‘Deur die oog van die naald’
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
TOE Britse ontdekkingsreisigers in 1798 die Bass-straat ontdek het, was vlootoffisiere verheug. Hierdie deurweg wat die eilandstaat Tasmanië van die Australiese vasteland skei, het die reis van Engeland na Sydney met 1 100 kilometer verkort.
Maar die Bass-straat is een van die stormagtigste seegebiede ter wêreld. ’n Kombinasie van stormagtige westewinde, sterk strome en ’n gemiddelde diepte van net sowat 50 tot 70 meter maak die see hier onvoorspelbaar en het ontsaglike golwe tot gevolg. Nog ’n gevaar is die skerp riwwe van King-eiland in die middel van die straat se westelike ingang.
Vandag is dit nie meer ’n probleem om deur die Bass-straat te vaar nie. Maar dit was nie die geval in die dae van seilbote en primitiewe navigasiehulpmiddels nie. Dit was ’n senutergende ondervinding om die westelike ingang binne te vaar, wat gepas beskryf is as ’n vaart ‘deur die oog van die naald’.
Die grootsirkelroete
Vroeg in die 19de eeu het dit skepe tot vyf maande lank geneem om die reis van 19 000 kilometer van Engeland na Oos-Australië af te lê, en die vaart was allesbehalwe aangenaam! Gewoonlik is honderde passasiers—hoofsaaklik emigrante en gevangenes—in haglike toestande onder die dek saamgeprop. Seesiekte, wanvoeding en ander siektes was algemeen, en die skepe het gekrioel van weeluise en rotte. Baie het gesterf.a Nogtans het die hoop op ’n beter lewe baie passasiers krag en uithouvermoë gegee.
In 1852 het die situasie egter verbeter toe kaptein James (Bully) Forbes ’n korter roete gevind het. Forbes het van die 39ste breedtegraad afgewyk, wat skynbaar die kortste roete oor die suidelike deel van die Indiese Oseaan na Australië was, en die grootsirkelroete gevolg van Engeland na die suidooste van Australië, wat hom verder suidwaarts in die rigting van Antarktika geneem het.b Ten spyte van ysberge en ontsaglike golwe het Forbes se skip, die Marco Polo, met 701 emigrante aan boord, ná slegs 68 dae, by Melbourne, in Victoria, vasgemeer, wat die reistyd byna gehalveer het. Die rekord het inderdaad op ’n goeie tyd gekom, want Victoria se goudstormloop was in volle gang. Berigte oor die vinnige reis het duisende aspirantmyners op skepe op pad na Australië laat toesak.
Nadat skepe Engeland verlaat het, was hulle eerste aanlêhawe Kaap Otway, sowat 16 000 kilometer daarvandaan. Seevaarders het ’n sekstant en verskeie tabelle gebruik om die breedtegraad te bereken, en hulle het die skip se chronometer, wat volgens Greenwichtyd gestel is, gebruik om die lengtegraad vas te stel. Plaaslike tyd is bepaal met behulp van die posisie van die son. Elke uur wat die plaaslike tyd van Greenwichtyd verskil het, het 15 lengtegrade verteenwoordig. Die twee lesings—lengtegraad en breedtegraad—het ’n goeie seevaarder in staat gestel om sy ligging redelik akkuraat te bepaal.
Maar dinge kon skeef loop. Wolke kon die son dae lank verberg. En vroeë chronometers was nie altyd akkuraat nie. As een sekonde elke dag gewen of verloor is, kon die skip na drie maande tot 50 kilometer van koers af wees. In reën, mis of die donker kon sulke skepe die ingang van die Bass-straat mis en op die rotsagtige kus van King-eiland of Victoria skipbreuk ly. Talle reisigers het sonder twyfel gevoel soos een kaptein wat, toe hy Kaap Otway van ’n veilige afstand gesien het, uitgeroep het: “Dank die Vader! Ons het nie ’n fout gemaak nie.” Die feit dat die meeste 19de-eeuse seevaarders daarin geslaag het om veilig ‘deur die oog van die naald’ te vaar, getuig van hulle vaardigheid. Maar sommige skepe was nie so gelukkig nie.
’n Skip se graf
Voor dagbreek op 1 Junie 1878 het die klipper Loch Ard deur dik mis in die rigting van Victoria se kuslyn geseil. Die mis het sedert die vorige dag nog nie gelig nie en het die kaptein se sekstantwaarneming, wat om twaalfuur gedoen is, belemmer. Gevolglik was hy baie nader aan die kus van Australië as wat hy gedink het. Skielik het die mis opgeklaar, en loodregte kranse, 90 meter hoog, het skaars twee kilometer van hulle af verskyn. Die bemanning het ’n verbete poging aangewend om die skip te draai, maar nie die wind of die gety was aan hulle kant nie. In minder as ’n uur het die Loch Ard met ’n geweldige slag ’n rif getref, en 15 minute later het dit gesink.
Van die 54 mense aan boord het net twee oorleef—die skeepsjonge Tom Pearce en die passasier Eva Carmicheal, albei jonger as 20. Tom het ure lank in die koue winterwaters aan ’n omgekeerde reddingsboot vasgeklou. Uiteindelik het die gety hom in ’n sloep tussen die kranse ingespoel. Toe hy ’n klein strandjie sien wat met wrakhout besaai is, het hy na veiligheid geswem. Eva kon nie swem nie en het dus omtrent vier uur lank aan wrakhout vasgeklou voordat die water haar in dieselfde sloep ingespoel het. Sy het Tom op die strand gesien en om hulp geroep. Tom het in die water gespring en ’n uur lank gesukkel om Eva, wat teen dié tyd half bewusteloos was, op die strand uit te sleep. Sy het vertel: “Hy het my na ’n donker grot meer as 50 meter van die strand af geneem, ’n kas brandewyn gevind, ’n bottel oopgebreek en my gedwing om ’n bietjie te sluk, wat my laat bykom het. Hy het vir my lang gras en struike gebring om op lê. Ek het kort voor lank bewusteloos geraak en was seker ure lank in daardie toestand.” Intussen het Tom teen die krans opgeklim en hulp gekry. Minder as 24 uur nadat die Loch Ard gesink het, is Tom en Eva na ’n nabygeleë huis geneem. Eva het albei haar ouers sowel as haar drie broers en twee susters in die ongeluk verloor.
Deesdae gaan duisende vaartuie, groot en klein, elke jaar veilig deur die Bass-straat. Op pad deur die seestraat vaar hulle dalk verby meer as ’n honderd bevestigde wrakke. Party van die plekke waar hierdie wrakke lê, soos Loch Ard Gorge in die Port Campbell- Nasionale Park, Victoria, word deur toeriste besoek. Hierdie plekke is ’n hartseer herinnering aan daardie moedige siele van die 19de eeu wat, nadat hulle halfpad om die aarde gereis het, die laaste deel van hulle reis—die “oog van die naald”—getrotseer het, op soek na ’n beter lewe.
[Voetnote]
a Gedurende 1852 het 1 uit elke 5 kinders wat 12 maande of jonger was, op die reis van Engeland na Australië gesterf.
b ’n Toutjie wat styfgespan word tussen twee punte op ’n sfeer, dui die kortste afstand tussen hulle aan—die grootsirkel.
[Venster/Prente op bladsy 17]
WAT HET VAN TOM EN EVA GEWORD?
Tom Pearce en Eva Carmichael, die enigste oorlewendes van die Loch Ard se skipbreuk, het oornag in Australië beroemd geword. “Koerante het sensasionele berigte oor die ongeluk gedruk, wat Pearce as ’n held en Eva Carmichael as ’n skoonheid uitgebeeld het, en was blykbaar vasbeslote dat die twee moet trou”, sê die boek Cape Otway—Coast of Secrets. Alhoewel Tom vir Eva gevra het om met hom te trou, het Eva sy aanbod van die hand gewys en drie maande later na Ierland teruggekeer. Daar het sy getrou en ’n gesin grootgemaak. Sy het in 1934 op die ouderdom van 73 gesterf. Tom is terug see toe, en dit was nie lank voordat hy ’n tweede keer skipbreuk gely het nie. Hy het dit weer oorleef. Nadat hy baie jare as ’n stoombootkaptein gewerk het, is hy in 1909 op die ouderdom van 50 oorlede.
[Erkenning]
Al twee foto’s: Flagstaff Hill Maritime Village, Warrnambool
[Diagram/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Forbes het die baie vinniger grootsirkelroete gevolg en met die “Marco Polo” (bo) van Engeland na Australië gevaar
[Diagram]
DIE OU ROETE
39ste breedtegraad
DIE GROOTSIRKELROETE
Suidpoolsirkel
[Kaart]
ATLANTIESE OSEAAN
INDIESE OSEAAN
ANTARKTIKA
[Erkenning]
From the newspaper The Illustrated London News, Februarie 19, 1853
[Diagram/Kaart op bladsy 16, 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Om deur die westelike ingang van die Bass-straat te vaar, was volgens party soos om ‘deur die oog van die naald’ te vaar
[Kaart]
AUSTRALIË
VICTORIA
MELBOURNE
Port Campbell-Nasionale Park
Kaap Otway
Bass-straat
King-eiland
TASMANIË
[Prent op bladsy 16]
Nadat die “Loch Ard” ’n rif getref het, het dit binne 15 minute gesink
[Erkenning]
La Trobe Picture Collection, State Library of Victoria
[Prent op bladsy 17]
Port Campbell-Nasionale Park waar (1) die “Loch Ard” die rif getref het en (2) Tom Pearce se grot is
[Erkenning]
Photography Scancolor Australia