Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • od hfst. 7 bl. 59-71
  • Vergaderinge wat ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergaderinge wat ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEMEENTELIKE VERGADERINGE
  • VERGADERING OOR DIE NAWEEK
  • LEWE EN BEDIENING-VERGADERING
  • VELDDIENSVERGADERINGE
  • VERGADERINGREËLINGS VIR NUWE OF KLEIN GEMEENTES
  • KRINGBYEENKOMSTE
  • STREEKBYEENKOMSTE
  • DIE HERE SE AANDMAAL
  • Vergaderinge vir aanbidding
    God se Koninkryk regeer!
  • Jy word hartlik uitgenooi
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Velddiensvergaderinge wat hulle doel dien
    Ons Koninkryksbediening—2015
  • Vind ten volle baat by velddiensvergaderinge
    Ons Koninkryksbediening—2006
Sien nog
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
od hfst. 7 bl. 59-71

HOOFSTUK 7

Vergaderinge wat ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’

JEHOVAH se volk kom al eeue lank op ’n georganiseerde manier bymekaar. In eertydse Israel het alle mans vir die drie groot feeste na Jerusalem gereis (Deut. 16:16). In die eerste eeu het Christene gereeld vergader, dikwels in iemand se huis (Filem. 1, 2). Vandag hou ons ook vergaderinge en byeenkomste. Waarom kom God se knegte bymekaar? Hoofsaaklik omdat dit ’n belangrike deel van ons aanbidding is. – Ps. 95:6; Kol. 3:16.

2 Vergaderinge help ook mense wat dit bywoon. Daar is vir die Israeliete oor elke sewende Huttefees gesê: “Laat die volk bymekaarkom, die mans, die vrouens, die kinders en die uitlanders wat in julle stede woon sodat hulle na Jehovah julle God kan luister, van hom kan leer, hom kan vrees en kan seker maak dat hulle al die woorde van hierdie Wet gehoorsaam” (Deut. 31:12). Ja, ’n belangrike rede hoekom ons bymekaarkom, is sodat ons “deur Jehovah geleer [kan] word” (Jes. 54:13). Vergaderinge gee ons ook die geleentheid om mekaar te leer ken, mekaar aan te moedig en versterk te word deur assosiasie.

GEMEENTELIKE VERGADERINGE

3 Die dissipels wat ná Pinkster 33 HJ bymekaargekom het, het gefokus op wat die apostels geleer het en “het dag ná dag saam in die tempel bymekaargekom” (Hand. 2:42, 46). Wanneer Christene later vir aanbidding bymekaargekom het, het hulle uit geïnspireerde geskrifte gelees, insluitende briewe wat deur die apostels en ander Christendissipels geskryf is (1 Kor. 1:1, 2; Kol. 4:16; 1 Tess. 1:1; Jak. 1:1). Hulle het ook saam gebid in die gemeentes (Hand. 4:24-29; 20:36). Soms is ondervindinge uit die sendingveld vertel (Hand. 11:5-18; 14:27, 28). Bybelleerstellings en die vervulling van geïnspireerde profesieë is bespreek. Onderrigting is gegee oor hoe Christene hulle moet gedra en oor toegewydheid aan God. Almal is aangemoedig om ywerige verkondigers van die goeie nuus te wees. – Rom. 10:9, 10; 1 Kor. 11:23-26; 15:58; Ef. 5:1-33.

Gedurende hierdie moeilike laaste dae het ons die aanmoediging nodig wat ons kry wanneer ons gereeld bymekaarkom

4 In ons dag volg Christelike vergaderinge die patroon wat in die tyd van die apostels vasgestel is. Ons is gehoorsaam aan die geïnspireerde woorde in Hebreërs 10:24, 25: “Laat ons aandag skenk aan mekaar . . . . Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.” Gedurende hierdie moeilike laaste dae het ons die ekstra aanmoediging nodig wat ons kry wanneer ons gereeld bymekaarkom. Dit help ons om geestelik sterk te bly en om as Christene lojaal te wees (Rom. 1:11, 12). As Christene lewe ons tussen ’n geslag wat sleg en verdraai is. Ons het goddeloosheid en wêreldse begeertes verwerp (Fil. 2:15, 16; Tit. 2:12-14). Daar is beslis niks beters as om deel van Jehovah se volk te wees nie! (Ps. 84:10). En wat kan voordeliger wees as om die Woord van God te bestudeer en te bespreek? Kyk na die verskillende vergaderinge wat tot ons voordeel gereël is.

VERGADERING OOR DIE NAWEEK

5 Die eerste deel van die vergadering oor die naweek bestaan uit ’n Bybeltoespraak wat gemik is op die algemene publiek, waarvan party moontlik vir die eerste keer ’n vergadering bywoon. Die openbare toespraak speel ’n belangrike rol daarin om in die geestelike behoeftes van nuwelinge sowel as gemeenteverkondigers te voorsien. – Hand. 18:4; 19:9, 10.

6 Christus Jesus, sy apostels en hulle metgeselle het openbare vergaderinge gehou soortgelyk aan dié wat vandag deur die gemeentes van Jehovah se volk geniet word. Jesus was sonder twyfel die beste openbare spreker wat nog ooit op die aarde was. Daar is van hom gesê: “Nog nooit het enige mens so gepraat nie” (Joh. 7:46). Jesus het met gesag gepraat en het sy gehore verstom (Matt. 7:28, 29). Mense wat sy boodskap ter harte geneem het, is baie hierdeur gehelp (Matt. 13:16, 17). Die apostels het sy voorbeeld gevolg. In Handelinge 2:14-36 lees ons Petrus se kragtige toespraak wat hy op Pinksterdag 33 HJ gehou het. Duisende is gemotiveer om iets te doen as gevolg van wat hulle gehoor het. Later het individue gelowiges geword nadat hulle na Paulus se toespraak in Atene geluister het. – Hand. 17:22-34.

7 Net so word miljoene in ons dag gehelp deur die weeklikse openbare toesprake wat in gemeentes gehou word sowel as deur die openbare toesprake by kring- en streekbyeenkomste. Sulke toesprake help ons om te let op Christelike leringe en om standvastig te bly in Koninkryksdiens. Deur belangstellendes en die publiek te nooi, kan ons baie doen om mense te help om basiese Bybelleringe te leer ken.

8 ’n Verskeidenheid onderwerpe word in openbare toesprake bespreek. Toesprake dek Bybelleerstellings en -profesieë sowel as skriftuurlike beginsels en raad oor die gesinslewe, die huwelik, situasies waarmee jongmense sukkel en Christelike sedes. Party toesprake gaan oor Jehovah se wonderlike skeppingswerke. Ander beklemtoon die voorbeeldige geloof, moed en lojaliteit van Bybelkarakters en konsentreer op lesse vir ons dag.

9 Om die meeste uit die openbare toesprake te kry, is dit belangrik dat ons goed luister, die tekste naslaan waarna die spreker verwys en volg terwyl hy dit lees en verduidelik (Luk. 8:18). As ons op hierdie manier seker maak van die dinge wat bespreek word, sal dit ons vasbeslote maak om vas te hou aan wat ons leer en om dit toe te pas. – 1 Tess. 5:21.

10 As daar genoeg sprekers beskikbaar is, sal die gemeente ongetwyfeld elke week ’n openbare toespraak hê. Dit is dikwels moontlik deur sprekers van nabygeleë gemeentes te nooi. As daar ’n tekort aan sprekers is, word openbare toesprake so dikwels as moontlik gehou.

11 Die tweede deel van die vergadering oor die naweek is die Wagtoring-studie, ’n vraag-en-antwoord-bespreking van artikels wat in die studie-uitgawe van Die Wagtoring verskyn. Deur middel van hierdie tydskrif voorsien Jehovah tydige geestelike voedsel aan ons.

12 Die studieartikels gaan dikwels oor hoe ons Bybelbeginsels in die daaglikse lewe kan toepas. Dit versterk Christene sodat hulle teen “die gees van die wêreld” kan stry en onrein gedrag kan vermy (1 Kor. 2:12). Die Wagtoring werp meer lig op Bybelleerstellings en -profesieë, wat almal in staat stel om by te bly met die waarheid en op die pad van die regverdiges te bly (Ps. 97:11; Spr. 4:18). As ons die Wagtoring-studie bywoon en daaraan deelneem, kan dit ons help om bly te wees oor die hoop om in Jehovah se regverdige nuwe wêreld te lewe (Rom. 12:12; 2 Pet. 3:13). Ons Christelike assosiasie help ons om die vrug van die gees aan te kweek en versterk ons begeerte om Jehovah ywerig te dien (Gal. 5:22, 23). Ons word versterk om deur moeilike tye te gaan en om “’n goeie fondament vir die toekoms” te bou sodat ons “’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”. – 1 Tim. 6:19; 1 Pet. 1:6, 7.

13 Hoe kan ons hierdie voorsiening vir geestelike voedsel ten volle gebruik? Ons moet die les op ons eie of as ’n gesin voorberei, die teksverwysings lees en gedurende die vergadering in ons eie woorde antwoord. Dit sal die waarheid in ons hart laat insink, en ander sal daardeur gehelp word wanneer hulle ons woorde van geloof hoor. As ons aandagtig na die kommentare van ander luister, sal ons elke week by die les baat vind.

LEWE EN BEDIENING-VERGADERING

14 Die gemeente kom elke week by die Koninkryksaal bymekaar vir ’n program wat Ons Christelike Lewe en Bediening genoem word. Hierdie vergadering bestaan uit drie dele wat bedoel is om ons te help om “bekwaam” te wees as bedienaars van God (2 Kor. 3:5, 6). Die rooster en materiaal sal voorsien word in ’n maandelikse publikasie wat Ons Christelike Lewe en Bediening – Vergaderingwerkboek genoem word. Die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek bevat ook voorbeelde van voorgestelde gesprekke wat in die bediening gebruik kan word.

15 Die eerste deel van hierdie vergadering, wat Skatte uit God se Woord genoem word, sal ons die geleentheid gee om meer te leer oor die agtergrond en konteks van Bybelverslae en ons help om te sien hoe ons dit kan toepas. Die vergadering sluit ’n toespraak, ’n voorlesing en ’n bespreking in wat op die weeklikse Bybelleesgedeelte gebaseer is. Visuele hulpmiddele en werkblaaie wat ons sal help om hierdie verslae te verstaan, word in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek ingesluit. Hierdie deeglike studie van die Bybel bevoordeel ons in ons persoonlike lewe en in ons onderrigting, sodat ons “heeltemal bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”. – 2 Tim. 3:16, 17.

16 Die tweede deel van die vergadering, Lê jou toe op die veldbediening, is bedoel om almal die geleentheid te gee om vir velddiens te oefen en om beter te word in die predikings- en onderrigtingswerk. Behalwe vir studentetoewysings word video’s van voorgestelde gesprekke ook bespreek. Hierdie deel van die vergadering help ons om “die tong . . . van dié wat geleer is”, te kry sodat ons “kan weet wat om te sê vir die een wat moeg is”. – Jes. 50:4.

17 Die derde deel, Die Christelike lewenswyse, wys hoe Bybelbeginsels in die daaglikse lewe toegepas kan word (Ps. 119:105). ’n Belangrike kenmerk van hierdie deel van die vergadering is die Gemeentelike Bybelstudie. Soos die Wagtoring-studie, is die Gemeentelike Bybelstudie ’n vraag-en-antwoord-bespreking.

18 Elke maand, wanneer ’n nuwe Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek ontvang word, gaan die koördineerder van die liggaam van ouermanne, of ’n ouerman wat hom help, deeglik daardeur en stel hy ’n rooster op. Elke week sal ’n ouerman wat ’n bekwame onderrigter is en deur die liggaam van ouermanne goedgekeur is, die voorsitter van die vergadering wees. Deel van sy pligte is om seker te maak dat die vergadering op tyd begin en eindig en om diegene wat studentetoewysings het, te prys en raad te gee.

19 As ons gereeld vir die Lewe en Bediening-vergadering voorberei, dit bywoon en daaraan deelneem, leer ken ons die Skrif beter, verstaan ons Bybelbeginsels beter, kry ons groter vertroue om die goeie nuus te verkondig en kan ons beter daarin word om dissipels te maak. Vergaderingbywoners wat nog nie gedoopte Getuies is nie, word ook gehelp deur die warm assosiasie en geestelik opbouende besprekings. Ons kan vir hierdie en ander vergaderinge voorberei deur gebruik te maak van die Watchtower Library, JW Library®, die Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK en die Koninkryksaal se biblioteek. Die Koninkryksaal se biblioteek bevat die beskikbare publikasies van Jehovah se Getuies, die Watch Tower Publications Index of die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies, asook ’n aantal Bybelvertalings, ’n konkordansie, ’n woordeboek en ander nuttige naslaanwerke. Enigeen kan hierdie biblioteek voor of ná die vergaderinge gebruik.

VELDDIENSVERGADERINGE

20 Op verskeie tye gedurende die week en oor naweke kom groepe verkondigers kortliks by velddiensvergaderinge bymekaar. Hierdie vergaderinge word gewoonlik by iemand se huis of op ander geskikte plekke gehou. Die Koninkryksaal kan ook hiervoor gebruik word. As kleiner groepe op verskeie plekke in die gebied bymekaarkom, sal dit moontlik vir verkondigers makliker wees om by die velddiensvergadering en by die gebied uit te kom. Verkondigers kan vinnig georganiseer word en dadelik na die gebied gaan. Die groepopsiener kan ook meer aandag skenk aan diegene onder sy sorg. Hoewel dit voordele inhou wanneer groepe op verskillende plekke bymekaarkom, sal omstandighede soms vereis dat meer as een groep saam vergader. Byvoorbeeld, as minder verkondigers gedurende die week in die bediening uitgaan, sal dit dalk beter wees om groepe te kombineer of om almal by die Koninkryksaal of ’n ander gepaste plek te laat vergader. So sal verkondigers altyd iemand hê om mee te werk. Die gemeente sal dit dalk ook goed vind om op wêreldse vakansiedae by die Koninkryksaal bymekaar te kom. Of die gemeente kan besluit om een velddiensvergadering vir al die groepe ná die Wagtoring-studie te hou.

21 As groepe op verskillende plekke bymekaarkom, hou die groepopsiener die velddiensvergadering. ’n Groepopsiener kan sy assistent of ’n ander bekwame broer van tyd tot tyd vra om hierdie vergadering te hou. Die broer wat die vergadering hou, moet voorbereid wees om iets te bespreek wat prakties en nuttig sal wees vir die veldbediening. Velddiensreëlings word getref, en iemand in die groep doen ’n gebed. Die groep sal dan dadelik na die gebied gaan. Hierdie vergaderinge is vyf tot sewe minute lank, maar moet korter wees as dit op ’n gemeentelike vergadering volg. Dit moet aanmoediging, praktiese onderrigting en leiding bied vir diegene wat in die predikingswerk uitgaan. Nuwelinge of ander wat dalk hulp nodig het, kan saam met ervare verkondigers werk om opleiding te ontvang.

VERGADERINGREËLINGS VIR NUWE OF KLEIN GEMEENTES

22 Namate meer mense dissipels word, neem die aantal gemeentes ook toe. ’n Aansoek vir die stigting van ’n nuwe gemeente word gewoonlik deur die kringopsiener ingedien. Maar in party gevalle sal klein groepies dit moontlik beter vind om met die naaste gemeente te assosieer.

23 Soms bestaan klein gemeentes geheel en al uit susters. As dit die geval is, dra ’n suster wat in die gemeente bid of vergaderinge lei, ’n hoofbedekking, in ooreenstemming met die skriftuurlike reëling (1 Kor. 11:3-16). In die meeste gevalle bly die suster sit, met haar gesig na die groep gekeer. Susters hou nie toesprake by die vergaderinge nie. Hulle lees en lewer kommentaar oor die materiaal wat deur die organisasie voorsien word, of hulle kan, om dinge af te wissel, deur die materiaal gaan deur middel van ’n bespreking of ’n demonstrasie. Die takkantoor sal een van die susters vra om na korrespondensie met die takkantoor om te sien en die vergaderinge te lei. Wanneer broers later kwalifiseer, sal hulle na hierdie verantwoordelikhede omsien.

KRINGBYEENKOMSTE

24 Elke jaar word reëlings getref dat gemeentes wat in dieselfde kring ingedeel is, vir twee eendaagse kringbyeenkomste bymekaarkom. Hierdie gelukkige geleenthede gee almal wat dit bywoon die kans om ‘hulle harte wyd oop te maak’ in Christelike assosiasie (2 Kor. 6:11-13). Jehovah se organisasie het ’n spesifieke behoefte in gedagte wanneer hulle die skriftuurlike temas en verskillende programdele voorberei. Die inligting word aangebied deur middel van toesprake, demonstrasies, alleensprake en onderhoude. Sulke tydige onderrigting bou almal op wat dit bywoon. Hierdie byeenkomste bied nuwe dissipels die geleentheid om gedoop te word as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah.

STREEKBYEENKOMSTE

25 Een keer per jaar word groter byeenkomste gehou. Dit is gewoonlik driedaagse streekbyeenkomste, waar die gemeentes van ’n aantal kringe bymekaarkom. Kleiner takkantore sal dit miskien praktieser vind as al die gemeentes onder hulle toesig op een plek bymekaarkom. In party lande sal ander reëlings vir hierdie byeenkomste gemaak word na gelang van omstandighede of na aanleiding van riglyne van die organisasie. Van tyd tot tyd word internasionale of spesiale byeenkomste in party lande gehou en deur tienduisende Getuies uit verskillende lande bygewoon. Oor die jare het baie mense van die goeie nuus van die Koninkryk gehoor as gevolg van die publisiteit wat aan hierdie groot byeenkomste van Jehovah se Getuies gegee word.

26 Vir Jehovah se toegewyde volk is byeenkomste gelukkige geleenthede om in eenheid te aanbid. By sulke byeenkomste word verfynings in ons begrip van die waarheid bekend gemaak. By party byeenkomste word nuwe publikasies vir persoonlike en gemeentelike studie of vir gebruik in die veldbediening vrygestel. Doopplegtighede is ook deel van ons byeenkomste. Byeenkomste is baie belangrik om geestelike groei te bevorder. Dit wys dat Jehovah se volk beslis ’n internasionale broederskap van toegewyde Christene is wat uitgeken word aan hulle liefde, die kenmerk van Jesus Christus se dissipels. – Joh. 13:35.

27 Wanneer ons vergaderinge van die plaaslike gemeente sowel as byeenkomste van Jehovah se volk bywoon, versterk dit ons om Jehovah se wil te doen. Ons word ook beskerm teen wêreldse invloede wat ons Christelike geloof kan ondermyn. Al hierdie samekomste bring lof en eer aan Jehovah (Ps. 35:18; Spr. 14:28). Ons kan dankbaar wees dat Jehovah hierdie geleenthede van geestelike aanmoediging vir sy toegewyde volk in hierdie tyd van die einde voorsien.

DIE HERE SE AANDMAAL

28 Een keer per jaar, op die datum waarop Jesus Christus gesterf het, herdenk al die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld Christus se dood, of die Here se Aandmaal (1 Kor. 11:20, 23, 24). Dit is vir Jehovah se volk die belangrikste vergadering van die jaar. Ons word spesifiek beveel om die Gedenkmaal te herdenk. – Luk. 22:19.

29 Die datum van die Gedenkmaal kom ooreen met die datum van die Bybelse Pasga, wat in die Skrif aangegee word (Eks. 12:2, 6; Matt. 26:17, 20, 26). Die Pasga was die jaarlikse herdenking van die Israeliete se uittog uit Egipte in die jaar 1513 VHJ. Jehovah het destyds die 14de dag van hulle eerste maanmaand gekies as die dag waarop hulle die Pasgalam moes eet en uit slawerny in Egipte verlos sou word (Eks. 12:1-51). Die datum word bepaal deur 13 dae te tel vanaf die verskyning van die nuwe maan naaste aan die noordelike lentenagewening soos dit in Jerusalem gesien word. Gewoonlik val die Gedenkmaal op die datum van die eerste volmaan ná die noordelike lentenagewening.

30 Matteus 26:26-28 beskryf in Jesus se eie woorde hoe die Gedenkmaal herdenk moet word. Dit is nie ’n ritueel met ’n mistiese betekenis nie, maar ’n simboliese maaltyd waaraan diegene deelneem wat geroep is om mede-erfgename saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryk te wees (Luk. 22:28-30). Alle ander toegewyde Christene en belangstellendes word aangespoor om die Here se Aandmaal as waarnemers by te woon. Deur dit by te woon, wys hulle hulle waardering vir die voorsiening wat Jehovah God deur middel van sy Seun, Jesus Christus, tot voordeel van die hele mensdom gemaak het. Voor die Gedenkmaal word ’n spesiale openbare toespraak gehou om mense aan te moedig om die geleentheid by te woon en verdere belangstelling in ’n studie van die Bybel aan te spoor.

31 Jehovah se Getuies sien baie uit na geleenthede om by vergaderinge bymekaar te kom, waar ons “aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor” (Heb. 10:24). Dit is vir die getroue en verstandige slaaf belangrik om sulke vergaderinge te reël afhangende van ons geestelike behoeftes. Al Jehovah se knegte sowel as belangstellendes word aangespoor om die reëlings om gereeld bymekaar te kom, ten volle te gebruik. Deur opregte waardering te wys vir die voorsienings wat Jehovah deur middel van sy organisasie maak, word God se knegte in eenheid saamgebind. Nog belangriker, ons loof en eer Jehovah. – Ps. 111:1.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel