Wil jy dalk in ’n riksja ry?
WANNEER ’n besoeker in Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, aankom, let hy onmiddellik iets ongewoons op. Te midde van die see van mense is daar ’n menigte riksjafietse! Eindelose strome van hierdie voertuie wat mense en goedere vervoer, vloei deur die strate en stegies.
In Dhaka bly die riksja ’n gewilde vervoermiddel. Hoewel daar omtrent 80 000 geregistreerde riksjas is, is daar volgens die meeste mense elke dag baie meer riksjas in die strate. Trouens, Dhaka is al die riksjahoofstad van die wêreld genoem!
Vroeë riksjas
Hoewel vroeë weergawes van ’n drastoel gedurende die bewind van Lodewyk XIV van Frankryk (1638-1715) gebruik is, word die uitvinding van die oorspronklike riksja wat deur mense getrek is, soms toegeskryf aan Jonathan Gable, wat in die 1870’s ’n Amerikaanse sendeling in Japan was. Daar word gesê dat hy ’n nuwe vervoermiddel vir sy brose vrou ontwerp het en dat die eerste een in Japannees djinrikisja genoem is, wat ‘’n voertuig wat deur mensekrag getrek word’, beteken. Die woord het uiteindelik in Afrikaans “riksja” geword. Na verloop van tyd het verskillende soorte riksjas regoor Asië gewild geword as ’n goedkoop vervoermiddel. Toe Charles Taze Russell (regs), wat ywerig die leiding geneem het in die werk van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is), Japan in 1912 besoek het, het sy reisgeselskap riksjas gebruik om in die land rond te reis.
In Dhaka het die riksjadriewiel laat in die 1930’s sy verskyning gemaak. In teenstelling met die riksja wat deur ’n man getrek is met behulp van twee pale wat aan die riksja vasgemaak is, het hierdie riksjas soos groot driewiele gelyk. Die riksja-wallah, of bestuurder, het die fiets vooraan die riksja getrap. Dit het hom in staat gestel om sy passasiers of goedere verder te neem, aangesien hy sy riksja makliker deur swaar verkeer en op besige paaie kon stuur.
Riksjakuns
Die riksjas in Dhaka lyk asof elke sentimeter daarvan met versierings bedek is. Waar het die tradisie om riksjas te versier, vandaan gekom? Toe riksjas vir die eerste keer in Dhaka in gebruik geneem is, moes hulle meeding met tomtoms, perdekarre wat passasiers en goedere vervoer het. Riksja-eienaars het moontlik hulle voertuie begin versier om klante na die nuwe vervoermiddel te lok. Die skilderye en advertensies het uiteindelik in ’n eiesoortige kunsvorm ontwikkel.
Hierdie ryklik versierde riksjas vorm saam ’n skouspelagtige toneel. Dit is kuns op wiele. Trouens, Sijed Manzooroel Islam, ’n kunsbeoordelaar in Bangladesj, beskryf riksjas in Dhaka as “bewegende kunsgalerye”. Elke moontlike oppervlak van die voertuig word met kleurvolle ontwerpe, prente en patrone versier. Draaiende tossels, klaterstringe en blink krale hang van die kante af of aan die opvoubare sonkap.
Elke kunstenaar het sy eie styl en gunstelingonderwerp. Van die kunswerke lyk min of meer soos ’n reklamebord, met tonele uit Indiese en Bangladesjiese films van die verlede en die hede. Die kuns weerspieël nostalgie vir die plattelandse lewe, landelike tonele en soms maatskaplike en politieke geskille. Diere, voëls, jagtonele asook pragtige plattelandse tonele is algemene temas.
In die 1950’s was daar net ’n handjievol riksjakunstenaars. Vandag is daar tussen 200 en 300 vakmanne wat hierdie unieke kunswerke vervaardig. Die riksjas word stuk vir stuk in gespesialiseerde werkswinkels aanmekaargesit, en dele daarvan word dikwels van herwonne materiale gemaak. Die kunstenaar sal byvoorbeeld ’n stukkie blik neem wat gesny is uit ’n kookolieblik of iets anders wat weggegooi is, en sal glansverf gebruik om ’n skouspelagtige toneel in volkleur te skep. Riksjakuns is die volkskuns van Bangladesj. Dit het ’n kenmerkende styl en unieke bekoring gekry.
Die riksjabestuurder
Soos jy jou kan indink, lei die riksjabestuurder ’n vermoeiende lewe. Stel jou voor dat jy die hele dag lank ’n fiets moet trap terwyl jy swaar vragte mense of goedere vervoer. Die klante kan onder andere huisvrouens, skoolkinders, sakemanne of mense met inkopies wees. Dikwels sit twee, drie of meer mense in ’n riksja saamgebondel. Die riksja kan ook gebruik word om sakke rys, aartappels, uie of speserye te vervoer vir ’n handelaar wat dit op die mark wil verkoop. Soms sal ’n passasier hoog bo-op sy hoop besittings sit. Vir ’n toeskouer lyk dit dalk onmoontlik vir ’n riksjabestuurder om sulke swaar vragte te trek. Maar of dit nou in die hitte van die son of die reën van die moeson is, die nederige riksjabestuurder werk hard sonder om te kla.
Die meerderheid bestuurders het na die stad gekom omdat hulle nie in armoedige plattelandse gebiede as boere ’n bestaan kon maak nie. Baie laat hulle gesin agter om riksja-wallahs te word omdat hulle nie ’n beter betaalde werk kan kry nie. Hulle gebruik hulle fisiese krag en energie om die ekwivalent van maar net ’n paar dollar per dag te verdien.
’n Unieke vervoermiddel
Riksjas is steeds gewild in Dhaka weens die gelyke terrein en tallose stegies en nou straatjies waar ander soorte openbare vervoer nie gebruik kan word nie. Volgens baie mense is hierdie omgewingsvriendelike manier van reis nuttig sowel as aangenaam.
In die meeste Asiatiese stede het riksjas ’n “bedreigde spesie” geword. Daar het die begeerte na massavervoer en ’n moderne lewenswyse die riksja byna in onbruik laat verval. Maar hoewel baie mense hulle dalk as ouderwets beskou, word daar pogings aangewend om die riksja deur middel van beter ontwerpe te laat voortbestaan.
Wanneer jy in Dhaka rondry, kan jy uit verskillende soorte openbare vervoer kies—busse, taxi’s, motorfietse, gemotoriseerde riksjas of kleurvolle riksjafietse. Maar ’n ontspanne rit op ’n riksjafiets deur die wemelende strate van Dhaka is ’n ondervinding wat jy nooit sal vergeet nie!
[Volbladillustrasie op bladsy 23]