Is dit ontwerp?
Merkwaardige samewerking in die grond
◼ Merkwaardige samewerking tussen sekere plante en bakterieë in die grond help om lewe moontlik te maak.
Dink hieraan: Stikstof is noodsaaklik vir plante om te groei en voort te plant. Maar die gas moet eers in verbindings soos ammoniak omgesit, of gefikseer, word voordat plante dit kan gebruik. Peulplante los hierdie probleem op deur noue samewerking met bakterieë wat rhizobia genoem word. So ’n wedersyds voordelige verhouding tussen verskillende organismes word simbiose genoem.
Deur middel van ’n spesiale chemiese stof trek die peulplant die bakterieë na sy wortels aan, wat dan deur die bakterieë binnegedring word. Hoewel die bakterieë en die plant tot twee afsonderlike ryke behoort, sê die tydskrif Natural History, werk hulle saam “om basies ’n nuwe orgaan te vorm: ’n ten volle funksionerende stikstofbindende wortelknoppie”. Binne-in die knoppie, wat die bakterieë se nuwe tuiste en werkswinkel is, spring hulle aan die werk. Die vernaamste middel wat hulle gebruik om hulle funksie te verrig, is ’n spesiale ensiem—’n soort proteïen bekend as nitrogenase—waarmee hulle stikstof fikseer wat uit lugholtes in die grond opgeneem word.
“Al die nitrogenase op die planeet . . . kan in ’n enkele groot emmer pas”, sê Natural History. Elke molekule is dus goud werd! Maar daar is ’n probleem. Die ensiem word deur suurstof afgebreek. Die oplossing? Die peulplant produseer ’n spesiale stof wat potensieel gevaarlike suurstof onmiddellik verwyder.
’n Membraan om die knoppie beheer die uitruiling van ammoniak, suikers en ander voedingstowwe tussen die mikrobes en die plant. Soos alle plante, gaan peulplante uiteindelik dood. Wanneer dit gebeur, bly die ammoniak in die grond agter. Daarom is peulplante al tereg “groen bemesting” genoem.
Wat dink jy? Kon mikrobes en hulle plantvennote so ’n merkwaardige, ongelooflik ingewikkelde, lewensonderhoudende stelsel “uitgevind” het, of is dit nog ’n bewys van ontwerp?
[Prent op bladsy 25]
’n Wortelknoppie
[Foto-erkennings op bladsy 25]
Agtergrond: © Wally Eberhart/Visuals Unlimited; inlasfoto: © Dr. Jack M. Bostrack/Visuals Unlimited