Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/1 bl. 26-30
  • Van wanhoop tot vreugde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van wanhoop tot vreugde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HEELTEMAL WANHOPIG
  • ’N LIGSTRAALTJIE
  • VREUGDES IN CHRISTELIKE DIENS
  • SEËNINGE ONDANKS TEENSTAND
  • PASGEVONDE VREUGDE OPVALLEND
  • OORLOG BEDERF NIE MY VREUGDE NIE
  • DIE VRUGTE VAN VOLHARDING
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
  • Jehovah het my krag gegee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • My keuse tussen twee vaders
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/1 bl. 26-30

Van wanhoop tot vreugde

Soos vertel deur Estefan Kalajian

GEDURENDE die Tweede Wêreldoorlog was die lewe vir ons moeilik in Beiroet, Libanon. Ons gesin van sewe het in ’n vertrekkie met ’n kombuisie en ’n bad gewoon. Ek was die oudste seun, met ’n ouer en ’n jonger suster, en twee jonger broers. Ons ouers en grootouers was Armeniërs wat uit Turkye gevlug het.

Vader het hard gewerk as ’n kleremaker om ons te onderhou. In plaas daarvan om my uit te stuur om te gaan werk, iets wat baie ouers met hulle kinders gedoen het, is ek skool toe gestuur. Maar na slegs twee jaar het ek gewrigsrumatiek gekry. My bene kon nie langer my gewig dra nie.

My oom, wat destyds in Haifa, Israel, gewoon het, het van my toestand gehoor en gevra dat ek na hom gestuur moes word vir behandeling. Binne ’n maand was ek weer gesond, daar die klimaat in Haifa klaarblyklik tot my vinnige verbetering bygedra het. Maar na ’n paar jaar het die siekte weer toegeslaan en veral my nek en ruggraat geaffekteer. Ek het na Haifa teruggekeer en weer eens verligting gekry.

Maar die siekte het voortdurend teruggekeer, en elke keer was dit erger. Ons dierbare vader, wat ons enigste broodwinner was, is in 1951 oorlede. Ek was 16 jaar oud en het by my moeder en oudste suster gebly. Die jonger kinders is in ’n weeshuis gesit. Kort daarna het ek weer siek geword. My moeder en suster het alles in hulle vermoë gedoen om my te laat genees en meer as die helfte van hulle gesamentlike salarisse aan my sorg bestee.

In 1952 is ek na die laaste hospitaal wat ek binnegeloop het. Hulle het my op allerhande maniere probeer behandel, en selfs met nuwe soorte medisyne geëksperimenteer, maar alles tevergeefs. Na 26 dae in die hospitaal het die dokters gesê dat my bene en rug permanent verlam was. Trouens, hulle het vir my moeder gesê dat ek nog net ’n paar maande sou lewe—en dit was 28 jaar gelede!

HEELTEMAL WANHOPIG

Ek is terug huis toe om op die dood te wag. Alhoewel my vriende, familielede en bure van my toestand geweet het, het net ’n paar my kom besoek. Almal het my oënskynlik as nutteloos beskou. Dit was veral vriende van my eie ouderdom wat my versaak het.

’n Paar ouer persone het my wel kom “troos”. Hulle het vir my gesê dat God my werklik liefhet en dus my geloof beproef. Dit het my net slegter laat voel. My antwoord vir hulle was: “Ek wens God het my nie liefgehad nie! As hy my gehaat het, was ek dalk nog gesond en het ek rondgeloop.”

’n Jaar het verstryk, en ek het nie gesterf nie. Ek kon aanvanklik regop in ’n stoel sit met my bene styf voor my uitgestrek. Ek kon my arms gebruik en my kop effens beweeg. Maar namate die siekte sy greep versterk het, kon ek mettertyd nie meer my arms en hande gebruik nie en kon ek nie meer my kop draai nie. Ek is die afgelope 18 jaar bedlêend.

Die lewe was ondraaglik. Ek het besluit om selfmoord te pleeg en het ’n lemmetjie naby my bed gehou met daardie doel. Maar ek kon nooit genoeg moed bymekaarskraap om dit te gebruik nie. Die jare het stadig en somber verstryk.

’N LIGSTRAALTJIE

In November 1960 het twee vroue my besoek en oor die Bybel gesels. Kort daarna het ek na die hospitaal teruggekeer vir ses maande se behandeling. In April 1961 het een van die vroue my weer saam met ’n ander gesellin besoek. Ek het toe besef dat hulle Jehovah se Getuies is. My nuuskierigheid was geprikkel. Ek wou hoor wat hulle van verskeie gelowe dink.

Terwyl ek grootgeword het, het ek met allerhande gelowe kennis gemaak. My ouers was Armeens-Ortodoks, ek het 10 jaar lank onder Maronitiese Katolieke gewoon en somervakansies by Protestante deurgebring. Ek het selfs ’n korrespondensiekursus van die Sewendedags-Adventiste gevolg en ’n diploma van hulle ontvang. Ondanks hierdie agtergrond het ek nie God se naam geken of geweet hoe om hom te aanbid nie.

Ek het die Getuies gevra om my weer te besoek. Hulle het dit gedoen en ’n Bybelstudie met my begin in die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk”. Na net drie of vier studies het ek geleer dat God se naam Jehovah is en dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe. Ek het ook geleer van Jehovah se nuwe wêreld en die vooruitsig om vir ewig in blakende gesondheid te lewe! Dit het my werklik geboei en ek het in alle erns begin studeer.

Die Getuies het vir my gesê om vervolging te verwag, moontlik van my eie huisgesin. Ons het weer almal saam in daardie een vertrek gewoon. Maar ek het besluit dat indien my gesin my sou teëstaan, ek liewer in ’n sanatorium sou woon as om die Bybelwaarhede wat vir my so kosbaar geword het, prys te gee. Die deur na ’n gelukkige toekoms het oopgegaan, en ek sou nie toelaat dat enigiemand dit toemaak nie.

My vreugde en waardering vir Jehovah en sy volk het toegeneem toe ek weer ’n slag ses maande lank hospitaal toe moes gaan, hierdie keer 40 kilometer buitekant Beiroet. Sou my pasgevonde vriende my versaak? Nooit! ’n Getuie en sy vrou het gereeld die afstand afgelê om met my te studeer.

Nadat ek van die hospitaal af teruggekeer het, en die Getuies van my toestand verneem het, het al hoe meer ingeloer en my besoek, nie alleen die Armeenssprekendes nie, maar ook die Libanese. Elkeen het ’n waarlik vertroostende woordjie gehad. Op 8 September 1962 het die broers my na ’n strand daarnaby geneem en is ek in die see gedoop om my toewyding aan Jehovah God se simboliseer.

VREUGDES IN CHRISTELIKE DIENS

Aangesien ek nie die vergaderinge kon bywoon nie, het die Getuies vir my vertel wat bespreek is. Maar ek wou ’n groter deel daaraan hê. Ek het vir my broer gevra om vir my ’n bandmasjien te koop, en hy het. Daarna kon ek al die vergaderinge “bywoon” en deur middel van bandopnames selfs toesprake in die Teokratiese Skool hou.

Maar hoe kon ek aan die predikingswerk deelneem? Omdat ek teen hierdie tyd heeltemal bedlêend was, was my eie gesin my logiese “gebied”. In plaas daarvan om my te vervolg, het die een na die ander die Bybelwaarhede aanvaar wat ek verkondig het—eers my jonger suster, toe my jongste broer, toe my moeder en eindelik my getroude suster. Dit is net my een broer wat nie ’n Getuie is nie, hoewel sy vrou een is. En sy het op haar beurt verskeie van haar familielede gehelp om Getuies te word, onder meer haar broer wat nou ’n Christen- ouere man is! My eerste gebied was dus baie vrugbaar en het my onbeskryflike vreugde verskaf.

Ek het nog ’n gebied gevind onder die paar nie-Getuies wat my nog steeds besoek het. Maar ek was seker dat daar ’n manier moes wees om nog ’n groter getuienis te gee. Ek het dus ’n telefoongids bekom en die name en adresse van Armeenssprekende mense vir wie ek die Koninkryksboodskap per brief kon gee, daarin gesoek. Ek het ook briewe aan firmas en fabrieke geskryf wat die ander Getuies, myns insiens, nie maklik tydens hulle predikingswerk sou bereik nie. Ek is aangespoor om aan die voltydse predikingswerk of pionierdiens, soos dit genoem word, deel te neem. Ek was sedertdien in staat om gemiddeld drie keer per jaar ’n hulppionier te wees.

SEËNINGE ONDANKS TEENSTAND

Die plaaslike Armeense koerante het my en my gesin beswadder en die leuen verkondig dat ek die leier van die Armeense Getuies is en dat ons in die geheim rewolusionêre vergaderinge hou. En my oom, wat langs ons gewoon het, het ons kwaai teëgestaan. Ons het dus besluit om ons eenvertrektuiste waar ons geen huur betaal het nie te verlaat en ’n groter woonstel in ’n ander omgewing te huur. Alhoewel die nuwe woonstel duur en ’n finansiële las was, was dit vir ons almal ’n seën.

Ons het nou nie alleen ’n geriefliker woonplek nie, maar die gereelde gemeentelike vergaderinge word hier gehou. En ek het ’n groter aandeel in teokratiese bedrywighede daar ek beter na my verantwoordelikhede as ’n Christen- ouere man kan omsien. Ek hou openbare toesprake, dien as Teokratiese Skool-opsiener, hou een van die gemeentelike boekstudies, en vanjaar is ek die presiderende opsiener. Teenstand het dus slegs geluk en seëninge meegebring.

Namate my berugtheid deur die Armeense gemeenskap versprei het, het talle geestelikes van verskeie gelowe my kom besoek om my te “bekeer”. Hulle gesindhede en dade het my net meer aangetrokke tot Jehovah se volk laat voel. Terwyl ek hulle uittartende vrae kalm beantwoord het, het hulle kwaad geword en geskreeu, soms amper lasterlike dinge gesê. Ek kon nie anders as om ’n teenstelling te tref tussen hulle en die nederige Getuies wat die Bybelwaarhede na my toe gebring het nie.

PASGEVONDE VREUGDE OPVALLEND

My vreugde dien as ’n getuienis aan ander, onder meer dokters wat my deur die jare heen behandel het. In 1967 is ek weer hospitaal toe om 12 dae lank behandeling te ontvang, hierdie keer vir ’n nuwe, onverwante kwaal. My dokter was baie vriendelik en het opgemerk dat ek altyd gelukkig en optimisties was ondanks my gebrek. Hy het vir my van een van sy ander pasiënte vertel, ’n 21-jarige man met ’n ruggraatbesering weens ’n motorongeluk. Alhoewel hy die allerbeste sorg ontvang het en ryk ouers het, was hy geestelik so versteurd en veeleisend dat selfs sy ouers vir hom vies was. Hy het die verpleegsters en bediendes gek gemaak.

“Maar jy kla nooit”, het die dokter gesê. Die verpleegsters sê vir my dat jy nooit jou klokkie vir diens lui nie en jy slegs om hulp vra wanneer hulle na jou kamer toe kom. Selfs jou gelaat is so anders as syne.” Ek het vir die dokter vertel wat die rede vir die verskil is en die hoop uitgespreek om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.

Eendag in Augustus 1975 het ’n Getuie ’n besoeker gebring om vir my te kom kuier. Ek het soos gewoonlik met hom gesels oor die Koninkryk en hoe dit al ons probleme sal oplos. Na ’n ruk het hy gesê: “Daar is vir my gesê dat ek ’n siek man kom besoek. Ek was veronderstel om hom op te beur. Maar jy het my opgebeur!” Ek het nie geweet dat hy die uitgewer en redakteur van ’n plaaslike tydskrif was nie. Daardie selfde week het hy ’n lang artikel oor geloof geskryf en my ondervinding ingesluit.

OORLOG BEDERF NIE MY VREUGDE NIE

Tydens die Libanese burgeroorlog, wat in 1975 begin het, het ons met nuwe probleme te kampe gehad. Ons woonstel is op die tweede-laaste verdieping van ’n hoë gebou. Die plaaslike burgermag het in die barakke naby ons woonstelgebou ingetrek, met die gevolg dat ons in ’n gebied woon wat swaar gebombardeer word. Talle bomme het op ons gebou se dak geval, maar nie een het tot ons plafon deurgedring nie.

Tydens die swaar Siriese bombardering in die noordelike herfs van 1978 het al ons bure na veiliger plekke gevlug. Ons het net gebly waar ons was, daar my gesin geweier het om my alleen te laat aangesien ek nie verskuif kon word nie. Ons was almal bewus van Jehovah se beskerming gedurende daardie verskriklike paar dae. Selfs my jong nefie het in die huis rondgeloop en ons jaarteks aangehaal: “Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jer. 1:19). Dit het gelyk asof hy homself wou gerusstel—hy het ons volwassenes beslis gerusgestel.

Dit is waarlik ’n wonderwerk dat nie een van ons beseer is nie. Drie groot bomme het op die dak reg bokant my bed beland, en die ontploffings het honderde ruite in die omgewing gebreek. Vuurpyle wat etlike betonmure kon deurdring, het op die dak geval, maar weggeskram sodat min skade aangerig is. Die liefdevolle besorgdheid van my gesin en die nabyheid van Jehovah was selfs in daardie donker dae ’n bron van vreugde.

DIE VRUGTE VAN VOLHARDING

Gedurende my 18 jaar as ’n Getuie het ek 16 persone gehelp om toegewyde knegte van Jehovah te word. En daar is verskeie persone met wie ek nou studies hou wat daarna uitsien om gedoop te word. Onder die gedooptes is daar vier wat as bedieningsknegte in die gemeente dien. Vier is universiteitstudente of het reeds gegradueer.

Een van my voormalige Bybelstudente is ’n joernaliste, skryfster en voormalige universiteitprofessor wat al jare lank vir die Departement van Inligting werk. Daar kom sy voortdurend in aanraking met regeringsamptenare, onder meer die eerste minister. Haar waardering vir die waarheid is so groot dat sy eenkeer ’n vergadering met die eerste minister en verskeie letterkundiges gekanselleer het om in te pas by ’n skielike verandering in my rooster vir Bybelstudies. Sy en een van my Bybelstudente, wat aanvanklik vir haar van God se koninkryk vertel het, is op dieselfde dag gedoop.

Ek hou gewoonlik elke maand omtrent sewe Bybelstudies, benewens my ander teokratiese bedrywighede. Al hierdie dinge is so stimulerend dat ek nie siek voel nie. Ek is geestelik genees, en ek weet dat ek binnekort ook liggaamlik genees sal wees. Ek stel my volle vertroue in Jehovah se belofte deur sy profeet dat ek eendag sal spring soos ’n takbok”.—Jes. 35:6.

Ek raai alle terneergedrukte persone aan om ag te slaan op Jesus se woorde: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:28, 29). Hierdie woorde is vir my bewaarheid, en my algehele wanhoop het in loutere vreugde verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel