Chirurgie sonder ’n skalpel
DAAR is aanvanklik gedink dat Christine se hoofpyn, hoewel hewig, geen rede tot kommer was nie; dit het immers binne ’n dag verdwyn. Maar toe het Christine ’n stywe nek ontwikkel. Vervolgens het haar hoofpyn teruggekeer, en sy het gedisoriënteerd geraak—buitengewone simptome vir enigeen, wat nog te sê ’n agtjarige kind.
By die hospitaal het rekenaartomografie (CT-aftasting) aan die lig gebring dat Christine ’n arterioveneuse misvorming (AVM) in haar brein het—’n toestand waar slagare en are verstrengel is.a Sonder behandeling kon Christine uiteindelik ’n dodelike beroerte gehad het.
Tot in onlangse jare nog kon sulke AVM’s net deur indringende breinchirurgie behandel word. In hierdie prosedure trek die chirurg die kopvel terug en sny hy deur die skedel. Dan moet hy sy weg deur ’n delikate netwerk van senuwees en breinweefsel vind om die letsel te bereik. Kliniese oorsigte het aan die lig gebring dat daar in 1995 in omtrent 12 persent van AVM-operasies komplikasies was.
Christine se ouers het die gammames bo die chirurgiese mes verkies. Die naam is ietwat misleidend, want die gammames is nie werklik ’n mes nie. Dit is eerder ’n toestel wat 201 radiasiestrale, wat sekuur gerig is, deur die onbeskadigde skedel stuur. Elke straal is op sigself te swak om die weefsel wat dit binnedring te beskadig. Maar al 201 strale word sorgvuldig gerig om op die presiese ligging van die letsel bymekaar te kom en daar ’n hoë dosis bestraling toe te dien.
Volgens sommige studies is die gammames ekonomies, en infeksie kom aansienlik minder voor ná dié operasie as in die geval van gewone neurochirurgie. Maar hoe word die prosedure uitgevoer?
Die vier stappe van radiochirurgie
Gammames-radiochirurgie word in vier basiese stappe uitgevoer. Eerstens word ’n liggewigraam op die pasiënt se kop geplaas om hom stil te hou tydens die behandeling. Tweedens word ’n “kaart” van die pasiënt se brein gemaak deur middel van ’n CT-aftasting, magnetiese resonansiebeelding (MRB) of ’n angiogram. Daarna word beelde van die brein na ’n gerekenariseerde behandeling-beplanning-stelsel oorgeplaas wat die teiken isoleer en die koördinate daarvan bepaal.
Laastens is dit tyd vir die behandelingstadium waartydens ’n helm oor die pasiënt se kop geplaas word met 201 openinge waardeur die gammastrale gestraal word. Hoe lank duur die behandeling? Net 15 tot 45 minute, waartydens die pasiënt lig verdoof is en geen pyn ervaar nie.
Wanneer die behandeling voltooi is, bly die pasiënt in die hospitaal vir waarneming, en hy word gewoonlik teen die volgende oggend ontslaan. Dít was die geval met Christine wat in die begin genoem is. Sy is die Donderdag behandel, die Vrydag ontslaan en was die volgende Maandag terug by die skool.
Wat word van die AVM?
Radiochirurgie vernietig nie letterlik die arterioveneuse misvorming nie. In plaas daarvan laat dit selle in die voering van die vate vermeerder en sluit dit dus só die bloedtoevoer na die probleemgebied af. Gevolglik word die defektiewe vate, moontlik binne ’n jaar of twee, heeltemal afgesluit. Dan krimp die arterioveneuse misvorming en word dit uiteindelik deur die liggaam afgebreek.
Die gammames is ook al gebruik om klein kwaadaardige gewasse te behandel wat duidelik omlyn is sowel as sommige metastatiese gewasse wat na die brein versprei het van kanker elders in die liggaam af. Daarbenewens het dit ook al belowende resultate behaal met trigeminale neuralgie (’n pynlike toestand wat die gesigsenuwee aantas), epilepsie, Parkinson se siekte en sommige gevalle van hardnekkige pyn.
Daar is natuurlik nog ander breingewasse en toestande wat nie met die gammames behandel kan word nie. Of vooruitgang in neurochirurgie tot selfs doeltreffender behandelingsmetodes sal lei, moet ons nog sien. Intussen bied gammames-radiochirurgie hoop aan baie pasiënte met breingewasse.
[Voetnoot]
a ’n CT-aftasting is ’n x-straal van die dwarssnee van ’n deel van die liggaam.
[Venster op bladsy 21]
Die Ontwikkeling Van Radiochirurgie
Die gammames is byna 50 jaar gelede deur die neurochirurg Lars Leksell en die biofisikus Börje Larsson ontwikkel. Leksell het ontdek dat ’n enkele, hoë dosis bestraling diepliggende breinletsels kon vernietig sonder dat ’n insnyding nodig is—dit wil sê sonder bloeding of ’n infeksierisiko.
Leksell het sy nuwe prosedure stereotaktiese radiochirurgie genoem. Dokters het uiteindelik ’n manier gehad om dele van die brein te behandel wat voorheen ontoeganklik was, sonder dat hulle ’n skalpel hoef te gebruik om hulle weg deur ’n netwerk van delikate senuwees en breinweefsel te probeer vind. Die toepassing van hierdie nuwe prosedure moes egter baie jare wag vir die ontwikkeling van moderne beeldingstegnieke, soos die CT-aftasting en MRB, wat kan bepaal presies waarheen chirurge die bestraling moet rig. Die eerste gammames-eenheid is in 1968 in Stockholm geïnstalleer.
[Prente op bladsy 20]
Die Vier Stappe van Gammames-Radiochirurgie
1. Die raam word opgesit
2. Beelde van die brein word gemaak
3. Gerekenariseerde beelde help met beplanning van die behandeling
4. Behandelingstadium
[Erkenning]
Foto’s met vergunning van Elekta Instruments, Inc., vervaardigers van die Gamma Knife®