’n Kykie binne die liggaam—Sonder chirurgie
DANKSY vooruitgang op die gebied van rekenaars, wiskunde en die wetenskap maak die skalpel plek vir niechirurgiese instrumente by die diagnose van sekere siektes. Behalwe X-straalbeelding, wat nou meer as 100 jaar oud is, sluit dié tegnologieë rekenaartomografie (CT-skandering), positronemissietomografie (PET-skandering), magnetieseresonansiebeelding (MRB) en ultraklankbeelding, of sonografie, in.a Hoe werk hierdie tegnieke? Watter gesondheidsrisiko’s is daaraan verbonde? En wat is die voordele daarvan?
X-straal-radiografie
Hoe werk dit? X-strale het ’n korter golflengte as sigbare lig en kan liggaamsweefsel binnedring. Wanneer ’n sekere deel van die liggaam aan X-strale blootgestel word, word die strale deur digte weefsel, soos been, geabsorbeer en lyk hierdie dele helderder op die ontwikkelde film, wat ’n radiograaf genoem word. Sagte weefsel verskyn in skakerings van grys. X-strale word oor die algemeen gebruik om probleme of siektes in verband met die tande, bene, borste en die borskas te diagnoseer. As ’n dokter tussen aangrensende sagte weefsels van dieselfde digtheid wil onderskei, kan hy ’n kleurstof wat radio-opaak is, in die pasiënt se bloedstroom inspuit om die kontras te vergroot. Deesdae word X-strale dikwels in digitale vorm op ’n rekenaarskerm besigtig.
Risiko’s: Daar bestaan ’n geringe gevaar dat selle en weefsel beskadig kan word, maar die risiko is gewoonlik baie klein in vergelyking met die voordele.b Vroue wat vermoed dat hulle swanger is, moet hulle dokter daaroor inlig voordat hulle ’n X-straal laat doen. Kontrasmediums, soos jodium, kan allergiese reaksies veroorsaak. Laat jou dokter of tegnikus dus weet as jy enigsins allergies is vir jodium of seekos, wat hierdie element bevat.
Voordele: X-straalbeelding is vinnig, oor die algemeen pynloos, betreklik goedkoop en redelik maklik om te doen. Daarom is dit besonder nuttig om mammografieë asook diagnoses tydens noodgevalle te doen. Geen straling bly in die liggaam agter nadat die X-straal geneem is nie, en daar is gewoonlik geen newe-effekte nie.c
Rekenaartomografie
Hoe werk dit? CT-skandering behels ’n meer gesofistikeerde en intensiewe gebruik van X-strale, tesame met spesiale sensors. Die pasiënt lê op ’n tafel wat binne-in ’n tonnel in die masjien inskuif. Beelde word geskep deur ’n groot aantal dun radiasiestrale en sensors wat 360 grade om die pasiënt draai. Die proses is al vergelyk met ’n brood wat ondersoek word deur dit fotografies in baie dun snye te sny. ’n Rekenaar sit die “snye” bymekaar, wat ’n gedetailleerde deursneebeeld van die binnekant van die liggaam voorsien. Die nuutste masjiene skandeer die liggaam volgens ’n skroefvormige, of spiraalvormige, patroon, wat die proses vinniger maak. Omdat CT-skandering baie gedetailleerd is, word dit dikwels gebruik om die borskas, buik en skelet te ondersoek, en om verskeie soorte kankers en ander siektes te diagnoseer.
Risiko’s: CT-skandering behels gewoonlik hoër stralingdosisse as gewone X-strale. Weens die groter blootstelling is daar ’n groter risiko van kanker, wat klein maar nie onbeduidend is nie, en dit moet versigtig teen die voordele opgeweeg word. Party pasiënte is allergies vir kontrasmediums, wat dikwels jodium insluit; en by sekere pasiënte hou dit dalk ook ’n gevaar vir die niere in. Indien ’n kontrasmedium gebruik word, sal sogende moeders moontlik 24 uur of langer moet wag voordat hulle weer borsvoed.
Voordele: CT-skandering, wat pynloos en ingreepsvry is, voorsien hoogs gedetailleerde data wat digitaal in driedimensionele beelde omgesit kan word. Die skandering is betreklik vinnig en eenvoudig en kan lewens red deur inwendige beserings aan die lig te bring. CT-skandeerders het nie ’n uitwerking op ingeplante mediese toestelle nie.
Positronemissietomografie
Hoe werk dit? Wanneer PET-skandering gedoen word, word ’n radioaktiewe stof gevoeg by ’n verbinding wat natuurlik in die liggaam voorkom, meestal glukose, en word dit in die liggaam ingespuit. Die beeld word geskep wanneer positrone—positief gelaaide deeltjies—uit die weefsel straal. PET-skandering werk op die beginsel dat kankerselle meer glukose as normale selle gebruik, en daarom absorbeer hulle ’n groter hoeveelheid van die radioaktiewe stof. Gevolglik straal aangetaste weefsel meer positrone uit, wat dan in ’n ander kleur of graad van helderheid op die finale beeld gesien kan word.
Hoewel CT- en MRB-skandering die vorm en struktuur van organe en weefsels toon, toon PET-skandering hoe hulle funksioneer, en sodoende bring dit veranderinge vroeër aan die lig. PET-skandering kan tesame met CT-skandering gedoen word, wat ’n saamgestelde beeld met groter detail lewer. PET-skandering kan egter onakkurate resultate lewer as pasiënte binne ’n sekere tyd voor die ondersoek geëet het of as hulle bloedsuikervlakke, dalk weens diabetes, buite die aanvaarbare grense is. Omdat die radioaktiwiteit van baie korte duur is, is die tydsberekening ook belangrik.
Risiko’s: Omdat baie min radioaktiewe stof gebruik word en die radioaktiwiteit daarvan van korte duur is, is daar min blootstelling aan straling. Maar dit kan nog steeds vir ’n ontwikkelende fetus gevaar inhou. Vroue wat vermoed dat hulle swanger is, moet dus hulle dokter en die betrokke personeel in kennis stel. En vroue wat oud genoeg is om kinders te hê, sal dalk gevra word om ’n bloed- of urinemonster te gee om vir swangerskap te toets. As PET-skandering en CT-skandering saam gedoen word, moet die risiko’s in verband met CT-skandering ook in ag geneem word.
Voordele: Omdat PET-skandering nie net die vorm van organe en weefsels toon nie, maar ook hoe dit funksioneer, kan dit probleme aan die lig bring voordat veranderinge in weefselstruktuur met behulp van CT of MRB waargeneem kan word.
Magnetieseresonansiebeelding
Hoe werk dit? MRB gebruik ’n kragtige magnetiese veld tesame met radiogolwe (nie X-strale nie) en ’n rekenaar om hoogs gedetailleerde “sny-vir-sny”-beelde van byna al die interne strukture van die liggaam te skep. Die resultate stel dokters in staat om dele van die liggaam in die fynste detail te ondersoek en siektes te identifiseer op maniere wat nie met ander tegnieke moontlik is nie. Byvoorbeeld, MRB is een van die min beeldingsmetodes wat deur been kan sien, wat dit ’n uitstekende metode maak om die brein en ander sagte weefsel te ondersoek.
Pasiënte moet stil lê tydens die beeldingsproses. En omdat die skandering plaasvind terwyl die pasiënt deur ’n betreklike klein tonnel in die masjien beweeg, ondervind party mense engtevrees. Maar in onlangse tye is oop MRB-masjiene ontwikkel vir pasiënte wat paniekerig raak of oorgewig is. Natuurlik word geen metaalvoorwerpe soos penne, horlosies, juweliersware, haarnaalde, metaal-ritssluiters of kredietkaarte en ander voorwerpe wat vir magnetisme sensitief is, in die ondersoekkamer toegelaat nie.
Risiko’s: As ’n kontrasmedium gebruik word, is daar ’n geringe gevaar van ’n allergiese reaksie, maar die risiko is kleiner as dié in verband met die jodiumgebaseerde stowwe wat gewoonlik saam met X-strale en CT-skandering gebruik word. Andersins hou MRB geen bekende risiko vir die pasiënt in nie. Maar weens die uitwerking van die sterk magnetiese veld kan pasiënte met sekere chirurgiese inplantings of metaalfragmente weens beserings nie ’n MRB ondergaan nie. As ’n MRB dus vir jou aanbeveel word, moet jy jou dokter en MRB-tegnoloog beslis in kennis stel as jy enige van die voorgenoemde het.
Voordele: MRB gebruik nie potensieel skadelike straling nie, en dit is besonder doeltreffend om abnormaliteite in weefsel te bespeur, veral dié wat dalk agter been weggesteek is.
Ultraklankbeelding
Hoe werk dit? Hierdie tegnologie word ook ultraklankskandering, of sonografie, genoem, en is basies ’n vorm van sonar wat klankgolwe gebruik wat buite die mens se gehoorgrens is. Wanneer die golwe ’n punt bereik waar daar ’n verandering in weefseldigtheid is—byvoorbeeld die oppervlak van ’n orgaan—bring dit ’n eggo voort. ’n Rekenaar ontleed die eggo en toon wat die twee- of driedimensionele kenmerke van die orgaan is, soos die diepte, grootte, vorm en digtheid daarvan. Laefrekwensiegolwe maak dit moontlik om beelde te skep van dieper dele van die liggaam; baie hoë frekwensies maak dit moontlik om oppervlakkige organe soos die oë en verskillende lae van die vel te bestudeer, wat kan help om velkanker te diagnoseer.
In die meeste gevalle gebruik die ondersoeker ’n handtoestel wat ’n oordraer genoem word. Nadat hy ’n deursigtige jel aan die vel gesmeer het, beweeg hy die oordraer oor die deel wat ondersoek word, en die beeld verskyn onmiddellik op ’n rekenaarskerm. Indien nodig kan ’n klein oordraer aan ’n peilstif geheg word en in ’n natuurlike liggaamsopening ingesteek word om sekere interne ondersoeke te doen.
Tegnologie wat Doppler-ultraklank genoem word, is sensitief vir beweging en word gebruik om bloedvloei aan te dui. Dít kan weer nuttig wees wanneer diagnoses gemaak word in verband met organe en gewasse, wat gewoonlik ’n abnormale hoeveelheid bloedvate het.
Ultraklankbeelding help dokters om ’n verskeidenheid toestande te diagnoseer en om die onderliggende oorsake van simptome te onderskei, van hartklepkwale tot knoppe in die borste of die gesondheid van ’n ongebore baba. Aan die ander kant, omdat ultraklankgolwe deur gas teruggekaats word, is die tegnologie beperk wanneer dit vir sekere dele van die onderlyf gebruik word. Die beeld is moontlik ook nie so skerp soos dié van ander tegnologieë, soos radiografie, nie.
Risiko’s: Hoewel ultraklank oor die algemeen veilig is wanneer dit reg gebruik word, is dit ’n vorm van energie en kan dit ’n fisiese uitwerking op weefsel hê, insluitende dié van ’n ongebore baba. Voorgeboortelike ultraklankondersoeke moet dus nie as risikovry beskou word nie.
Voordele: Die tegnologie is algemeen beskikbaar, ingreepsvry en betreklik goedkoop. Dit lewer ook ’n lewende beeld.
Tegnologie vir die toekoms
Dit lyk asof navorsing op die oomblik hoofsaaklik daarop toegespits is om reeds bestaande tegnologie te verbeter. Byvoorbeeld, navorsers ontwikkel tans MRB-skandeerders wat met ’n veel swakker magnetiese veld werk as dié van huidige toestelle en dus veel goedkoper is. ’n Nuwe tegnologie wat tans ontwikkel word, word molekulêre beelding (MB) genoem. MB, wat veranderinge in die liggaam op molekulêre vlak bespeur, sal hopelik help om siekte vroeg op te spoor en te behandel.
Beeldingstegnologie het die behoefte aan talle pynlike, gevaarlike en selfs onnodige proefoperasies verminder. En wanneer beelding die vroeë diagnose en behandeling van ’n siekte tot gevolg het, kan die uitkoms veel beter wees. Die toerusting is egter duur—party masjiene kos miljoene rande.
Om siekte te voorkom, is natuurlik beter as om dit op te spoor en te genees. Probeer dus gesond bly deur reg te eet, gereeld te oefen, genoeg te rus en ’n positiewe geestesgesindheid te hê. “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel”, sê Spreuke 17:22.
[Voetnote]
a Tomografie is ’n metode wat gebruik word om driedimensionele beelde van interne liggaamstrukture te skep. Die woord is afgelei van tomo, wat “deel” of “laag” beteken, en graphein, wat “om te skryf” beteken.
b Sien die venster “Hoeveel blootstelling aan straling kry jy?” vir ’n vergelyking van stralingdosisse.
c Hierdie artikel voorsien slegs ’n oorsig van beeldingstegnieke, tesame met die risiko’s en voordele wat elkeen inhou. Raadpleeg asseblief gespesialiseerde publikasies of ’n radioloog vir verdere inligting.
[Venster op bladsy 13]
HOEVEEL BLOOTSTELLING AAN STRALING KRY JY?
Ons word daagliks aan agtergrondstraling blootgestel, hetsy as gevolg van kosmiese strale vanuit die buitenste ruimte of as gevolg van radioaktiewe stowwe wat natuurlik voorkom, soos radongas. Die volgende vergelyking kan jou help om die risiko’s verbonde aan sekere mediese toetse in ag te neem. Die metings wat aangegee word, is gemiddeldes in millisieverts (mSv).
’n Vyf uur lange vlug in ’n kommersiële vliegtuig: 0,03 mSv
Tien dae van blootstelling aan natuurlike agtergrondstraling: 0,1 mSv
Een tandheelkundige X-straal: 0,04-0,15 mSv
Een gewone X-straal van die borskas: 0,1 mSv
Een mammogram: 0,7 mSv
Een CT-skandering van die borskas: 8,0 mSv
Indien jy ’n ondersoek nodig het, moet jy nie huiwer om jou dokter of radioloog te vra vir spesifieke inligting oor blootstelling aan straling of oor enigiets anders waaroor jy dalk bekommerd is nie.
[Prent op bladsy 11]
X-straal
[Prent op bladsy 12]
CT
[Erkenning]
© Philips
[Prent op bladsy 12]
PET
[Erkenning]
Courtesy Alzheimer’s Disease Education and Referral Center, a service of the National Institute on Aging
[Prent op bladsy 13]
MRB
[Prent op bladsy 14]
Ultraklank