Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/08 bl. 16-19
  • Robotte—Hoe ver het hulle al gevorder?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Robotte—Hoe ver het hulle al gevorder?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat robotte doen
  • Mense en robotte—hoe eenders?
  • Wat van die toekoms?
  • Die kubernetika—’n Ou idee wen veld
    Ontwaak!—1992
  • ’n Ontwerper van robotte verduidelik waarom hy in God glo
    Ontwaak!—2013
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2008
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 9/08 bl. 16-19

Robotte—Hoe ver het hulle al gevorder?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

ROBOTTE. Wat kom by jou op wanneer jy hierdie woord hoor? Party mense beskou robotte as vriendelik—as goeie metgeselle of helpers. Ander beskou hulle as ’n bedreiging—masjiene met hoër intelligensie, wat dalk eendag mense sal vervang. En vir baie ander behoort robotte meer tot die wêreld van wetenskapsfiksie as tot die werklikheid.

Wat van vandag? Volgens ’n studie wat in 2006 deur die Internasionale Federasie vir Robotika vrygestel is, is daar wêreldwyd na raming byna eenmiljoen industriële robotte in diens, en byna die helfte is in Asië. Waarom is daar so ’n groot aanvraag?

Wat robotte doen

Stel jou ’n werker voor wat altyd by die werk is, nooit kla nie en 24 uur per dag, sewe dae per week kan werk sonder om moeg te word. Wel, dit is presies wat industriële robotte doen wanneer hulle ’n magdom motoronderdele, elektriese en huishoudelike items vervaardig. Robot is ’n baie gepaste benaming omdat dit van die Tsjeggiese woord robota afkomstig is, wat “dwangarbeid” beteken. In 2005 was daar volgens skatting 1 robot vir elke 10 werkers in die motorvervaardigingsbedryf!

Robotte word egter nie meer net in fabrieke gevind nie. Hulle kom nou toegerus met dinge soos spraakherkenningsagteware, giroskope, draadlose datakommunikasietoerusting, globale posisioneringstelsels en ’n verskeidenheid sensors vir onder andere hitte, druk, ultraklank, chemikalieë en straling. Robotte is kragtiger en veelsydiger as ooit tevore en verrig take wat net ’n paar jaar gelede as onmoontlik beskou is. Kyk na ’n paar voorbeelde.

◼ Dienslewering. ’n Hospitaal in Groot-Brittanje het in hulle apteek ’n robot met meganiese arms wat binne sekondes medisyne gaan haal en uitgee. Die Amerikaanse Posdiens het ’n groot aantal robotte wat gebruik word om laaibakke met pakkies te sorteer, op te tel en op mekaar te pak. Slangrobotte kan in beperkte ruimtes—soos binne-in vliegtuigvlerke—rondbeweeg om inspeksies of herstelwerk te doen.

◼ Geselskap. In ’n ouetehuis in Japan maak bejaarde pasiënte beurte om ’n oulike, wollerige robot te streel wat soos ’n babarob lyk. Die robot is sensitief vir aanraking, lig, klank, temperatuur en selfs vir die manier waarop hy vasgehou word. Hy kan dieregedrag naboots en reageer deur geluidjies te maak, sy oë te knip en sy vinne te beweeg. Daar word gesê dat die robot ’n basiese menslike behoefte aan geselskap bevredig, en hy word as ’n vorm van terapie gebruik.

◼ Medies. ’n Robot met drie arms staan oor ’n pasiënt. ’n Hele paar meter daarvandaan kyk ’n chirurg stip na die vertooneenheid van ’n reuse-konsole, waarop hy ’n driedimensionele beeld van sy pasiënt se hart kan sien. Die chirurg beheer die robot se arms terwyl dit die pasiënt sny en toewerk om ’n foutiewe hartklep te herstel. Hierdie stelsel maak operasies met minimale ingryping moontlik danksy die robot se uiters presiese bewegings, wat minder trauma vir die liggaam, minder bloedverlies en ’n vinniger herstel tot gevolg het.

◼ Huishoudelik. Druk net ’n knoppie en ’n skyfvormige robot spring aan die werk om jou vloere te stofsuig. Die robot dek die oop ruimtes volgens ’n spiraalvormige patroon wat al wyer uitkring, en beweeg dan met die mure langs sodat hy uiteindelik die uitleg van die vertrek “leer”. Hy bespeur trappe en vermy dit. Die robot stop outomaties wanneer hy klaar is en keer terug na sy stasie waar hy herlaai kan word. Meer as tweemiljoen van hierdie stofsuierrobotte is nou in gebruik.

◼ Die buitenste ruimte. ’n Robot op ses wiele, genaamd Spirit, verken die oppervlak van Mars. Hierdie mobiele robot gebruik wetenskaplike instrumente en gereedskap op ’n meganiese arm om die samestelling van grond en rotse te ontleed. Met die kameras wat Spirit aan boord het, het hy meer as 88 500 foto’s van Mars geneem, waaronder foto’s van die planeet se terrein, kraters, wolke, stofstorms en sonsondergange. Dit is een van die robotvoertuie wat tans op Mars gebruik word.

◼ Soek-en-red-operasies. Nadat die torings van die World Trade Center ineengestort het, het 17 soek-en-red-robotte, elk so groot soos ’n basketbal, onder die smeulende puin van ’n superverhitte hoop verdraaide staalbalke en verbrokkelde beton na oorlewendes gesoek. Meer gevorderde modelle is sedertdien ontwikkel, soos die een hieronder.

◼ Onder water. Wetenskaplikes gebruik outonome onderwatervoertuie om die aarde se laaste grootliks onverkende gebied te ondersoek—die oseane. Hierdie robotiese voertuie is onbeman en selfaangedrewe. Hulle word ook gebruik om soek-en-bergingsoperasies onder die water uit te voer, telekommunikasiekabels te inspekteer, walvisse op te spoor en seemyne te verwyder.

Mense en robotte—hoe eenders?

Die mens droom al eeue lank daarvan om ’n hominoïed te bou—’n robot wat soos ’n mens is. Maar die tegniese uitdagings het hierdie droom baie ontwykend gemaak. “Om superrekenaars te bou, wolkekrabbers op te rig of selfs hele stede te ontwerp, is nie naastenby so ingewikkeld as om masjiene te voorsien van mensagtige motoriese vaardighede, sintetiese gesigsvermoë, reuksin, gehoorsin en tassin, asook iets wat met menslike intelligensie ooreenkom nie”, het die tydskrif Business Week gesê.

Neem byvoorbeeld die oënskynlik eenvoudige taak om ’n hominoïede robot te maak wat kan loop. Ná 11 lange jare se intensiewe navorsing en ontwikkeling—en nadat miljoene der miljoene dollar uitgegee is—het Japannese ingenieurs in September 1997 hierdie verstommende tegniese prestasie behaal. Sedertdien is hominoïede so ver ontwikkel dat hulle trappe kan klim, kan hardloop, kan dans, items op ’n skinkbord kan dra, ’n trollie kan stoot en selfs weer van die vloer af kan opstaan wanneer hulle val!

Wat van die toekoms?

Wat is die toekoms van robotte? Die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie ontwikkel tans ’n “robot-ruimtevaarder”, ’n hominoïed wat gevaarlike take in die ruimte kan uitvoer. Bill Gates, wat daarvoor bekend is dat hy die persoonlike rekenaar ’n alledaagse item gemaak het, sê dat “robotte [waarskynlik] ’n belangrike rol sal speel om fisiese bystand aan bejaardes te verleen en hulle selfs geselskap te hou”.

Die Japannese regering het insgelyks ’n verslag vrygestel waarin hulle ’n samelewing voorspel waarin robotte teen 2025 saam met die mens sal woon en as versorgers sal optree, kinders sal help grootmaak en huishoudelike take sal uitvoer. Navorsers hoop dat daar teen 2050 ’n sokkerspan sal wees wat uitsluitlik uit robotte sal bestaan en ’n span van mense sal kan klop. En daar word ook gehoop dat masjiene binne ’n paar dekades ontwikkel sal word wat slimmer is as die mensebrein.

Al is sulke voorspellings baie optimisties, is nie almal so seker dat dit bewaarheid sal word nie. ’n Navorser op die gebied van kunsmatige intelligensie, Jordan B. Pollack, het die volgende gesê aangaande die tegniese uitdagings: “Ons het eintlik onderskat wat ’n goeie programmeerder Moeder Natuur is.”

Hoe ver robotte gaan vorder, sal nog gesien moet word. Een ding is egter seker: Die vermoë om lief te hê en om wysheid en geregtigheid te openbaar, sal altyd uniek aan die mens wees. Waarom? Die Bybel sê duidelik dat net die mens, in teenstelling met ander lewende dinge, na God se beeld geskep is (Genesis 1:27). Mense is nie koue, analitiese masjiene nie. Hulle het wilsvryheid en ’n bewussyn, met die vermoë om God te aanbid. Mag hierdie feit ons beweeg om nader te kom aan ons Skepper, Jehovah God!—Jakobus 4:8.

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Courtesy Aaron Edsinger

Courtesy OC Robotics

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Courtesy AIST

© 2008 Intuitive Surgical, Inc.

Courtesy iRobot Corp.

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Bo: NASA/JPL-Solar System Visualization Team; links: NASA/JPL/Cornell University

© The RoboCup Federation

Greg McFall/​NOAA/​Gray’s Reef National Marine Sanctuary

[Foto-erkenning op bladsy 19]

© 2007 American Honda Motor Co., Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel