat Moses “rondgekyk” het. Dit was dalk om te sien of enige iemand daar naby was om die slaaf te beskerm. Maar hy het niemand gesien nie. So Moses het besluit om die slaaf te beskerm. ‘Hy het die Egiptenaar doodgemaak.’ Het hy bedoel om dit te doen? Of was hy so kwaad dat hy die man harder geslaan het as wat hy wou? Die Bybel sê nie. Maar Moses het geweet dat hy nou in groot gevaar was, so hy het die Egiptenaar se liggaam in die sand weggesteek.
Hy het weer die volgende dag uitgegaan. Hierdie keer het hy gesien dat twee slawe met mekaar baklei en hy het hulle probeer stop. Maar een van die slawe het iets gesê wat Moses bang gemaak het: “Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Is jy van plan om my dood te maak, net soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het geweet dat dit wat hy gedoen het, nie meer ’n geheim was nie. Sy lewe was nou in gevaar.
Niks het uitgedraai soos wat Moses gehoop het nie. Waarvoor het hy gehoop? Die Bybel sê vir ons: “Hy het gedink dat sy broers sou besef dat God hom gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie besef nie.” Moses het dalk gedink dat Jehovah hom gekies het om Israel uit slawerny in Egipte te lei. Maar Moses het nie verstaan dat dit nog nie Jehovah se tyd was om sy volk te red nie. Moses het ook nie verwag dat die Israeliete op hierdie manier sou reageer nie. Hulle het nie hierdie Hebreër vertrou wat deur die Egiptiese koninklike familie grootgemaak is nie.
Sou Moses kies om ryk en magtig te word, of sou hy Jehovah se volk ondersteun?
Moses het gedink dat hy gereed was om Jehovah se volk uit Egipte te lei, maar daar was baie redes hoekom hy nog nie gereed was nie. Jehovah het geweet dat Moses nog opleiding nodig gehad het. Ja, hy was moedig en sterk. En “hy was [ook] kragtig in sy woorde”. Maar hy het nog ’n eienskap nodig gehad wat vir Jehovah baie belangrik is – sagmoedigheid. Hy het sonder om te dink ’n Egiptiese man doodgemaak, en Farao het kort daarna van daardie gewelddadige optrede uitgevind.
Sonder om Moses die geleentheid te gee om te verduidelik wat gebeur het, het Farao hom probeer doodmaak. So Moses het uit Egipte gevlug. Hy het nie geweet wat met hom sou gebeur nie en hy moes rykdom, ’n gemaklike lewe en ’n belangrike posisie agterlaat. Hy het baie moed nodig gehad om sy huis te verlaat en om na die ver land Midian te reis. In daardie droë gebied sou hy baie jare lank “’n uitlander in ’n vreemde land” wees. Sou hy die moed gehad het om te verbeter en te verander? Sou hy die sagmoedige en nederige man word wat Jehovah wou hê hy moes wees? Kom ons kyk.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Moses gewys dat hy moedig is gedurende hierdie deel van sy lewe?
Soek dieper
1. Watter argeologiese bewyse is daar dat die Israeliete slawe in Egipte was soos die Bybel sê? (w20.03 30) A
Courtesy Brooklyn Museum, gift of Theodora Wilbour
Prent A: ’n Gedeelte van ’n Egiptiese lys van slawe wat meer as 40 Semitiese name bevat wat daarop dui dat Israelitiese slawe in Egipte was
2. Wat het Moses by sy ouers geleer en wat het hy geleer toe hy “in al die wysheid van die Egiptenare onderrig” was? (Hand. 7:22; w02 6/15 10 ¶2-5)
3. Hoe het die Egiptenare gewoonlik ’n dooie persoon begrawe? Hoe het hulle dalk gevoel toe Moses nie net die Egiptenaar doodgemaak het nie, maar ook sy liggaam weggesteek het in plaas daarvan om dit te balsem en te begrawe? (it “Egipte, Egiptenaar” ¶28-wcgr) B
Prent B: ’n Egiptiese mummie
4. Moses het na Midian gevlug. Wat het die Midianiete en die Israeliete in gemeen gehad? (it “Midian” nr. 2 ¶1-2-wcgr)
Dink aan die lesse
Wat kan Moses se voorbeeld jou leer oor hoe om jou humeur te beheer?
Wat kan jongmense by Moses leer oor hoe om moedig die regte doelwitte te kies? C
Prent C
Op watter ander maniere kan jy die moed navolg wat Moses in hierdie verslag gewys het?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek graag vir Moses in die opstanding wou vra oor sy lewe toe hy jonk was?
Leer meer
Kyk hoe ons Moses se selfopofferende lewe kan navolg.
Wees soos dié met geloof, nie dié sonder geloof nie – Moses, nie Farao nie (2:27)
Moses het rykdom opgegee om Jehovah te dien. Is dit vandag nog realisties?