HOOFSTUK 6
Bedieningsknegte lewer waardevolle diens
DIE apostel Paulus het aan die gemeente in Filippi geskryf: “Van Paulus en Timoteus, slawe van Christus Jesus. Aan al die heiliges in eenheid met Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en bedieningsknegte” (Fil. 1:1). Let op dat hy die bedieningsknegte gegroet het. Dit lyk asof hierdie manne die ouermanne in die gemeente van daardie tyd baie gehelp het. Dit is ook vandag die geval. Bedieningsknegte help die opsieners en dit maak dat die gemeente ordelik is.
2 Weet jy wie die bedieningsknegte in jou gemeente is? Is jy bewus van die werk wat hulle tot voordeel van jou en van die hele gemeente doen? Jehovah waardeer beslis die werk van hierdie manne. Paulus het geskryf: “Die manne wat op ’n goeie manier dien, verkry ’n goeie reputasie vir hulleself met groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in Christus Jesus.” – 1 Tim. 3:13.
SKRIFTUURLIKE VEREISTES VIR BEDIENINGSKNEGTE
3 Daar word van bedieningsknegte verwag om ’n voorbeeldige Christelike lewe te lei, verantwoordelike manne te wees en behoorlik na toewysings om te sien. Dit kan duidelik gesien word uit wat Paulus in sy brief aan Timoteus oor die vereistes vir bedieningsknegte gesê het: “Bedieningsknegte [moet] ernstig wees, nie bedrieglike dinge sê nie, hulle nie aan baie wyn oorgee nie, nie gierig op soek wees na oneerlike wins nie en met ’n skoon gewete vashou aan die heilige geheim van die geloof. Hulle moet ook eers getoets word om te sien of hulle geskik is. Dan kan hulle as bedienaars dien, aangesien hulle vry van beskuldiging is. Bedieningsknegte moet mans van een vrou wees, wat goeie leiding aan hulle kinders en aan hulle eie huisgesinne gee” (1 Tim. 3:8-10, 12). As daar gebly word by die hoë standaard wat vir bedieningsknegte vasgestel is, word die gemeente beskerm teen moontlike beskuldigings oor die soort manne aan wie spesiale verantwoordelikhede toevertrou word.
4 Of bedieningsknegte nou oud of jonk is, hulle is elke maand bedrywig in die bediening. Hulle volg Jesus se voorbeeld na deur ywerig in die bediening te wees. Deur hierdie soort ywer te hê, weerspieël hulle Jehovah se belangstelling om die mensdom te red. – Jes. 9:7.
5 Manne wat as bedieningsknegte dien, is ook voorbeeldig wat hulle kleredrag, persoonsversorging, spraak, gesindheid en gedrag betref. Hulle is verstandig, en daarom wen hulle die respek van ander. Verder neem hulle hulle verhouding met Jehovah en hulle diensvoorregte in die gemeente ernstig op. – Tit. 2:2, 6-8.
6 Hierdie manne is “getoets . . . om te sien of hulle geskik is”. Selfs voordat hulle aangestel is, het hulle gewys dat hulle werklik toegewyde manne is. Hulle het gewys dat hulle Koninkryksbelange eerste stel in hulle lewe en dat hulle beskikbare diensvoorregte nastreef. Hulle voorbeeld kan beslis deur ander in die gemeente nagevolg word. – 1 Tim. 3:10.
HOE HULLE DIEN
7 Bedieningsknegte help hulle broers en susters deur ’n verskeidenheid praktiese dienste te lewer. Dit maak dit vir die opsieners moontlik om meer tyd aan onderrigting en herderswerk te bestee. Wanneer die liggaam van ouermanne bedieningsknegte toewysings gee, neem hulle elke bedieningskneg se vermoëns en die behoeftes van die gemeente in ag.
Bedieningsknegte lewer ’n verskeidenheid praktiese dienste, wat dit vir die opsieners moontlik maak om meer tyd aan onderrigting en herderswerk te bestee
8 Kyk na ’n paar van hierdie dienste: Een bedieningskneg kan aangewys word om na die lektuur om te sien sodat ons dit vir persoonlike gebruik en vir die veldbediening kan kry. Ander word aangewys om die gemeente se rekeninge of gebiedsverslae op datum te hou. Party word aangewys om na die mikrofone en die klanktoerusting om te sien, saalwagters te wees en die ouermanne op ander maniere te help. Dit vat baie werk om die Koninkryksaal in stand en skoon te hou, en daarom word bedieningsknegte dikwels gevra om met hierdie verantwoordelikhede te help.
9 In party gemeentes kan elkeen van hierdie pligte moontlik aan ’n ander bedieningskneg toegewys word. In ander gemeentes moet ’n bedieningskneg dalk na verskeie toewysings omsien. In sommige gevalle word ’n sekere taak aan meer as een bedieningskneg toegewys. As daar nie genoeg bedieningsknegte is om party van hierdie verantwoordelikhede na te kom nie, kan die liggaam van ouermanne reël dat ander voorbeeldige gedoopte broers hierdie noodsaaklike take verrig. So sal hulle ondervinding kry wat hulle later sal help wanneer hulle kwalifiseer om as bedieningsknegte aangestel te word. As daar geen broers beskikbaar is nie, kan ’n voorbeeldige suster gevra word om met party van hierdie dinge te help, hoewel sy natuurlik nie as ’n bedieningskneg aangestel sal word nie. ’n Voorbeeldige persoon is iemand wie se gedrag en aanbidding ’n goeie voorbeeld is om na te volg. So iemand stel ’n goeie voorbeeld wat sy vergaderingbywoning, deelname aan die bediening, gesinslewe, keuses van vermaak, kleredrag, persoonsversorging, ensovoorts betref.
10 In gemeentes met baie min ouermanne kan bekwame bedieningsknegte gevra word om die doopvrae wat oor leerstellige sake gaan, met persone te bespreek. Dit word gevind in die Aanhangsel “Deel 1: Christelike oortuigings”. Omdat “Deel 2: Die Christelike lewenswyse” oor sensitiewe persoonlike sake gaan, moet ’n ouerman hierdie deel bespreek.
11 As daar goeie rede is, sal die liggaam van ouermanne dalk vind dat dit goed is om sekere toewysings van party bedieningsknegte van tyd tot tyd te verander. Maar dit is baie goed om broers ’n ruk lank dieselfde toewysing te laat doen sodat hulle meer ervare en bekwaam kan word.
12 Afhangende van plaaslike omstandighede kan ander verantwoordelikhede moontlik toegewys word aan bedieningsknegte wie se ‘vooruitgang duidelik gesien kan’ word (1 Tim. 4:15). As daar nie genoeg ouermanne is nie, kan ’n bedieningskneg aangestel word om as ’n assistent vir ’n groepopsiener te dien, of, in party gevalle, as ’n groepkneg, onder die toesig van die ouermanne. Bedieningsknegte kan sekere dele op die Lewe en Bediening-vergadering gee. Dit kan insluit dat hulle die Gemeentelike Bybelstudie hou, indien nodig. Hulle kan ook gebruik word om openbare toesprake te hou. Ander voorregte kan aan bedieningsknegte gegee word wanneer daar ’n spesifieke behoefte ontstaan en as hulle aan die vereistes vir die toewysing voldoen (1 Pet. 4:10). Terwyl bedieningsknegte die ouermanne bystaan, moet hulle gewillig van hulleself gee.
13 Hoewel hulle werk verskil van die ouermanne s’n, is dit net soveel ’n deel van heilige diens aan God en is dit belangrik sodat alles in die gemeente vlot kan verloop. As bedieningsknegte hulle verpligtinge goed nakom en aan die vereistes voldoen om as herders en onderrigters te dien, kan hulle mettertyd aanbeveel word om as ouermanne in die gemeente te dien.
14 As jy ’n broer in jou tienerjare is of onlangs gedoop is, kan jy jou afvra: Streef ek daarna om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer? (1 Tim. 3:1). Aangesien daar elke jaar soveel mense in die waarheid kom, is daar ’n behoefte aan bekwame geestelike manne om na gemeentelike verantwoordelikhede om te sien. Jy kan uitreik na voorregte as jy ’n begeerte ontwikkel om ander te help. Een manier om dit te doen, is deur te peins oor Jesus se goeie voorbeeld (Matt. 20:28; Joh. 4:6, 7; 13:4, 5). Hierdie begeerte sal groei wanneer jy sien hoe gelukkig dit jou maak om aan ander te gee (Hand. 20:35). Bied dus aan om ander op praktiese maniere by te staan, om met die instandhouding van die Koninkryksaal te help of om vir ’n student se toewysing op die Lewe en Bediening-vergadering in te staan. Om na voorregte uit te reik, behels ook om geestelike eienskappe te ontwikkel deur middel van ’n goeie roetine van persoonlike studie (Ps. 1:1, 2; Gal. 5:22, 23). ’n Broer wat na voorregte uitreik, moet ook wys dat hy betroubaar en getrou is wanneer hy toewysings in die gemeente kry. – 1 Kor. 4:2.
15 Bedieningsknegte word deur die heilige gees tot voordeel van die gemeente aangestel. Almal in die gemeente kan hulle waardering vir die bedieningsknegte se harde werk wys deur met hulle saam te werk terwyl hulle na hulle pligte omsien. So wys die gemeente dat hulle Jehovah se voorsiening om orde in sy huisgesin te hê, waardeer. – Gal. 6:10.