God het my gehelp om beproewinge te bowe te kom
Soos vertel deur Vazir Asanov
Ek het uit die bed gespring, ’n Bybel om my middellyf vasgemaak en vinnig aangetrek. Voordat ek by die venster uitgespring het, het ek van my klere opgebondel, dit in die bed gesit en ’n kombers daaroor getrek sodat dit sou lyk asof ek nog slaap. Toe het ek na die Koninkryksaal gehardloop terwyl ek tot God gebid het vir ondersteuning. Dit het in 1991 plaasgevind, toe ek 14 was.
EK IS gebore in ’n Koerdiese gesin in ’n stad in die suide van wat nou Kazakstan is, wat destyds een van die 15 republieke van die Sowjetunie was. My ouers en ander familielede het my van kleins af laat glo dat ek ’n toekomstige leier en bevryder van my volk kon word. Ek het so ’n haat teenoor die vyande van die Koerdiese volk gekoester dat ek bereid was om ander dood te maak om ons mense van onderdrukking te bevry.
In die laat-1980’s het ek, my ma en my jonger broer die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. My pa het ons egter verbied om met Christene om te gaan. Nogtans het ek aanhou studeer. In ’n Koerdiese gesin word die gesag van die gesinshoof feitlik nooit bevraagteken nie. Ek was lief vir my pa, maar ek was ook lief vir die Bybelwaarhede wat ek geleer het.
Teenstand by die huis en by die skool
Eenkeer het ’n onderwyser ’n eksemplaar van Die Wagtoring in my skooltas gesien en my ouers daarvan vertel. My pa was woedend en het my so hard geslaan dat my neus begin bloei het. “Is jy nog steeds by daardie godsdiens betrokke?” het hy geskreeu.
Daarna het my pa gesê dat hy my nie meer as sy seun beskou nie. Daardie woorde het my so seergemaak! Baie van my klasmaats het my terselfdertyd begin vermy, en sommige het my openlik sleggesê. Om my te probeer kry om hulle ateïstiese beskouings aan te neem, het my onderwysers vir my swakker punte gegee en my dikwels in die klas oor my geloof gespot.
Ondanks hierdie teenstand het ek nog steeds probeer om Christelike vergaderinge by te woon en ander van my nuutgevonde geloof te vertel. ’n Rukkie later het my pa uitgevind dat ek nog steeds met die Getuies omgaan en die Bybel lees. Een Sondag het ek begin soek na ’n verskoning om uit die huis uit te kom sodat ek die vergadering kon bywoon. My pa het my onmiddellik bed toe gestuur. Hy het ferm gesê: “Van nou af moet jy elke Sondag hierdie tyd in die bed wees.” Hy het gesê dat daar ernstige gevolge sou wees as ek ongehoorsaam was, en ek het geweet dat hy dit bedoel het.
Ek het Jehovah, die ware God, met trane in my oë gesmeek om my pa se hart te versag, maar sy gesindheid het nie verander nie. Ek het gedink aan hoe die Israeliete in Egipte onderdruk is. My pa se optrede het my herinner aan Farao, wat geweier het om die Israeliete te laat gaan sodat hulle Jehovah kon aanbid.—Eksodus 5:1, 2.
Ek moes besluite neem
Een Sondag het ek besluit om na die vergadering te gaan. My hart het angstig geklop terwyl ek in die bed gelê en ’n stille gebed tot Jehovah gedoen het. Toe my ouers in my kamer inkom, het ek gemaak asof ek slaap. My pa het trots gesê: “Kyk wat ’n gehoorsame seun het ek.” Hy het my gesoen en saggies uitgeloop. Ek het aangehou om ernstig te bid.
Kort nadat my ouers die kamer verlaat het, het ek, soos ek in die inleiding verduidelik het, opgespring, my skoene onder die bed uitgehaal en by die venster uitgespring. Die twee uur by die vergadering het vinnig verbygevlieg, en ek het gewonder wat by die huis op my wag. My ma het gesien dat daar net klere in die bed is, maar sy het gelukkig niks vir my pa gesê nie. Sy het my egter gewaarsku dat sy nie meer sulke dinge vir hom sou wegsteek nie.
In 1992 het ek vir my ouers gesê dat ’n vriend ’n spesiale viering moes bywoon en dat ek genooi is om saam te gaan. Eintlik was die spesiale geleentheid wat ek van plan was om by te woon, ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad Taraz, wat omtrent 100 kilometer van ons huis in Karatau af was. Daar wou ek gedoop word om my toewyding aan Jehovah te simboliseer. Ek het my ma gevra of ek ’n emmer sonneblomsaad uit die skuur kon kry. Ek het die saad gebraai en dit by die mark verkoop, en dit is hoe ek genoeg geld verdien het om die byeenkoms by te woon.
Toe ek terugkeer, het my pa gevra of die tyd saam met my vriend lekker was. Ek het hom verseker dat ek dit geniet het. Ek het gevoel dat Jehovah my ondersteun het, want my pa het my nie verder oor die saak uitgevra nie. Ek het werklik gehou van die woorde in Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”
Ek word geestelik swak
My pa het nie opgehou om my teë te staan nadat ek gedoop is nie. Omdat ek aangehou het om met die Getuies om te gaan, het my pa my erg geslaan, in die teenwoordigheid van ander en wanneer ons alleen was. Ek is byna elke dag verneder en onder druk geplaas, en ek het dikwels gehuil. Kazakstan was toe in die proses om onafhanklikheid van die Sowjetunie te verkry, en my ouers en ander familielede het my probeer oortuig om prysenswaardige politieke doelwitte na te streef. Hulle het gedink dat ek my kanse verbeur.
My ouer broer het goed op sportgebied gepresteer, en my pa het hom dikwels as ’n voorbeeld vir my voorgehou. Wel, teen die einde van 1994 het ek ook by sport betrokke geraak. Ek was geseën met natuurlike talent, en ek het kort voor lank toekennings en lof ontvang vir my vaardighede in sokker en gimnastiek. Ek het ook in die regte begin studeer sodat ek kon help om die belange van die Koerdiese volk te beskerm. Ek het selfs in politiek begin belangstel en dit oorweeg om ’n Koerdiese jeugparty te stig. Nou het my pa my begin prys.
“Pa het gewen”
Ek het geestelik swak geword en het opgehou om die Bybel te lees en die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Ek het my getroos met die gedagte dat ek Jehovah weer sou dien wanneer ek ’n volwassene is. Eenkeer het my pa gevra of ek nog met Jehovah se Getuies omgaan. “Nee. Pa het gewen”, het ek geantwoord. “Is Pa nou gelukkig?” Toe my pa dit hoor, was hy baie bly. “Nou is jy uiteindelik my seun!” het hy trots gesê.
Ek het twee jaar lank geen vergaderinge bygewoon nie, al wou ek soms. Maar ek het so skaam gevoel dat ek nie gegaan het nie. Ek het gedink dat die broers in die gemeente my situasie nie sou verstaan nie.
Terselfdertyd was ek oortuig dat daar niks beters is as om Jehovah te dien nie. ‘Ek is tog lief vir Jehovah!’ het ek dikwels vir myself gesê. Toe het my pa druk op my begin plaas om universiteitsopleiding te kry. Ek het ingegee en selfs belowe om met lof te slaag. Maar in my hart het ek gehoop dat ek die Getuies sou vind wanneer ek universiteit toe gaan in Almaty, ’n groot, moderne stad in die suide van Kazakstan.
Beter omstandighede
Kort nadat ek by die universiteit begin studeer het, het ek twee Getuies raakgeloop wat die predikingswerk op straat in Almaty gedoen het. Hulle het my genader met die vraag: “Wie dink jy heers oor die wêreld?”
“Satan die Duiwel”, het ek geantwoord, “die vyand van Jehovah en van die hele mensdom” (2 Korintiërs 4:3, 4). Ek het verduidelik dat ek ’n gedoopte Getuie is, maar dat ek onbedrywig geraak het.
Teen die einde van 1996 het ek weer die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Nadat ek ’n hele paar studies gehad het, het ek weer ’n sterk begeerte ontwikkel om Jehovah te dien, en ek het aan al die bedrywighede van die Getuies in Almaty begin deelneem. In September 1997 het ek as ’n pionier, of voltydse bedienaar, begin dien.
’n Jaar later het my pa by my kom kuier. Ek het na hom toe gehardloop en ons het mekaar omhels. Hy het my om vergifnis gevra vir die manier waarop hy al daardie jare opgetree het. Hy het gesê dat hy my asook my geloof misverstaan het. “Pa”, het ek gesê, “ek is baie lief vir Pa.”
Hoe gelukkig was ek tog toe my pa Bybellektuur aanvaar het, ’n Bybel gevra het en gesê het dat hy dit van voor tot agter wou deurlees! ’n Jaar later het hy weer by my kom kuier, hierdie keer saam met my ma. By die Koninkryksaal het mense van verskillende nasionaliteite hulle hartlik kom groet en hulleself voorgestel. Dit het ’n groot indruk op my pa gemaak, en hy het die lektuur van die Getuies met baie belangstelling begin lees.
Ryk seëninge
In September 2001 het ek met ’n wonderlike Russiese meisie genaamd Jelena getrou. Sy is in 1997 as ’n Getuie gedoop en het in Mei 2003 begin pionier. Ons was verheug om te hoor dat my ouers die Bybel saam met die Getuies begin studeer het en dat hulle geestelike vordering maak. Eintlik kon ek die nuus nie glo totdat ek dit self uit my pa se mond gehoor het nie. Hy het oor die telefoon vir my gesê dat Jehovah die enigste ware God is!
Ek is so bly dat ek hier in Almaty die geleentheid gehad het om Bybelstudies te hou met mense van baie plekke, insluitende China, Iran, Pakistan, Sirië en Turkye. Nie lank gelede nie het ’n Irannese priester my gevra om die Bybel met hom in sy moedertaal, Persies, te studeer. ’n Voormalige generaal van Afganistan was baie beïndruk met wat hy omtrent Jehovah geleer het. Dit het ook vir my vreugde verskaf om met iemand van Sirië in my moedertaal, Koerdies, te studeer en om met mense in Kazak en Russies, ander tale uit my kinderdae, te studeer.
Nou dien ek saam met Jelena in ’n Kazak-sprekende gemeente—een van die meer as 35 gemeentes van Jehovah se Getuies in Almaty. Verlede jaar het ek en Jelena die voorreg gehad om tydelik by die onlangs voltooide takkantoor van Jehovah se Getuies, naby Almaty, te dien.
Ek is eens op ’n tyd geleer om te haat, maar Jehovah het my geleer om lief te hê. Ek is daarvan oortuig dat ons nooit beïnvloed moet word om nie lief te hê nie, selfs nie wanneer welmenende familielede en vriende druk op ons uitoefen nie (Galasiërs 6:9). Ek is nou so bly dat ek en my vrou “baie het om in die werk van die Here te doen”.—1 Korintiërs 15:58.
[Lokteks op bladsy 13]
My ma het my gewaarsku dat sy nie meer sulke dinge vir my pa sou wegsteek nie
[Prent op bladsy 15]
Die Koninkryksaal in Karatau, waar ek vergaderinge as ’n jongmens bygewoon het
[Prent op bladsy 15]
My ouers, wat nou goedgesind is teenoor ons werk
[Prent op bladsy 15]
Ek en Jelena op ons troudag
[Prent op bladsy 15]
Saam met Jelena, by die nuwe takkantoor naby Almaty