Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 9/15 bl. 19-24
  • Bedieningsknegte—Behou ’n voortreflike reputasie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bedieningsknegte—Behou ’n voortreflike reputasie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ongehude staat en die huwelik
  • Sekulêre werk en materialisme
  • Getrouheid aan God se Koninkryk
  • ’n Behoefte aan meer ondervinding
  • Bied ontmoediging die hoof
  • Hoe ander kan help
  • Bedieningsknegte—’n Seën vir Jehovah se volk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Bedieningsknegte lewer waardevolle diens
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Watter rol speel die bedieningsknegte?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
  • Handhaaf harmonie tussen Ouere manne en bedieningsknegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 9/15 bl. 19-24

Bedieningsknegte​—Behou ’n voortreflike reputasie!

“Diegene wat op voortreflike wyse dien, verwerf vir hulself ’n voortreflike reputasie en groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in verband met Christus Jesus.”​—1 TIMOTHEÜS 3:13, NW.

1. Wat moet ’n man se doelwit wees ná hy as bedieningskneg aangestel is, en wat moet ander in die gemeente wil doen?

DIE geskiktheid van manne wat nou bedieningsknegte is, ‘is eers op die proef gestel’ (1 Timotheüs 3:10, NW). Maar hulle aanstelling was nie ’n doel op sigself nie. Hulle doelwit is om steeds ‘vir hulself ’n voortreflike reputasie te verwerf deur hulle pligte “op voortreflike wyse” na te kom (1 Timotheüs 3:13, NW). Elke lid van die verenigde Christengemeente moet hulle wil help om hierdie doelwit te bereik.

2. Hoe word lede van die gemeente geraak deur wat bedieningsknegte doen?

2 Die apostel Paulus het getoon dat alle lede van die geestelike liggaam van Christus daarby baat vind as hulle saamwerk en vir mekaar sorg (1 Korinthiërs 12: 12-31). Wanneer bedieningsknegte hulle Godgegewe werk “op voortreflike wyse” verrig, vind elke lid van die hedendaagse Christengemeente eweneens daarby baat. Maar wanneer bedieningsknegte probleme ondervind wat verhinder dat hulle hulle pligte behoorlik nakom, kan dit vir al die gemeentelede ongerief veroorsaak.

3. (a) Watter probleme het Jehovah se volk gemeen? (b) Wat lig ’n onlangse opname toe?

3 Elke lid van Jehovah se volk voer dieselfde stryd, ’n “worstelstryd . . . nie teen vlees en bloed nie, maar . . . teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Daarbenewens voer al Jehovah se knegte ’n stryd teen hulle eie onvolmaaktheid en sondige neigings. Daar is egter sekere probleme wat bedieningsknegte in die geheel swaarder tref as ander groepe van Jehovah se Getuies. ’n Onlangse opname onder 320 gemeentes met 1 360 bedienings knegte in in ’n Wes-Europese land lig dit toe.

Die ongehude staat en die huwelik

4. Hoe moet ongetroude bedieningsknegte hulle ongehude staat beskou, en hoe kan ander hulle aanmoedig?

4 ’n Rapsie meer as 10 persent van die bedieningsknegte wat ondervra is, is nog ongetroud. Hulle is dus vry van sekere verantwoordelikhede wat nagenoeg 90 persent van die getroudes gemeen het. Maar ongetroude broers moet oppas dat hulle hierdie vryheid nie net gebruik om persoonlike dinge soos onmatige ontspanning of gesellige verkeer na te jaag nie. Hulle moet ook nie toelaat dat die natuurlike begeerte na die huwelik belangriker as enigiets anders word nie (Mattheüs 6:33). Hulle moet insgelyks nie toelaat dat druk van hulle getroude vriende hulle tot ’n oorhaastige of onverstandige huwelik dryf nie. En Christene wat vir mekaar omgee, sal tog sekerlik die ongehude staat van ongetroude medegelowiges respekteer en hulle wil aanspoor om hulle groter vryheid te benut deur meer tyd aan teokratiese belange te bestee, moontlik deur die voltydse bediening te betree.

5. Watter groter gevaar bestaan daar vir getroude bedieningsknegte as vir ongetroudes?

5 Volgens die voormelde opname is sowat 62 persent van die bedieningsknegte ouers. Daar is groter gevaar dat hulle harte “beswaar” kan word deur die “sorge van die lewe” as in die geval van ongetroude broers (Lukas 21:34-36). Paulus het die ongehude staat aanbeveel en gesê: “Ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag [en hy is verdeeld]. . . . Hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.”​—1 Korinthiërs 7:32-38, vgl. NW.

6. Wat moet getroude bedieningsknegte doen, en wie kan nuttige wenke gee?

6 Hoewel Jehovah se volk nie glo dat ‘huwelike in die hemel gereël word’ nie, weet hulle dat hemelse wysheid nodig is om huweliksprobleme op te los (Ps. 19:8; Spreuke 3:5, 6). Getroude bedieningsknegte moet derhalwe die raad van God se Woord so nougeset moontlik volg. Hulle moet daarna streef om gebalanseerd te wees in die nakoming van gesinsverantwoordelikhede, maar dit nooit as ’n verskoning gebruik om hulle teokratiese pligte in die gemeente te verwaarloos nie. ’n Weldeurdagte rooster is onder andere noodsaaklik. Ouer en meer ervare egpare kan vir jongeres nuttige wenke in hierdie opsig gee wanneer hulle daarom genader word.

7. (a) Hoe kan ’n getroude bedieningskneg se gesin sy pogings en geestelike vooruitgang beinvloed? (b) Wat kan bedieningsknegte wat van plan is om te trou gerus in gedagte hou?

7 Die ondersteuning van sy gesin is vir ’n getroude bedieningskneg van groot hulp. Gesinslede wat oordrewe eise aan sy tyd en aandag stel of te veel op materiële gebied eis, kan natuurlik sy geestelike vooruitgang belemmer. Maar dit is ’n seën wanneer sy hele gesin sy pogings om ‘op voortreflike wyse te dien’, ondersteun (1 Timotheüs 3:13, NW). Dit is gevolglik baie belangrik dat ’n ongetroude bedieningskneg probeer vasstel of ’n moontlike huweliksmaat sy geestelike vooruitgang sal bevorder al dan nie voordat hy emosioneel betrokke raak!

Sekulêre werk en materialisme

8. (a) Watter moontlike gevaar is daar vir party bedieningsknegte ten opsigte van sekulêre werk? (b) Bepeinsing oor watter tekste kan ’n persoon help om materialisme te bestry?

8 Agt uit elke tien bedieningsknegte in die opname was jonger as 60 jaar. In die meeste gevalle doen hulle dus sekulêre werk om hulle en hulle gesinne te onderhou. Nagenoeg vyf uit elke tien van hulle is tussen 20 en 40 jaar oud​—’n tyd wanneer manne van die wêreld gewoonlik gevestig raak in ’n werk of loopbaan en daarna streef om vooruit te gaan en finansiële sekuriteit te verkry. As jy ’n bedieningskneg in daardie ouderdomsgroep is, moet jy nooit die gevaar onderskat dat jy ’n wêreldse, materialistiese gesindheid kan ontwikkel wat jou geestelik kan verswak nie. Onthou eerder dat Paulus gesê het: “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timotheüs 6:8). Jesus het ook goeie raad gegee wat ons almal kan help om materialisme te bestry. Lees dit self in Mattheüs 6:19-34.

9. Wat is die verstandige weg vir jonger bedieningsknegte in die besonder, in ooreenstemming met Mattheüs 16:26?

9 Jonger bedieningsknegte in die besonder moet kyk na die “suksesvolle” manne wat wêreldse loopbane nastreef of rykdom vergaar maar Jehovah uit hulle planne laat. (Vergelyk Spreuke 16:3; 19:21.) Hoe verstandig sou dit wees om vleeslike, materialistiese individue na te volg wat binnekort gedurende die “groot verdrukking” vernietig sal word? (Mattheüs 24:21). Watter kneg van Jehovah sou met hulle wil plekke ruil? “Want”, het Jesus gesê, “wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Mattheüs 16:26). Die verstandige weg is ongetwyfeld om ’n veilige toekoms met Jehovah se organisasie te bou eerder as ’n baie onveilige en kortstondige een met hierdie sterwende wêreld wat in Satan se mag lê.​—1 Johannes 5:19.

Getrouheid aan God se Koninkryk

10. Watter standpunt ten opsigte van politieke aangeleenthede neem die toenemende “geselskap van jong manne”, bedieningsknegte inkluis, in?

10 Daar is profeties van Jehovah se Messiaanse Koning gesê: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u strydkrag. In die prag van die heiligheid, uit die skoot van die daeraad, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Ps. 110:3, NW). Hierdie profesie word sedert 1914 vervul, en die lede van die toenemende “geselskap van jong manne” besef dat hulle allereers aan God se Koninkryk met die verheerlikte Jesus Christus as Koning getrou moet wees. Hoewel hierdie toegewyde manne, met inbegrip van bedieningsknegte, dus betreklike onderworpenheid aan goewermentele “magte” betoon, moet hulle “aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” wanneer daar ’n botsing van belange is (Romeine 13:1; Handelinge 5:29). Jesus het gesê sy volgelinge is “nie van die wêreld” nie (Johannes 15:19; 18:36). Hulle bly neutraal ten opsigte van die politieke aangeleenthede van die nasies en besef dat hulle andersins verraaiers van God se Koninkryk sal wees.

11. Waar van kan broers wat ly omdat hulle Christelike neutraliteit handhaaf, seker wees?

11 Gestel bedieningsknegte of ander verloor hulle werk of selfs hulle vryheid omdat hulle Christelike neutraliteit handhaaf. Wat dan? (Jesaja 2:2-4; Johannes 17:16). Hulle weet dat hulle geestelike broers en susters hulle dan sover moontlik geestelik, en materieel, indien nodig, sal help. Dit is so omdat Jehovah se volk liefdevol vir mekaar sorg.​—Vergelyk Johannes 13:34, 35; 1 Korinthiërs 12:24, 25.

’n Behoefte aan meer ondervinding

12. Wat behels dit om ‘’n voortreflike reputasie te verwerf’?

12 Nagenoeg een derde van die bedieningsknegte in die opname is minder as tien jaar lank Jehovah se Getuies. Hierdie manne het klaarblyklik die hulp en leiding van die meer ervare lede van die gemeente aanvaar. Maar om ’n voortreflike reputasie te verwerf’, behels dat hulle steeds by ander leer en ondervinding opdoen. Dit sou ook beteken dat hulle voortdurend persoonlike doelwitte stel en dit nougeset probeer bereik. Het jy dus vir jou doelwitte gestel indien jy opreg begeer om as ’n bedieningskneg nuttige dienste te lewer of daardie voorreg nastreef? Neem jou byvoorbeeld gerus voor om die hele Bybel teen ’n sekere datum deur te lees of om gedurende sekere maande hulppionierdiens te doen.

13. By watter raad wat aan Timotheüs gegee is, sou ’n broer baat vind wat ’n bedieningskneg wil word of wat nou in daardie hoedanigheid dien?

13 As jy jonk is of min ondervinding het, kan jy baat vind by wat 1 Timotheüs 4:12-15 sê. Hoewel daardie woorde tot die jong opsiener Timotheüs gerig is, sal baie van wat Paulus daar omtrent spraak en gedrag sê enige broer help wat ’n bedieningskneg wil word of wat reeds in daardie hoedanigheid dien. Die apostel het geskryf: “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” Waarop moet jy jou spesifiek toelê “sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees”? Besluit biddend wat jy moet doen en doen dit dan met Jehovah se hulp!

Bied ontmoediging die hoof

14, 15. (a) Watter Skriftuurlike bemoediging is daar vir bedieningsknegte wat bejaard of sieklik is? (b) Hoe kan hierdie manne ander in die gemeente aanmoedig?

14 Talle bedieningsknegte het nie meer te kampe met probleme wat enig is aan jongmanne nie. Hulle is bejaard of het swak gesondheid, en dit kan hulle mismoedig maak. Maar diegene wat geestelik sterk bly, kan troos put uit hierdie woorde van Paulus aan ander gesalfde Christene: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:16-18). Jehovah se knegte met aardse verwagtinge het ook uiters bemoedigende vooruitsigte​—die op die ewige lewe in ’n aardse paradys.​—Lukas 23:43, NW; Johannes 17:3.

15 Daardie bedieningsknegte wat weens swak gesondheid of bejaardheid nie soveel soos ander kan doen nie, het derhalwe goeie rede om ’n vreugdevolle en positiewe gesindheid te behou. Dit weerspieël waardering vir die waarheid en hartgrondige geloof in dinge wat ewig is. So ’n goeie gees, tesame met nederige diens, sal vir almal in die gemeente baie voordelig en bemoedigend wees.

16. Waarom moet ’n bedieningskneg nie mismoedig word as hy nie as ’n ouere man aangestel word nie?

16 As jy ’n bedieningskneg is, moet jy steeds “’n opsienersamp probeer verkry” deur jou onderrigvermoë en geestelike hoedanighede te verbeter (1 Timotheüs 3:1, NW). Maar moenie mismoedig word as jy nie gou as ’n ouere man aangestel word nie. Onthou dat jy, as ’n bedieningskneg wat “op voortreflike wyse” jou pligte nakom, nuttige dienste lewer en ’n ware aanwins vir die gemeente is. Dit is ’n groot voorreg om in enige opsig in Jehovah se organisasie te dien en medegelowiges te help om die opdrag om die Koninkryk te verkondig uit te voer.​—Mattheüs 24:14; 28:19.

Hoe ander kan help

17. Hoe kan ’n bedieningskneg deur sy vrou en kinders gehelp word?

17 Die wete dat bedieningsknegte nuttige dienste lewer, behoort elke lid van Jehovah se volk te beweeg om hulle in hulle pogings te ondersteun. Dit sal byvoorbeeld makliker vir so ’n man wees om steeds ‘op voortreflike wyse te dien’ as sy vrou en kinders tevrede is met die lewensbenodigdhede en nie talle luukse-artikels wil hê wat sou vereis dat hy ekstra tyd aan sekulêre werk moet bestee nie.​—1 Timotheüs 6:6-8.

18. (a) Hoe kan ouere manne bedieningsknegte help? (b) Waarom is goeie kommunikasie tussen ouere manne en bedieningsknegte noodsaaklik?

18 Ouere manne kan bedieningsknegte help deur hulle van die nodige leiding en raad te voorsien. En wanneer hulle vooruitgang maak, moet hulle opreg geprys word. Ouere manne kan bedieningsknegte onder meer in die veldbediening vergesel, hulle help om toesprake voor te berei en hulle skat van Christelike ondervinding met hulle deel. Soms is sulke belangstelling en kommunikasie blykbaar nagelaat. Toe een bedieningskneg byvoorbeeld uit gevra is oor sy swak velddiensrapport het hy vir ’n kringopsiener gesê: “Waarom vra jy? Dis jare lank al swak, maar jy is die eerste een wat iets daaroor sê.” Ouere manne wat bedieningsknegte opbouende, liefdevolle raad gee en hulle geduldig met hulle probleme help, smaak dikwels die vreugde om buitengewone resultate te sien.

19. Hoe kan elke lid van die gemeente die bedieningsknegte help om hulle voortreflike reputasie te behou?

19 Elke lid van die gemeente kan in werklikheid die bedieningsknegte help om hulle voortreflike reputasie te behou. Hoe? Deur met hulle saam te werk en hartgrondige waardering vir hulle werk te toon. Net soos alle dele van die menseliggaam gewoonlik saamwerk om fisiese gesondheid te handhaaf, moet alle lede van die gemeente saamwerk om sy geestelike welsyn te verseker. (Vergelyk 1 Korinthiërs 12:24, 25.) Hardwerkende bedieningsknegte wat nuttige dienste lewer en ’n voortreflike reputasie behou, dra grootliks tot daardie doel by. Mag hulle en al Jehovah se getroue getuies uitsien na ’n toekoms van ewige geluk en eensgesind voortgaan om die hart van “die gelukkige God” te verbly.​—1 Timotheüs 1:11, NW; Spreuke 27:11.

Verduidelik asseblief

◻ Met watter probleme kan bedieningsknegte te kampe hê?

◻ Hoe kan die vrou en kinders van bedieningsknegte hulle ondersteun?

◻ Hoe kan ouere manne bedieningsknegte bystaan?

◻ Hoe kan elke lid van die gemeente bedieningsknegte help?

[Prente op bladsy 20]

Bedieningsknegte moet hulle verantwoordelikhede in die dissipelmaakwerk en in die gemeente getrou nakom

[Prent op bladsy 23]

Ouer bedieningsknegte kan baie doen om die gemeente te help en aan te spoor

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel