4 ABRAHAM
Die eerste man om ’n regverdige oorlog te voer
JEHOVAH het ’n wonderlike belofte aan sy vriend Abraham gemaak, wat die toekoms van die hele mensdom sou raak: “Ek sal jou ’n groot nasie maak.” God het ook vir Abraham die pragtige land gewys waar daardie toekomstige nasie sou bly (Gen. 12:2; 13:14, 15). Maar Satan was vasbeslote om daardie nasie te vernietig selfs voordat dit gevorm was. Die Duiwel het geweet dat hierdie nasie die voorspelde “nageslag” sou voortbring wat hom en sy goddelose wêreld sou vernietig. – Gen. 3:15.
Abraham en sy familie het Satan se teiken geword. Een persoon in sy familie wat baie swaargekry het, was sy broer se kind, Lot. Abraham het vir Lot gesê dat hy kon kies waar hy in die Beloofde Land wou bly, en Lot het die rykste en vrugbaarste gebied gekies. Dit was naby die stad Sodom, waar die manne ‘goddeloos was en erg teen Jehovah gesondig het’ (Gen. 13:8-13). Die koning van Sodom en vier ander konings van Kanaän was kwaad omdat hulle belasting moes betaal aan die koning van Elam, en daarom het hulle gerebelleer. As gevolg hiervan het die koning van Elam saam met drie ander konings van ver gekom en teen die konings van Kanaän geveg en hulle oorwin. Die koning van Elam en die drie ander konings het na hulle land teruggegaan en baie dinge en gevangenes saam met hulle gevat. Lot en sy familie was deel van die gevangenes.
Abraham het sy groep van 318 manne gelei om teen die leërmagte van vier magtige konings te veg en hulle agterna te sit
Wat sou Abraham doen? Hy kon geredeneer het dat dit Lot se eie skuld was as gevolg van die besluite wat hy geneem het. Of hy kon dalk bekommerd gewees het dat hy oorlog sou moes voer teen daardie konings as hy gegaan het om Lot te red. Abraham was nie ’n vegter nie. Hy het in tente gewoon en hy was ’n herder. Hoe kon hy die leërmagte van al vier magtige konings oorwin? En een van daardie konings het in Sinear regeer, die plek waar Abraham vandaan gekom het. Iemand anders sou dalk bekommerd gewees het dat so ’n oorlog enige kans sou verminder om eendag terug te gaan na die gemaklike lewe in Ur. Maar Abraham het nie so gedink nie. Hy het geweet wat Jehovah wou hê hy moes doen.
Teen hierdie tyd was daar al meer as 1 000 mense deel van Abraham se huishouding. Hy het sy opgeleide manne bymekaargemaak, 318 knegte, en hulle gereed gekry vir die oorlog. Hulle het saam met ’n paar ander konings teen die vyande gaan veg. Hulle het ver na die noorde gereis na die streek van Dan, en daar het hulle die leërmag van die vyand gevind. Abraham het sy manne in groepe verdeel en die vyand in die nag aangeval. Alhoewel Abraham se leërmag baie kleiner was, het hulle die ander leërmag oorwin en die vyande het gevlug. Terwyl die vier konings en hulle manne verder na die noorde gevlug het, het Abraham aangehou om hulle agterna te sit. Naby Damaskus het hy hulle heeltemal oorwin en al die goed en mense wat hulle uit Kanaän gevat het, teruggekry. Lot en sy familie was uiteindelik vry!
Hoe het Jehovah gevoel oor die moed en geloof wat Abraham gehad het? Die antwoord het duidelik geword toe Abraham naby die stad Salem verbygegaan het. Die koning van daardie stad, Melgisedek, was ook ’n priester van Jehovah. Melgisedek het uit die stad gekom om Abraham te ontmoet en om Jehovah se seën op hom uit te stort. Abraham het nederig vir Melgisedek ’n tiende van die beste dinge gegee wat hy in die oorlog gevat het.
Dit is duidelik dat daardie oorlog nie ’n menseoorlog was nie, maar God s’n. Die Bybel praat van “die boek van die Oorloë van Jehovah” (Num. 21:14). Dit is moontlik dat hierdie oorlog die eerste oorlog was wat in daardie boek opgeteken was. Honderde jare later toe Abraham se nageslag teen die goddelose Kanaäniete geveg het wat in die Beloofde Land gebly het, het Jehovah sy getroue volk die een oorwinning na die ander gegee.
Maar toe God se mense hom verlaat het, het hulle sy beskerming verloor. Jehovah het hulle uiteindelik heeltemal verwerp toe hulle sy Seun, die Messias, verwerp het. In plaas van daardie fisiese nasie, het Jehovah begin om ’n geestelike nasie onder Christus se heerskappy te seën. Jesus het sy dissipels verbied om aan fisiese oorloë deel te neem (Matt. 26:52). Hy het hulle eerder geleer hoe om ’n geestelike oorlog te voer. Jesus het die voorbeeld gestel en gewys dat ’n mens net so baie moed nodig het om in ’n geestelike oorlog te veg.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Abraham gewys dat hy moedig is gedurende hierdie deel van sy lewe?
Soek dieper
1. Watter bewyse ondersteun die akkuraatheid van hierdie verslag? (w89 7/1 5 ¶4–6 ¶1)
2. Watter geografiese bewyse ondersteun die Bybel se beskrywing van Sodom en Gomorra? (it “Soutsee” ¶6-wcgr) A
© Yadid Levy/age fotostock
Prent A: Daar groei selfs vandag nog dadelpalms en ander plante in die streek waar Sodom blykbaar was
3. Melgisedek was koning en priester van Salem. Waar was Salem? (it “Salem”-wcgr)
4. Op watter maniere het Melgisedek Jesus verteenwoordig? (it “Hoëpriester” ¶27-28-wcgr) B
Prent B
Dink aan die lesse
Abraham het Lot toegelaat om die beste deel van die land te vat. Hoe kan ons Abraham navolg in die manier hoe ons ons familie, ons broers en susters en ander behandel? C
Prent C
Wat leer ons uit Abraham se bereidwilligheid om sy broer se kind te red?
Op watter ander maniere kan jy die moed navolg wat Abraham in hierdie verslag gewys het?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Abraham of Lot graag wou vra nadat Jehovah hulle opgewek het?
Leer meer
Kyk hoe Abraham geleer het om Jehovah ten volle te vertrou.
Hoe het Abraham gewys dat hy moedig was selfs voordat hy Ur verlaat het?