Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/08 bl. 22-24
  • Die gehuil van ’n babagorilla

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gehuil van ’n babagorilla
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verweesde diere word gered
  • Watter toekoms vir die verweesde diere?
  • Op die rand van uitsterwing
    Ontwaak!—2001
  • ’n Besoek aan die berggorillas
    Ontwaak!—1998
  • Reënwoude—Kan ons dit benut sonder om dit te vernietig?
    Ontwaak!—2003
  • Gaboen—’n toevlug vir dierelewe
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 8/08 bl. 22-24

Die gehuil van ’n babagorilla

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KAMEROEN

Pitchou, ’n gorillawyfie, is in ’n woud in Sentraal-Afrika gebore. Toe Pitchou omtrent ’n jaar oud was, het jagters haar ma en al die ander gorillas in haar groep vir voedsel doodgemaak. Omdat Pitchou te klein was om as vleis verkoop te word, is haar lewe gespaar sodat sy as ’n troeteldier verkoop kon word. In die tussentyd het Pitchou siek geword en onophoudelik gehuil.

PITCHOU is net een van etlike duisende verweesde primate. ’n Aantal bedrywighede het tot hierdie jammerlike situasie bygedra. Een hiervan is die onwettige handel in wildsvleis. Party restaurante en individue het ’n aanvraag na eksotiese vleissoorte geskep waaruit professionele jagters probeer munt slaan deur dag en nag die woude te fynkam. Dan is daar ook tussenhandelaars wat winsgewende, maar onwettige, plaaslike en internasionale netwerke bedryf om die diere en die vleis te bemark.

’n Tweede bedrywigheid behels onvolhoubare houtkappery. Wanneer die woude vernietig word, word diere ontneem van tuistes, skuilings en plekke waar hulle voedsel kan kry en kan nesmaak. Boonop ondersteun die twee bedrywighede mekaar gewoonlik. Hoe so? Om maar een ding te noem, paaie wat vir houtkappery gemaak word, gee jagters maklike toegang tot woudhabitats, waar diere wat nou verbouereerd en dikwels uit hulle tuistes verdryf is, maklike prooi word. Ander faktore is onder meer die bevolkingsaanwas, die aanvraag na proteïene, toenemende verstedeliking, doeltreffender tegnologie vir jagters, asook oorlog en die groter beskikbaarheid van vuurwapens wat dit meebring. As gevolg hiervan word primate en ’n aantal ander spesies al hoe nader aan uitsterwing gedryf, wat lei tot die verskynsel wat al die leë-woud-sindroom genoem is. Maar dit is moontlik nie die enigste probleem nie. Hoe so? Aangesien diere byvoorbeeld tot die verspreiding van sade bydra, speel hulle ’n rol in die gesondheid en diversiteit van die woude se ekosisteme. Wanneer die fauna (dierelewe) dus nie meer daar is nie, ly die flora (plantelewe) moontlik ook daaronder.

En tog duur die slagting voort. In party dele van Wes-Afrika het party primaatbevolkings, binne net een dekade, afgeneem tot ’n tiende van wat dit voorheen was. “As die wilddiefstal voortgaan”, sê wilddeskundiges in Kameroen, “sal daar binnekort geen gorillas in die natuur oorbly nie.”a

Verweesde diere word gered

Bewaringsgroepe, soos die Limbe-natuursentrum aan die voet van die Kameroenberg in Wes-Afrika suid van die Sahara, reageer op hierdie tragiese situasie deur bedreigde spesies te probeer beskerm. By die Limbe-sentrum kan besoekers kom kyk na gorillas, sjimpansees, mandrils en 13 ander primaatspesies, asook ’n verskeidenheid ander diere. In onlangse jare het die sentrum na byna 200 verweesde en verplaaste diere omgesien en ’n veilige tuiste, kos en gesondheidsorg aan hulle voorsien. Nog ’n rol wat die sentrum speel, is om bewaringsbewustheid te bevorder onder sy talle besoekers, wat van Kameroen, nabygeleë lande en regoor die wêreld kom—meer as 28 300 in ’n onlangse jaar.

Dit bring ons weer by Pitchou. Besorgde mense, wie se harte deur die jong gorilla se gehuil geraak is, het haar by die jagters gekoop en vir die sentrum gegee. Met die kleintjie se aankoms het die sentrum se sieke-afdeling haar deeglik ondersoek. Behalwe dat sy aan emosionele trauma gely het, het sy gehoes, was sy ontwater en ondervoed, het sy aan diarree gely en letsels op haar vel gehad. Weens haar velprobleme het sy die naam Pitchou gekry, wat in die plaaslike dialek “gevlek” beteken. Gelukkig het Pitchou goed op die behandeling gereageer en was dit nie nodig om te opereer nie, hoewel die sentrum operasies kan doen indien nodig.

Soos alle diere wat by die sentrum aankom, is Pitchou die eerste 90 dae in kwarantyn gehou. Toe het sy by 11 ander gorillas aangesluit in ’n buitelugkamp wat soos die natuurlike woudomgewing lyk. Die personeel was baie bly toe hulle sien hoe die ouer primate met die nuweling vriende maak. Dit is nie ongewoon nie, en gevolglik het Pitchou gou deel van die groep geword.

Noue, vriendelike kontak tussen die diere en hulle mense-oppassers smee hegte bande. Wanneer ’n besoeker die bedrywighede by die sentrum sien, kan hy maklik die morele verantwoordelikheid verstaan wat God mense opgelê het toe hy die eerste egpaar beveel het om die aarde en die diere daarop te onderwerp.—Genesis 1:28.

Watter toekoms vir die verweesde diere?

Die program se uiteindelike doelwit is om die diere weer in die natuur vry te laat. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Diere wat aan mense se sorg gewoond is, vind dit dikwels moeilik om op hulle eie aan die lewe te bly. Weer eens loop hulle die gevaar om vleis op iemand se tafel te word. Verskeie Afrikalande het ingestem om bewaringsgebiede te skep wat oor landsgrense strek, en om die bestaande gebiede beter te bestuur. Hopelik sal hierdie reëlings dit moontlik maak om meer verweesde diere vry te laat en bydra tot die bewaring van nie net primate nie, maar al die natuurlewe in die streek.

Intussen dui alles daarop dat die belemmerende faktore—hebsug, armoede, vinnige bevolkingsaanwas en ontbossing—sal voortgaan om nog baie primate en ander diere se lewens te eis. As daar nie gou iets gedoen word om groter beskerming te verleen nie, “sal die bevolkingsgetalle van spesies in die natuur heel moontlik onomkeerbaar afneem”, sê Felix Lankester, die projekbestuurder van die Limbe-natuursentrum. “Dit . . . kan daartoe lei dat die einste diere waarmee ons werk, in die natuur sal uitsterf.”

Wat ’n tragedie! Maar ’n selfs groter tragedie is om te sien hoe mense aan wanvoeding en siekte ly en om te sien hoe kinders, met opgeblaasde mae en waterige oë, weens ’n gebrek aan voedsel sterf. Pitchou se probleem beklemtoon dus die jammerlike toestand van die wêreld as ’n geheel—veral die ongelykhede en ongeregtighede daarin.

Gelukkig staan die Skepper nie onverskillig teenoor wat op die aarde gebeur nie. Hy sal binnekort die grondoorsake van wreedheid, lyding en uitsterwing uit die weg ruim en sal blywende harmonie onder alle lewende dinge teweegbring.—Jesaja 11:6-9.

[Voetnoot]

a Gesondheidsdeskundiges waarsku ook dat dodelike siektes soos miltsiekte en Ebola, asook virusse soortgelyk aan MIV, van diere na mense oorgedra kan word as hulle hierdie wildsvleis hanteer of eet.

[Prente op bladsy 22, 23]

Pitchou, voordat en nadat sy gesond geword het

[Prent op bladsy 23]

’n Husaaraap

[Prent op bladsy 23]

’n Dril wat na haar kleintjie omsien

[Prent op bladsy 24]

Die ingang na die Limbe-sentrum

[Prent op bladsy 24]

Daar word omgesien na Bolo, ’n verweesde gorilla

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Al die foto’s op bladsye 22 en 23: Limbe Wildlife Centre, Cameroon

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Albei foto’s: Limbe Wildlife Centre, Cameroon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel